Nooit meer slaap nie deur Willem Frederik Hermans: 'n FMR-resensie

  • 1

Nooit meer slaap nie
Willem Frederik Hermans
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426172

’n Resensie deur Danie Botha in Fine Music Radio se Boekkeuse. Uitgesaai op 16 Januarie 2019.

Willem Frederik Hermans se Nooit meer slapen is uit Nederlands vertaal deur Wium van Zyl, ’n kenner van sy werk, en uitgegee deur Naledi as Nooit meer slaap nie. As jy nou ’n roman wil lees oor ongewone gebeurtenisse in wêrelddele wat vir jou minder bekend is, is Nooit meer slaap nie dié boek vir jou. Dis ’n avontuurverhaal uit ’n verre land: Noorweë.

Dit is ’n ek-vertelling deur Alfred, ’n jong Nederlandse navorser in die geologie. In Noorweë werk hy saam met drie ander mans. Hy wil graag kraters ondersoek, dié wat deur meteore geskep is. Hy word gedryf deur ’n sin vir nuwe dade en prestasies. Oorspronklikheid moet vir hom die botoon voer. Dit is in kontras tot sy ma, wat ‘n gesiene essayis is, maar wat talle ander kritici se menings naskryf in haar boekbesprekings.

Maar uit die staanspoor is daar talle spanninge. Botsings met medenavorsers en gesiene professore in geologie. Hulle opponeer hom, maar nie trompop nie. Alfred is egter in staat om uiteindelik motiewe van ander en sy eie motiewe agter te kom. Ook die natuur daag hulle uit.

Op ble 209–10 beskryf hy Noorweë en die bewoners:

Nore, het ek al herhaaldelik opgemerk, is baie versigtig in hul omgang met mekaar. Daar woon vier miljoen Nore in ’n land met ’n oppervlakte tienmaal so groot as Nederland, maar Nederland het drie en ’n half keer soveel inwoners. In Noorweë woon daar elf mense op ’n vierkante kilometer, nie driehonderd-en-sestig soos by ons nie. In so ’n land is dit nog iets besonders as jy ’n ander menslike individu teenkom. Jy bly op drie treë van mekaar staan, maak ’n ligte buiging, glimlag vriendelik, dink intussen: dit kan maklik ‘n struikrower wees, gee mekaar dan hand, vra versigtig hoe sake staan en na die gesondheid.

Nou beskryf Alfred iets van die natuur in Noorweë. “Die nadruklike blou water van die fjord en die ylblou van ’n hemel wat so ver noord skynbaar nie kan waag om regtig blou te wees nie. Die bonkige berge, die speelgoedhuise van die stad.”

Nog iets uit die natuur. Op sy eie probeer ’n baie honger Alfred visvang, maar kry ’n eendjie in sy net. Hy bevry die eendjie, sit hom op ’n kussinkie van mos. “Uiteindelik maak die eendjie sy bek toe. Hy skud sy kop, pik homself op die rug, stryk sy vere glad en skarrel water toe. Sonder sigbare bewegings, asof hy voortgeblaas word soos ’n speelgoedskippie, vaar hy reguit na sy moeder en sy broertjies toe terug.”

’n Laaste natuurtoneel: “In die lug skreeu meeue met koulike stemme.”

Deur die roman heen kom dikwels filosofiese gedagtes voor. Daar word byvoorbeeld bespiegel oor die verloop van die geskiedenis, bedrieërs op alle vlakke van die lewe, en dan ook oor die wese en bestaan van God.

Enkele voorbeelde van beeldspraak wat die aandag trek:

Die stort is ’n harde borsel van water. Ek bly lank staan asof ek op dié manier die hele nuttelose dag van my kan afspoel.

Sy arms is dik en spekkerig soos dié van ‘n harpspeelster.

Hy beskryf sy gevoelens so goed dat jy dit dadelik herken: “’n Verskriklike gevoel van twyfel maak hom van my meester.” En elders: “Daar kom ’n trae, maar ystersterk rustigheid oor my.”

Uit al hierdie aanhalings behoort dit duidelik te wees dat Wium van Zyl se teks hoogs leesbaar is, dat daar ’n stuwing is, dat jy die styl kan bewonder.

Maar nou moet ek ook my teleurstelling oordra.

Wat my werklik ontstel het, is die foutiewe gebruik van aanhalingstekens by dialoog. Ná die laaste woord in die sin sou normaalweg ’n punt kom en dan ’n dubbele aanhalingsteken. Hier kry ons op feitlik elke bladsy: laaste woord, aanhalingsteken en dan ’n punt of komma as die sin byvoorbeeld aanloop. Die ergste is egter: laaste woord, dan uitroepteken, aanhalingsteken en dan punt. Voorbeeld: !’’.

Kommas ontbreek voor en na ‘n aanspreekvorm.

Die voornaamwoord “ek” word voorafgegaan deur ‘n naam en “en”, soos in Engels: “Arne en ek”, in plaas van die so tipiese Afrikaanse gebruik: “ek en Arne”.

 Woorde word verkeerd gespel. Die “nuutste” meervoudsvorm van “telefoon” het my verras: “telefoons”.

Nooit meer slaap nie het ’n baie mooi voorkoms. Dadelik bewonder ’n mens die omslagontwerp deur Johan Koortzen en die drukwerk. Dit word deur Naledi uitgegee met finansiële steun deur die Nederlands Letterenfonds.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top