Nie alle brûe kan ewe veel gewig hanteer nie: ’n resensie van Roads and bridges deur Glynnis Hayward

  • 0

...
Hayward probeer ook vertel van die manier waarop al die ondersteunende karakters se lewens verander word – van die afgetrede Afrikaanse dokter wat stilletjies hunker na apartheid, tot die taxibestuurder wat besluit om meer gereeld petrol in te gooi, en baie duur daarvoor te betaal, tot die ou priester wat leer dat rassisme ook in die VSA bestaan …
...

Titel: Roads and bridges
Skrywer: Glynnis Hayward
Uitgewer: Catalyst Press
ISBN: 9781946395580

Peter Mayle het lesers van dwarsoor die aarde betower met A year in Provence. Maar het jy al ooit vir ’n inwoner van Ménerbes, die dorpie waar sy storie afspeel, gevra wat hulle dink van die boek en die film wat hulle deel van die wêreld aan Engeland en Amerika bekendgestel het? Ek was gelukkig genoeg om die kans te kry toe ek vir ’n paar jaar in ’n ander landelike deel van Frankryk gewoon het.

Ek het gedink die koffie in my koppie gaan vries van die kil kyk wat die man my gegee het. “As dit is wat Amerikaners dink van ons lewens, moet hulle maar eerder by Eurodisney bly.”

Op daardie stadium, na drie jaar in sy land, was ek verbyster. Die boek het vir my so akkuraat, so eg, gevoel!

Van tyd tot tyd met die lees van Roads and bridges het ek die Fransman se antwoord beter verstaan.

Glynnis Hayward, Suid-Afrikaans gebore en opgevoed, woon tans in die San Francisco Bay-gebied van die VSA. In haar nuutste roman vertel sy die storie van Mandy Walker, ’n 25-jarige Amerikaanse meisie wat by die vredesmag aangesluit het om te vergoed vir ’n fout wat haar teister. Selfs na twee jaar in Namibië voel sy egter niks beter nie, en dit lyk of alles meer en meer skeefloop. Ryan, ’n kollega in die vredesmag vir wie Mandy net vriendskap voel, is oortuig dat hulle romanties betrokke gaan raak tydens hulle komende ses-maand-vakansie in Suid-Afrika, en boonop gaan staan die minibustaxi waarmee hulle langafstand Durban toe ry, sonder petrol. Mandy, Ryan, en sewe ander passasiers (en ’n paar hoenders, want dis mos Afrika) word gedwing om etlike ure saam te spandeer terwyl die bestuurder in die naaste dorp petrol gaan haal. Tydens hierdie middag maak Mandy vriende met feitlik elke passasier en besluit sy en Ryan om die volgende ses maande in Durban deur te bring om die Anglikaanse priester vader Dlamini en Jabulani, ’n agtjarige Vigs-weeskind, te help.

Die besluit word geneem na almal tee en utshwala gedeel het, in die stofpad sokker gespeel en gedans het, en oor lobola, seks, polisiebrutaliteit en gestorwe vriendinne gesels het. Alles voor donker.

Die eerste deel van die boek voel soos ’n huldeblyk aan Alexander McCall Smith se reeks boeke oor The Number One Ladies’ Detective Agency – met karakters wat doelbewus eenvoudig en dromerig aan die leser voorgedra word. ’n Semirealistiese, sagte Afrika waar waarheid en goedheid altyd wen.

Wanneer Mandy in Durban aankom, word haar storie egter meer realisties. Sy raak al hoe dieper betrokke by Jabulani en besef op die ou einde dat haar lewe sin sal hê indien sy die kind se lewe beter kan maak. Hoe sy dit gaan regkry, is die hooftema van die res van die boek.

Hayward het duidelik kennis van die regsprobleme wat daarmee gepaard gaan om as nieburger ’n Suid-Afrikaanse kind aan te neem, en saam met die leser word Mandy hiervan bewus. Maar haar oortuiging dat sy en Jabulani saam hoort, baan uiteindelik tog die weg, en terwyl Mandy vir Jabulani se toekoms veg, verander hulle talle mense se lewens.

Mandy se storie is ’n liefdesverhaal, maar Hayward probeer ook vertel van die manier waarop al die ondersteunende karakters se lewens verander word – van die afgetrede Afrikaanse dokter wat stilletjies hunker na apartheid, tot die taxibestuurder wat besluit om meer gereeld petrol in te gooi, en baie duur daarvoor te betaal, tot die ou priester wat leer dat rassisme ook in die VSA bestaan … julle kry die idee. Almal se lewens word beïnvloed deur Mandy en Jabulani se liefde vir mekaar.

En dis waar die boek ’n bietjie sukkel om een honderd persent oortuigend te wees: Met sóveel karakters wat binne 290 bladsye ’n sielsontwaking moet ondergaan, is dit moeilik vir enige skrywer om elke stem ten volle te ontwikkel. Dit beteken ons gryp na stereotipes wat minder eg is as Mandy, en wat die boek soms laat voel soos ’n houtbruggie wat kreun onder die gewig van ’n lorrie met die hele nuwe Suid-Afrika agterin.

Ek moet bieg, toe die weeskindertjies “Nkosi sikelel’ iAfrika” sing, het ek soos my Franse kennis ’n groot sluk bitter moerkoffie gevat en gemompel: “Mense wat dink ons leef só, moet maar liewer in Sun City bly. Dit sal ons almal gelukkiger maak.”

Maar daar’s ’n ander manier om Roads and bridges te beskou: as ’n simboliese storie wat mense wat nie hier grootgeword het nie, ’n vinnige inleiding kan gee tot baie van die faktore wat Suid-Afrika so ’n wonderlike land maak. Ons moerkoffiedrinkende grompotte kan almal nou en dan baat by ’n storie vol hoop en ’n bietjie kondensmelk in ons bekers.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top