Niks verkeerd met hartseer wees nie

  • 1

Foto: Pixabay

.......

Hartseer vergeet egter dat dit veronderstel is om in fases te kom. In stede daarvan kom dit soos ’n dief in die nag en stroop jou van alle waardigheid.

.........

In 1969 beskryf Elisabeth Kübler-Ross vir die eerste keer die stadiums van om hartseer te wees en hoe om daar deur te kom. Die vyf stadiums van hartseer – ontkenning, woede, bedinging, depressie en aanvaarding – is deel van die raamwerk waaruit ons leer om te leef sonder die een wat ons verloor het. Hartseer vergeet egter dat dit veronderstel is om in fases te kom. In stede daarvan kom dit soos ’n dief in die nag en stroop jou van alle waardigheid. Net so vinnig draai hy sy rug op jou, stap uit, en kom dan ure later net weer om jou te “terroriseer”. Die vyf stadiums soos deur Kübler-Ross beskryf word, klink so klinies, en is dit dalk hoe dit benader moet word.

Ek dink egter daar is ander maniere om die diep hartseer van om ’n geliefde aan die dood af te staan te “bearbei”. In beginsel is dit geskoei op die vyf stadiums van hartseer van Kübler-Ross, maar dit voel net vir my ’n klein bietjie lekkerder om op dié manier van my rou hartseer verlos te word.

Laat my toe om eers my hartseer met julle te deel voor ek julle blootstel aan die “kuur”. Verskoon my dat die skrywe wissel tussen ’n gepratery met myself en ’n “sharing” met wie ook al besig is om dit te lees. Ek sit natuurlik op die oomblik snot en trane en huil. Soos my oorlede ouma gesê het, wat nie rente verdien nie, moet uit. Daai alewige platjie het dit natuurlik so ’n klein bietjie anders gestel. Ek moes dit net deel.

My ma is op 1 Februarie 2021, ’n dag voor haar 85ste verjaardag, oorlede. Ek het nie gedink dat sy kan of gaan doodgaan nie. Sy was siek aan COVID-19 en in die hospitaal met longontsteking en sou by die huis gewees het vir haar verjaardag. Niks berei jou voor vir daardie oproep wat sê dat jou moeder besig om te sterf en jy weet jy gaan dit nie betyds maak nie. Boonop was die kar se brandstof laag en kon ons dalk ook nog sonder petrol gaan staan het op pad hospitaal toe. Dit was egter te laat en selfs die gehollery verby die Covid-stasies na die ICU Red Zone kon ons nie ’n laaste lewende oomblik by haar gun nie. Daar is niks op die aarde wat jou vir dié oomblik voorberei nie. Dit klink so klinies, maar dis hoe die dood is. Die hartseer is net te erg om dit op dié stadium op ’n ander manier te beskryf. Verskoon my!

.........

Niks berei jou voor vir daardie oproep wat sê dat jou moeder besig om te sterf en jy weet jy gaan dit nie betyds maak nie. 

..........

Ek het deur die jare heelparty vriende gehad wat hul moeders verloor het. Ek het hartseer vir hulle gevoel en vertroostende woorde aangebied. Ek het egter absoluut geen idee gehad hoe ontstellend dit gaan wees om my eie moeder nie meer by my te hê nie. Niks in die wêreld berei jou daarvoor voor nie. Om 'n ouer te verloor beteken daar is derduisende dinge wat verander en nuwe betekenisse en vorme aanneem. Jy het by ’n klub van mense aangesluit wat verstaan dat dit selfs ’n uitdaging kan wees om net by die voordeur te kan uitgaan. Ewe skielik is daar 'n miljoen woorde wat nie meer so lekker klink nie. Daar is ontelbare gesigte wat nie vertroosting kan bied nie, want hulle verstaan nie.

Hierdie was nie net ’n “ouer” nie; sy was my ma! As ek hardop die woorde "Ek het my ma verloor" sê, voel dit soos 'n groot gat in my ingewande wat nooit, nooit gesond sal kan word nie. My oë begin spontaan op die onmoontlikste tye te brand. Ek wil amper voorbarig wees en sê dat as jy nog nie jou moeder verloor het nie, sal jy nie die diepe hartseer verstaan ​​wat ek deurmaak nie. Die pyn is verlammend en dit tref jou op lukrake oomblikke. Die een oomblik gaan dit goed met jou, en dan net kort daarna voel jy hoe die trane spontaan uit jou oë “uitsweet”. Baie sit nou daar en knik hulle koppe instemmend. Ek beskryf net wat ek persoonlik ervaar en het gelukkig nie kinders om ooit in daardie posisie te kom om die verlies van so iemand te moet deurgaan nie. Ma het altyd gesê dat sy nooit die verlies van kinders wil deurmaak nie. Sy sou dit nie oorleef het nie, en ek is dankbaar dat sy dit gespaar is.

