Nomme 20 Delphistraat deur Shirmoney Rhode: ’n resensie

  • 0

Nomme 20 Delphistraat
Shirmoney Rhode

Uitgewer: Modjaji Books
ISBN: 9781928215196

Hierdie beskeie bundel met sy 25-tal gedigte dra die goeie nuus van ’n nuwe stem uit die Kaapse Vlakte. Shirmoney Rhode behoort tot die sogenaamde millennariërgenerasie en haar gedigte praat ’n annerste soort taal.

Die bundel adem die gees van haar tuiste wat reeds metonimies in die titel verskyn: haar woonadres, met ’n skets deur Kobie Nieuwoudt, sodat lesers kan weet hoe dit lyk. Die “nomme” in die titel verwys egter nie net na die huisnommer nie, maar ook na die alomteenwoordige bendes en hulle houvas op bykans elke faset van die lewe op die Vlakte, nes ’n mens se bestaan in jou huis jou soos in ’n gevangenis vashou en jou lewe bepaal, soos die digter dit self uitspel:

Die Flêtse is uit getjap van’ie nomme’,
en my hart is surrounded
met nomme’ 20 Delfiestraat se asvaal hekke.
Ammal wat by daai hek inkô wiet
as’ie slot toegeskuif is,
gan’t lank vat om daa uit te kô

Hulle sê soe van’ie nomme’ oek,
da’rit ’n lifetime choice is.
Is ai’re die gun (wat ek een kee’ onne’ die kooi moes wegstiek).
Of’ie tronk (op’ie age van 17 in juvenile Pollsmoor).
Of’ie dood (met ’n skoot deur’ie kop, op Trinity Place se skool veld).
[...]

(“’n lewe tussen’ie nomme’”, bl 11)

Die bundel is opgedra aan haar ouma, Francis Rhode, en haar broer, Clayon, wat op ’n straathoek doodgeskiet is. Sy neem haar lesers op ’n minitoer deur die buurt waar sy onder benouende omstandighede grootgeword het en waar sy onder andere geleer het om te hardloop wanneer die bendegeweld handuit ruk: “kaalvoet, kroeskop, snotnies moet ha’loep. Ha’loep vi’ jou lewe”, daar waar hulle “vi’ Clayon dood geskiet het soes ’n hond” (“childhood oppie Vlaktes”, 12).

Sy het hier egter ook geleer om “touch rugby” te speel en in die winkel om die draai het sy geleer om “Pucman te tokkel”, in die dae toe haar ma haar af en toe ’n pak slae gegee het en sy ook die opwinding van kalwerliefde ervaar het. Maar dis die Vlakte wat haar grootgemaak het; sý is die ma wat na haar kinders omsien, soos die klein ode “Cape Flats” (23) dit stel.

Tog is die gevoelens teenstrydig: vroeër, “back in da day [...] toe dit nog OK was/ om ’n snotnies laitie te wies”, was dinge anders en beter. “[E]n nou is alles/ wat eens op ’n tyd/ heeltemal oraait was/ gam” (“gam”, 21–2). Die buurt waar sy vandaan kom, het ’n slegte reputasie:

Omdat ek op’ie vlaktes bly, dink djy ek’s vlak:
vlak van hart, vlak van siel.
Maak mekaa’ sat, drink klip hat,
praat soes wat,
djy dink ek’s vlak.
Vlak van gees.

(“Vlak”, 19–20)

’n Mens dink onwillekeurig aan Van Wyk Louw se stelling dat ’n mens ’n volk liefhet nie vanweë sy groot prestasies nie, maar vanweë sy gebreke en sy nood.1 Seker ook omrede sy vertraptes en verlorenes, soos Mietjie, eens “die smartste lady/ van’ie destydse plakkerskamp”, nou ’n alkoholis (“Mietjie”, 27–8) En behalwe “die hoere, die vuilgatte, die prossies” en ander uitvaagsels wat die lewe swaar maak en ’n mens kopseer gee, is daar die onbesonge heldinne, “mense met harte, gedagtes, gevoelens en siele/ is daa’ mense wat wiet hoe dit voel om regtagwaa’ lief te hê en seer te kry soema altwie in een blow”, enkelma’s wat hulle kinders “reg groot maak”, oumas wat die jongmense se wel en wee op die hart dra, anties “wat hulle laities in’ie tronk besoek” (“’n double side story”, 10).

