Lees in hierdie artikel oor ’n geskiedkundige gebeurtenis wat onlangs herdenk is.
Woensdag 1 April 2020
Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer die liggelowige onnoselheid van baie mense deur poetse en doelbewuste valse inligting getoets word. Maar hoeveel mense weet en verstaan waar die tradisie van 1 April se manewales vandaan kom? Hoewel Aprilgekkedag alreeds vir eeue deur verskillende kulture gevier word, bly die spesifieke oorsprong daarvan duister. Hierdie week ondersoek ons die moontlike gebeure wat tot hierdie gebruik gelei het.
Sommige historici wil ’n verband trek tussen Aprilgekkedag, of Allegekkedag, en die antieke Romeinse feeste soos Hilaria wat aan die einde van Maart gevier is en waartydens mense hulleself vermom het by wyse van hul kleredrag. Nog ’n teorie verbind Aprilgekkedag met die lentenagewening of eerste lentedag in die Noordelike Halfrond, wanneer Moeder Natuur die mense vir die gek hou met veranderlike, onvoorspelbare weerpatrone.
Interessant genoeg is daar selfs ’n teorie dat die viering van Aprilgekkedag sy oorsprong in die Bybel gehad het. Hoewel geen Bybelse kenner of historikus nog ooit onomwonde erkenning verleen het aan so ’n verband nie, het sommige tog die mening uitgespreek dat die oorsprong van Aprilgekkedag moontlik so ver teruggevoer kan word as die geskiedenis van Noag, sy ark en die Sondvloed, soos in die boek Genesis beskryf. In 1908 het die spotprenttekenaar Bertha R McDonald in Harper’s Weekly geskryf:
Die Londense Public Advertiser het op 13 Maart 1769 die volgende gepubliseer: “Om die fout wat Noag begaan het om die duif uit die ark te stuur voor die water gesak het op 1 April te gedenk, en om die herinnering aan die redding (van die mensdom) te laat voortleef, was dit gepas geag om wie ook al hierdie merkwaardige gebeurtenis sou vergeet, as straf op ’n sinlose tog te stuur soortgelyk aan die die futiele tog waarop die patriarg die voël gestuur het.” (Vertaling uit die Engels my eie; ook elders, tensy anders vermeld.)
Hoewel dit nogal ’n oortuigende verklaring kan wees (as die duif wel op 1 April uitgestuur was), kon geen hedendaagse Bybelse kenners enige oortuigende verband tussen die Bybel en Aprilgekkedag vind nie.
Ander historici en kultuurkundiges spekuleer dat Aprilgekkedag terugdateer na die middel van die 16de eeu, toe Frankryk van die Juliaanse kalender na die Georgiaanse kalender oorgeskakel het, in ooreenstemming met die besluit van die Raad van Trent in 1563 en aanvaar deur die Edik van Rousillon in 1564. Volgens die Juliaanse kalender het ’n jaar op 25 Maart begin, maar feeste om die nuwe jaar in te lui is op 1 April gehou omdat 25 Maart in die Heilige Week geval het. Die gevolg hiervan was dat toe die Franse na die Georgiaanse kalender oorgeskakel het, sommige mense ’n bietjie stadig aangepas het by die feit dat die eerste dag van die jaar nou op 1 Januarie val. Hulle het voortgegaan om dit gedurende die laaste week van Maart, en dan veral op 1 April te vier. Hierdie mense is dan gespot en was dikwels die slagoffers van gekskeerdery en poetse. Van hierdie gekskeerdery het ingesluit dat ’n papiervis op so ’n persoon se rug vasgeplak is sonder dat hy daarvan weet en dat hy dan poisson d’avril (Aprilvis) genoem is. Dit het ’n jong vis wat maklik gevang kon word, gesimboliseer en is geassosieer met iemand wat baie liggelowig, selfs ’n bietjie onnosel was.
In Nederland word die oorsprong van Aprilgekmanewales dikwels toegeskryf aan die Nederlanders se oorwinning by Brielle in 1752 oor die Spaanse hertog Alvarez de Toledo. ’n Nederlandse spreekwoord wat na hierdie oorwinning verwys, lui: “Op 1 April verloor Alva zijn bril.” “Bril” dien dan as homofoon vir die naam van die stad Brielle. Hierdie teorie verklaar egter nie die internasionale viering van Aprilgekkedag nie.
