(’n Poging tot iets snaakser en uiteraard, met respek en permissie ...)
In Maart 2012 het die Here aan Noag, wat nou in Brackenfell woon gesê: "Weereens, is Ek teleurgesteld in hierdie goddelose aarde en jul oorbevolktheid.
Weer eens, sien ek die einde van die mensdom voor my. Bou weer ’n Ark en behalwe vir twee van elke lewende ding, kan jy ’n paar goeie mense ook saamneem."
Noag het die CAD-tekeninge in ontvangs geneem en gehoor: "Jy het 6 maande om die ark te bou voordat die oneindige reën begin.”
Ses maande later, toe die Here afkyk, sien Hy Noag sit en huil in sy agterplaas en – daar is geen Ark in sig nie! "Noag!" het Hy geroep, "Die reën is reg om te begin! Waar is die Ark? "
"Vergewe my, Here," smeek Noag, "maar dinge het verander.” Ek het by die Bou-afdeling van Stad Kaapstad om goedkeuring aansoek gedoen en ek moes met die Brandweer baklei oor die onnodigheid van ’n besproeiingstelsel. Dit weens my bure se eis dat ek toestemming vir die bou van die ark in my tuin moes kry, want volgens hul argument, is dit ’n terreinontwikkeling. Al kon ek uit historiese ervaring bewys dat dit ’n tydelike struktuur is, wou hul steeds nie die eis terugtrek nie.
Ons moes toe wag vir ’n besluit deur die Stads- en streeksbeplanner en aangesien hy nie gedelegeerde magte in terme hiervan het nie, is dit na ’n Raadsvergadering verwys.
Toe het die Departement van Vervoer geëis dat ’n dekkingsverband op my eiendom geregistreer word vir ingeval daar toekomstige koste weens skade aan die paaie, sypaadjies en ander oorhoofse strukture mag wees - veral in die skep van ’n weg van toegang om die Ark na die see te skuif. Ek het vir hulle gesê dat die see na ons toe sou kom, maar hulle wou niks daarvan hoor nie. Die hout was nog ’n probleem. Al die ordentlike boomplantasies word deur Sappi onder kontrak besit en aangesien ons in ’n gebied woon waar Department Bosbou die bome van spesiale wetenskaplike belang ag, om die gevlekte uil te beskerm, moes ons hout invoer. Ek het probeer om die omgewingsbewustes te oortuig dat ek die hout nodig gehad om ook van die uile te red, maar hulle wou niks weet nie!
Toe het ek begin met die insameling van die diere, die DBV dagvaar my tans. Hulle het my daarvan aangekla dat ek die wilde diere teen hulle wil, wil inperk. Hulle het aangevoer die Ark is te beperkend, en dat dit wreed en onmenslik is om soveel diere in ’n beperkte ruimte aan te hou.
Toe het die Stadsraad, die Omgewingsbewaringsagentskap en die Waterbestuursowerheid bevind dat ek nie die Ark verder kan bou, alvorens hulle nie ’n omgewingsimpakstudie op U voorgestelde vloed gedoen het nie.
Ek is ook besig om ’n klag van die Departement van Arbeid oor die kwota samestelling van ongeskoolde werkers en skrynwerkers wat ek veronderstel was om te huur, op te los. Die vakbond sê dat ek nie my gesinslede mag aanstel as toesighouers nie en weens my nepotisme, dreig van hul lede nou met ’n staking. Hulle dring ook daarop aan dat ek slegs plaaslike werkers met arkbou ondervinding in diens moet neem.
Om sake te vererger, het die Nasionale Vervolgingsgesag toestemming gegee dat Doeane en Aksyns al my bates in beslag mag neem. Dit, as gevolg van bewerings dat ek probeer om die land met ’n bedreigde spesie onwettig te verlaat. Aangesien ek nou ’n vlugrisiko is, het die Departement van Binnelandse Sake al drie my uitgereikte paspoorte teruggetrek. Die vloot en al die hawens is hiervan in kennis gestel.
So, vergewe my, Here, maar dit sal ten minste 10 jaar neem om hierdie Ark te voltooi.
Skielik het die bewolkte lug opgeklaar, die son begin skyn, en ’n reënboog het die horison punt-na-punt verbind. Noag het nog stil verwonderd gestaar en gevra:
"Het U besluit om nié die wêreld te vernietig nie?
"Nee," sê die Here. "Die regering het my voorgespring."
Hennie Fritz


Kommentaar
Hennie,
Die regering, darem ... Ek het 'n soortgelyke een gelees (en gelag) maar wat op Engels was van 'n ou wat in Amerikaner iewers, so 'n ding moes doen. Interessante manier om kritiek teen die regering te rig.
Dan is daar die ou wat na die Tweede Wêreldoorlog gesê het dat jy nie ateïste in 'n 'foxhole' ('n gat in die grond wat vinnig deur soldate in die vuurlinie met hul opvoubare grafies gegrou is om soort van skuiling teen neerreënende koeëls, kartetse en mortierbomme te probeer bewerkstellig) kry nie - en hy het dadelik toegevoeg dat dit nie 'n klap na ateïste is nie, maar na foxholes ... want daar is dit hel op aarde en ateïste weet mos nie hoe om te bid, nie ... overgesetsynde, selfs die oënskynlik selfversekerde en grootbek ateïs leer in die foxholes van die lewe, bid.
Ai, die mensdom, darem. Dat hulle die lewe so hel maak vir mekaar.