Nog net een ding, Meneer …

  • 7

Foto: Canva.com

’n Berg is gemaak om te klim. Of om uit te hardloop. Vandag is die dag en niemand gaan my keer nie. Nie eers tyd nie. Vandag draf ek die berge plat. ’n Halfmarathon onder twee uur.

“Bastiaan, ’n trail run is nie vir sissies nie. Jy ken nie Worcester se berge nie. Om padfiks te wees is een ding. Jy het stamina nodig vir dié gedoente en jy is nie meer ’n kind nie.” Ja, dink ek, nie eers ou Wickus sal my ontmoedig nie. Hy is net jaloers omdat hy oor die muur is. Eet, sit en lê net heeldag. Ek sal hom wys.

My bakkie is spesiaal vir die geleentheid gewas. Gespierde vrou, dink ek en swaai die sleutel ’n paar keer in die aansitter. “Kom nou Laika, hoes jou longe skoon! Ons verstaan mekaar mos goed. Vandag gaan jy my nie in die steek laat nie. Dis net om hierdie verdomde V6-hart van jou ordentlik aan die gang te kry.”

Sowat vyf kilometer uit die dorp, breek die oggendson skielik goudgeel oor die grasveld. “Laika, ek stop net gou. Die oggend het weer sinusritme. Gee my net ’n oomblik kans. Daar is niks wat aspirien nie kan fix nie.” Ek draai Laika se stuurwiel links en sy gaan stop wragtig weer meer regs as links.

“Laika, my magtig, jy het ’n maand gelede nuwe tekkies gekry!” Sy sug vanself en vrek in haar vier spore voor Skilpadrug se afrdraai. Wheel alignment. Hier gaan my spaargeld. Verdomp, hierdie negatiewe gedagtes het ek nie vanoggend nodig nie. Nog minder Wickus wat dink ek is kêns omdat ek met my bakkie praat. Ek sluk ’n Disprin en ’n beta-blokkeerder met mening af.

“Laika, nou moet ons laat wiel. Rook jou rook – ek gaan nie vir jou wag nie.”

Net toe ons wou ry, doem ’n jongerige man voor Laika se neus op. Hy loop na die bestuurderskant en kyk deur die venster verby my na die beursie op die passasiersitplek.

“Môre, Meneer, het Meneer nie vir my ietsie vir die pad nie?” Sy broek en hemp is opvallend netjies.

“Waar kom jy skielik vandaan?” vra ek maanbleek geskrik.

“Ek ryloop,” sê hy saaklik. 

Vinnig dink Bastiaan, vinnig dink, die ou het ’n agenda. “Ek het R400 by my en ek het dit nodig, broer.” Ek gaan nie lieg nie, nie nou nie. Nie in dié situasie nie.

Hy kyk na die klubklere wat ek aan het en sê: “’n Honderdrand sal reg wees.”

Ek trap die pedaal en Laika beur my terug in my sitplek. Die naamlose skim word ’n klein kolletjie in die truspieël. Ek kan die spasma in my skouers voel en voel hoe my hart in my ore klop. “Laika, kan jy glo, hy het nie eers dankie gesê nie?” 

Wolseley slaap nie op ’n Saterdagoggend nie. Voetgangers hang in die hoofstraat rond en wag vir besighede om oop te maak. By die vierrigtingstop drom naartjieverkopers om Laika. “Wil Meneer nie ’n sakkie naartjies koop nie?” vra een. “Twenty a box,” sê ’n ander een. “Soet,  stroopsoet naartjies,” beaam nog ’n makker.

“Nee, dankie,” sê ek. Ek gaan laat wees en ry effe vorentoe. “Net ’n twenty Meneer, asseblief.” ’n Ongeduldige motoris agter my lê op sy toeter. Ek krap in my beursie en kry ’n R50-noot. “Hier, gooi dit sommer op die agtersitplek.”

“Ek kry net gou die change,” sê-vra hy. Die Jeep agter my wil-wil raak aan Laika se buffer. “Los dit,” sê ek en kry koers na die T-aansluiting na Worcester net buite die dorp. Nou sal ons moet ry of ek sal nie voor die wedloop kan opwarm nie. 

