Nou in die verlede: Die referendum wat ’n einde gemaak het aan apartheid

  • 1

Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.

Dinsdag 17 Maart 2020 

“Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ’n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?” (Suid-Afrikaanse referendum, 17 Maart 1992).

So lui die vraag wat op 17 Maart 1992 aan die uitsluitlik wit kiesers gestel is. ’n Oorweldigende meerderheid, 68,73% van die kiesers wat gestem het, het “ja” gestem. Hierdie week gedenk ons daardie historiese gebeurtenis en die uitwerking daarvan op die geskiedenis van Suid-Afrika.

Hierdie gebeure het alreeds twee jaar tevore in alle erns ’n aanvang geneem, en wel met president FW de Klerk se openingsrede in die parlement op 2 Februarie 1990. Tydens hierdie toespraak het hy aangekondig dat die verbod op voorheen verbode organisasies soos die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) opgehef word en dat Nelson Mandela onvoorwaardelik vrygelaat gaan word. Daarbenewens het De Klerk ook aangekondig dat die uitvoering van die doodstraf opgeskort word en dat die noodtoestand, wat toe nog in volle swang was, opgehef word. In sy toespraak het hy dit duidelik gemaak dat “die tyd vir onderhandeling het aangebreek”.

Kort op die hakke van hierdie aankondiging is Mandela dan ook vrygelaat. Skaars meer as ’n maand later het Suidwes-Afrika (wat sedert die Eerste Wêreldoorlog onder Suid-Afrika se beheer was) sy onafhanklikheid verkry en toe bekend gestaan as Namibië. In Mei het die Suid-Afrikaanse regering amptelik begin om met die ANC in gesprek te tree. In Junie is die noodtoestand opgehef en het die ANC het ingestem tot ’n skietstilstand. In 1991 is verskeie wette met betrekking tot rasseklassifikasie,  asook ander wette wat gebaseer was op ras en wat sekere beperkings betreffende grondbesit en woongebiede op mense gestel het, herroep.   

Tydens al hierdie gebeure het die regerende Nasionale Party (NP) egter geleidelik steun onder wit kiesers begin verloor. Sedert De Klerk se toespraak het die NP toe alreeds drie tussenverkiesings verloor en die NP se meer konserwatiewe kieserskorps het al meer ’n politieke tuiste by die verregse Konserwatiewe Party (KP) gevind. Die KP was sterk gekant teen enige onderhandelings met die voormalige verbode organisasies en het ook later die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (KODESA) geboikot. Tydens sy openingsrede van die parlement op 24 Februarie 1992 het De Klerk voorgestel dat ’n referendum gehou word waarin die stemme van elke rasgroep afsonderlik getel word. Maar toe die NP in ’n tussenverkiesing te Potchefstroom op 19 Februarie 1992 deur die KP verslaan is, het dit tot ’n ernstige geloofwaardigheidskrisis vir De Klerk en sy party onder wit kiesers gelei en die beoogde referendum is vir eers op die lange baan geskuif.

Die onderhandelinge tussen die regering en die ANC het intussen baie stadige vordering gemaak. Geweld het in die swart woonbuurte uitgebreek, verskillende regse organisasies soos die KP en die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) het veld begin wen onder wit kiesers en daar was in die algemeen toenemende kommer en ontevredenheid onder wit Suid-Afrikaners. Die regering was onder nasionale en internasionale druk om vinniger vordering te maak met die onderhandelinge.

Toe die KP aanvoer dat die regering na die NP se nederlaag in Potchefstroom nie ’n mandaat van die wit kiesers het om met die ANC te onderhandel nie, het De Klerk op 20 Februarie aangekondig dat ’n referendum onder die wit kiesers gehou sal word om die NP se steun (sowel as sy eie) onder die wit kiesers te toets. Dit was ’n geweldig groot waagstuk vir De Klerk en die NP: As die uitslag van die referendum negatief sou wees, sou De Klerk moes bedank het en ’n algemene verkiesing sou gehou moes word. Daar was ook heelwat kritiek op die feit dat slegs wit kiesers aan die referendum sou deelneem. Hierdie ontevredenheid kon maklik die magsbalans in Suid-Afrika versteur het, wat ’n potensiële magsvakuum tot gevolg sou kon hê, en wat uiteindelik tot ’n rasse-oorlog sou kon lei.