Shirmoney Rhode se verse is nie strydpoësie soos van ouds nie; sy kla nie en kla ook nie aan nie. Sy praat padlangs oor die dikwels moeilike lewe en uitdagings vir die armstes van die armes, meestal met die gelatenheid en lakoniese humor van die oorlewendes, byvoorbeeld oor die lot van enkelma’s, wat dikwels kinders van meer as een man moet grootmaak: “al is ôs buite die eg/ ken ek my pa/ oftewel/ sy naam atleast/ soe is sieke ma’ nie soe badtie” (“buite die eg”, 15).

Sy weier om haar lot sonder meer te aanvaar of om ondergedompel te word. Dít is haar vorm van weerstand:

Soe ek kies om te kies wat ek sê.
Ek kies om te abstain van woorde
wat soes ’n vuil lap
’n anne’ man se gedagtes besmeer
met stereotypical lies van’ie Vlaktes.
Ek bly op’ie Vlaktes ja,
ma’ ek weier
dat my mond vasgevang wôd met vlakheid.

(“jy kan kies”, 29–31)

Daar is ’n verdere tema wat soos ’n goue draad deur die bundel loop, en dit is die taal as teken van herkoms en identiteit. Sy sê: “Ek praat soes ek praat want ek is wie ek is –/ ’n Cape Flats girl.”  Sy wil nie soos Small se Kanna wees nie, “wat vi’ hom anneste gehou het/ vanaf hy geleerentheid gekry’it” (“Praat soes ek praat”, 25–6). Sy distansieer haar met trots van die platvloersheid en vulgariteit wat die taal van die Vlaktes se mense so maklik en dikwels besmet (dalk ook met ’n bedekte klap in die rigting van sekere digters): “djy vloek/ hulle dink klaa’ niks van ôs/ en djy vloek om hulle te entertain”, want “dit gan oo’ my taal, my tong, my Kaaps/ wat in stukkies geskeur word/ en gedefine word deur ’n ma se p, ’n pa se n” (“djy vloek”, 16–7).

Die bundel maak dan ook kreatief gebruik van die Kaapse variëteit – al is daar enkele verse in Standaardafrikaans – en slaan plek-plek oor na die loslit ritmes van “rap” waar die rymwoorde wat skielik tussendeur opduik, die leser dwing om anders te skandeer – eintlik om die gedig ritmies hardop te lees. Luister byvoorbeeld na die opdringerige “aa”-klanke in hierdie uittreksel:

oo’ die liefde en haat word daar
oral gepraat
ma’ daa’ word vigiet van die kwaad
net af in’ie straat
my hart brand
my oë jik
ek sien ’n klomp goed raak
ma’ wat saak maak
is my eie straat, my eie hart
want wat sallit baat
ek sien die kwaad in jou raak
ma’ vi’giet om God se raad
as saad in my eie blomtuin te gebruik?

(“die worry in my eye”, 14)

Rhode se blomtuin is vir eers effe dun besaai, maar die potensiaal is daar. Mag sy voortgaan en vervolgens ’n hele bos bont en geurige blomme lewer.

Eindnota

1 “’n Mens het ’n volk lief, nie omdat hy heerlik en die beste volk op aarde is nie; jy het hom lief om sy ellende” (NP Van Wyk Louw, “Rondom die Begrip ’nasionaal’” in Liberale Nasionalisme. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel, 1958:22).

Gunther Pakendorf is ’n medeprofessor emeritus by die Skool vir Tale en Letterkundes by die Universiteit Kaapstad en ’n buitengewone medeprofessor verbonde aan die Departement Moderne Vreemde Tale aan die Universiteit Stellenbosch.

  • Foto van Shirmoney Rhode: Naomi Bruwer
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top