Nooit meer slapen deur Willem Frederik Hermans is in Afrikaanse vertaling ’n groot leesavontuur

  • 2

Nooit meer slaap nie
Willem Frederik Hermans, vertaal deur Wium van Zyl
Naledi
ISBN: 9781928426172

Duisende Suid-Afrikaanse universiteitstudente wat die vak Afrikaans en Nederlands in die sewentiger-, tagtiger- en negentigerjare geloop het, ken die roman Nooit meer slapen van Willem Frederik Hermans. Hy is een van die belangrikste Nederlandse prosaskrywers van die periode na die Tweede Wêreldoorlog.

Laat in die sewentigerjare gee Human & Rousseau Nooit meer slapen binne sy Literatuur van die Lae Lande-reeks uit, met ’n inleiding in Afrikaans. Dekades vóór, maar ook ná die millennium kon die boek dus vryelik in Suid-Afrika gekoop, gelees en voorgeskryf word.

Vandag is die roman steeds gewild onder jong lesers in Nederland, veral leerders op hoërskool wat boeke vir hul Nederlandse literatuurlys moet kies. In 2017 is ’n Engelse verfilming van die boek onder die titel Beyond sleep vrygestel. En nou is hierdie immergroen meesterstuk ook in Afrikaans beskikbaar, onder die titel Nooit meer slaap nie. Die boek is reeds in 14 tale vertaal, onder meer in Chinees.

Die Afrikaanse vertaling word uitgegee deur Naledi. Die vertaler is Wium van Zyl, ’n Afrikaanssprekende Neerlandikus wat sy proefskrif aan WF Hermans gewy het.

Met ’n redelik goeie kennis van Nederlands kon ek as leser groot plesier put uit die manier waarop Van Zyl oplossings vind vir half-onvertaalbare Nederlandse woorde of sinskonstruksies. Dikwels kies hy juis ’n eenvoudige of effe plat Afrikaanse uitdrukking, wat binne die konteks ’n treffende vertaling oplewer. Die Afrikaanse leser mis min van wat in die oorspronklike Nederlandse teks gestel of geïmpliseer word.

Hoe belangrik Nooit meer slapen steeds geag word, meer as 50 jaar na sy verskyning in 1966, blyk uit die feit dat die Nederlandse Wikipedia ’n aparte, uitvoerige inskrywing daaraan wy. Hier kon ek iets lees waarvan ek as dosent destyds nie bewus was nie, naamlik dat die roman gebaseer is op drie studietogte te voet wat Hermans in 1961 met drie Noorse vakgenote in die onherbergsame Lapland onderneem het.

Hermans was opgelei as geoloog, word later ’n dosent in geologie aan die Rijksuniversiteit Groningen, en het die gebied Finnmark, binne die poolsirkel geleë, dus uit geologiese belangstelling bewandel en persoonlik beleef.

Indien ’n leser dié kennis het, verkry die roman ’n outobiografiese aspek. Soos sy swaarbeproefde held in Nooit meer slapen, die 25-jarige geologiestudent Alfred Issendorf, het ook Hermans blykbaar gesukkel om met sy drie stapgenote – drie “stoere Vikings” in die taal van die roman – tred te hou. Hy het selfs geval in die ruwe terrein waarop sy Noorse vakgenote veel beter voorbereid was as hy.

Met ’n oog wat speur na verdere outobiografiese konneksies kan ’n mens ook ’n ander verband tussen Nooit meer slapen en Hermans se eie lewenservaringe sien, of versin.

Die roman is in een opsig ’n aanslag op ongerymdhede binne die universiteitswese, die wêreld van kompeterende professore met groot mag oor hul kompeterende studente. Die weë van ’n universiteit word skepties en pessimisties voorgestel, op ’n manier eie aan Hermans se skryfkuns.

Alfred Issendorf wil graag ’n proefskrif skryf wat met ’n cum laude beloon sal word en wat sal lei tot ’n professoraat in die geologie. So sal hy genoeg status verwerf om onder meer te kan reken op die gewilligheid van ’n aantreklike vriendin van sy suster Eva om met hom te trou.

Hermans vermy seksuele skaamteloosheid in sy verhale, anders as sommige van sy mederomanskrywers in die na-oorlogse periode in Nederland. Maar daar is genoeg subtiele aanduidings in Nooit meer slapen dat Alfred se gefrustreerde behoefte aan liefde en seks deel vorm van sy tekort en ontberinge in Finnmark.

