Nie eers amper 'n volle dag nie

  • 0

“Nie eers amper ’n volle dag nie” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Nie eers amper ’n volle dag nie

Alles raak stil. Die stilte voor die storm of die afwagting van ’n ballon wat gaan bars. Stevan se oë is gevries. Hulle is die beste maatstaf wat wys wat in Stevan se gedagtes aangaan. Dit is nie of dit gaan bars nie; dit is net ’n kwessie van wanneer. Hoop speel wegkruipertjie in ’n eindelose donker stoor dat niks sal gebeur nie. Dit lyk nie of vandag daai dag gaan wees nie.

Marta en Agnes staar in afwagting na Stevan se oë. Elke spier gestrem om te reageer sodra sy pupille alles ontlont. Buite gooi die wind ’n eikeboom se takke van kant tot kant. In ’n droom lyk dit soos die golwe van ’n onstuimige see. Die geritsel van blare is verdoof soos in ’n vakuum na ’n nagedagtenis van die chaos wat daai pupille kan bring.

Stevan se wenkbroue lig effens en suurstof word uit die wêreld uitgesuig. Dit is benoud. Asem is min. In die agtergrond is ’n dowwe gekners en gekraak wat verander in ’n reeks van knetterende meegee. Die ballon word op sy uiterste beproef. Die geknetter bou op na ’n oorverdowende knal ... KNAK!

Die knal ontlont Stevan. Dieselfde chaos wat elke keer verwoesting saai. Nie net in Stevan se vordering by die institusie nie, maar sy geveg teen die monsters wat tien jaar gelede sy toestand veroorsaak het.

Vroeg daai selfde oggend ...

Doodse stilte. Warm en sluimerend. Buite die soliede kombers van veiligheid is daar ’n skerp gekrap. ’n Naald teen die growwe werklikheid. Met vriendelike getjirp verduidelik ’n stem dat die werklikheid veilig is. Veilig toegedraai, dink Stevan. “Moontlik ’n mossie. Maak nie saak nie.” Die getjirp breek stukkie vir stukkie deur die lap.

“Sal ek kyk na die getjirp? Is dit ’n mossie? Is dit vriendelik? Sal ek veilig wees?”

Soortgelyk aan die getjirp, weergalm ’n klaende skarnier met ’n eindelose draai in die verte. “Dit is nie nou belangrik nie, maar is dit ’n mossie wat so gelukkig klink?” Stevan skeur sy regteroog oop. “Net ’n skrefie.” Net genoeg om te speur.

“As ons gelukkig is, sal niemand weet nie.”

Stevan het dit probeer verhoed, maar die gaatjie in sy veilige tent word oopgeruk en skerp wit pyle jaag sy slapende gedagtes in, ’n toestand waarvoor hy nog nie lus was nie. Wakkerte.

Die vriendelike getjirp vertel dat alles veilig is. “Is dit net nog ’n leuen? ’n Agent vir die bose?” Stevan skeur sy linkeroog oop en dit is nie so erg soos hy verwag het nie. Met beide oë nou op skrefies, probeer Stevan die getjirp opspoor. Dit is nie naby nie, maar Stevan weet reeds met sy interne skatting van waar die getjirp vandaan kom. Hy maak sy oë halfmas oop.

Stevan lê op sy linkersy, rug en kop teen koue mure en ’n spasie tussen sy voete en ’n muur. Daai muur het ’n venster in die middel. Die venster het ysterpaaltjies voor. Hulle lyk nat en koud. Druppeltjies hang aan die ysterpaaltjies en maak lyntjies teen die glas daaragter. Buite ry ’n klein voëltjie ’n takkie. Die takkie hop-hop soos die voëltjie sy bekkie op die stokkie skuur.

“Daar is jy.”

Stevan het ’n groot mylpaal bereik en dink: “Speurder weet nie wat nie. Maak ook nie saak nie, of doen dit?”

Die klaende skarnier gly nader. Sy weergalmtoon verander voortdurend. Stevan kyk op na die ander hoek voor hom wat hy nou glo deel van ’n vertrek is. Daar is ’n liggroen metaaldeur. Die ander hoek het ’n klerekas met ’n stoel langs hom onder die venster en ’n tafeltjie langs sy bed. Die gekla kom van agter daai deur. Die gekla kom tot stilstand.

