Notas oor "zef"

  • 2
Na aanleiding van Martina Viljoen se LitNet Akademies-artikel "Die banale as (rap-) identiteit: Jack Parow se 'Cooler as ekke'" skryf Etienne Viviers oor die estetika van "zef", Lady Gaga en Die Antwoord.

Met uitsonderlike apologie aan Susan Sontag1

Die onlangse bohaai oor Die Antwoord se “Fatty Boom Boom”-musiekvideo het sekere gedagtes rondom die estetika van zef by my aangewakker. As iemand wat van die Oos-Rand afkomstig is, is ek van nature ontvanklik vir zef se denkraamwerk. Daar is nou maar iets aan die mynhope buite Boksburg wat in mens se kop bly vassit as ’n estetiese norm – moontlik selfs ’n voorliefde – pleks van die afgryslike landskap wat dit werklik verteenwoordig.

Ek skryf oor zef as ’n teenpool van kamp (camp), omdat die polemiese beeldmateriaal van “Fatty Boom Boom” juis daardie dialektiek in plek stel. Lady Gaga verteenwoordig die wêreld van kamp, selfs wanneer sy ’n rok dra wat van vleis gemaak is.

Omdat my idees oor zef analogies verwant is aan ’n diskoers rondom kamp wat lank reeds bestaan, maak ek gebruik van Susan Sontag se ikoniese essay “Notes On ‘Camp’” as model vir die formulering van my idees.

Die geweld waarmee pseudo-Gaga gekonfronteer word in “Fatty Boom Boom” se dieretuin-Hillbrow, is ’n konfrontasie tussen die sagter estetika van kamp (Sontag noem dit ’n sensibility) en die harder idee van zef. Alhoewel my notas geensins beoog om die statuur van Sontag s ’n na te streef nie – zef is immers te fokken chill – kan die twee essays tog vergelykend gelees word om Die Antwoord se dialektiek met Gaga te versterk, verstaan en kritiseer.

My notas is huiwerig; eerstens oor ek baie ongemaklik is met die “Fatty Boom Boom”-toneel waar pseudo-Gaga ’n ginekoloog besoek; tweedens oor ek ernstige bedenkinge het oor die estetika van die betrokke musiekvideo (dit lyk by tye baie meer na kamp as zef); derdens oor ek baie minder kan toelig oor zef as Sontag oor kamp; en vierdens omdat my notas oor zef waarskynlik eindelik baie kamp sal blyk te wees. Nietemin voel ek dit die moeite werd om te wys op die relevansie van Sontag se essay, nou reeds amper 50 jaar oud, vir enige kritiese bespreking van zef.

***

Hierdie notas is vir Naas Botha.

“On the other hand, Darren ...” – Menige Supersport rugbywedstryde

***

1. Om mee te begin: Zef se estetika is nie gestileerd en kunsmatig nie. En dit ten spyte van die gestileerde kunsmatighede in die “Fatty Boom Boom”-video. Die modus vivendi wat dit verteenwoordig is diepgesetel binne die gestruktureerde geweld wat die Suid-Afrikaanse lewensblik so uniek maak.

2. Zef is polities. Nie noodwendig omdat dit, anders as kamp, inhoud bo styl ag nie, maar eerder omdat dit sosiale mobiliteit bied aan lewenservaringe wat andersins beperk sou wees tot die laer stratums van Mzansi se samelewing. Maar zef is terselfdertyd ook die dinge wat al die upwardly mobiles soos ek skaam maak, uit vrees om daarmee geassosieer te word.

3. Sontag en haar stel het die beoefening van kamp gesien as ’n tipe kulturele paspoort: “from the top down (but not necessarily from the bottom up) to all corners of a cultural garden of earthly delights”.2 Om hierdie paspoort in ’n Suid-Afrikaanse konteks te verduidelik: dit lewer toegang vanuit die southern suburbs deur die boereworsgordyn na Bellville toe, maar nie andersom nie. Zef se kulturele strategie is noodwendig gewelddadig, omdat dit die deurlaatbaarheid van die top down kulturele membraan wil omkeer. Die sogenaamde lae kultuur kry mobiliteit na bo sonder enige kompromie van essensiële identiteit; dws dit kan steeds kommin bly. “Fatty Boom Boom” is aktivisties in hierdie konteks. Al besoek Gaga en pseudo-Gaga die eksotiese en apokaliptiese omstreke van Suid-Afrikaanse metropole, word sy verneder, uitmekaar gevloek en uiteindelik opgeëet, terwyl Ninja en Yo-landi lekker chill soos wat die wêreld aan die gons raak oor hulle.

