Nou in die verlede: Die “wonderwerk op ys”

  • 0

Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.

22 Februarie 2020

Fotobron: Pixabay

Veertig jaar gelede het een van die grootste sportskokke in die geskiedenis voor die wêreld afgespeel toe ’n totaal onervare amateur-mansyshokkiespan van die VSA die ervare sg Dream team van die Sowjetunie gedurende die Olimpiese Winterspele in Lake Placid, New York, geklop het. Hierdie wedstryd, wat bekend sou staan as die “Wonderwerk op ys”, was vir die Amerikaners ’n beduidende reklamemaker tydens die hoogtepunt van die Koue Oorlog.

Die Sowjetunie se mansyshokkiespan het by Lake Placid aangekom as die oorweldigende gunstelinge, wenners van vier agtereenvolgende goue medaljes sedert die 1964-Spele. Van die 35 wedstryde wat hulle teen die VSA gespeel het gedurende die 16 jaar voor 1980, het hulle ’n allemintige 28 gewen. Daarin is daar nogal ooreenkomste met die meer onlangse taamlik eensydige wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks, waar uit die laaste 20 wedstryde sedert 2010 die All Blacks 17 gewen het.

Die Sowjetspan is gelei deur die mees legendariese spelers van die yshokkiewêreld. Die meeste van hulle was de facto-beroepspelers met lang, veelgeroemde loopbane; sommige was selfs in die hoog-aangeskrewe Hokkieheldesaal opgeneem. Hulle is meestal aangestel as werknemers van groot industriële besighede en die weermag in die Sowjetunie met die uitsluitlike doel om net hokkie te speel. Westerse lande het tevergeefs daarteen beswaar gemaak dat die Sowjetunie van beroepsatlete gebruik maak, in die lig van die destydse Internasionale Olimpiese Komitee se slegs-amateurs-beleid.

In teenstelling met die Sowjetspan sou bykans die hele VSA-span in 1980 aan hulle eerste Olimpiese Spele deelneem. Hul hoofafrigter, Herb Brooks, was eers in 1979 aangestel, minder as ’n jaar voor die openingseremonie. Hy het net sewe maande gehad om ’n span te kies en voor te berei. Uiteraard het Brooks sy span saamgestel uit spelers wat hy geken het, hetsy deurdat hy hulle in studentespanne afgerig het, of teen hulle afgerig het. Die gemiddelde ouderdom van die VSA-span was 21 jaar, wat dit nie net die jongste span ooit gemaak het om die VSA in die Olimpiese Spele te verteenwoordig nie, maar ook die jongste yshokkiespan in die 1980-Winterolimpiade.

Brooks het egter met groot oorleg sy sleutelspelers en afrigterskorps gekies. Hy het opgemerk dat spelers van uiteenlopende agtergronde almal opgekyk het na ’n jong, betreklik onbekende speler met die naam van Mike Eruzione, en het hom derhalwe as kaptein aangewys, selfs nog voordat sy plek in die span verseker was. Hy het Jim Craig van Boston as sy hoofdoelwagter gekies, ongeag die feit dat sy administratiewe hoofde hom onder druk geplaas het om ’n meer senior speler in hierdie belangrike posisie te kies. Sy hulpafrigter, Craig Patrick, was sy spanmaat in die 1967 VSA- nasionale span. Brooks het dus elke lid van sy spelers en afrigterskorps intiem geken en derhalwe geweet hoe ver hy elkeen van hulle kon druk en hoe om die beste uit hulle te haal.

Die Sowjet- en VSA-spanne was natuurlik destyds geswore opponente as gevolg van die heersende spanning weens die Koue Oorlog. Boonop het die destydse VSA-president, Jimmy Carter, dit oorweeg om die Olimpiese Somerspele wat in Moskou gehou sou word, te boikot uit protes teen die Sowjet-inval in Afganistan gedurende Desember 1979. Carter het dan ook uiteindelik ten gunste van die boikot besluit.