Met die T-aansluiting in sig, sien ek ’n paar motors staan. ’n Verdomde padblokkade dié tyd van die oggend. ’n Verkeersman wys ek moet aftrek. Hy vra my bestuurderslisensie, kyk na die foto en kyk weer na my. “Ja, dit is ek, mens bly nie dieselfde lyk nie.” Hy stap om Laika. “Nuwe bande,” sê hy.

“Meneer, asseblief, ek is haastig, ek moet binne veertig minute in Worcester wees.” Hy kyk na sy horlosie.

Is die man doof? Sy maag skuur teen Laika se neus en hy kyk na die lisensieskyf. “Maak die kappie van die bakkie oop, asseblief,” beveel hy saaklik.

“Dit is oop en daar is niks agter in die bakkie nie,” en ek wys met my hand agtertoe. “Meneer,” sê hy ongeduldig, “maak die kappie oop.” Ek klim uit, sopnat gesweet en maak die kappie oop. “Sien, daar is niks nie.” Hy kyk na die leë ruimte asof hy iets móét sien en stap weer om Laika.

“Is daar nog iets?” vra ek. “Jy kan maar ry,” sê hy. Ek spring verlig in Laika. “Wag, daar’s nog een ding,” sê die beampte. “Dit gaan warm word vandag. ’n Man speel nie met die son nie. Ek sien jy het twee bottels water by jou. Gee daar vir my een, asseblief man?”

Dis asof die dag met my gekskeer, my koggel, my uitlok. Kwart-voor-agt en die buitetemperatuur is 34° Celsius. Dit help ook nie ek peuter aan die lugreëling nie – Laika blaas net warm asem uit.

Verby die Makataan-padstal en die wynkelders word die pad korter. Nog so vyftien kilometer en ons is in Worcester – genoeg tyd om my registrasie te bevestig en op te warm. By die Worcester-afdraai slaak ek ’n sug van  verligting en Laika seil soos ’n  kobra om die sirkel verby die mall reguit na Kerkplein. Motors staan bankvas geparkeer. Reg oorkant die poskantoor gaap ’n parkeerplek vir haar. Van die atlete warm op en ’n paar staan in die ry om registrasie af te handel. Ek maak seker dat my tekkies se veters ordentlik vas is en gryp die oorblywende bottel water.

Die registrasievorm! Waar is my bewys van registrasie? Dit was op die sitplek by my kospakkie. Magtig Bastiaan, jy het dit by die huis vergeet! 

Van die atlete staan rond by die wegspringpunt. Ek probeer deur die mense beur om by ’n registrasietafel uit te kom. Uiteindelik. ’n Dame kyk my verbaas aan en sê: “Jy is nou by die Juniors se tafel. Jy mag nie hier registreer nie. Die ry daar ánderkant,” en sy beduie met haar wysvinger na die oorkant van die plein.

By die ander registrasiepunt staan ’n man met voorarms soos Jimmy Abbot. “Hoe help ek vandag?” vra hy en probeer die sweet uit sy rooi snor vee.

“Meneer, ek het vooraf geregistreer, maar my bewys van registrasie by die huis vergeet. Kan u my help, assseblief?”

Ek hoor in die agtergrond die atlete wat gereed maak om weg te spring.

“Asseblief, Meneer?” vra ek weer.

“Jy is laat,” sê hy kortaf.

“Ek het aanlyn geregistreer en moet net my nommer kry,” pleit ek. Ja, ek pleit. In Worcester sê jy nie. Jy vra en jy vra mooi. Dis Wórcester dié.

Hy kyk my aan asof ek van ’n ander planeet is. “Dis load shedding. Jy sal weer moet registreer. R150.”

“Maar ek hét betaal,” probeer ek protesteer.

Die man staan op en sê: “Ons is nie ASA-geregistreer nie. Die wedloop is vir liefdadigheid,” en hy begin om die inskrywings op sy tafel met mening weg te pak. 

“Wag asseblief, ek gaan haal gou geld,” keer ek.

“Maak gou. Ek het nie heeldag tyd om hier te staan en wag nie!” snou hy met ’n bloedrooi gesig.

Op pad na Laika klap die skoot en die atlete spring weg. Ek gryp ’n R200 uit my beursie.