Stevan kyk vlugtig na die mossie, maar hy is weg. Die takkie bons op en af.

Stevan trek die kombers oor sy kop om te maak asof hy slaap. Aan die metaaldeur is ’n gekrap van sleutels en die deur gaan oop. Die weergalmklanke van buite is helderder en sagte voetstappe betree die vertrek.

Die sagte stem van ’n engel sing: “Môre, môre!”

Stevan dink: “Lê net tjoepstil. Sy sal weggaan.”

Marta stap saggies uit die kamer uit en kom dadelik weer terug met ’n skinkbord. Sy sê: “As jy kan, hier is ontbyt. Dit sal jou laat beter voel.”

Sy sit dit op die tafeltjie. ’n Reuk van koffie dring deur die kombers, maar Stevan waag dit nie om te beweeg nie. Daar is nog reuke. Dof en aards, asook ’n aparte skerp en suur. Na ’n geklik van metaal gaan die deur weer toe.

Nou, baie nuuskierig, trek Stevan die kombers van hom af. Hy sit regop. Die tafeltjie het nou ’n skinkbord op. ’n Bordjie met pap, lyk soos hawermout, ’n koppie koffie en heldergeel iets.

Stevan voel effens honger en tel die bordjie hawermout op. Met die reuk nader aan sy neus voel hy naarheid opkook van sy maag af. Terselfdetyd begin sy kop ook te draai. Hy sit die bordjie terug en hoop om beter te voel met die kombers oor sy kop.

Die naarheid gaan nie weg nie en ’n chemikaliesmaak hang in sy mond rond. Stevan probeer onthou of die chemikaliesmaak nog die heeltyd daar was, maar hy kan nie. Stevan dryf weg in ’n droomlose slaap. Warm en veilig.

Onwetend hoe lank hy geslaap het, word Stevan weer eens met die glyende meganisme van die metaaldeur wakker gemaak. Die deur word hierdie keer met meer aggressie oopgemaak. Stevan weet nie hoekom nie, maar dit voel asof daar verwag word dat hy moet opspring en op aandag staan. Hy doen dit egter nie en lê doodstil soos die vorige keer. Kombers oor die kop.

Sagte skoene trap ritmies die vertrek in op die harde en koue vloer. Daar is twee variasies. Stevan besluit dat die harder treë behoort aan iemand groter.

Die harder voetstappe gaan na die venster en maak dit oop met ’n gekraak. “Vat hom sommer direk eetsaal toe na sy afspraak. Hy behoort dan reg te wees. Opskud, hy het nog net ’n halfuur,” sê die harder voetstappe.

“Reg so matrone,” sê die ander stem wat nou bekend klink vir Stevan.

Stevan wonder onder die kombers of hy die stem van daai engel al voorheen gehoor het, voor vanoggend. Soos in ’n droom of ’n vorige lewe of iets. Die harde voetstappe gaan uit die kamer uit en die sagtes kom staan voor sy bed.

Stevan voel ’n drukking op sy heup wat hom probeer wakker wieg. “Tyd vir jou afspraak, meneer. Kom, trek gou aan dan vat ek jou.” Marta trek die kombers van sy kop af. Stevan probeer maak of hy van niks weet nie, maar hy wil ook nie die sagte mens moeilikheid gee nie. Hy maak of hy wakker word. Sit regop en vryf sy oë. Vir die eerste keer neem hy die visie in van die sagte voetstappies wat so liefdevol met hom gepraat het. Sy het ’n bos donkerrooi hare, sproete oor haar hele gesig, vol lippe wat woorde maak waaraan Stevan heeldag kan hang, ’n groen sustersuniform en ’n goue naamplaatjie wat glinster MARTA.

Marta sit haar hande om Stevan se skouers en sê: “Welkom. Daar is klere in die kas vir jou. Trek gou aan dan vat ek jou na jou afspraak. Moenie sleg voel as jy nog nie kan loop nie, dit is die medikasie wat jou maak alles vergeet. Loop is net ’n slegte newe-effek wat so deur die loop van die dag sal regkom, saam met herinneringe wat jou kan laat sleg voel. Ek kry gou ’n rolstoel terwyl jy gou aantrek, en onthou om jou lemoensap te drink. Dit sal jou laat beter voel.”

