Op 10 deser het Botman op RSG vertel van die baie geld wat die handhawing van Afrikaans die US kos. Dit is myns insiens onaanvaarbaar dat dit Afrikaans ten laste gelê word. Afrikaans was tradisioneel die enigste onderrigtaal aan die US en dit is veronderstel om amptelik steeds sy verstektaal te wees. Botman behoort oor die koste van Engels, die sedert 1994 ingevoerde addisionele onderrigtaal, te kla en oor die feit dat die ANC-regering verseg om ’n bydrae hiertoe te lewer; dit terwyl die US in hierdie en talle ander opsigte na die ANC se pype dans. Myns insiens spreek hierdie uitlating boekdele oor Botman se gesindheid jeens Afrikaans. Botman het genoem dat deel van die finansiële las wat Afrikaans meebring die beursgeld is wat aan bruin studente bewillig word. Rachel's Angels is die naam van so ’n skema. Dit is ’n rasgebaseerde, nie-inklusiewe inisiatief. Daar is nie wit engele nie. Die Engelse naam is doelbewus gekies om die US-opsie aanvaarbaarder vir potensiële studente te maak. Daar word voorgegee dat bruin studente die posisie van Afrikaans aan die US versterk, terwyl dit algemeen bekend is dat baie (dalk die meeste) ontwikkelde bruines dislojaal teenoor Afrikaans is en verkies om as Engelssprekendes beskou te word. As Afrikaners pleks van bruines vir beursvoordele uitgesonder word, sou sekerder resultate vir die behoud en uitbouing van Afrikaans aan die US behaal kon word. By Rachel's Angels gaan dit om die blatante bevoordeling van bruines. Dit moet nie voorgehou word as ’n US-kruistog vir Afrikaans nie.
Jonathan Jansen, die rektor van die Universiteit Vrystaat (UV), het op Robertson grootgeword met Afrikaans as moedertaal. Na ses jaar se studie in die VSA verklaar hy dat Engels deesdae sy eerste taal is. Hy maak dit dus duidelik dat hy persoonlik Engels bo Afrikaans verkies. Hierdie feit kan dan in ag neem word wanneer die huidige taalbeleid van die UV geëvalueer word. In die jongste sage oor Afrikaans aan die US word daar egter soos klokslag beweer dat geen wantroue in die bestuur geïmpliseer word nie. Blykbaar moet die raad die skuld kry, maar die raad handel meesal volgens wat die bestuur aan hom voorlê en word beïnvloed deur die manier waarop inligting ingeklee word. Wat duidelik is, is dat die aanbod in Afrikaans jaarliks afgeskaal word (Die Burger, 11 deser, p 4). Ook dat hierdie verskynsel sedert die vertrek van die vorige rektor, Chris Brink, groter momentum gekry het. Brink is openlik gekritiseer en uitgekryt. Politiek-korrek word Botman nie gekritiseer nie.
Wat myns insiens noodsaaklik is, is dat ’n Afrikaans-oudit aan die US gedoen word oor al die rolspelers wat die heil van Afrikaans daar deurslaggewend beïnvloed. Dit geld uiteraard veral die US-bestuur. Oor elkeen behoort vasgestel te word wat sy persoonlike gesindheid jeens Afrikaans is, bv het hy ’n passie vir Afrikaans, is sy huistaal Afrikaans, ontvang sy kinders op skool en universiteit onderrig in Afrikaans? ens. Afrikaans aan die US is myns insiens ’n bate wat nie gevoelloos bestuur moet word nie. Hoe vaar Afrikaans in die indiwidu se beroepsrekord? Byvoorbeeld, gestel so ’n indiwidu was voorheen aan ’n ander universiteit verbonde: Het hy toe vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal geveg of was hy ’n voorbok om Engels die enigste onderrigtaal te maak? As laasgenoemde die geval is, toon sy rekord dat hy nie met die heil van Afrikaans aan die US vertrou moet word nie. Dit is immers om van wolf skaapwagter te maak.
Johannes Comestor

