Niks kom by tuisgemaakte malvalekkers nie

  • 1

Foto: verskaf

Malvalekkers is vir my feetjiekos, sagte kussinkies van genot – hopeloos te veel suiker en net te lekker om nié toorkos te wees nie. Ek onthou die eerste keer toe ek gevlieg het – ek was al in my twintigs. Ek het my verwonder aan die stapels wolke buite my venster. En in my verbeelding het ek gesien hoe ek pardoems! op die verebed van saamgekoekte malvalekkers neerplons en op en af bons terwyl ek uit my maag uit lag.

Dit was deel van die lekkerte van kleintyd. Sherbet, pienk Star-toffies en die suurklontjies by die Handelshuis op Prins Albert, so uit die glasflesse in papierhorinkies geskep. Vir ’n tiekie kon jy baie lekkers koop. Maar die lekkerste van alles was die malvalekkers. Daarvoor het jy so ’n bietjie ekstra gespaar. Maar dit was die moeite werd. Elke lekker het jou hele kies vol gemaak voordat dit weggesmelt en die soet aan jou tong en verhemelte bly kleef het. Jy kon nie jok oor malvalekkers eet nie – die wit poeierkring om jou mond en die fyn wit stof aan jou hande en klere het jou gou verraai.

Maar, ai, die ontnugtering wanneer jy grootmens word. Behalwe dat jou kop so volgeprop word van wat jy mag en nie mag eet nie, het die meeste van die lekkergoed óf verdwyn óf so ’n fabrieksmaak met die massaproduksie gekry dat die geure en kleure van kleintyd vir altyd verlore is. Die Handelshuis bestaan lankal nie meer nie. Suurklontjies kry jy glad nie. As jy ver soek, kan jy nog Star-toffies kry. Peperduur, ja, maar dit proe genadiglik nog dieselfde en kleur jou hele tong pienk. Die sherbet van nou is glad nie meer dieselfde nie. En die malvalekkers is klein rubberkussinkies sonder smaak.

Foto: verskaf

Dis nie al ontnugtering wat grootword bring nie, En dit neem ’n leeftyd van dure lesse om jou weer te laat soek na daardie betowering van kleintyd se dinge. In die woorde van DH Lawrence: “We have buried so much of the delicate magic of life.”

’n Mens kan ongelukkig nie kies om dinge wat verby is, ongedaan te maak nie, al sou jy hoe graag ook wou. En as jy goed daaroor dink, is dit ook dié dinge wat jou op die ou einde die mens gemaak het wat jy vandag is. Die keuse lê daarin of jy ook die mooi kan haal uit dit wat verby is en kan vrede maak met die dinge waaroor jy skaam voel. Die grootste uitdaging is nie net om die lesse wat jy geleer het, positief aan te wend nie, maar ook hard te probeer om jouself te vergewe. Dis die moeilikste van alles.

My eerste klein babatreetjie om sin uit my lewe te maak, was om onbeskaamd uiting te gee aan die kind in my en weer na daardie betowering te soek. My hele huis is vol dinge wat my soveel kinderlike vreugde gee. My kombuis hang vol hekse, klein en groot. En as jy mooi kyk, sal jy ook ’n paar van hulle in die ander kamers sien wegkruip. Grotes, kleintjies ... meer as twintig van hulle. En drie van hulle – die Rooiheks, die Groenheks en die Geelheks – begin hard en honend lag wanneer jy iets laat val in die kombuis.

Jare gelede, elke keer oor die Paastyd, het ek by Woolies die oulikste koekiehouers raakgeloop: ’n koei en ’n hoenderhaan. Wanneer jy die deksel – die kop – lig om koekies uit te haal, kraai die haantjie en die koei moe. Maar as die lig reg val, maak hulle geluide sonder dat jy eens die deksels hoef te lig. Ek moes eenkeer, tydens ’n kosfotosessie, ’n kombers oor dié twee gooi. Elke keer wanneer die kamera se flits afgegaan het, het hulle begin raas – erger as die musikante van Bremen. Hulle staan nou in my kombuisvenster. Vroegoggend kraai die haantjie asof dit sy plaaswerf is en smiddae laat die koei van haar hoor. ’n Astrante klein hoenderhaan, wat al sy kammetjie verloor het, waak oor my spens. Sodra jy by die deur inkom, begin hy kekkel en kraai ... pik-pik-pik-kwê.