Marta wag nie vir ’n reaksie van Stevan af nie en trek die deur agter haar toe soos sy uitgaan. Sy sluit nie weer die deur nie, en Stevan is bly dat sy niks van hom op so kort kennisgewing verwag het nie. Soos hy sukkel om sy klere aan te trek met sy pap bene, raak sy gedagtes bietjie meer helder. Hy het ’n doel.

Na vyf minute kom Marta terug met Stevan aangetrek en sy lemoensap gedrink. Sy hou haar hand in die lug om vir Stevan ’n high-five te gee. Hy klap haar hand en haar glimlag laat Stevan bloos. “Pragtig, is jy reg?” vra Marta.

Stevan dink dat hy nie seker is wat reg is nie, maar hy het klere aan en sy lemoensap is gedrink. Marta sit haar linkerhand op Stevan se wang en sê: “Jy is reg, liefie. Vandag gaan ’n uitstekende dag wees.”

Marta help vir Stevan in die rolstoel in en neem hom na dokter Visagie se spreekkamer op die vierde vloer, een van die instituut se menigte sielkundiges. Daar word Stevan onder hipnose behandel waar hy die grusame dade van ’n aanval op sy ouers se plaas oorleef het. Hy het oorleef, maar sy verwagtende vrou en sy ouers het nie. Hy verwyt homself dat hy niemand anders kon red nie. Vir jare daarna het hy probeer om die pynlike herinneringe te verdoof met enige middel wat hy in die hande kon kry. Terselfdetyd, terwyl emosies verdoof was, het woede in hom gegroei waaroor hy soms beheer verloor. Soms het meer gereeld begin gebeur tot dit ’n daaglikse gebeurtenis geraak het.

Dokter Visagie probeer om vir Stevan te leer om die kwade gevoelens ver weg te bêre, maar het nog geen noemenswaardige sukses behaal nie.

Stevan maak sy oë oop en tog voel hy taamlik rustig. Hy kan niks van die sessie onthou nie. Daar is ’n klop aan die deur.

Die dokter lyk effens vies, maar plak ’n glimlag op sy gesig toe hy vra: “Ja, wie is dit? Ek is besig met ’n pasiënt.”

Die deur gaan oop en ’n bos rooi hare druk deur die gleuf. Stevan hoef nie te kyk wie dit is nie soos hy onmiddellik die stem herken. “Dokter, jammer om te pla. Ons het ’n verrassing vir hom in die eetsaal. Gaan hy dalk nog lank wees?”

Die dokter antwoord: “Nou net klaargemaak, suster. Jy kan hom maar vat.”

Met ’n huppel in Marta se stap galop sy letterlik in die spreekkamer in en wil Stevan in die rolstoel in help. Stevan draai op sy boude om sy voete op die vloer te sit. Stamp-stamp sy voete en sê: “Ek dink ek sal kan loop.”

Die dokter lig sy wenkbroue terwyl Marta haar arms uitsprei om Stevan te omhels. Hy staan op, bietjie wankelrig, maar met Marta wat sy linkerarm stut, haal hulle die spreekkamer se deur en van daar af loop Stevan op sy eie asof hy nog nooit hulp nodig gehad het nie.

Marta draai na Stevan, hou beide sy arms vas en sê: “Matrone Agnes het vir ons ’n ete gereël in die eetsaal.”

Stevan is nie vreeslik opgewonde oor ’n ete in die hospitaal se kafeteria nie.

Biefstuk is ’n welkom verandering wat die ete spesiaal gaan maak. Stevan begin droom van ’n sagte skaarsgaar biefstuk wat in sy mond wegsmelt.

Stevan en Marta stap in die eetsaal in en Agnes sit reeds by ’n tafel met die wegneemkos-houers voor haar. Agnes swaai haar kop na Stevan en vra: “Raai wat?”

Stevan antwoord: “Ons gaan biefstuk eet.” Agnes se gesig val terug in die permanente frons waaraan almal gewoond geraak het. Stevan hou haar dop en probeer plaas hoekom sy so bekend lyk. Miskien iewers in ’n droom gesien.

Agnes staan op en gaan haal messe en vurke by die kafeteria vir haar en Marta, maar haal ’n rolletjie plastiese eetgerei uit vir Stevan.

Stevan hou die rolletjie vas en kyk na die ander op die tafel, net om sy misnoeë duidelik te maak. “En dié?”