Die VSA self het egter ook op hierdie tydstip deur ’n taamlik onstuimige tyd in sy geskiedenis gegaan. Die vernederende militêre nederlaag in Viëtnam en die gevolglike politieke en sosiale onmin was steeds vars in die gemoedere van baie Amerikaners, asook die skok van die Watergate-skandaal wat selfs die presidensie aan onwettige bedrywighede aandadig gemaak het (iets wat nie onbekend aan die Suid-Afrikaanse samelewing is nie). In 1973 het die oliekrisis die ekonomie gekniehalter en in 1979 was daar die bedreiging van nog ’n oliekrisis. Om alles te kroon is die Amerikaanse ambassade in Iran aangeval en oorgeneem deur Iranse betogers en Amerikaanse burgers en soldate is gyselaar gehou. Hierdie gebeure het nie net die beeld van die VSA in die res van die wêreld ’n ernstige knou toegedien nie, maar die kumulatiewe effek daarvan het ook ’n dempende uitwerking op Amerikaanse patriotisme gehad. Carter het self hierdie “vertrouenskrisis” in sy beroemde malaise-toespraak van 15 Julie 1979 opgehaal: “Die simptome van hierdie krisis van die Amerikaanse gees is oral om ons. Vir die eerste keer in die geskiedenis van ons land glo die meeste van ons mense dat die volgende vyf jaar slegter as die afgelope vyf jaar sal wees.”

Carter se toespraak toon nogal sekere ooreenkomste met Suid-Afrika se president Cyril Ramaphosa se Staatsrede op 13 Februarie 2020 toe hy gesê het:

Ons land is besig om die harde werklikheid onder oë te sien. Ons ekonomie het vir langer as ’n dekade op geen beduidende wyse gegroei nie … Die herstel van ons ekonomie het tot stilstand gekom weens aanhoudende energietekorte wat besighede en mense se lewens ontwrig het … Dit is julle, die mense van Suid-Afrika, wat hierdie las dra, en gekonfronteer deur eskalerende lewenskostes, nie daartoe in staat is om van armoede te ontsnap nie, nie daartoe in staat is om julle volle potensiaal te bereik nie …

Beide toesprake het ten doel gehad om ’n draaipunt mee te bring in die geskiedenis van beide nasies. Die VSA het in 1980 deur ’n resessie gegaan, terwyl Suid-Afrika ’n tot nog toe ongekende ekonomiese en sosiale krisis in die gesig staar. Carter se toespraak is destyds sterk gekritiseer weens die neerhalende, pessimistiese aard daarvan, terwyl die geskiedenis nog Ramaphosa se toespraak moet beoordeel.

Intussen het Brooks, te midde van die politieke en ekonomiese warboel wat besig was om sy land te teister, hard daaraan gewerk om sy span vir die Olimpiese Spele gereed te kry. Gedurende September 1979 het die VSA-span begin met ‘n uitmergelende reeks van 61 sogenaamde vertoonwedstryde teen spanne van Europa asook die VSA. Verder het hy sy spelers onderwerp aan uiters strawwe oefeninge, waarvan baie gerig was op die waarskynlike opkomende deurslaggewende botsing met die Sowjetspan. Brooks het hom daarop toegelê om sy spanlede tot hulle fisieke en geestelike uiterstes te dryf, ten einde ’n taaiheid onder hulle te kweek wat hulle in staat sou stel om tot aan die einde van ’n wedstryd by die Sowjetspan te kan kers vashou.

In die laaste vertoonwedstryd het die VSA-span op 9 Februarie 1980 teen die Sowjetspan by Madison Square Garden gespeel, en met ’n loesing van 10 doele teen 3 uit die stryd getree. Die Sowjetspan se hoofafrigter het later erken dat hierdie oorwinning eintlik “’n baie groot probleem geword het”, want dit sou daartoe lei dat die Sowjetspelers die VSA-span in die toekoms totaal onderskat.

Die VSA-span het die Olimpiese Spele aangedurf uit die sewende plek op die wêreldranglys, met die Sowjet-span in die eerste plek. Die feit dat die Sowjetspan op daardie stadium nog geen wedstryd in die Spele verloor het sedert 1968 nie, het die ewewig nog sterker in hulle guns laat oorhel.

