
Die Breytenbach Sentrum se klassieke musiek-lenteprogram, wat vanjaar vir die eerste keer in die sjarmante Goodnow-saal op die CPUT-Kampus aangebied is, word eerskomende Sondag, 26 Oktober, om 17:00, afgesluit met Nokturne, ’n uitsonderlike program deur die gewilde sopraan, Magdalene Minnaar, en die pianis José Dias. ’n Verskeidenheid van werke deur onder meer Fauré, Chopin, Strauss en Debussy, sal gehoor word.
Die sopraan, Magdalene Minnaar, vermaak gehore regoor die wêreld met haar veelsydige stem en enigmatiese verhoogpersoonlikheid. Na haar deelname aan die Kaapstad Opera Studio waar sy ’n rekord-getal rolle vertolk het, het sy in 2009 ’n WBHO-beurs vir oorsese studie gewen, wat haar na die New York Opera Studio gelei het. Magdalene het al talle pryse ontvang, insluitende die Mimi Coertse-beurs, UNISA-sangkompetisie, ’n SAMA- en ’n Kanna-prys.
José Dias, gebore in Portugal, studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy sy BMus-honneurs cum laude verwerf. In 2007 is hy as stemafrigter, begeleier en repetiteur by die Kaapstad Opera aangestel. In 2012 begin hy sy vryskutloopbaan as pianis, met herhaalde optredes by feeste. Hy is tans besig met sy PhD (DMus) in solo-uitvoering aan die Universiteit van Kaapstad, onder die toesig van prof Francois du Toit en Hendrik Hofmeyr.
Kaartjies is R50 (R30 vir pensionarisse) en kan bespreek word by die Breytenbach Sentrum:
021-8732786 of per e-pos info@breytenbachsentrum.co.za