Agnes antwoord kortaf: “Dis beter so. Eet jou kos.”

Stevan oorweeg om te argumenteer, maar besef dat terwyl hy die argument verseker kan wen, hy moontlik sy biefstuk kan verloor. Dit maak die argument nie die moeite werd nie. Hy maak sy wegneemete-bakkie oop en daar lê dit. ’n Biefstuk, weggesteek onder romerige sampioensous met skyfies. Hy maak sy oë toe en snuif die aroma diep in. Dit voel vir Stevan of sy gedagtes wegdwaal in ’n droom in.

Agnes hou vir Stevan dop en verklap die eerste keer haar emosies toe Stevan se gesig ophelder.

“Dié gaan lekker wees,” dink Stevan. Hy gryp een skyfie met die regterhand terwyl hy met sy vurk aan die biefstuk steek met die linker. Met sy vurk voel hy iets is nie reg nie. Met sy eerste steek merk hy dat die biefstuk goed deurgaar is.

Stevan kyk op om te praat, maar vind die oë van Agnes reg voor hom. Sy verduidelik met meer simpatie as wat enigiemand in haar ooit bespeur het: “Hulle het net ’n fout gemaak.” Dit is asof ’n skakelaar aangesit word en onmiddellik is Stevan aangeskakel.

Stevan slaan sy vuiste op die tafel en skree: “Net ’n fout gemaak? Net ’n fout gemaak!” Soos Stevan skree, word hy oorval met meer woede. Woede wat hy graag wou gebêre het.

 “Wel, dit is nou uit en wat moet gebeur, moet maar gebeur,” dink hy. Hy brul in ’n stem wat nie syne is nie. “Dit moet onwettig wees om ’n biefstuk gaarder as skaarsgaar te maak. Ek kan my skoene regmaak met die gemors.”

Marta skuif nader en vat sy hand met die olierige vingers. Dadelik begin Stevan bedaar. “Dis nie so erg nie,” streel haar woorde. “Kom wees rustig, dan kuier ons lekker.” Stevan laat sak sy kop in skaamte om verder te probeer eet.

Agnes bly verstom hoe naby Marta aan Stevan se oorlede vrou lyk. Iets wat duidelik onder Stevan se onderbewussyn drentel, maar te gevaarlik is om op te bring.

Buite swaai ’n stormwind die eikeboom se takke wat voor die eetsaal se venster geplant is, heen en weer.

Stevan mompel in sy bord in en doen baie moeite om met niemand oogkontak te maak nie. “Dit is nie my skuld nie. Dokter sê ook so.”

Hy probeer verby die insident beweeg soos dokter Visagie hom geleer het deur verder te probeer eet. Met die eerste probeerslag om die vleis te sny, breek sy plastiese mes.

Stevan haal diep asem en buite weerspieël sy woede in die eikeboom se takke wat swaai in die wind. Marta skuif nader, maar Stevan kyk net voor hom. Hy sien net die mense wat by sy ouerhuis ingebreek het. Sy greep op realiteit gly stukkie vir stukkie buite sy beheer.

ʼn Klapgeluid buite begin ’n geveg teen demone wat Stevan nie kan sien nie. Hy kyk na die plastiese messie in sy hand, maar hy sien ’n slagtersmes. Nou gaan hy baklei soos hy jare terug moes baklei het toe sy vrou en kind nog geleef het.

’n Knyp in sy nek bring alles weer in fokus. Stevan draai om en sien Agnes met ’n spuitnaald in die hand en ’n traan op haar wang. Hy vra: “Waar was jy daai aand, sus, en wat maak jy hier?”

Stevan sak inmekaar in en matrone Agnes roep hulp om Stevan op ’n trollie vas te maak.

Terwyl Stevan na sy kamer gevat word, snik Marta soos sy huil. Sy mompel: “Waar het ons weer verkeerd gegaan. Hy het nie eers amper ’n volle dag gehaal nie en môre begin alles weer van voor af asof ... asof niks gebeur het nie.

Agnes probeer troos op die beste manier wat sy kan. Sy gooi sommer ’n arm oor Marta se skouers wat die trollie met vasgemaakte Stevan daarop stoot en sê: “Ons gee nie op nie. Miskien gaan dit môre beter.”

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top