Die groepfases het ’n wankelrige begin vir die VSA-span ingelui deurdat hulle gelykop gespeel het teen die hoog-aangeskrewe span van Swede. Desnieteenstaande het die VSA-span waarnemers beïndruk met ’n taai en volgehoue vertoning waardeur hulle die gelykopuitslag met ’n doel net 27 sekondes voor die einde van die wedstryd afgedwing het. Hierdie doel sou later deurslaggewend blyk te wees tydens die sogenaamde medaljerondes, want as die VSA-span nie daardie doel aangeteken het nie en al die ander tellings het dieselfde gebly, sou die Sowjetspan die goue medalje gewen het op doeleverskil (soortgelyk aan punteverskil in rugby). In hulle tweede wedstryd het die VSA-span Tsjeggo-Slowakye, wat beskou is as die tweede beste span by die Spele, verstom gelaat met ’n oorwinning van 7 teenoor 3. Hierna het die span voortgebou op sy indrukwekkende prestasie deur ook Noorweë, Roemenië en Wes-Duitsland oortuigend te verslaan. As onoorwonnenes in die groepfases het die span dus saam met Swede na die medaljerondes deurgedring.

Tydens die wedstryd teen Tsjeggo-Slowakye het een van die Tsjeggo-Slowaakse spelers sy hokkiestok gebruik om Mark Johnson, een van die VSA-span se spelers, plat te slaan. Die televisiekamera is hierop na Brooks gedraai en hy kon duidelik gehoor word waar hy sê: “Ek vat nou-nou hierdie stok en druk dit in jou keel af!” Dit het sterk met baie Amerikaners geresoneer, wat hierdie tipe opmerking beskou het as noodsaaklik om die ontbrekende hardekwasbenadering onder Amerikaners terug te bring. Dit was dan ook die begin van ’n ware nasionale belangstelling in die Amerikaanse span. Skielik het sport, in die besonder yshokkie, die nasionale trots en eenheid onder alle Amerikaners teruggebring soos geen politikus dit ooit sou kon gedoen het nie.

Intussen het die Sowjetspan in die ander groep al sy wedstryde op  drafstap gewen en gemaklik vir die medaljerondes gekwalifiseer. In sy een wedstryd, teen Japan, het die Sowjetspan 16 onbeantwoorde doele aangeteken. Selfs met swaargewigte soos Kanada en Finland het die Sowjetspan maklik klaargespeel. Soos verwag, het die Sowjetspan bo-aan sy groep geëindig en sou dus die VSA-span as teëstanders ontmoet in die eerste van vier medaljerondewedstryde. Die wedstryd teen die Sowjetspan is deur die meeste kenners beskou as die VSA-span se belangrikste. Eerstens, in ag genome die intensiteit van so ’n wedstryd, was die voorspelling dat die wenner sou voortgaan en die goue medalje wen. Hoewel dit gewoonlik ’n gewilde voorspelling is om onder die omstandighede te maak, veral wanneer twee gunstelinge mekaar sou aanpak, het ons in die 2019-Wêreldrugbybeker-halfeindstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland gesien dat dit natuurlik nie noodwendig is soos dinge altyd uitspeel nie. (Ai, hoe lekker kry ek nou!)

Tweedens, sou die VSA-span verloor, sou dit die wankelende vertroue in Amerika ’n verdere knou toedien, en vir die Sowjet-Unie sou ’n oorwinning oor hulle aartsvyand op eie bodem weer ‘n skouspelagtige propagandavoorsprong besorg.

Al 8 500 toegangskaartjies vir die wedstryd wat in Field House, New York, gespeel sou word, was vroeg reeds uitverkoop. Vir hierdie toeskouers, asook die miljoene televisiekykers tuis, was hierdie nie net nog ’n yshokkiewedstryd nie. Hoewel baie toeskouers inderdaad nie eers die reëls van yshokkie geken het nie, het hierdie buiteperdspan hulle verbeelding tot ‘n ongekende mate aangegryp, en daarbenewens was hulle wel deeglik bewus van die politieke implikasies van ’n wedstryd teen die Sowjetunie, die reuse van die spel.