Aprilgekkedag het gedurende die 18de eeu ook in Brittanje begin aftrek kry. Die eerste skriftelike verwysing daarna was egter alreeds in 1686 deur John Aubrey wat dit Gekke Heilige Dag genoem het. Daarbenewens is verskeie mense op 1 April 1698 gekul deur oorreed te word om na die berugte Tower of London-gevangenis te gaan om te gaan kyk “hoe die leeus gewas word”. In Skotland het die hierdie tradisie ’n geleentheid geword wat oor twee dae gestrek het, en afgeskop het met “hunting the gowk”, waartydens mense op sinlose togte gestuur is. “Gowk” is ’n naam uit ’n streektaal wat aan ’n koekoek gegee is en simbolies is van ’n gek. Op hierdie togte sou Tailie Day volg, waartydens poetse op mense gebak is, soos deurdat sterte, of ’n teken waarop “Skop my!” geskryf staan, aan mense se sitvlakke geheg is.
Iemand sou ’n Aprilgekpoets gewoonlik openbaar deur “Aprilgek!” te skree, en wel nie later as die middag van die betrokke dag nie. Deesdae leef die gebruik hoofsaaklik steeds in Brittanje en lande waarvan hul tradisies hul oorsprong in die Verenigde Koninkryk het, voort. Enige Aprilgrap of -poets na 1 April word as onaanvaarbaar beskou. As iemand dus ’n poets na die middag van 1 April op ’n ander bak, word hy as die Aprilgek beskou en nie die persoon op wie die poets gebak is nie.
In Frankryk, België, Italië en die Franssprekende dele van Switserland en Kanada staan die 1 April-tradisie bekend as poisson d’avril in Frans en pesce d’aprile in Italiaans. Die ou tradisie om ’n papiervis op die “gek” se rug vas te plak, word steeds in daardie lande nagevolg. Heelwat nuusblaaie versprei ook vals stories op 1 April, met ’n subtiele verwysing daarin na ’n vis, wat ’n aanduiding moet wees dat dit ’n Aprilgrap is.
In Pole was prima aprilis vir eeue lank al ’n dag van poetse. Fyn-uitgewerkte poetse word deur die mense voorberei, asook deur die media (wat dikwels saamwerk om die gekskeerdery meer oortuigend te maak), en selfs deur openbare instellings. Ernstige sake word gewoonlik vermy op hierdie dag, want as algemene reël kan elke woord wat op 1 April gesê of geskryf word, onwaar wees. Hierdie reël is so ernstig opgeneem dat toe die Poolse verdrag teen die Turke met die Heilige Roomse keiser Leopold I gesluit en op 1 April 1683 onderteken is, dit teruggedateer is na 31 Maart.
Verbasend genoeg word Aprilgekkedag selfs ook in die Oekraïne wyd gevier as die dag van Humorina. Sedert 1973 word dit ook as ’n vakansiedag in die stad Odessa gevier. Die feestelikhede sluit ’n parade deur die middestad in, asook gratis konserte en straatkermisse. Feesgangers tooi hulleself in ’n verskeidenheid van kostuums en beweeg dan deur die strate terwyl hulle poetse op verbygangers bak. Een van die tradisies van Humorina is om die belangrikste monumente in die stad in snaakse klere te tooi.
In heelwat Spaanssprekende lande, asook die Filippyne, is Dia de los Santos Inocentes (Die dag van die Heilige Onskuldiges) ’n viering soortgelyk aan Aprilgekkedag, hoewel die oorsprong daarvan, ironies genoeg, daarop gerig was om die moord op die jong kinders in opdrag van koning Herodus, te gedenk. Daarom word dit ook, afhangende van waar dit gevier word, laat in Desember of vroeg in Januarie gevier.
Waar en wanneer ook al die gebruik ontstaan het, dit het sedertdien sy eie leerstellings en stel reëls ontwikkel. Dit word byvoorbeeld universeel as bygeloof aanvaar dat enige poetse of grappe wat na die middag van 1 April uitgevoer word, ongeluk op die poetsbakker of grapmaker se pad sal bring. Insgelyks word aanvaar dat diegene wat nie ’n poets of grap ten koste van hom in ’n goeie gees kan aanvaar nie, ongeluk na hom sal aantrek. In sekere gebiede word daar ook geglo dat ’n man van wie ’n gek gemaak word deur ’n meisie op 1 April (voor die middaguur) se lot bepaal is om met haar te trou of ten minste ’n lewenslange vriendskap met haar te hê.
Die geskiedenis is bekend met uitvoerige gekskeerdery op gewoonlik niksvermoedende “slagoffers”. Die beste poetse is gewoonlik daardie wat deur die pers geïnisieer of aangemoedig is deur koerantopskrifte of deur radio- of televisienuusberigte. Waarskynlik een van die mees beroemde Aprilgekpoetse is in 1957 deur die BBC gebak. Hulle het ’n film in hulle Panorama-aktuele-sake-reeks uitgesaai waarin Switserse boere getoon word waar hulle besig is om “varsgekweekte spaghetti” in hulle landerye te oes tydens wat hulle genoem het die Switserse Spaghetti-oes. Kort daarna is die uitsaaier oorval met oproepe van opgewonde kykers wat wou uitvind waar hulle ’n spaghettiplant kon koop. Dit het die BBC verplig om die volgende dag in die nuus te erken dat die film eintlik ’n grap was.