In my nuwe huurhuis het ek twee kaggels. Gelukkig werk hulle nie, want ek haat kaggel skoonmaak en die reuk van rook of ou as. Die een kaggel is toegemaak, maar die ander een noem ek my feetjieherd. Dis nou die tuiste van my sewe klein feetjies, Ook die paddaprins, wat al sy een oogbank nerf-af geval het, het daar ’n sitplek gekry. En smiddae gooi die herfssonnetjie die vreemdste flertse lig op dié kaggel, ligspikkels wat tussen die feetjies ronddans.

Toe ek destyds deel geword het van Bella se mark by The Palms in Woodstock, het ek begin oplees oor malvalekkers maak. Ná ’n groot gesukkel het ek die resep vervolmaak. En dit was die lekkerste om agter my marktafel te staan, die glasflesse oop te maak en kinders en grootmense te laat proe van dié lekkerte – so anders as die plastiekpoffers wat jy nou in die winkels kry. Die genoegdoening en verwondering op die gesigte van kinders én grootmense was genoeg aansporing om my elke Saterdagoggend maar weer vieruur op te laat staan om malvalekkers vir die mark te maak.

En elke keer wanneer ek die geurmiddels in die wit meringuewolk inroer, voer dit my weg na daardie wolkemassas wat ek deur die vliegtuigvenster gesien het. En ek bons op en af in ’n verebed van fantasie terwyl my lag klokhelder en suiwer weerklink.

Karen se malvalekkers

Lewer ongeveer 20 lekker groot blokke

2 koppies suiker
2½ eetlepels gouestroop
1 koppie water
2 eetlepels gelatienpoeier, geweek in 6 eetlepels water
2 eierwitte
’n knippie sout
1 teelepel vanieljegeursel
Rooi voedselkleursel
5 eetlepels versiersuiker
5 eetlepels mielieblom (Maizena)

Verhit die suiker, gouestroop en koppie water saam oor matige hitte tot kookpunt. Laat ’n hele rukkie staan en kook (ongeveer 20 minute of meer) totdat die hele oppervlak later met fyn borrels bedek is (as jy ’n temperatuurmeter het, sal dit 120° C lees). Terwyl jy die suikerstroop kook, giet die 6 eetlepels water in ’n klein bakkie en sprinkel die gelatienpoeier liggies bo-op. Laat ongeveer 15 minute lank staan. Wanneer die suikerstroop gereed is, haal dit van die stoofplaat af en roer die gelatien by totdat dit heeltemal opgelos het. Klits die eierwitte tot styf met die knippie sout en voeg die vanieljegeursel by. Voeg die suikerstroop in ’n dun straaltjie by die eierwitte terwyl jy heeltyd klits. Klits dit aanhoudend vir ongeveer 5 minute. Meng die versiersuiker en mielieblom en sprinkel 2 eetlepels daarvan in ’n gesmeerde vierkantige pannetjie. Giet die helfte van die mengsel in die pannetjie en maak die oppervlak gelyk. Meng ’n druppel rooi voedselkleursel by die res om ’n mooi pienk kleur te kry en giet bo-op. Maak mooi gelyk en laat vir minstens 2 uur staan om te set. Haal dit uit die pan en sny in blokke. Gooi die res van die versiersuikermengsel op ’n plat bord en rol die blokke soos jy dit gesny het in die mengsel sodat hulle nie aan mekaar kan vassit nie. Bêre in ’n lugdigte houer.

  • 1

Kommentaar

  • Dankie vir die lekker 'saamtoer' terwyl ek lees ... En daai malvalekkers van jou is HEMELS 😍🤗

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top