My ma was ’n baie dapper vrou – sy moes wees, want sy was immers met my pa getroud. Hy was egter die liefde van haar lewe en sy was dapper omdat sy lankal gereed was om te sterf. Toe Pa amper sewe jaar terug oorlede is, was sy al reg om te sterf. Ek was net nie gereed om haar te verloor nie, gegewe die laaste kosbare vier jaar saam met haar en alles wat ons saam gedoen het. Dit was nie my eerste verlies nie, maar vir seker die moeilikste een tot dusver. Ek het geweet ek sou treur, en alhoewel dit nou maar twee maande is, voel dit al soos ’n leeftyd. By tye het ek al gewonder of ek ooit oor die verlies sal kan kom en sal kan aangaan met my lewe. Dit voel asof ek permanent ’n sonbril dra, want die helderheid is nie soos voorheen nie en dan help dit ook boonop om die opgepofte oë weg te steek. Jy gaan krap op die onmoontlikste plekke met die hoop van ’n laaste tipe boodskap van haar af. Niks kan egter verder van die waarheid af wees nie en dis dat sy nie meer hier is nie.

Uit ondervinding, en met die ondersteuning van ’n hele paar spesiale mense in my lewe, kom ek tot die slotsom dat ek myself moet toelaat om te voel wat ek voel. Ek moet niks probeer wegsteek nie. Sy was my ma en ek moet huil net wanneer ek daarna voel. ’n Mens moet ook nie ’n tydsbeperking op jou hartseer plaas nie. Ek moet my ma onthou soos sy was en nog steeds in my hart is. Ek moet myself toelaat om “bad days” te hê. Ek moet probeer om vrede binne myself te vind op watter manier ook al denkbaar en al is dit ook hoe moeilik. As ek van die bus afval, moet ek opklim en weer ry. Die grootste ding is egter dat sy sou wou gehad het dat ek my lewe met ’n glimlag verder leef. Sal my lewe ooit weer normaal wees? Dis sal anders wees, maar dit sal nooit wees soos dit was nie. Hoe kan dit wees?

Hier bo het ek reeds genoem wat ek sal moet doen om oor die grootse hartseer oor my ma te kom. Daar is nie ’n tydperk van hartseer verbonde aan die pyn om ’n ma te verloor nie. Ek sal weet wanneer ek gereed is om voort te gaan met my lewe en weer oor die weg te kom. Maar jy sal nooit daaroor kom nie. Die pyn sal verminder, en die oomblikke van intense hartseer sal al verder van mekaar verwyder raak. Dis altans hoe ek dink dit behoort te wees.

Hier volg die vyf stadiums van hartseer soos deur my geïnterpreteer, en dan voeg ek ’n sesde een by, net om die “appelkar om te gooi”:

  1. Ek moet myself toelaat om te treur. As ek besig wil bly en dit uit my gedagtes hou, gaan dit my een of ander tyd inkatrol. Ek laat my die pyn voel van haar wegraping, en gelukkig het ek al die tyd in die wêreld. Laat ek myself dit nie toe om te treur nie, gaan dit my van binne af opvreet.
  2. Ek moenie 'n tydsbeperking op my hartseer plaas nie. Daar is geen regte of verkeerde manier om te treur nie, en daar is geen vasgestelde tydsbeperking op die proses nie. Ek weet nie of die wond van die verlies van my ou moedertjie ooit sal genees nie. Ek glo die pyn sal mettertyd draagliker word. Hoe lank dit gaan neem, kan nie ek of enigiemand sê nie.
  3. Ek moet my ma onthou vir wie sy was. Ons verhouding was nie altyd maanskyn en rose nie en het ons sommer goed moerig vir mekaar geraak. Nog steeds was sy egter in my oë verreweg die beste ma wat ooit die planeet bewandel het. Sy was 'n fantastiese mens, maar sy was 'n mens. Sy het die wonderlike vermoë gehad om krities teenoor my te wees op ’n manier wat ek nie van gehou het nie. Daarteenoor was ek nie altyd geduldig met haar nie. Dit het niks verander aan die wete dat sy geweet het dat ek haar baie liefhet en sy vir my nie. “The good, the bad and the ugly ...” Sy is my ma, en ek is ontsettend lief vir haar.
  4. Ek moet myself toelaat om slegte dae te hê. Sommige dae is moeiliker as ander. Een rede waarom ek hierdie artikel skryf, is dat gister vir my 'n besonder moeilike dag was. Ek het wakker geword en verlang en wou haar stem hoor. Ek wou haar bel en hoor hoe sy lag. Ek het dit gister nodig gehad dat sy my moes laat lag. Ek het baie gehuil en dis ook goed, want ek moet myself toelaat om slegte dae ook te hê. Ek weet daardie dae sal nog baie aanbreek en maak nie saak hoe lank hulle is nie, ek moet hulle toelaat.
  5. Maak vrede met myself. Hoe doen ek dit? Miskien moet ek vertroosting gaan soek in verskillende dinge. Ek en my ma het baie gemeen gehad, en deur te skryf, te skets en te skilder gaan dit dalk vrede in my bring. Daar is niemand wat my ooit kon verstaan soos sy nie. Miskien bring dit vrede in my dat sy daarvan gehou het dat ek geniet het om te doen wat ek doen. In “om vrede met myself te maak” is daar ’n klomp miskiene, en miskien verryk die verlies van haar lewe my op die mees uitdagende en onverwagte maniere.
  6. Glimlag en leef jou lewe. Ek dink dit is seker die grootste enkele ding wat ek kan doen om my ma te eer en om oor die hartseer van haar verlies te kom. Ek moet weer vreugde vind, lekker lag en leef, net soos my ma sou wou hê ek moet doen. Ek moenie daarteen baklei op die dae wanneer ek haar net mis nie. Inteendeel, ek moet onthou dat sy immers haar lewe so gelei het dat ek nie anders kan as om met ’n glimlag op my gevreet verder te leef nie.