Vir die VSA-span se spelers self was die wedstryd egter van geen politieke betekenis nie. Selfs die impak van die uitslag het eers veel later tot hulle deurgedring. Die span was ingeperk tot die Olimpiese dorpie, waar hulle na slegs een plaaslike radiostasie kon luister en daarvan weerhou is om koerante te lees. Een van die spelers, Mark Pavelich, sou later sê: “As mense graag wil dink dat daardie vertoning vir ons land was, dan is dit goed so … maar feit van die saak is, dit was net ’n hokkiewedstryd. Daar was genoeg om ons oor te bekommer sonder om ons nog te bekommer oor Afganistan of om te wen vir die trots en glorie van die Verenigde State. Ons wou dit maar net vir onsself wen.”

In die kleedkamer, voor die begin van die wedstryd, het Brooks ’n eenvoudige boodskap vir sy spelers gehad: “Jy was gebore om ‘n speler te wees. Jy was bedoel om hier te wees. Die oomblik is joune.” Brooks het later gesê dat “… die Russe was oorgehaal om hulself keelaf te sny. Maar ons moes tot die punt kom waar ons gereed sou wees om die mes op te tel en aan hulle te oorhandig”. Met dit het hy bedoel dat die Sowjet-span op een of ander tyd sou moes verloor, en dat hy geglo het dat sy span daartoe in staat was om dit te bewerkstellig.

Die kanse op ’n oorwinning deur die Amerikaanse span was egter baie skraal. Die span is as totale buiteperde beskou, terwyl die Sowjetspan universeel die algehele gunstelinge was teen ’n verstommende 1 000 tot 1! Om te verstaan hoe onwaarskynlik ’n Amerikaanse oorwinning eintlik beskou was: ’n Weddenskapsbedrag van $100 sou ’n opbrengs van $100 000 gee indien die VSA-span sou wen! ’n Wen vir die VSA-span sou inderdaad wees wat die sportskrywer Dave Manuel beskryf het as “wesenlik ’n eenmaal-in-’n-leeftyd-gebeurtenis”. Dit kom so min voor dat wanneer dit wel gebeur, daar na so ’n oorwinning as ‘n wonderwerk verwys word.

Die wedstryd was geskeduleer vir 17h00 op 22 Februarie 1980, maar die nasionale uitsaaier, ABC, het versoek dat die wedstryd herskeduleer word vir 20h00 sodat dit regstreeks tydens spitstyd uitgesaai kon word. Hierdie versoek is geweier, met die gevolg dat ABC besluit het om nie die wedstryd regstreeks uit te saai nie maar dit eerder op te neem sodat dit tydens die spitstyddekking van die Olimpiese Spele uitgesaai kon word.

Die wedstryd self het voldoen aan die voorafgaande verwagtings. Die Sowjetspan het die eerste doel behaal, maar die Amerikaners het bykans onmiddellik teruggeslaan. Wat hierop gevolg het, was ’n titaniese stryd met beide spanne wat desperaat gepoog het om beheer oor die ander te verkry. Minstens een doel is in elk van die drie periodes van 20 minute aangeteken. Sodra die Sowjetspan ‘n doel aangeteken het, sou die VSA-span antwoord met ’n doel van hul eie. Die Sowjetspan het egter die oorhand begin kry in die tweede periode en heelwat druk op Jim Craig geplaas. Uiteindelik het hulle dan ook daarin geslaag om ’n doel aan te teken om hulle weer die voortou te gee met ’n telling van 3–2, met nog net die laaste periode, bestaande uit 20 minute, oor. Tydens die derde periode het die VSA-span weer aanvanklik die oorhand begin kry toe die Sowjetspan tydelik ’n man verloor het weens vuil spel. Hulle het dan ook die gelykmaker (3–3) gedurende hierdie tydperk aangeteken. Minder as 90 sekondes later het Pavelich die skyf na Eruzione gestuur waar hy onverdedig die skyf in die net geslaan het. Hiermee het die VSA-span vir die eerste keer die voortou in die wedstryd geneem, met presies 10 minute oor.