Gedurende die maande in die aanloop tot die referendum het die NP ’n onverwagse bondgenoot geving in die Demokratiese Party (DP), wat, net soos die NP, ’n veldtog gevoer het ten gunste van die “ja”-stem, terwyl die konserwatiewe regse vleuel onder leiding van die KP vir die “nee”-stem voorspraak gemaak het. Gedurende 1992 was heelwat van De Klerk se pogings daarop gerig om sy regse opposisie te paai en ook terselfdertyd te verswak; daardie elemente wat steeds apartheid verdedig het en wat in die 1980’s van die NP af weggebreek het. De Klerk het probeer aantoon dat die regering nie net bloot die mag aan die ANC gaan oorhandig nie, maar gaan onderhandel met die oog daarop om die mag te deel. Die NP het kiesers gewaarsku dat ’n “nee”-stem tot gevolg sou hê dat internasionale sanksies teen Suid-Afrika voortgesit sou word, en gewys op die gevare van ’n burgeroorlog en toenemende chaos in Suid-Afrika.

De Klerk het dit aan die media gestel dat hy ’n “ja”-meerderheidstem as ’n mandaat sal beskou vir die regering om bindende ooreenkomste met die ANC en ander swart leiers aan te gaan sonder om weer die formele toestemming van wit kiesers te vra. Hy het verder aangevoer dat ’n verdere referendum om die bepalings van ’n ooreengekome grondwet te bekragtig, nie nodig sou wees nie, tensy hierdie bepalings wesenlik van die regering se beloftes sou verskil. Hierdie beloftes het ’n verklaring van menseregte, verdeling van magte tussen die uitvoerende, wetgewende en regterlike mag, ’n parlement bestaande uit twee huise en ’n onafhanklike regbank, ingesluit.

Die NP se “ja”-stemveldtog was van ongekende omvang in Suid-Afrika se politieke geskiedenis. Groot politieke saamtrekke is landwyd gehou, advertensies is in byna alle gedrukte mediapublikasies geplaas en groot blokke tyd is op die radio en televisie aangekoop. Enorme “ja”-stemplakkate met die boodskap “Yes! Ja! SA” is gedruk en opgesit asook ’n plakkaat waarop ’n AWB-lid met ’n geweer uitgebeeld word met die onderskrif: “Jy kan hierdie man keer! Stem JA”. Die DP het meer tradisionele plakkate gebruik met die boodskap: “Ja vir vrede”.

Die “nee”-veldtog was gelei deur Andries Treurnicht, leier van die KP. Treurnicht, bekend vir sy bynaam “Dr No”, het gewaarsku dat ’n “ja”-stem tot ’n swart meerderheidsregering en ’n ANC- kommunistiese regering sou lei. Die KP het wit selfbeskikking gepropageer en het die reg dat wit Suid-Afrikaners hulleself regeer voorgestaan. Tydens hulle “nee”-veldtog is daar ook groot gewag gemaak van ’n volkstaat vir die wit Afrikaner-minderheid.

Die “ja”-veldtog het ’n beduidende voordeel gehad weens die feit dat dit deur die regering ondersteun was, sowel as deur die DP, die media, die internasionale gemeenskap en die oorgrote meerderheid van die handels- en besigheidsorganisasies. Volgens die Sentrum vir Strategiese en Internasionale Studies (SSIS) (eie vertaling):

Tydens die referendumveldtog het die Nasionale Party al die voordele gehad. Televisie en (in baie dele van die land) radio word deur die regering beheer. Die besigheidsgemeenskap het geld verskaf, en die meeste koerante het gehelp deur afslagpryse te bied vir “ja”-advertensies … Die Konserwatiewe Party, met geen vergelykbare fondse en geen toegang tot afslagpryse nie, was eintlik effektief van die massamedia uitgesluit, en kon net op plakkate staatmaak om sy boodskap oor te dra.

Verskeie plaaslike en internasionale instellings het hulle kommer uitgespreek dat die referendum op ’n oorwinning vir die “nee”-stem mag uitloop. Hoofstroombesighede in Suid-Afrika het gewys op die gevare wat ’n “nee”-stemoorwinning vir die land sou inhou. Maatskappye soos Anglo-American, Barlow Rand, BP, Caltex, Eerste Nasionale Bank, Murray en Roberts, Shell en Standard Bank het almal hul gewig ingegooi agter die “ja”-stem en hulle werknemers aangemoedig om “ja” te stem. ’n Groot groep sakeleiers het die Privaatsektor-Referendumfonds gestig om die “ja”-veldtog te finansier. ’n Geskatte R1 miljoen is so ingesamel. Advertensies in koerante soos die Sunday Times het aangevoer (eie vertaling):

Dit is wat ons sedert 1990 vermag het: Ons is alreeds in die internasionale gemeenskap terugaanvaar; sanksies is opgehef; handel is besig om te floreer; beleggingskapitaal is besig om in te stroom, wat lei tot die skepping van nuwe werksgeleenthede, nuwe geleenthede. Dit is wat die “nee”-stem oornag sal vernietig.

