Nóg Engelse taalhegemonie: Die georganiseerde regsberoep trap in ’n ou etiese sponsdoring

  • 2

In ’n verdere voorval van Engelstalige opmars bo-oor die veeltalige verbintenis in die Suid-Afrikaanse Grondwet het die Regspraktyksraad, wat hulself in Engels alleen veramptelik het as die LPC (Legal Practice Council) ’n voorgestelde taalbeleid in die Staatskoerant gepubliseer.

Nog ’n geval van déjà-vu – die beleid herinner mens aan talle vorige Suid-Afrikaanse verengelsings. Dit skop af met mooipraatjies oor taalwaardigheid, gelykheid, menswaardigheid en veeltaligheid. Wanneer die soetsappige lippediens afgehandel is, word die hande in die lug gegooi en verantwoordelikheid vir grondwetlike veeltaligheid geabdikeer. Die beleid verklaar dan dat weens die globale oorheersing van Engels in die markte en internasionale reg (onder andere) hulle voertaal Engels sal wees. Dit is natuurlik so goed as om te redeneer dat jare se sistemiese onreg en oorheersing simbolies reggestel sal word, waarna die oorheerser steeds voortgaan soos tevore. Vra die arme Maori’s van Nieu-Seeland en die Amerikas se oorspronklike bewoners, soos die Amerikaanse Indiane, hoe dit vir hulle uitgewerk het.

As gebaar van selfingenome grootmoedigheid bepaal die LPC-taalbeleid dat daar wel gepoog sal word om in amptelike tale benewens Engels met lede en die publiek te kommunikeer. Onmiddellik daarna volg dan die gewraakte voorbehoud: Meertaligheid in hierdie verband is daarvan afhanklik dat dit vir die LPC prakties en gerieflik (practicable and convenient) is. Dit is weer so goed as om te redeneer dat sistemiese regstelling van onreg sal plaasvind vir sover dit vir die onderdrukker gerieflik en prakties is.

Die Regspraktyksraad vervang die vorige Prokureursorde oftewel die Law Society of South Africa (LSSA). Die Wet op Regspraktisyns van 2014 het die raad in die lewe geroep, en die raad is stelselmatig besig om die LSSA se funksies oor te neem. Die Wet poog onder andere om die regspraktyk te herstruktureer, ter wille van effektiewer en toegankliker regspleging.

Soos alle wetgewing moet die transformatiewe gees van die Grondwet ook in die uitleg van die Wet op Regspraktisyns manifesteer. Dit beteken dat die grondwetlike verbintenis tot gelykheid tussen verskillende groepe menswaardigheid in ons agterkoppe moet lê wanneer ons wette soos die Wet op Regspraktisyns toepas. Die Regspraktyksraad moet gevolglik, as statutêre liggaam, ’n verpersoonliking of praktyksmanifestasie van die Grondwet se gees van regstellende geregtigheid wees.

Wat is die vorm wat regstellende gelykheid moet aanneem? Groot klem word gelê op die verdeling van hulpbronne of materiële behoeftes. Daarom word regstellende aksie en grondhervorming as grondwetlike beginsels geken (natuurlik beteken dit nie die huidige toepassing van hierdie beginsels is foutloos, effektief of van ewigheidswaarde nie).

Maar in die vorige 300 jaar of meer het die gebied bekend as Suid-Afrika komplekse magstruwelinge ervaar wat nie net ongelyke materiële patrone meebring nie. Magspatrone het ook daartoe gelei dat talle kultuurgoed en inheemse skeppings van ons gemeenskappe verdruk of geïgnoreer word. Tale is een van die gemeenskapskeppings wat die swaarste deur oorheersing getref word.

Deur ’n taalgroep te onderdruk word inderwaarheid ’n “meerderwaardige” standaard afgedwing op wat as ’n “minderwaardige” gemeenskap beskou word. Dit gebeur dikwels deur subtieler, onregstreekse meganismes soos hulpbronverspreiding, openbare ampte, wetgewing wat taalbeleid beheers, taalbeleid by opvoedkundige instellings en – waarskynlik die gevaarlikste – ’n ongeërgde, passiewe houding jeens taaloorheersing in ’n postkoloniale samelewing. In die mond van Frantz Fanon en Steve Biko is dit juis die koloniseerder se meerderwaardigheidshouding wat die gekoloniseerde groep in die minderwaardigheid van hul kultuurgoed laat glo. Die apartheid en die kolonialisme sit inderwaarheid in ons koppe.

