Nietzsche se "chaos" en ruimte in Suid-Afrika se diversiteit

  • 0

Ek is verlief op die outentieke begrip van die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche wat hy die “chaos” van die mens se verbeelding noem – die mag om aan te hou om ruimte in sy denke te maak.

Doen ’n mens vandag ’n deeglike en eerlike bestek-opname van die konstruksie van ons Suid-Afrikaanse openbare diskoers, kom jy tot die skok-gevolgtrekking dat ons al hoe minder ruimte in ons denke laat.

Nog meer skokkend is dat ons ook nie vernuwend dink oor hoe om ons sosiale euwels te oorwin nie.

Een van Nietzsche se gewilde uitsprake was: “’n Mens moet chaos in jouself hê om ’n dansende ster voort te bring.”

Een duidelik sigbare kenmerk van postapartheid-Suid-Afrika is die steeds geordende etniese en kulturele leefruimtes waarin die meeste van ons ons nog steeds bevind.
Ons waak nog steeds jaloers oor ons apartheidsoorerflike ruimtes. Dit is ruimtes waarin ons geen “chaos” toelaat nie. ’n Ander taal en kultuur mag miskien ons veilige habitat vernietig.

Ons verpes verandering en noem dit opsetlik allerhande skeldname net om die status quo van gister te handhaaf.

Ons verkies om met onsself te praat of met mense wat soos ons lyk. Ons is heeltyd in die geselskap van mense wat ons taal en kultuur met ons deel.

Dit is die storie van Suid-Afrika na 27 April 1994. Dit is die storie van die land van Nelson Mandela nadat hy 27 jaar in die tronk deurgebring het.

’n Paar onlangse laevlak-debatte – iets simptomaties van die Suid-Afrikaanse politieke argitektuur – moet alle eerbare Suid-Afrikaners tot kommer strek.

Beide die ANC en DA dink ongelukkig horisontaal oor die gewigtige nasionale vraagstukke wat ons ontluikende demokrasie op die duur kan vernietig. Veral twee onlangse debatte waarin dié partye bewys het dat beide nog te min ruimte en “chaos” in hul denke laat, is kommerwekkend.

Toe die ANC verlede maand sy beleidsdokumente vir bespreking aan sy takke in die aanloop tot sy beleidskongres in Junie stuur, het die DA en media dit as “grondwet-vrese” afgemaak.

So asof dit ’n sonde is om die grondwet aan te pas. Die grondwet is nie ’n heilige koei nie, en veral die sondergangsklousules het die afgelope 18 jaar in die pad gestaan van ware en radikale transformasie. Dit is bemoedigend dat die ANC sy besprekingsdokumente vir almal openbaar het en sodoende dialoog help stimuleer het.

Toe die Appèlhof die DA gelyk gegee het dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) redes moet verskaf hoekom die korrupsie-aanklagte teen Jacob Zuma laat vaar is, het die ANC belaglik gereageer.

Die ANC se verweer dat opposisiepartye die howe misbruik om die regering te ondermyn is kinderagtig. Die Appèlhof het reg opgetree, want sulke deursigtigheid kan ons demokrasie net versterk en verdiep.

Ons moet altyd hoop – soos die Stellenbosse filosoof Johan Degenaar – vir die idee van ’n plurale demokrasie. ’n Demokrasie waarin die diversiteit van belange in hierdie uiters gediversifiseerde land erken en gevier word, eerder as onderdruk en gestroomlyn sal word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top