Iemand wat soos ’n karwag lyk sê: “Ek sal mooi na jou  bakkie kyk.”

“Ja, ja!” skree ek en hardloop terug. Die beampte teken die vorm en soek ’n nommer. Se-wen-tien minute ná die amptelike wegspringtyd begin ek draf.

Een kilometer, twee, drie, vyf, nege en dit begin voel of die hel op my kop nesmaak. By die tien kilometer-merk is my tyd vier-en-vyftig minute, sonder die agterstand van sewentien minute wat ek nie sal kan inhaal nie. By die twaalf kilometer-merk is daar nie ’n watertafel nie en my 350ml-bottel is byna leeg. By die halfpadmerk staan ’n paar ondersteuners. Een leegloper steek sy hand uit en skree: “Kan ek die bottel water kry?” Ek wou vloek. Die pad is lankal nie meer gelyk nie en die helling word al hoe steiler. Van die drawwers begin loop.

Ja, ’n trail run in Worcester is nie vir sissies nie. Die kwik staan op 41° Celsius en my kuite begin kramp. Sweet loop in my oë en dit brand soos kookwater en sout. Worcester lê en bak in die vallei. Ek soek na ’n boom vir koelte, maar sien nie ’n enkele skaduwee nie. Die casino in die verte met sy paar palmbome is al wat sigbaar is. Ons groep drawwers word ’n kermkoor. Een van die atlete noem dat ons by die een-en-twintig kilometer-merk verby is. Ek kyk op my horlosie en ’n ander atleet bevestig die afstand – twee-en-twintig kilometer. Ons het tog die regte roete gevolg? ’n Vrou gaan sit plat op die warm, vaal sand en begin huil. “Kyk agter jou,” troos ’n senior-atleet. “Hier is nog ’n miernes mense wat agter ons aankruip.”

Die laaste drie kilometer hardloop ons verby die stasie. Die teer voel taai van die hitte. Nog net een afdraai in Tulbaghstraat en ons het die wedloop voltooi. Ek hoor afkondigings oor ’n luidspreker. “Beurtkrag is verby!” roep iemand agter my. Nog vierhonderd meter. Die digitale horlosie is in sig. 03:15.26.

Kyk ek reg? Ek voltooi die wedloop met ’n tyd van 03:18:00, ontvang ’n medalje en gaan lê op die warm, harde gras. Van die atlete bevraagteken die afstand. “Ja,” hoor ek, die roete was drie en ’n half kilometer langer. My tong klou aan my verhemelte vas.

Ek stap na een van die tente toe en vra vir ’n glas Coke. “Jammer,” sê die dame, “dit is op.”

“En die afstand?” Sy kyk my verbaas aan en sê: “Ons doen dit vir liefdadigheid.”

Liefdadigheid. Ja, liefdadigheid. 

Ek moet net by Laika uitkom, geld kry en vir my Energade gaan koop. Ek krap in my beursie.  Leeg. O ja, ’n R50-noot is in my drafbroek. In die paneelkissie skraap ek R40 bymekaar.

“Meneer,” tik iemand my aan my skouer. “Ek het mooi na Meneer se bakkie gekyk,” en hy praat voort: “Sien jy, oorkant die straat is ’n slaghuis en ek het vleis en bene nodig vir sop vanaand.” Dié man vra nie – hy sê.

Vleis en bene is beter as ’n pap wiel of ’n krapmerk teen my bakkie en gee ek vir hom veertig rand en stap na die naaste kafee. Verby die OTM koes ek net betyds vir iemand wat na my selfoon gryp en druk my foon en kontant binne my onderbroek onder my drafbroek in. Uiteindelik. ’n Bottel Energade. Ek sluk die helfte af. ’n Jongeling op die sypaadjie vra: “’n Slukkie, Meneer?” Ek ignoreer dit en is ook te moeg om sleg te voel oor my onbaatsugtige houding.

By Laika keer ’n netjies geklede man my voor. Das en al in die hitte. Hy noem dat hy HIV-positief is en vra vir ’n donasie. 

Ek het twintig rand oor en ’n paar los sente en hou dit na hom uit.

“Vyftig rand is die minimum,” sê hy en druk die donasievorm onder my neus in.

“Ek het net twintig rand. Wil jy nie my sak naartjies ook hê nie?” vra ek met ’n moermeter wat in die rooi stoot.