Die Sowjetspan het heftig gereageer en verwoed aangeval in ’n desperate poging om weer beheer oor die wedstryd te verkry. Hulle het begin om wilde houe te slaan in ’n desperate poging om ’n doel aan te teken. Met minder as ’n minuut oor het die Sowjetspan teruggeveg tot in die VSA-span se helfte van die ring, en met die VSA-span wat probeer om besit te herwin ten einde uit hul helfte te kom, het die skare die sekondes begin aftel. Die bekende sportkommentator Al Michaels het met verwysing na die aftelling sy nou beroemde opmerking gemaak: “Julle het tien sekondes … die aftelling, dit gaan nou aan … Vyf sekondes oor in die wedstryd. Glo julle in wonderwerke?! JAAA!”

Die jong VSA-span het die ondenkbare reggekry. Terwyl die spelers en die skare feesgevier het, het die Sowjetspan vir ’n ruk verslae op die ys bly staan, geruk deur die onwaarskynlike nederlaag. Dit was die eerste keer in 12 jaar dat hulle ’n Olimpiese nederlaag ervaar het. Later sou hulle teen Swede wen om die silwermedalje te verower, maar die Sowjetspelers was steeds so ontsteld weens hul nederlaag teen die VSA dat hulle geweier het om hulle silwermedaljes in te dien sodat hulle name daarop getranskribeer kon word soos die gebruik was. (Dit roep onwillekeurig beelde op van die Engelse rugbyspelers wat geweier het dat die silwermedalje om hulle nekke gehang word na hul nederlaag teen die Springbokke in die 2019-Wêreldbeker-finaal.) Hoe dit ook al sy, die uitslag het inderdaad ook die Sowjetunie en sy nuusmedia verstom. Die wedstryd is gespeel toe die grootste gedeelte van daardie land geslaap het, want hulle het dit as ‘n gegewe aanvaar dat hulle span ’n span bestaande uit ’n “klompie studente” maklik sou kafdraf.

Ten spyte van die “Wonderwerk op ys” moes die VSA-span steeds hul finale wedstryd teen Finland twee dae later op 24 Februarie 1980 wen om die goue medalje te verower. Die “wonderwerk” is so byna-byna uitgewis toe die VSA-span tydens die laaste periode van die wedstryd nog met 2–1 agter was. Volgens Eruzione het Brooks tydens die tweede rustyd voor die finale periode na sy spelers gedraai en gesê: “As julle hierdie wedstryd verloor, gaan julle dit met julle saam dra tot in julle f@##*n grafte.” Hierop het hy na die kleedkamerdeur geloop, vir ‘n oomblik stilgestaan en teruggedraai, en herhaal: “Julle f@##*n grafte.” Die span het dan ook daarin geslaag om te herstel en Finland 4–2 te klop, waarmee die wonderwerk voltooi is.

Dit is dus nie verbasend dat die VSA se mansyshokkiespan se roem geen perke geken het na die Olimpiese Spele nie, veral in die VSA. Hulle het Sports Illustrated se Sportmanne van die Jaar-toekenning ontvang en is ook met die Atleet van die Jaar-toekenning deur Associate Press en ABC se Wide World Sports vereer. Gedurende 2004 het ESPN die “Wonderwerk op ys” verklaar as die beste sportoomblik en wedstryd vir die tydperk 1979–2004. Die oorwinning is ook deur Sports Illustrated aangewys as die grootste sportgeleentheid van die 20ste eeu.

Herb Brooks het ongelukkig gedurende 2003 tragies gesterf in ’n motorongeluk op die ouderdom van 66 jaar, nadat hy nog ‘n Amerikaanse mansyshokkiespan tot verowering van die silwermedalje op die Olimpiese Winterspele van 2002 gelei het. In 2006 is Brooks postuum in die Hokkieheldesaal opgeneem. Die onderskrif lui: “As ’n man van passie en toewyding, het Herb Brooks ’n hele generasie Amerikaners geïnspireer om enige en alle drome na te jaag.”

