
Fotobron: Canva
Robert Young vier sy tagtigste verjaardag op 25 Julie en deel onderstaande skrywe met LitNet.
’n Jaar of twee voor die eeuwending het ’n universiteitsvriend, Cobus Ferreira, professor in Geskiedenis by Tukkies, eendag aangekondig dat hy besluit het om vroeg af te tree en vir hom ’n huis op Jeffreysbaai gaan bou. Ek het hom afgeraai om dit te doen, want hy kon nog minstens vyf jaar pensioen opbou. Vandag dink ek dit was dalk nie heeltemal so ’n onwyse besluit as wat ek destyds gedink het nie, want eiendomspryse was toe nie naastenby so hoog soos nou nie.
Mý aftrede was nog ver in die toekoms en ek het in daardie tyd, wel, selfs na my aftrede, die Saterdagaandversoekprogram U eie keuse aangebied. Dié program het reeds in 1945, net na die Tweede Wêreldoorlog, op die Afrikaanse Radiodiens begin en dit word vandag nog uitgesaai. Dis deur dié program dat baie mense ’n belangstelling in klassieke musiek ontwikkel het.
Een van die talle gereelde inskrywers met versoeke was ene Noleen Ferreira van Joubertina. Die kaartjies was in ’n eenvoudige oumenshandskrif, en ek het aangeneem dat sy al redelik bejaard moes wees.
By geleentheid, toe ek met my vriend oor die foon gesels, noem hy dat hy hoor ek speel gereeld versoeke vir Noleen Ferreira van Joubertina. Hy vertel my toe dat dit sy niggie is – in haar veertigerjare en verstandelik gestremd. Die dokters het by haar geboorte gemeen sy sal nooit ouer as twaalf word nie. En omdat sy nie selfversorgend is nie, woon sy saam met haar ouers in die ouetehuis op Joubertina.
In 2001 bied British Airways, wat ’n gereelde adverteerder op die Afrikaanse Radiodiens was, my ’n retoervlugkaartjie aan na enige plek in die land. Ek besluit toe om te gaan kyk hoe die afgetrede professor op Jeffreysbaai vaar, en hoe die huis lyk wat hy laat bou het. Hy het my in Port Elizabeth by die lughawe kom haal en met my vertrek weer teruggeneem. Dis toe dat ek die eerste keer die beroemde Van Stadensrivierbrug gesien het.
Ek moet erken, ek was nogal beïndruk met die praktiese en ekonomiese huis wat hy laat ontwerp het. Daar was ook ’n woonstel eenkant vir gaste wat kom kuier.
Die aand toe ons sit en gesels, sê hy dat hy my graag die Langkloof wil gaan wys waar ek nog nooit was nie. Hy maak toe die voorstel dat ons op Joubertina by die ouetehuis aanry en Noleen en haar ouers gaan groet. “Dit sal vir haar ’n wonderlike ondervinding wees,” het hy gesê.
Hy’t vooraf laat weet van ons besoek, en die ouetehuis was in rep en roer toe ons daar aankom. Ons is deur die direkteur ontvang en het elkeen ’n reusegeskenkpak van ingelegde vrugte, konfyt, blatjang, biltong, gedroogte vrugte en handkoekies ontvang – alles deur die inwoners self gemaak. Dit was die eerste keer dat ek op dié skaal soos ’n baie beroemde persoon ontvang is – iets wat ek nie verwag het nie.
Na die formele verwelkoming het die direkteur ons na Noleen en haar ouers se woonstel geneem.
Sy het daar gesit, in ’n groot stoel, aangetrek soos ’n porseleinpoppie met frilletjies om die kraag van die rok. Ons het gegroet. Sy’t onseker haar hand uitgesteek sonder om op te staan en het effens geglimlag, maar daarna nie ’n enkele woord gesê nie – nooit deelgeneem aan die gesprek wat ek en Cobus met haar ouers gevoer het nie. Maar ek kon heel tyd sien dat haar oë stip op my gerig is, dat sy nie een keer wegkyk nie, en ek het aanvaar dat dit vir haar baie belangrik is dat die man van U eie keuse hulle op eie werf kom besoek.
Toe ons vertrek het sy op dieselfde manier en met ’n skaars hoorbare ‘tot siens’ gegroet.
Ons is daar weg, het deur die dorpie gery en ingeloer by ’n outydse snuisterywinkel wat deur Noleen se suster bestuur is. Sy’t ons vertel dat Noleen baie vroeg daardie oggend haar hare laat doen het en dat die rok as ‘t ware uit die kis gehaal is vir dié belangrike gebeurtenis.
Ons het die ou appeltrein, wat jare al nie meer loop nie, gaan besigtig en is verder na Humansdorp, met die gevolg dat ons baie laat daardie aand op Jeffreysbaai aangekom het.
Terug in Johannesburg het ek baie gou in my hopie pos opgemerk dat daar aansienlik meer versoeke van Noleen is, en dat sy selfs af en toe ’n storietjie byskryf; vertel hoe haar dag verloop het en hoe dit met haar ouers en hulle gesondheid gaan. Ek het haar naam so dikwels moontlik by die versoeke van ander luisteraars laat inglip, want die beeld van die porseleinpoppie kon ek nooit uit my gedagtes kry nie.
Twee jaar later, kort voor my aftrede, laat weet Cobus my per e-pos dat Noleen oorlede is. Sy was toe pas vyftig. Op haar begrafnis, sê hy, het die dominee genoem dat die hoogtepunt in haar lewe die dag was toe Robert Young haar in die ouetehuis kom besoek het.
Die knop wat ek op daardie oomblik in my keel gekry het, wil nou nog nie weggaan nie.


Kommentaar
Huilmooi....
Baie dankie. Pragtig.