
Foto: Canva.com
Nóg ’n kerkhof?
Buite Santa Croce in Florence
verwelkom Italiaanse digkuns ons:
troon Commedia
se Dante
uit die dertiende en veertiende eeu
die lugruim in
beskerm deur sy leeu
Agter die donker drumpels
herrys onder elke beeld
wat na ons staar,
en uit elke graf, meesters
van jaar tot jaar
In eeu vyftien en sestien
vertel werke van Machiavelli
soos Il Principe
hoe om oor prinse wat regeer
nie te romantiseer nie
maar feitelik en klinies
selfs skepties en sinies
sosiale dryfvere
oop te sny,
te kyk hoe leiers
mag verkry,
en te aanskou
hoe vaardig hulle
aan die mag
vasklou
Ook uit hierdie goue era
groet Michelangelo,
Sint Petrus-argitek,
wat die Sikstynse plafon
oorweldig met die glans
van Genesis-tonele:
dié oermens
van die Renaissance
Il Divino: die heilige
wat Dawid uitbeeld
voor hy dertig word,
wat in elke kuns
sy saad uitstort
Hoekom, in so ’n eeu
toe hy teleskoop en kompas ontwikkel
is Galileo
deur die kerk onder huisarres geplaas?
Is dit omdat hy wys:
die middelpunt waar als om draai
is nie ons en die aarde nie
helaas?
Ná sy lewe sou die kerk hom loof,
iets van sy insig snap,
sou Einstein na hom verwys
as “vader van moderne wetenskap”:
nie slégs wat ons daagliks sien
is van waarde nie
die middelpunt waar als om wentel
is nie ons en die aarde nie
Ek sal nooit deur Florence
sonder klanke stap nie!
Het een van die gewildste
komponiste ooit
sy spore nie juis híér getrap nie?
Il barbiere di Siviglia
wat in die negentiende eeu
hare en lyf besing
is maar net één van 39 operas
wat Rossini
tot lewe bring
Buite op die Santa Croce-trap
stom oor goddelike kreatiwiteit
staar ek op in die Toskaanse hemel
se blou oneindigheid


Kommentaar
Wow, diè gedig laat my as ou - beginnerdigter skaam word! Die skoonheid van die woorde saam met die diep, weggesteekte waarhede ruk my tot eindelose verwondering... Ek salueer Louis du Plessis vir die treffende kunswerk van woorde. Geen wonder dat daar in die Bybel staan..."Wat is die mens, dat God aan hom gedink?"
Ah, Louis - dit was verfrissend om saam met jou op 'n staptog deur eeue se kreatiwiteit te stap
Een van die talle verskynsels wat my verwonder Pauli, is die verstommende bydraes wat die meesters gelewer het wat ek hierbo raakgeloop het: Dante. Machiavelli. Michelangelo. Galileo. Rossini. En dis net 'n paar! Daar's nog veel meer meesters begrawe, almal binne die mure van daardie kerk Santa Croce – die Heilige Kruis. Ons is sáám verwonderd. Dankie Pauli!
Weet jy Estelleke, ek was in my noppies dat LitNet hierdie paar indrukke van Santa Croce geplaas het op Erfenisdag. Ons almal deel dié erfenis.
Is dit nie inderdaad verfrissend nie – veral in dié tyd waarin dit bevraagteken word – om te stap deur eeue van 'n kreatiewe Europese en Westerse kultuur!