Dit is die rede waarom die Grondwet ’n transformatiewe dekoloniale dokument is. Dit is ’n sosiale kontrak waarmee ons ’n streep in die sand trek tussen die verlede en ’n regverdiger toekoms waartoe ons ons daadwerklik verbind. Hierdie toekoms is ook een waarin inheemse taalskeppings proaktief aangemoedig en herstel word, om te wys hoe nie-Engelstalige Suid-Afrikaners se taalskeppings net so waardig en funksioneel kan wees as die taal van die ou Britse Ryk. Dit is om die kettings van minderwaardigheid te breek en ons eiewaarde op te eis.

In hierdie opsig misluk die LPC se beleid dramaties. Hulle abdikeer, net soos byna elke ander staatsorgaan en openbare instelling, hul verbintenis tot ’n veeltalige en dus gelyker Suid-Afrika. Hulle regverdig dit met die flou verskoning dat ons nou maar gelate met inkoop by die Engels-gedomineerde wêreld van globale kapitalisme, ’n stelsel wat op sigself geensins sonder sonde staan nie. Die LPC verwag dus van die regsberoep om die veeltalige omgewing van die gewone Suid-Afrikaner te ignoreer en ’n koloniale Engels-elitistiese stelsel te ondersteun.

Dit is nie die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrika dat die regsberoep aan onreg aandadig is nie. Tydens apartheid was die gebruik om die reg tot op die letter toegepas, ongeag die morele of immorele gees van die apartheidswette. Die positiewe, letterlike reg het die deurslag gegee. Regsgeleerdes wat teen die onreg van die letterlike reg geprotesteer het, is dikwels gedissiplineer en uit die beroep geskop. Die eenvoudige regverdiging was dat ’n regspraktisyn oneties optree indien hy of sy nie self regsreëls nakom nie.

Vandag is dit die georganiseerde regsberoep self wat die immorele voortsetting van Engelstalige oorheersing steun terwyl dit eerder ’n regspraktisyn se etiese rol behoort te wees om teen die verengelsing van die regstelsel te protesteer. Dit is wat die gees van ons Grondwet van ons verwag, want dit beoog ook die regstelling van die groot historiese bevoorregting van die Engelse taal bo ons inheemse tale. Hulle trap sodoende in dieselfde etiese sponsdoring as in die vorige bedeling deur slaafs en gedienstig die ANC-regering se verengelsing goed te keur.

As waarskuwing sal ons eie regsgeskiedenis en dié van Revolusionêre Ierland in die 1920’s ons iets kan leer. Die publiek in Revolusionêre Ierland het die howe en regstelsel begin wantrou omdat hulle die stelsel as ’n koloniale Engelse elitistiese instelling beskou het. In reaksie het die rebelle sogenaamde dála cúirteanna gestig (revolusionêre oftewel Dáil-howe) wat op die konsensus van die gekoloniseerde Ierse gemeenskap gefunksioneer het, parallel met die Britse koloniale howe. In Suid-Afrika in die 1980’s het wantroue in die regstelsel gelei tot die parallelle People’s Courts, wat natuurlik nie ’n sondelose geskiedenis het nie.

Die LPC behoort ’n veeltalige benadering tot regspleging in te neem wat wesenlik, tasbaar en proaktief is. Dit moet sodoende inheemstalige regspleging vir die meerderheid van die land moontlik maak en wegbreek van die staat, veral Justisie, se Engelse elitisme. Anders sal mense vertroue verloor in die regstelsel se toeganklikheid en inklusiwiteit, en sal proteshowe ons voorland wees.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Esme Greenfield

    Baie dankie! Jy verwoord my mening 100% nadat ek gister die betrokke artikel in die LSSA se nuusbrief gelees het. Verskonings, verskonings, verskonings wat hulle vir hulle eenogige taalmoord en -verdringing aanbied én waarmee hulle jare lank al wegkom. Voorts bied hulle aan alle universiteite verdere motivering om ons ander (amptelike?) Suid-Afrikaanse tale weg te smyt Wat gaan die VRA doen, wonder ek.

  • Engels is vinnig besig om internasionaal as 'n radikaal-linkse Herrensprache in onderwys afgedwing te word. Is dit nie waarom 'n sekere Afrikaanssprekende top-akademikus met die van de Villiers (Beeld, 22/10/2019) die Rooi Chinese se toenemende "gebruik" (lees: afdwing) daarvan "tesame met Chinees" aan hul top universiteite lof toeswaai nie? Weet ons nie al uit dure ondervinding wat daardie "tesame" eintlik beteken nie? En sing woke akademici dan nie graag die Internationale saggies in die stort nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top