Nooit meer slapen is nie volledig gespeen van ruwe seksuele uitlatings nie. Een van Alfred se stapgenote, die “stoere Viking” Qvigstadt, verlustig hom by geleentheid in growwe, selfs pervers-seksuele opmerkings. Vergelyk dit met Alfred se skroomvallige benadering tot sy droommeisie. Hy hoop om ’n vriendin van sy suster – dus geen wilde seksuele prooi soos dié waarvan Qvigstad droom nie – in te palm met die aansien en veiligheid wat ’n suksesvolle akademikus kan bied. Hierdie argeloosheid laat mens besef dat Alfred in meer as een opsig te kort skiet binne die groter soektog, die kweeste, waaraan hy hom in Finnmark waag.

Met ’n geslaagde proefskrif gevolg deur ’n professoraat sal Alfred ook sy moeder gelukkig maak, omdat hy sy vader se tragiese ongeluk en dood daarmee sal vergoed. Die brief waarin sy vader tot professor bevorder is, het aangekom op feitlik dieselfde dag waarop hy hom tydens ’n wetenskaplike ekspedisie in die Alpe doodgeval het. Hierdie ramp het ’n gat in sy vrou se siel geopen wat gevul kon word slegs indien haar seun die lewensdoel van sy vader – naamlik sukses en eer as navorser wat met ’n professoraat beloon word – kon verwesenlik.

Afgesien van sy swaar rugsak en ander pakkasie struikel Alfred ook nog met die geestelike gewig van sy dooie vader op sy rug oor die bedrieglike landskap van Finnmark. So kry die verhaal iets van ’n Oedipus-aksent.

Alfred se emosionele, liggaamlike en sosiale verhoudinge, sy eerherstel van die vaderfiguur in sy familie, sy geluk, sy hele toekoms, hang van sy lotgevalle in Finnmark af.

Die belangrikste struikelblok in sy weg is die manier waarop hy deur twee professore vir die gek gehou word. Sy promotor in Nederland, professor Sibbelee, wil Alfred gebruik, eintlik misbruik, om sy drogteorie oor meteoorkraters in Finnmark te toets. Alfred se proefskrif is uit die staanspoor deur Sibbelee se vergesogte hipotese gedoem.

Veel kon Alfred gespaar gebly het indien die 84-jarige professor Nummedal in Oslo aan hom die beloofde lugfoto's beskikbaar gestel het. Met dié lugfoto's sou Alfred vroeg reeds besef het dat sy soektog na meteoorgate hopeloos was; ’n verskriklike, lewensgevaarlike gejaag agter skimme. Die muskiete wat hom in Finnmark genadeloos byt, herinner hom soos klein duiweltjies voortdurend aan die verdoemenis waaraan hy hom oorgegee het.

Dit is in die roman duidelik dat Nummedal op 84 nog halsstarrig aan sy professoraat kleef en dat hy nie terugdeins vir optrede of versuim wat sy eie, Noorse promovendi sal bevoordeel en ’n kollega in Nederland sal ondermyn nie.

Met sy uitgesproke minagting vir Nederland as ’n land wat geologies gesproke eintlik onder die see hoort, en sy ophemeling van sy eie vaderland as ’n geologiese wonder, wil Nummedal miskien ook verhoed dat ’n buitelander, en dít nogal ’n jong Nederlandse snuiter, enige noemenswaardige geologiese ontdekking in Noorweë maak.

Verskeie apologetiese verbygangers in die roman openbaar ’n Noorse minderwaardigheidskompleks. Die roman speel blykbaar af in die vroeë sestigerjare, dit wil sê in die tyd toe Hermans dit geskryf het. Dit was die tyd vóór 1969 toe Noorweë vir die eerste keer ryk oliebronne binne sy gebiedswaters ontdek het, iets wat van hom later een van die rykste en mees ontwikkelde lande in die wêreld, en ook ’n benydenswaardige welvaartstaat, sou help maak.

Die apologetiese toon van Noorweërs wat Alfred vir ’n Engelsman of Amerikaner aansien, is vandag skaars denkbaar. Maar in die eerste helfte van die sestigerjare konfronteer dit Alfred met faktore waarvan hy, vóór sy vertrek na Noorweë, nie die vaagste idee gehad het nie. Die beroemde professor Nummedal lei Alfred blykbaar weens ’n kompleks van gevoelighede en taktiese oorwegings aan die neus. Alfred is immers die knoeiende Nederlander, professor Sibbelee, se Nederlandse student, en die prikkelbaarheid van Noorweë word gewek. Die implikasie vir die arme Alfred is dat hy ten slotte sonder die onontbeerlike lugfoto's na Finnmark moet vertrek.