Ek besef nou dat ek ná haar dood onnodig bekommerd was dat alles nie gelukkig sou eindig nie. Dit is een van die vele truuks wat hartseer speel: Dit laat jou dink dat jy nie verdere geluk verdien nie. Ek moet myself toelaat om haar te mis. Ek is die een wat moet kies om te floreer. Dis nou maar twee maande en dit is duidelik, eintlik nog altyd so gewees, dat niemand die leemte wat sy gelaat het, ooit sal kan vul nie. Om te sterf gaan eintlik oor die lewe. Gelukkig het dit my ’n kort tydjie geneem om weer te besef, want jy wil nie die weg deur daardie donker tonnel op jou eie wandel nie. Dis hoekom ek so dankbaar is vir Ons Vader in die Hemel en baie spesiale mense in my lewe. Sonder hulle sou daar nie lig gewees het nie.

.........

Ek besef nou dat ek ná haar dood onnodig bekommerd was dat alles nie gelukkig sou eindig nie. Dit is een van die vele truuks wat hartseer speel: Dit laat jou dink dat jy nie verdere geluk verdien nie. Ek moet myself toelaat om haar te mis.

...........

Dit gaan altyd voel asof ek my ma te vroeg verloor het. Sy het my egter net duskant 56 goeie jare gegee en natuurlik sou ek meer wou hê. Dit is moeilik om voort te gaan met my lewe as my vertroueling, beste vriend, grootste aanhanger en verdediger weg is. Dan onthou ek, ek is die helfte van haar – haar DNSA loop deur my are. Daar is nog twee ander met dieselfde genetiese samestelling as ek, en dis Mamma se nalatenskap. Sy sou wou gehad het ek moet aangaan met my lewe met ’n glimlag op my gevreet en ’n huppel in my stap. Hoe moeilik dit ook al vir haar was na Pappa se dood, het sy tog die hartseer oorwin en aangegaan. Dit is al sewe jaar sedert hy nie meer met ons is nie en sy het konstant bly droom van die dag wanneer sy met hom sou herenig. Ek was gelukkig genoeg om die laaste vier jaar in haar skaduwee te kon leef. Ek kon nie vir ’n groter geskenk as dit gehoop het nie.

Ek kan nie anders as om die stukkie wat ek iewers raakgelees op te diep nie: “The thought of loving someone so much, of being so captivated by someone, only to have them ripped from you will take its toll on your heart and mind. Realizing you would rather be alone than ever feel so much heartache again is normal. Take the time to be alone if needed but don’t disappear. Somebody cares about you and is worried.”

Niemand sal my ma ooit kan vervang nie – dit is eenvoudig nie moontlik nie. Sy verdien om gemis te word, want sy was en sal altyd ’n “legend” in my en vele ander se oë wees. Sy was enig in haar soort. Ek hoop om jou, my ou moedertjie, eer te bring in my doen en late as een van jou “nalatelinge”.

Daar is geen regte manier om my ma te eer nie. My leuse is: “Ek het een lewe en leef dit ten volle – hoekom nie?” Deur dit te bly doen, gaan hopelik ’n verheerliking wees van die mees fantasties ma vir wie ’n seun ooit kon gehoop het. Dis my onderneming teenoor jou.

Safari njema, my ou moedertjie!

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top