Eers wil ek net daarop wys dat daar blykbaar sewe pare van sommige diere en voëls op die Ark was – sien Genesis Hoofstuk 7, verse 2 en 3 oor die sogenaamde "rein" diere.
Dit het glo veertig dae en veertig nagte lank gereën en volgens verse 19 en 20 was al die hoë berge bedek, tot 15 "el" bokant hulle.
Ek haal vers 24 aan: "Die waters het die oorhand behou oor die aarde honderd-en-vyftig dae lank." Sien ook Hoofstuk 8, vers 3.
Nou wil ek graag weet wat van die plante geword het wat vir so lank bedek was deur die water? ’n Plant benodig sonlig, water en suurstof om te fotosinteer. Suurstof kry hy uit die lug, hy kan dit nie uit water haal nie en so diep onder die water kom daar ook nie genoeg sonlig nie, indien enige. So, al die plante sou mos gevrek het! Wat het die plantvretende diere dan geëet toe hulle uit die Ark kom? En wat was daar vir die vleisvreters om te eet, want al die diere het mos gevrek en is na 150 dae al weggevrot?
En waar het Noag die wingerd gekry wat hy geplant het?
Hemel Kobus, enige mens met verstand kan mos sommer sien hierdie is ’n mite, ’n kampvuurstorie wat die ou Jode saans om die vuur aan die kinders vertel het.
Nog ’n interessante ding, met respek: Dit blyk die Here hou van braaivleis, want volgens Hoofstuk 8 vers 20 het Noag ’n brandoffer gebring en aldus vers 21: "En die Here het die lieflike geur geruik ..."
Groete,
Uintjie

