(Een oggend gevind in ’n woonstel in Mathewstraat, Kenilworth)
(Met erkenning aan William Carlos Williams en elke digter wat al sy gedig “This is just to say” nageskryf het)
Ek wil net sê ek het die laaste wyn gedrink
En toe het ek kondensmelk oopgemaak vir my koffie.
Ek het die DVD’s gesien en daar was ’n weerwolffliek
En ek moes dit net kyk.
Daarna was ek baie vaak
En ek het op die bed neergesak
Onder daardie prent van die groot brander wat om die voet van die vuurtoring vou.
Ek moet jou sê ek het gedroom ek woon hier
En dat ek huis toe kom na ’n lang reis.
Dit was ’n goeie reis, as ’n mens oor jou eie reise kan oordeel –
Ek het die agting van my metgeselle geken
En die geduld van my gids.
Daar was vreemde landskappe en eksotiese mense
En heldedade om te verrig.
Toe ek wakker word, was dit laat
En ek was honger,
Dus het ek brood in ’n bietjie vet gebraai.
Ek is jammer ek het nie die skottelgoed gewas nie.
Ek moes weer op pad wees.