“Ek soek nie naartjies nie,” mompel hy en stap weg.

Terug in die bakkie luister ek na ’n stemboodskap van Wickus. “Het jy toe onder twee ure klaargemaak?” en sonder om verder te luister, druk ek die foon dood. Nou moet ek en Laika net by die huis kom. 

By die afdraai vanaf die snelweg na Ceres, foeter die oop bottel Energade om en loop tussen my bene teen die sitplek af. Ek stop en probeer die taai gemors met ’n handdoek afdroog.

“Meneer,” vra ’n stem agter my. 

“Ja, wat is dit?” vra ek geïrriteerd.

“Ek sien dis ’n CCM-bakkie. Kan ek asseblief ’n lift kry?” Hy staan terug. “My vervoer het vir my wiggery.”

“En wat nog?” blaf ek. “Nee Meneer, net ’n lift asseblief. Ek sal agter in die bakkie gaan sit.”

“Jy kan nie agter in die bakkie sit nie,” sê ek heftig. “Die injectors het die gees gegee en jy sal versmoor van die rook. Klim voor in.”  

Hy huiwer nie vir ’n oomblik nie en maak hom tuis met die kospakkie op sy skoot. Dit is doodstil in die voertuig.  

Naby Wolseley vra hy: “Het Meneer nog nie geëet nie?” en kyk na die toebroodjies in die oop sak.

“Jy kan dit maar kry as jy honger is,” sê ek terwyl ek voor my in die pad kyk. “Hier is naartjies ook agter jou.”

Ná sowat ’n halfuur se ry en stilswye, draai ek links na Tulbagh. By die T-aansluiting in die dorp lig hy sy hand en sê: “Meneer kan my maar hier aflaai. Ek bly net hier oorkant die sloot.”

Ek stop. Hy maak die deur oop, steek sy hand uit na my en sê: “Baie dankie, Meneer. My naam is Alfred.”

Ek skud sy hand en sê: “Ek is Bastiaan.”

“Nog een ding, Meneer,” sê Alfred.

Nog ’n ding, nóg ’n ding, dink ek en sug hard.

Hy steek sy hand in sy sak en sit ’n R200-noot op die passasiersitplek neer.

“Baie dankie vir die lift en die kos, Meneer.”

Hy draai om, maak Laika se deur toe en begin wegstap.

Ek spring uit die bakkie en roep agter Alfred aan: “Ek wil nie die geld hê nie! Kom vat dit! Ek wil dit nie hê nie!”

Alfred kyk om en sê: “Dit was warm in Worcester, Meneer, baie warm.”

Hy wuif toe hy onder die brug deurstap en ’n perfekte refleksie-silhoeët van vrede teen die warm horison van sy nedersetting se sinkhuis-rykdom word.

  • 7

Kommentaar

  • Huilmooi!
    Jy het my ook vêr laat terugdink aan die hardloopdae.

    Dankie vir hierdie engelstorie.

  • Liewe Berdehan, wat hou al daai mense bymekaar? Die geld wat hulle weggee en kry. Klou hulle aanmekaar vas om deur te kom? Is dit maar net gee en neem en vra? Is dit lewe?
    'n Kort verhaal het 'n begin en einde en sit iets neer. Wat postuleer jy? Wat dryf jou om die uitruil van note die pasaangeërs van 'n wedloop te maak.
    Sê dit vir my... Liefde, oom Marinus.

  • Berdehan, ons het heerlik gelees... Ai, Afrikaans! Die Kaap, die bekende plekke... Dit laat ons ook nadink oor wat jy wil sê... Liefde, tannie Annatjie en oom Marinus

  • Baie dankie, Berdéhan! In die wedloop van die lewe word daar baie eise gestel. Uiteindelik gaan dit nie om die gee nie, maar om die gesindheid van die hart. En ten slotte onverwags die ruimhartigheid, ongeag gebrek. Jesus kom in baie gedaantes na 'n mens aan.

  • Rudi Prinsloo

    Stilte. Nadat ek die slot gelees het, was dit asof alles wat voortsnel net stil geraak het. Vir 'n oomblik kon ek daardie vrede voel. Grootse waardering hiervoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top