North by Northwest

  • 0

Eva Marie Saint, in ’n dokumentêr,
(of is dit nou Eve Kendall?)
vertel alles oor Hitchcock
se North by Northwest. Ou potjierol
se film oor paranoïa en vals identiteite.
Ouer as die skone Eve, lap sy geheime uit:
Cary Grant was nie haar minnaar, en nee,
by Mount Rushmore sou sy nie kon afval
(daar was stutte en stellasies), en Cary
moes in ’n ateljee koes en swenk voor ’n vliegtuig wat sproei.
Eat your heart out, Sigmund Freud, Sigmund Freud.
Mount Rushmore was ’n Hollywood-replika
soos ’n afdruk van George Washington op ’n eendollar-noot.
Hy was immers die eerste president, nes Alfred H,
die koning is van vrese só irrasioneel (jy kan die stof
ruik op Thornhill se pak koesend, duikend).
’n Trein deur ’n tonnel? Bid jou dit aan!
Dit staan reeds in Shakespeare, hierdie North by Northwest.
By Paramount bly die crop dusting-toneel ónnabootsbaar
nes ’n eenmalige aanraking of one-night stand.
Eendag mag jy dalk ook voor die kameras staan
en die ongerymdhede uitlek en bely hoe ál my gedigte
(veral dié oor ons stiekem verhouding) blote maakwerk was.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top