4. Ewekwansige zef dinge:3

Minibustaxi’s
Noot vir Noot
advertensies vir aborsies op straatlampe
om te braai met charcoal
Wilson’s-toffies
klaarblyklik Die Antwoord
vuvuzelas, maar slegs vóór die World Cup
roadhouses en Grieks-bestuurde kafees op die hoek (wat nog steeds bestaan)
kroeë binne-in sitkamers
mullets
Parktown prawns
wit-tiener-angs en balkies op skoolbaadjies
Leon Schuster se postapartheid-flieks, meer spesifiek slapstick-zef
rassisme en xenofobie
armblankes (veral in plekke soos Jan Hofmeyr)
Warmbad
tsotsitaal
Teenage Mutant Ninja Turtles
Kimberley se gat
Boksburg, Benoni en Brakpan
rooi aanmaakkoeldrank
om te praat van ’n FL sonder om te weet dit is kort vir french letter
baie straight Afrikaanse mans (asook hulle fassinasie met Freddie Mercury)
sement.

5. Vanweë Die Antwoord se hip-hop-musiekstyl wil dit voorkom of bling die naaste internasionale ekwivalent aan zef is. (Gevolglik die $$ in Yo-landi Vi$$er se naam?) Hierdie veronderstelling is wel misleidend. In die apokaliptiese zef landskap word opgebruikte kultuurobjekte uit noodsaaklikheid herwin en verheerlik. Dit beteken dat estetiese en kommersiële waarde nie noodwendig met mekaar gepaard gaan nie. Zef het dikwels nie geld nie. En tog skep dit ’n estetika van waarde uit ’n omgewing gevul met detritus.

Lady Gaga in haar beroemde vleisrok

6. Omdat zef se voedingsbron dikwels bestaan uit objekte van rommel en gemors, is die estetika derivatief; net soos hierdie essay. (Maar hierdie essay is te kamp om zef te wees.)

7. ’n Beknopte geskiedenis van zef begin iewers in ’n beskrywing van sosiale manipulasie binne Suid-Afrika in die middel van die vorige eeu. Die vernietiging van potensiële kulturele lewenservaringe op veelrassige grondslag het die Suid-Afrikaanse landskap verstrengel in ’n kitsch simulacrum (ek verwys hier na die sentimentele twee trane van kitsch in Kundera se The Unbearable Lightness of Being). Zef is die gevolg van daardie landskap se vernietiging: Hillbrow en Rocky Straat gone to shit; “Ag Pleeze Daddy” in ’n distopiese drive-in. Zef is die dood van kitsch. Zef is zombie-kitsch.

8. Zef is homofobies, en in die logika van daardie fobie juis ook obsessief oor hot bum sex.4 Natuurlik is dit slegs gay om aan die ontvangkant van homososiale aktiwiteite te staan, terwyl die manlikheid (lees: mitiese viriliteit) van al die ninjas wat so vrygewig gee, nooit bevraagteken word nie.

9. Enige toewyding aan konvensionele spelling is beslis nie zef nie. $leg$ moffie$ kan $pel.

10. Daar is geen ruimte vir liefde of blydskap in die estetika van zef nie. Net vir geweld.

11. Diskoerse van outentisiteit is uiteraard van toepassing op besprekings van zef – beide aansprake wat gemaak word op outentieke zef-identiteit (Die Antwoord se mantra dat die mense op straat hulle mense is en hulle verstaan5) en die ontmaskering van daardie aansprake. Martina Viljoen is een van die min kritici wat die sogenaamde outentieke essensie van zef verwerp.6

12. “Fatty Boom Boom” se zef-credentials is verdag. Dit is bloot te slim, te gesofistikeerd, te selfbewus en te snaaks.

die parodie van toerisme na Suid-Afrika
die swart luiperd wat diewe afskrik
die apokaliptiese graffiti van Desmond Tutu
Yo-landi se fantastiese kitsch Chappies-rok (Björk sou gek wees daaroor)
die neoprimitiewe boom van ’n liedjie met net té veel bass
die ondersteunende oorgang van helder straattonele na swartgeverfde
dansers binne ’n seedy joint,
die prawn!

13. Die Antwoord se zef-credentials is hopelik nie verdag nie. Die rol van kulturele bemagtiging wat hulle as zeffers vervul, is te noodsaaklik. Anders moet Naas weer begin rugby speel.

Eindnotas

1 Sontag, S. 1964. Notes On “Camp”.
 

2 Ross, A. 1988. Uses of Camp. Yale Journal of Criticism, 2(1):6.

3 Let asseblief daarop dat zef nie noodwendig ’n pejoratief is nie.

4 Roper, C. 2010. Die Antwoord is my pimp. Mail & Guardian. 5 Oktober.1

5 Coetzer, D. 2012. Die Antwoord: The Rolling Stone Interview. Rolling Stone (3):40.

6 Viljoen, M. Die banale as (rap-) identiteit: Jack Parow se “Cooler as ekke”. LitNet Akademies 8(2):2.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top