Die uitvoering van Aprilgekkedagpoetse is, om die minste te sê, dikwels kontroversieel. Die “Switserse Spaghetti-Oes” het gemengde reaksie uitgelok onder kritici wat verdeel was oor die vraag of dit “’n goeie grap of ’n onvanpaste misleiding van die publiek” was. Vanuit ’n positiewe uitkyk het dit mense aangemoedig om te lag en goedhartige humor te beoefen, waardeur spanning verlig en druk op die hart verlig is (iets waaraan daar ook tans steeds ’n groot behoefte is).
Nog ’n voorbeeld kom uit die laat 1990’s, toe nuusverslaggewers ’n fyn-uitgewerkte poets op niksvermoedende Suid-Afrikaners gebak het deur aan te kondig dat daar ’n nuwe tydsone ingestel gaan word wat regdeur die middel van Suid-Afrika sou loop met Kaapstad se tyd ’n uur voor Londen s’n, maar ’n uur agter Johannesburg. Daarvolgens sou die nuwe tydsone regdeur die middel van Kimberley loop. Verslaggewers wat bekend was met die poets, is uitgestuur om met die verwarde inwoners van Kimberley te gaan praat en om by hulle vas te stel hoe hulle daaroor voel dat hulle tyd met ’n uur sou verskil van dié van hul stadsgenote wat in ’n naburige voorstad woon! Twintig jaar later was heelwat Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners verbaas om te hoor dat Victor Matfield besluit het om sy uittrede uit rugby kort te knip en weer vir die Blou Bulle te speel “in ’n poging om weer by die Springbokke aan te sluit voor hulle Japan toe vertrek”. In 2016 weer was Johannesburgse padgebruikers in ekstase om op die Business Tech-webblad te lees dat die Gautengse portefeuljekomitee vir vervoer aan ’n plan werk om taxi’s hulle eie baan op die paaie te gee. Hulle blydskap is vervang deur taamlike ongelukkigheid toe hulle opmerk dat die artikel op 1 April gepubliseer is.
Die negatiewe beskouers van Aprilgekkedag beskryf die poetse as “grillerig en manipulerend”, gebaseer op schadenfreude en misleiding. Daarbenewens, as werklike nuus of ’n belangrike aankondiging op 1 April gemaak sou word, bestaan daar die risiko dat dit as ’n grap beskou en nie ernstig opgeneem sal word nie en derhalwe geïgnoreer sal word. In 1946 het ’n tsunami die noordoostelike kus van Kona, Hawaii, op 1 April getref. Meer as 1 300 huise is weggespoel en 159 mense is dood. Oorlewendes het bevestig dat die meeste mense die voorafwaarskuwing afgemaak het as ’n Aprilgrap. Die musieklegende Marvin Gaye is op 1 April 1984 deur sy pa doodgeskiet. Die meeste mense het die nuus aanvanklik as ’n grap beskou omdat dit op 1 April gebeur het.
Daarteenoor word stories wat as ’n grap bedoel is, soms ook ernstig opgeneem met die onbedoelde gevolge van wydverspreide paniek en verwarring wat daarop volg. In 1980 byvoorbeeld het die Bostonse TV-produksieleier Homer Cilley ’n televisieuitsending gemaak van ’n koppie in Milton, Massachusetts wat begin het om lawa en vlamme uit sy kruin te spoeg. Hy het valse waarskuwings deur die destydse president, Jimmy Carter, daarby ingesluit, asook egte beelde van die Mount St Helens vulkaniese uitbarsting, waarmee geïmpliseer is dat die Massachusetts-vulkaan ten volle uitgebars het. Aan die einde van die uitsending is daar egter onthul dat dit ’n Aprilgekkedagpoets was. Desnieteenstaande het honderde paniekbevange mense die wetstoepassers se telefoonlyne oorstroom. Cilley is op die plek afgedank weens sy versuim om “goeie nuusoordeel” aan die dag te lê.
Meer plaaslik het die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, in 2019 met groot trots aan ’n vergadering van belanghebbendes en beleggers in Australië die voordele van die mineraal “hazenile” voorgehou: ’n veronderstelde “wondermineraal” wat die koste in die vervaardiging van litiumbatterye glo drasties sou sny. Ongelukkig vir Mantashe (en die vertroue in ons land) het daar nog nooit so ’n mineraal bestaan nie. Die bekendstelling van so ’n mineraal was ’n poets wat deur Smart Energy International georkestreer was, en hoewel ’n boodskap aan die bokant van die artikel wat dit bekendgestel het, duidelik meld dat dit ’n Aprilgrap is, het Mantashe en sy span voortgegaan om “hazenile” te bemark, tot groot verleentheid van die meeste Suid-Afrikaners. (Nodeloos om te sê, anders as Cilley is niemand weens hierdie internasionale flater afgedank nie.)