Gedurende die 11 jaar wat op die “Wonderwerk op ys” sou volg, kon die Amerikaanse mansyshokkiespan nie weer ’n wedstryd teen die Sowjetspan wen nie, gedeeltelik te wyte aan die feit dat hulle afgewyk het van Brooks se bewese en erkende oefenmetodes. Nadat die Internasionale Olimpiese Komitee sy reëls met betrekking tot beroepspelers geheel en al verslap het, is die sogenaamde dream teams vir die Olimpiese Spele gekies. Dit het heelwat van die genot en spanning uit internasionale mededinging gehaal. Daar is nou nie meer die bekoring van ’n nasionale amateurspan wat teen ‘n uiters bedrewe professionele span opgestel word om die geleentheid vir nog “wonderwerke” te skep nie. Brooks se span het egter bewys dat enige span met die regte hoeveelheid passie, die regte tipe spelers en die regte tipe afrigter die beste in die wêreld kan klop. Dis bloot ’n universele feit. Daarvan sal die 2015-Springbokke kan getuig met verwysing na hul eerste wedstryd ooit teen Japan. Of die 2019 Ierse rugbyspan met verwysing na dieselfde span.

Dit is hierdie tipe wonderwerke wat mense inspireer. En dit is die doel van sport. Om mense tot op die grense van hul vermoë te druk, en selfs daar verby. Om die ondenkbare te bedink, en aan te pak. John Carlin het, net soos Nelson Mandela, geskryf: “Sport het die mag om die wêreld te verander. Dit het die mag om te inspireer, die krag om mense te verenig soos niks anders nie.” Dit laat mense toe om van ’n beter toekoms te droom, ongeag hoe haglik die huidige situasie mag wees. Dit laat mense in wonderwerke glo. Dit het Herb Brooks verstaan. En vir minstens twee weke het sy span ’n hele nasie geïnspireer, ongeag die kortstondigheid daarvan, om meer te wil hê, om meer te wees, om die heel beste in die wêreld te wees, teen alle waarskynlikhede in.

Jako Bezuidenhout is ’n Afrikaanse Suid-Afrikaner wat daagliks gedwee, soms verleë, soms wroegend, maar hoofsaaklik met trots, sy geërfde historiese bagasie met hom saamdra. Hy het pas sy doktorale proefskrif in geskiedenis by die Rhodes-universiteit ingedien. Hy was tot onlangs aan die Geskiedenisdepartement daar verbonde en is tans ’n vryskutnavorser.

Bronne

Baime, AJ. 2002. Celebrating the US Hockey Team’s “Miracle on ice”. AARP, 12 Februarie. https://www.aarp.org/politics-society/history/info-2020/miracle-on-ice-hockey-anniversary.html.

Carlin, J. 2008. Playing the enemy: Nelson Mandela and the game that made a nation. Londen: uitgewer?

Carter, J. 1979: “Crisis of confidence” speech. UVA / Miller Center, 15 Julie. https://millercenter.org/the-presidency/presidential-speeches/july-15-1979-crisis-confidence-speech.  

Final minute of the “Miracle on ice” (video). 2010. YouTube. 5 Februarie. https://www.youtube.com/watch?v=qYscemhnf88.

Manuel, D. 2019. The United States were 1000–1 underdogs to defeat the Soviet Union at 1980 Winter Olympics. SportsKing.com, 12 November. https://www.sports-king.com/miracle-on-odds-ice-2703.

SONA 2020: Read President Cyril Ramaphosa’s full speech. 2020. IOL, 13 Februarie. https://www.iol.co.za/news/politics/sona-2020-read-president-cyril-ramaphosa-full-speech-42675302.

US hockey team beats the Soviets in the "Miracle on ice”. History.com. www.history.com/.amp/this-day-in-history/u-s-hockey-team--makes-miracle-on-ice.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top