Daar is altesaam 2 804 947 stemme getel, 85% van die totale wit geregistreerde kiesers in Suid-Afrika. Hiervan het 1 924 186 (68,37%)”ja” gestem en 875 619 (31,27%) “nee”. In Kaapstad en Durban het 85% van dié wat gestem het, “ja” gestem en in Pretoria het meer as 57% ook “ja” gestem. Net Pietersburg (vandag bekend as Polokwane), destyds ’n regse bastion, het met 57% “nee” gestem. Selfs in Kroonstad, waar vyf van die sewe parlementêre setels deur “nee”-aktiviste gevul was, het die “ja”-stem gewen deur 52% te behaal.

Die dag na die referendum het De Klerk, terwyl hy ook sy 56ste verjaardag vier, aangekondig (eie vertaling):

Vandag het ons die boek op apartheid toegemaak. Die wit kieserskorps het deur die oorweldigende oorwinning vir die “ja”-stem, uitgereik na al ons landgenote, na alle ander Suid-Afrikaners, en die boodskap van hierdie referendum is: Vandag is in ’n sekere sin die geboortedag van die nuwe Suid-Afrikaanse nasie.

Op hierdie dag het De Klerk dan ook met groot trots vir die kameras geposeer terwyl hy ’n eksemplaar van die Cape Times vashou met die hoofopskrif in Engels: “DIS JA!”

Die KP se bondgenootskap met die AWB het waarskynlik sy kanse benadeel en in sommige gevalle het dit selfs kiesers wat die “nee”-stem simpatiekgesind was, na die “ja”-stem weggedryf. Verdere benadeling vir die KP het voortgespruit uit konserwatiewe en militante verdedigers van apartheid wat die referendum geboikot het. Desnieteenstaande was daar ’n rekorddeelname van kiesers; in sommige gebiede selfs hoër as 96%.

De Klerk en sy regering kon nou daarop aanspraak maak dat die wit kiesers ten gunste is van algemene stemreg vir Suid-Afrika en dat die regering nou ’n mandaat het om met die ANC te onderhandel. Aanvanklik was die ANC gekant teen die referendum omdat net wittes daaraan kon deelneem. Maar hulle het gou besef watter politieke chaos ’n “nee”-stem in die land sou veroorsaak en watter negatiewe uitwerking dit op die onderhandelinge sou hê; derhalwe het hulle ook hulle gewig agter die referendum en ’n “ja”-stem ingegooi.

Soos te verwagte in hierdie tipe verkiesings waar die verwagtinge en emosies hoog loop, het die regse groepe kort na die uitslag die regering van verkiesingsbedrog beskuldig. Hulle kon dit nie verwerk dat hulle verloor het op plekke waar hulle geglo het hulle die grootste ondersteuning geniet het nie. Treurnicht het aangevoer dat die propaganda deur die media, inmenging van buite, dreigemente deur besighede teenoor hulle werknemers en verkiesingsbedrog die “ja”-stem tot gevolg gehad het. Hoewel die rol van die media en die sterk finansiële steun ten gunste van die “ja”-stem nie ontken kan word nie, was daar egter van verkiesingsonreëlmatighede tot op hede nog geen bewyse nie.

Die referendum het ’n politieke draaipunt in die KP se suksesse as ’n politieke party tot gevolg gehad. Tydens die daaropvolgende jaar is een van sy senior lede, Clive Derby-Lewis, gearresteer vir die sluipmoord op Chris Hani, hoofsekretaris van die SAKP. Minder as twee weke later, op 22 April 1993, het Treurnicht gesterf. Sy voormalige adjunkminister gedurende die tyd toe hy nog in die Nasionale Party-kabinet gedien het, Ferdinand Hartzenberg, het die nuwe leier van die KP geword. Hartzenberg het later voor die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) getuig dat die sluipmoord op Hani namens die KP uitgevoer was. Ondersteuning vir die KP het vinnig afgeneem totdat dit uiteindelik in 2004 met die Vryheidsfront saamgesmelt het.