Grappe oor kragonderbrekings word in die algemeen nie goed deur Suid-Afrikaners ontvang nie. In 2019 het TechCentral, ’n tegnologienuuswebtuiste, berig dat Eskom beplan om week lange kragonderbrekings op ’n slag in verskeie woonbuurte in te stel. Volgens die berig sou dit beteken dat daar minder beurtkrag sou wees; daar sou net week lange kragonderbrekings op ’n slag wees. Insgelyk het die Expresso-oggendprogram berig dat die Mobile Institute of SA landwyd “beurtdata” gaan instel ingevolge waarvan sekere selfoonnommers gedurende sekere tye afgeskakel sou word. Soos te verwagte, was hierdie tipe poetse as in swak smaak beskou in ’n land waar die koste van data as van die hoogste ter wêreld beskou word.
Daar kan inderdaad nadelige gevolge wees, soos verwarring, waninligting, vermorsing van hulpbronne en selfs finansiële en regsgevolge. Maar sommige poetse moet tog erkenning kry vir hulle oorspronklikheid en kreatiwiteit. Sommige joernaliste moedig die idee van Aprilgekkedag aan sodat dit kan dien as ’n jaarlikse waarskuwing teen fopnuus. In hierdie interneteeu waarin wêreldnuusdienste en ander inligtingsentra vryelik toeganklik is, is die mensdom meer kwesbaar vir fopnuus en waninligting as ooit tevore. Die soeke om vas te stel of inligting uit ’n betroubare bron kom of nie, behoort nie net die verantwoordelikheid van joernaliste te wees nie, maar ook dié van die algemene publiek. As ons enigiets uit die gebeure van die afgelope paar maande moes geleer het, is dit dat mense hierdie tipe verantwoordelikheid moet aanvaar en hulself daarin moet opvoed.
Aan die ander kant moet ons, bo alles, darem ook nie ons sin vir humor verloor nie. Die ou slagspreuk “lag is die beste medisyne” word weer eens waar bewys in hierdie moeilike tye. Veral in Suid-Afrika het ons die ingebore vermoë om die humor in die ernstigste gebeure raak te sien en dit so in perspektief te plaas. Soos daardie groot dramaturg en musikant Taliep Pietersen altyd gesê het: “Onse mense kry verskriklik swaar, en dan wil ons onseselwers vrek lag daaroor.” Humor en lag het die vermoë om ons byeen te bring wanneer ons eenheid en hoop nodig het. Dit het ons deur oorloë, pestilensies en selfs die Jacob Zuma-era gedra! Dit sal ook hierdie moeilike tye waarin ons ons tans bevind, oorwin.
Aprilgekkedag gaan oor goedige plesierigheid wat mense byeen bring (emosioneel, nie fisiek nie, veral nie gedurende ’n viruspandemie nie). Laat ons hardop lag (terwyl ons seker maak ons is meer as ’n meter uitmekaar) en ’n goed-uitgevoerde, fyn-uitgewerkte poets geniet. Dit is ’n innemende kenmerk van die menslike natuur, en net soos ’n virussiekte is lag hoogs aansteeklik. Maar anders as ’n virussiekte is dit belangrik om dit te versprei.
Hiermee wens ek dus nou almal lag en geluk toe, nie net op Aprilgekkedag nie, maar op elke liewe dag (en in elke liewe nag).
- Jako Bezuidenhout is ’n Afrikaanse Suid-Afrikaner wat daagliks gedwee, soms verleë, soms wroegend, maar hoofsaaklik met trots, sy geërfde historiese bagasie met hom saamdra. Hy het pas sy doktorale proefskrif in geskiedenis by die Rhodes-universiteit ingedien. Hy was tot onlangs aan die Geskiedenisdepartement daar verbonde en is tans ’n vryskutnavorser.
Bibliografie
Andrews, L. 2018. Are you serious? Fooling around on April Fool’s Day 2018. BizCommunity, 3 April.
Mikkelson, D. 2000. April Fools’ Day origins. Snopes, 22 March.
Onbekende skrywer. Onbekende datum. April Fools’ Day. Time and Date:
— Onbekende datum. African April Fool’s Day hoaxes. Museum of Hoaxes.
— 2016. Best South African April Fools’ Day pranks. My Broadband, 1 April.
— 2019. April Fools’ Day. History, 29 Maart.
Ritchie, K. 2019. Daily life so weird that April Fool’s Day jokes bomb. IOL, 6 April.
Specktor, B. Onbekende datum. The mystery behind how April Fools’ Day started. Reader’s Digest.


