
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Noord van Malelane
Skrywer: Hennie Nortjé
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Jaar: 2024
Hennie Nortjé onthou ek (maar dalk nie ander nie) vir ’n skreeusnaakse vergelyking tussen Richard Branson en ’n palmboom in sy eerste bundel, die bekroonde In die skadu van soveel bome.
Hierop volg kryt en, ek sal nie jok nie, die bundel het ek ongelukkig nog nie gelees nie.
By die onlangse Wellingtonse Tuin van Digters het ek gehoor hoe hy een van sy gedigte uit sy nuutste bundel, Noord van Malelane, voorlees, en ek het gegrinnik vir die woordspelings:
Streeptrekkers
Moenie die vlaktesebra vlak kyk nie:
Hierdie dier kan mens ’n lelike streep trek;
daardie skoon-rond-van-die-vet-voorkoms
is bloot ’n vergisting, want dis niks anders
as gellings lug, opgehoop in die kolon.
Jy hoor ’n visarend roep.
Jy skakel die videokamera aan.
Hierdie ikoniese bostoneel
moet jy eenvoudig net, klank en al,
anderweek saamneem Kaap toe.
Maar dan gaan die trop streeptruie
in die voorgrond taamlik windmakerig
aan die galop.
Tuis gekom, is jou klankbaan
’n kakofonie van hoefslae en windgeraas.
En jou visarend is ge-mute. (bl 41)
Natuurlik het dit my aan ons land se rugby-oorloë laat dink en aan die Kapenaars se gewaande snobisme.
Nog ’n voorbeeld van ’n gedig waar verskeie betekenismoontlikhede stilletjies uit die bladsy opstaan en wat mens onverhoeds vang, is dié een:
Tuimelaars
Met kloue verstrengel
tol ons om en om,
hoe skouspelagtig
die bollemakiesies
van weer t’rug
aarde toe moet kom.
Vergete is die stryd
tussen twee wat was,
die wenner nogmaals
swaartekrag. (bl 66)
Brevity is the soul of wit, en Hennie Nortjé kán beide bondig en skerpsinnig wees. Humor, of gevatheid, lê natuurlik in die implikasie; die leser moet sy eie antwoord vind en daardeur verras word. Daar is egter ook heelwat gedigte in hierdie bundel wat glad nie inligting weerhou van die leser nie. Die digter maak dit baie duidelik wat hy wil oordra. ’n Voorbeeld is hierdie gedig:
Van groot hoogtes af
Die kameelperd se keutels val ver
en spat wyd uit oor die pad,
want hy is juis ’n burger
van die einste kontinent
waar die meeste hooggeplaastes
(net so skaamteloos)
voortdurend
wyd en syd
kak bly saai. (bl 18)
Dis klinkklaar dat die kameelperd se “k*ksaaiery” ’n analogie is van Afrika-leiers se doen en late, met ander woorde, die digter wys die antropomorfisme, of is dit nou soömorfisme, vir ons uit.
Ek moet sê, die illustrasies deur Pieter Nortjé komplementeer die gedigte en dra by tot ’n goed afgeronde produk.
Noord van Malelane is maklike, humoristiese leesstof en is uitgegee deur Turksvy Publikasies.