Twee jaar na die referendum, op 27 April 1994, het Suid-Afrika sy eerste nierassige verkiesing gehou, wat gelei het tot ’n wegholoorwinning vir die ANC met Nelson Mandela Suid-Afrika se eerste swart president en De Klerk sy tweede visepresident binne ’n Regering van Nasionale Eenheid (RNE) soos ooreengekom tydens die onderhandelinge en bepaal is deur artikel 88 van die Tussentydse Grondwet van 1993. Die missie van die RNE was om toesig te hou oor die opstel van ’n nuwe grondwet en om te poog om die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners  radikaal te verbeter. Dit het ook die WVK ingestel om versoening te bewerkstellig ten opsigte van ernstige menseregtevergrype en gruweldade wat gedurende die apartheidsera deur alle partye gepleeg is. Amnestie sou dan verleen word aan daardie oortreders wat polities-gemotiveerde misdade ten volle openbaar en getuienis verskaf wat tot ondersoeke en vervolgings kon lei.

De Klerk en die NP het egter  na skaars twee jaar besluit om hulle aan die RNE te onttrek. Hy was veral ontevrede omdat hy en sy party uitgesluit gevoel het van die gesamentlike besluitnemingsproses wat sou lei tot die opstel van die finale grondwet van Suid-Afrika. Hy het ook gemerk dat die NP baie vinnig besig was om sy invloed op die beleidsrigting van die regering te verloor, en in sy toespraak van 3 Junie 1996 het hy dit as volg verduidelik (eie vertaling):

Voortgesette deelname aan die RNE is soortgelyk aan ’n doodsvonnis vir selfs die wydste en mees beskeie konsep van regering gebaseer op konsensus. Voortgesette deelname sal soortgelyk wees aan aanhouding in die dodeselle, in afwagting op teregstelling. Die voortbestaan van ’n veelpartydemokrasie wat afhanklik is van ’n sterk en geloofwaardige opposisie, word bedreig deur ons voortgesette deelname aan die RNE.

De Klerk het in 1997 uit die politiek getree.

Die uitslag van die referendum het sonder twyfel aangedui dat die oorgrote meerderheid van wit Suid-Afrikaners gereed was vir verandering. Hulle wens was dat Suid-Afrika ’n ware demokratiese staat, ’n inklusiewe nasie, moet wees. Dit het vir die wêreld gewys dat dié wat deur apartheid bevoordeel was, gereed was om die einde daarvan te ondersteun en aan te beweeg na ’n onderhandelde vrede. Daarom is dit verbasend dat so ’n belangrike hoofstuk in Suid-Afrika se geskiedenis toegelaat word om in relatiewe historiese duisternis te verdwyn. Dit is taamlik maklik vir die ANC om erkenning te eis vir die verbreking van apartheid en die bevryding van die mense van Suid-Afrika. Maar die ANC se vryheidsnarratief is geneig om die referendum te ignoreer, of om dit af te maak as bloot deel van die onkeerbare  winde van die revolusie wat deur Suid-Afrika gewaai het; die uitkoms was dus onvermydelik.

Dit was egter nie so maklik en eenvoudig nie. Daar was steeds ’n beduidende aantal wittes wat nee gestem het uit vrees dat hulle die mag sou verloor en minderheidsvervolging in die gesig sou staar. Daar was ook sommiges wat ja gestem het uit vrees vir volgehoue ekonomiese sanksies, sportisolasie en potensiële burgeroorlog. Maar die meeste wittes het ja gestem omdat hulle werklik apartheid as ’n onregverdige sisteem beskou het wat afgeskaf moes word.

Van belang is dit dat die referendum en die uitslag daarvan die redelik algemene siening omverwerp dat wittes gedwing was om die mag af te staan, of dit teësinnig afgestaan het aan die swart meerderheid in 1994. Dit maak ook korte mette met die idee dat alle wittes rassisties is. Die uitslag van die referendum staan as ’n bewys dat die meerderheid wit Suid-Afrikaners gereed was om demokrasie aan te gryp en, by implikasie, swart meerderheidsregering te aanvaar. Laat daar geen twyfel daaroor wees nie; wit Suid-Afrikaners, ongeag of dit direk of indirek mag wees, gaan steeds voort om ’n beduidende, deurlopende en volgehoue rol te speel in die Suid-Afrika van vandag. Die verantwoordelikheid vir ’n “nuwe” Suid-Afrika lê net soveel op die weg van die wit minderheid as op dié van die swart meerderheid.

Ongeag wat die politici ons vandag wil wysmaak oor ons geskiedenis, was die 1992-referendum die geleentheid toe wit Suid-Afrikaners nee gesê het vir apartheid en ja vir ’n vrye Suid-Afrika.         

