Nogmaals die vrye wil

  • 2

God sê dis teen sy wil dat ons ander mense doodmaak - soos in die tien gebooie gestel. Nou gaan iemand en hy vermoor sy skoonma, dus het sy wil oor God se wil geseëvier.

Nee, sê die Christene, God het mens sy eie wil gegee om self te kies, hy wil tog nie hê ons moet soos Zombies wees nie. Nou, myns insiens is hierdie redenasie net 'n poging van die Christene om uit die dilemma te ontsnap. Dit staan glad nie opgeteken in die bybel nie, na die beste van my wete.

Buitendien, as 'n seun aan sy pa gehoorsaam is, is hy tog nie 'n Zombie nie! Daar is baie dinge waaroor hy self kan besluit, soos watter klere hy vandag wil dra, watter skoolvakke hy van hou en voor gaan inskryf, watter meisie hy gaan uitneem, watter fliek hulle gaan sien; en nog baie meer. Maar oor die belangrike dinge luister hy na sy pa.

Ek self beweer nie daar is nie 'n God nie, maar ek glo dat God heel anders is as wat die bybel en die se volgelinge ons vertel. Miskien is God die uitspansel, die natuur, die totaliteit van alles wat bestaan. Maar 'n toornige en jaloerse ou man wat ons uit die "hemel" dophou is hy beslis nie.

Groete,

Heidin

  • 2

Kommentaar

  • Heiden?

    Aitog, hoe laat jy my skatterlag! Ja, jy is heelreg as jy sê dat God nie ’n toornige en jaloerse ou man is wat ons vanuit die hemel dophou nie. Want God is nie ’n mens soos ek en jy nie. Het nie ’n liggaam soos ek en jy, kan ook nie so lieg of Hom bloedig vererg soos ek en jy nie. Hy is nie vlees en bloed. Besit geen menslike beperkings nie. GOD IS GEES! Daarom Sy alomteenwoordigheid. (En verseker kan dit van geen ander gees gese word.)

     

    God is die Gans Andere, die Een wat nie in terme van enigiets in die geskapenheid beskryf kan word nie. Nou wil jy Hom verder afbring en Hom "uitspansel" noem? Aardeland – nou is ek heel wakker.

     

    God is ’n goddelike Wese en bewoon die onsienlike wêreld. Elke mens het tegelykertyd deel aan 2 wêrelde; die fisiese wat waargeneem word deur 5 sintuie, en die geesteswêreld waarvan jy nie langs fisiese kanale insig of kennis kan kry nie. En om die bestaan van hierdie geesteswêreld te ontken, of daarteen te veg, maak die werklikheid en bestaan daarvan nie minder waar nie.

     

    Rasionaliste en wetenskaplikes ontken die bestaan van God en die geesteswêreld, omrede hul dit nie kan beredeneer of ontleed nie. God leef en beweeg anderkant die grens van die natuurlike waarnemingsvermoë van die mens.

     

    Die mens wat uit drie dimensies van gees, siel en liggaam bestaan, se gees sal altyd uitroep na ’n God. Baie van hierdie stryery oor God op hierdie SeNet, gaan eintlik oor die gees van die skrywer wat op soek is na goddelike vervulling. (Hetsy vir of teen God)  Soos jy nou hier lees, Heiden, roep jou gees eintlik na ’n onbekende God wat alleen in staat is om die lee vakuum en roepe van jou siel, te kan aanspreek. Vervulling lê alleen in die eenwording van my eie gees met die Gees van God.

     

    God se alomteenwoordigheid vul Sy hele skepping; sigbare sowel as onsigbare.

    Hoe weet ek hierdie dinge is waar? Slegs deur persoonlike ervaring weet ek dat God betrokke is by myself op ’n persoonlike wyse. Vandaar my aanbidding teenoor Hom in gees en waarheid. 

     

    Wat ’n voorreg!  Eintlik voel ek so klein om dit te verdien. Maar God se liefde is oorweldigend en onbeskryfbaar ...  My begeerte vir jou, is dat jy hierdie Lewende en Alomteenwoordige God sal ontmoet en ook die warmte van sy liefde in jou lewe persoonlik sal ontdek. Dan sal jy nooit ooit weer twyfel of snaakse vrae vra nie. Hou egter aan soek, moet nie ophou nie – jy sal die regte God in jou lewe so ontdek.

     

    Sterkte op jou lewenspad.

    Trienie

  • Ek sou dink een van die probleme in die teologie sou wees om God se alwetendheid te versoen met menslike vrye wil. As God reeds in detail weet wat jy volgende week gaan doen, is dit dieselfde ding as dat dit wat jy gaan doen, reeds vasgestel is. Dus is jou gevoel van vrye wil bloot ’n illusie.

     

    Uit ’n suiwer wetenskaplike oogpunt is vrye wil inderdaad ’n illusie – jou besluite word in die brein geneem, en die brein is ’n fisiese meganisme, onderhewig aan dieselfde wette van die natuur as enigiets anders. Maar die illusie dat ons almal vry is, is so sterk dat ons nie juis enige ander keuse het as om op te tree asof dit waar is nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top