
Op Maandagaand 28 Mei is die Astrid Lindgren Memorial Award (ALMA) in Stockholm uitgereik aan Guus Kuijer (69). Lingren was die skrywer van Pippie Langkous. Die ALMA staan bekend as die Nobelprys vir jeugliteratuur. Kuijer is die twaalfde wenner en een van 184 genomineerde skrywers, illustreerders en instellings. Die jurie beloon die afgelope dekade jaarliks werk wat in die gees van Astrid Lindgren gedoen is. Saam met die reuse-oorkonde het Kuijer 560 000 euro aan prysgeld ontvang.
Op die lys van die 184 genomineerdes vir ALMA 2012 ontdek ek die volgende Suid-Afrikaners: die organisasies Biblionef, First words in Print en PRAESA en die illustreerders Niki Daly en Piet Grobler. Die genomineerdes uit België was die organisasie Prix Bernard Versele,die illustreerders Carll Cneut en Klaas Verplancke en die skrywer Bart Moeyaert. Dis opvallend dat die lysie van Nederlandse genomineerdes net uit skrywers bestaan: Harrie Geelen, Peter van Gestel, Joke van Leeuwen, Toon Telegen, Edward van de Vendel en die wenner, Guus Kuijer.
Die afgelope veertig jaar het Kuijer baie realistiese boeke oor alledaagse kinders geskryf. Sy styl is lig en helder, met ’n dun lagie ironie in baie kritiese beskouinge op die Nederlandse samelewing. Hy skram nie weg van polities-gelade situasies in sy boeke nie, maar kies altyd die kant van die kind. Hierdie kindvriendelike manier van skryf kom veral na vore in sy Madelief- en Polleke-reekse.

Ek het die Nederlandse samelewing onder andere aan die hand van Kuijer se Polleke leer ken. Polleke skryf gedigte en het ’n Marokkaanse vriendjie. In haar karakter as digteressie van dertien jaar oud het vir my die kreatiewe vryheid en energie van die Nederlandse samelewing opgesluit gelê. Haar verliefdheid op Mimoen, ’n outjie oor die kleur- en kultuurgrens heen, is nie die gemaklikste keuse vir ’n liefie in Nederland nie. Ek kon goed met Polleke identifiseer. Voor altijd samen, amen (1999) is die eerste boek in die reeks. Die titel van die eerste hoofstuk lui: “over dat Mimoen met mij uitmaakt, omdat ik dichter ben”. Haar gediggies is spontaan. Dit het vir my as Afrikaanse leser telkens iets nuuts van hierdie wêreld weerspieël:
soms valt het woord als een sneeuwvlok,
soms valt het als een steen,
zodat iedereen zegt: stil, daar valt een woord.

Dat Polleke so gesteld is op haar eie kalfie wat by Oupa en Ouma op die plaas wei, het ek gedupliseerd gesien in winkels met fotoraampies, papiergewiggies en kaartjies. Die wit-swart Frieskoeie duik werklik orals op in hierdie samelewing – tot in die skilderye van Paulus Potter! Polleke dig so daaroor:
Ik was half kind half kalf
en vroeg me af wie op wie zat:
het kind op het kalf
of het kalf op het kind?
Ik wist alleen maar dat
ik ongeveer acht poten had.
Die ander vier Polleke-boeke het my volledig ingelyf in wat Nederland is: Het is fijn om er te zijn (2000), Het geluk komt als de donder (2000), Met de wind mee naar zee (2001) en Ik ben Polleke hoor! (2001).
In Amsterdam het die kinderboekwinkel opgetoë gereageer op Kuijer se prys, omdat sy boeke nog goed leesbaar is en uitstekend verkoop. Dis opvallend dat sy ouer werk, soos die Madelief-reeks, niks verloor het aan tempo en seggingskrag nie. Die jurie van ALMA was veral beïndruk met die kritiese toon van Kuijer se werk:
Guus Kuijer geeft met onbevooroordeelde blik en intellectuele scherpte de problematiek van de moderne samenleving en de grote levensvragen vorm. In zijn boeken is respect voor het kind net zo vanzelfsprekend als zijn afwijzing van intolerantie en onderdrukking. (NRC-Handelsblad, 21 Maart)

As hy terugkyk na die oorhandiging van die prys in Stockholm die afgelope Maandag, blyk sy nederigheid en sy plat-oppie-aarde-lewenshouding uit die NRC-Handelsblad van 29 Mei.
“Het was alsof ik naar het schavot liep.”
“Ik had nog nooit voor zo veel mensen gestaan.”
“Wanneer een schrijver te veel in beeld komt staat hij zijn personages in de weg.”
In sy toespraak sê hy: “Lief Zweden, jij bent het enige land ter wereld dat bewijst te begrijpen hoe belangrijk goede kinderboeken zijn. Natuurlijk heeft Astrid Lindgren je dat geleerd, maar welk land is wijs genoeg om te luisteren naar de lessen van zijn schrijvers?”
As die voorsitter van die jurie, Larry Lampert, hom met Lingren vergelyk, reageer Kuijer ongemaklik: “Astrid Lindgren heeft hier de status van een soort heilige en ik kan me voorstellen dat ze daar niet gelukkig van werd. Ik geeft zelf liever geen interviews en kom niet met m’n kop op tv, omdat ik nog in Amsterdam over straat wil kunnen.”
Onder al die aandag van die media bly Kuijer nederig. Toe hy die eerste keer die nuus van die prys in Maartmaand te hore gekry het, het hy die volgende dag getwitter: “Dat was een lekkere, rustige lentedag gisteren. Fijn in de tuin gewerkt.” En op die verhoog in Stockholm saam met kroonprinses Victoria kon hy eintlik nie wag om weer tuis te wees nie, sodat die kollig liewers op Madelief en Polleke kon val.