     

  • Jako Bezuidenhout het pas sy doktorale proefskrif in geskiedenis by Rhodes-universiteit ingedien. Hy was tot onlangs aan die Geskiedenisdepartement daar verbonde en is tans ’n vryskutnavorser.

 

Bibliografie

De Klerk, F.W. 2012. The 1992 referendum: Twenty years on. Politicsweb. 16 Maart.
https://www.politicsweb.co.za/party/the-1992-referendum-twenty-years-on-fw-de-klerk.

Gordin, J. 2017. South Africa: The remarkable referendum of 1992. Gulf News. 15 Maart
https://gulfnews.com/world/africa/south-africa-the-remarkable-referendum-of-1992-1.199411.

Oxford Union. 2014. FW de Klerk: Apartheid Indefensible. YouTube15 Maart.
https://m.youtube.com/watch?v=7ZI5fi5zO6I.

SABC Digital News. 2017. White South Africa votes in 1992 referendum (25 years ago). YouTube. 16 Maart.
https://m.youtube.com/watch?v=wcQ9GqJUiDY.

Strauss, A. 1993. The 1992 Referendum in South Africa. The Journal of Modern African Studies, 31(2):339–60.
https://www.cambridge.org/core/journals/journal-of-modern-african-studies/article/the-1992-referendum-in-south-africa/8061F89B59C97428629DE9624F7DF35D#.

Traydon, R.J. 2017. The “often overlooked” sledgehammer that ended apartheid. News24. 19 Oktober.
https://m.news24.com/Columnists/GuestColumn/the-often-overlooked-sledgehammer-that-ended-apartheid-20171019.

  • 1

Kommentaar

  • In die versamelde van AG Visser is daar:
    “In die sondagskool
    ‘Ja, veertig dae agtereen
    En veertig nagte lank gereën!
    Dis ’n rekord tot op hede.’
    ‘Meneer, mag ek Meneer iets vra?’
    ‘Maar alte seker, Japie, Ja?’
    ‘Was die boere toe tevrede?’”

    Dit noop my om te vra, en 25 jaar later en met meer as 500 000 moorde (https://businesstech.co.za/news/lifestyle/329027/over-500000-people-have-been-murdered-in-south-africa-since-1994/) later en Suid Afrika wat waggel op fiskale afgrond en rommelstatus, is die mense nou tevrede?

    Hier is my siening van die saak: As Christen en kommunis om ’n tafel vergader is dit dieselfde as om ’n vergadering tussen skaap en wolf te reël en te vra wie heelhuids gaan uitstap.

    Moes daar nie onderhandel gewees het nie? Ja natuurlik, maar nie tussen politieke leiers nie maar tussen die leiers van elke volk wat in hierdie land woon, met ’n vetoreg teenoor taal, kultuur en geskiedenis, dan sou wit kinders en Afrikaans nie op ’n sylyn beland het nie.

    Dit gebeur wanneer jy die Bybel op die grond laat beland en Lenin se boeke op die tafel plaas.

    En waarom kla sommige van die grootste ondersteuners van die plan nou dat “die land is in sy moer”.

    Ons het nie gestruggle om arm te bly nie, sê die comrades en daarom was onse president die 6de beste besoldigde president in die wêreld en is in 2018 teen die jaar se wisselkoers 6de geplaas net agter presdident Trump, as bes besoldige president (Bron:https://businesstech.co.za/news/wealth/232021/ramaphosas-presidential-salary-vs-other-world-leaders/).

    Leader Country Salary (US$) Salary (ZAR)
    Lee Hsien Loong Singapore $2 200 000 R26.0 million
    Carrie Lam Hong Kong $638 000 R7.6 million
    Alain Berset Swiss Confederacy $480 000 R5.7 million
    Malcolm Turnbull Australia $415 000 R4.9 million
    Donald Trump United States $400 000 R4.7 million
    Cyril Ramaphosa South Africa $305 000 R3.6 million
    Angela Merkel Germany $272 000 R3.2 million
    Justin Trudeau Canada $266 000 R3.1 million
    Leo Varadkar Ireland $237 000 R2.8 million
    Emmanuel Macron France $221 000 R2.6 million
    Theresa May UK $212 620 R2.5 million

    Michel Temer Brazil $113 000 R1.3 million
    Vladamir Putin Russia $112 000 R1.3 million
    Ram Nath Kovind India $92 400 R1.1 million
    Xi Jinping China $22 000 R260 400
    (All salaries have been converted to US dollars and ZAR at respective rates on 15 March 2018) en steeds is die comrades nie tevrede nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top