Die roman straal hiermee ’n gevoel van wantroue en vyandigheid teenoor die weë van ’n universiteit en sy magsfigure uit. Alfred is as ek-verteller ook die fokaliseerder. Hy sien en ervaar waarvan hy vertel. Die leser voel gevolglik geskok oor die manier waarop hy deur die twee professore beduiwel word. Isolasie, onkunde en paranoia kenmerk sy toestand as universiteitstudent. Alfred dink by geleentheid aan sy vriend Diederik Geelhoed wat graag uitgevaar het teen die “intellektuele bedrog” wat professore pleeg. Geelhoed het aan ’n universiteit as ’n “geheime vennootskap van komediante” gedink.

Hou hierdie voorstelling verband met Hermans se ongelukkige loopbaan by die Rijksuniversiteit Groningen, waar hy in 1971 van pligsversuim aangekla is en in 1973 uit ergernis ontslag aangevra het? Nooit meer slapen het vyf jaar voor 1971 verskyn. Maar die boek het nogtans iets outobiografies in soverre dit Hermans se swart siening van die universiteitswese weerspieel.

As provokatiewe korrelkop wat hom onder meer verset het teen die progressiewe politieke gees in Nederland in die jare ‘60 tot ’80 van die vorige eeu, daag WF Hermans in 1983 in Suid-Afrika op, die gas van Koos Human van Human & Rousseau Uitgewers. Die besoek vind plaas in weerwil van die kultuurboikot wat die VVO (vandag die VN) teen Suid-Afrika ingestel het en wat in Nederland algemeen ondersteun is. Hermans bied onder meer ’n lesing oor Nooit meer slapen voor my tweedejaarstudente in Stellenbosch aan.

Wat ek van dié lesing onthou, is dat Hermans in die eenvoudigste terme, op ’n besonder minsame manier, met die tweedejaars gepraat het, nadat ek in die voorafgaande lesse my bes probeer het om te verduidelik hoe donker en ingewikkeld sy roman is.

In Grahamstad het André P Brink, in sy hoedanigheid as medeberoemde skrywer, en as die plaaslike professor in Afrikaans, dit glo goed gevind om die woonbuurt vir swart inwoners aan Hermans te gaan wys. Hermans was nie met afgryse vervul soos waarskynlik van hom verwag is nie, maar het agterna slegs gepraat van die “niet-rijke huisjes”, glo veel beter as die krotte van Suid-Amerika.

Sedert Suid-Afrikaanse studente in die sewentigerjare en daarna met WF Hermans se werk kennis gemaak het, het verskeie verhandelings en artikels oor sy werk in skriftelike vorm verskyn. Maar ook die internet is vandag gevul met tekste wat nuwe insig in Nooit meer slapen bied. Met Wium van Zyl se Afrikaanse vertaling nou beskikbaar, kan die ou Suid-Afrikaanse lesers uit die vorige eeu die boek gerus weer lees, saam met nuwe jong lesers wat dit ’n spannende boek sal vind, ’n boek wat mens nie maklik neersit nie.

Ek het altyd gedink dat Hermans groot begrip en simpatie toon vir die kwesbare, swaarbeproefde jongmense wat hy as helde of heldinne in sommige romans ten tonele voer, vanaf sy eerste groot roman, De tranen de acacia’s (1949), tot by ’n roman soos Au Pair (1989).

Is die arme Alfred Issendorf die totaal onskuldige slagoffer van die professore met hul boosaardige swart togas? Daar is op die internet argumente te vind dat Alfred sy stapgenoot Arne vermoor het om ’n mededinger uit te skakel, en dat hy dus nie ’n volledig betroubare ek-verteller is soos wat ’n mens geneig is om te dink nie. Google gerus.

Indien daar sprake van ’n onbetroubare ek-verteller sou wees – iets waarvan ek nie 100% oortuig is nie – is Nooit meer slapen ’n roman wat homself dekonstrueer en wat met jou aannames as leser speel. Die inligting, toeligting en kommentare op die internet verryk in elk geval die Afrikaanse vertaling en help om ’n groot leesavontuur daarvan te maak.

  • 2

Kommentaar

  • Baie dankie. Ek het ook Afr/Ndls tot op derdejaarvlak studeer. Wat 'n voorreg! Ek het Koning van Katoren in die 70's vir my klsse voorgelees en saans vir my kinders vertaal. Hulle was nog klein maar het heerlik gelag en kon skaars wag vir die volgende aflewering. Is dit ooit vertaal? En Kaas van Willem Elsschot?

  • Coenraad Walters

    Kate Bester vra of Koning van Katoren in Afrikaans vertaal is. Ja: twee keer! Die mees onlangse vertaling is deur Daniel Hugo vir Protea, en dit behoort nog maklik te kry wees. 'n Lieflike verhaal wat almal behoort te lees. Die opvolg, Soektog in Katoren, is ook te kry - dit dra effens swaarder aan die Boodskap, maar is ook die moeite werd om te lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top