NG-leiers skuld gays ’n verskoning

  • 17

Op 19 Maart verskyn daar op Netwerk24 ʼn berig waarin gesê word dat die NG Kerk nie gaan appelleer teen die onlangse hofbeslissing wat bevind het hy het gefouteer toe daar in 2016 besluit is dat selfdegeslagverhoudings nie in dié kerk voltrek mag word nie.

Van die redes wat deur Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, aangevoer word, sluit in: die kerk het “van die begin af te kenne gegee dat hy besware op ʼn kerklike wyse wou hanteer en nie die hof as opsie oorweeg nie ... Daar is duidelike riglyne in die kerkorde oor remedies wat gebruik kan word om besware op kerklike wyse te hanteer. Die kerkorde is duidelik daaroor dat die kerk uit die hof moet bly.” Volgens dr Claassen sou dit dus in stryd met die kerk se aard wees om homself na die hof te wend en aansoek om appèl te doen.

Nie lank gelede nie sê dr Claassen die volgende: “Die kerk sal uiteraard deur die loop van die komende dae die uitspraak saam met ons regspan bestudeer en dan besluit of daar redes is waarom ons aansoek sal doen om te appelleer.” Hoekom het die leierskap nie dirék na die hofuitspraak gesê dit is in stryd met die kerk se aard om hom tot die hof te wend as dit dan so ʼn belangrike oorweging vir die kerk is nie? Waarom die indruk skep dat opsies en moontlike redes eers oorweeg word? En het die moderator nie heelwat vroeër aangedui dat dit goed sal wees as daar regsekerheid oor hierdie saak kom nie?

Steeds word die vinger maar (al is dit per implikasie) na die 12 lidmate gewys wat die kerk hof toe gevat het. Hierdeur probeer die kerkleierskap die morele hoë grond behou. Die vraag is: Wat kon/moes die 12 lidmate nóg gedoen het om al die kerklike weë uit te put voordat ons hof toe is? Laat ek een voorbeeld noem oor hoe moeilik dit soms is om langs kerklike weë te probeer vorder, alhoewel ons dit enduit volledig probeer doen het. Ek sou al die pogings hier kon aandui – ons het dit alles op rekord – maar laat ek volstaan met die volgende. Op 13 November 2017 skryf ek aan Gustav Claassen ʼn e-pos om ʼn navraag te doen na aanleiding van onderstaande omsendskrywe aan (alle) leraars van die NG Kerk vanuit sy kantoor gedurende Oktober 2017 rakende die vordering rondom die hantering van die hofstukke wat ontvang is: “Soos deur die Kerkorde vereis, het die ATR [Algemene Taakspan Regte] by die ontvangs van die applikante se hofstukke besluit om alles in hulle vermoë te doen om die aansoek buite die hof te skik. Toe dit blyk dat dit nie haalbaar sou wees nie, het die ATR die Algemene Sinode se regsverteenwoordiger, mnr Hans Oosthuizen van die regsfirma Couzyn, Hertzog & Horak Ingelyf, geraadpleeg.”

My navraag het gegaan oor wat presies hulle gedoen het om die saak buite die hof te skik sedert hulle die hofstukke vroeër daardie jaar ontvang het, omdat ons (ook ons regspan) van absoluut niks bewus was nie. Dr Claassen het my na die ATR verwys. Hy het hierdie gedeelte blykbaar net soos hy dit van die ATR ontvang het, in die omsendskrywe geplaas. Onmiddellik hierna het ek dieselfde e-pos aan dr Ungerer (van die ATR) gestuur (November 2017). Ek het tot vandag geen antwoord van hom of die ATR ontvang nie. Is dit maar hoe mens optree as jy skeidsregter én speler is?

Hoe kan jy die kerk vertrou om ʼn belangrike saak soos selfdegeslagverhoudings op ʼn kerklike wyse te hanteer as daar van die begin af geweet is en uitgewys is dat hulle hul eie kerkorde verkeerd verstaan en aangewend het? Dat hulle slordig in hierdie proses te werk gegaan het? En dat hulle jou ignoreer as jy sekere belangrike vrae vra?

Hoeveel het die 2016 buitengewone sinode die kerk gekos? En al die vergaderings wat hierrondom gehou is sedert senior advokate die kerk gewaarsku het dat hulle hul eie kerkorde in hierdie opsig oortree het?

Ons sal mettertyd sien wat die hofsaak die kerk gaan kos. Maar die vraag is wie aanspreeklikheid hiervoor gaan aanvaar. Daar was verkeerde besluite téén senioradvokaat-menings in geneem. Die kerk het ʼn kostebevel teen ons 12 lidmate gevra. Sou die saak teen ons draai en die kostebevel toegestaan word, sou ons moes opdok. En dit om die goeie, inklusiewe 2015-besluit van die algemene sinode te verdedig en geldig verklaar te kry. So hoekom behoort die betrokke leiers/individue wat verantwoordelik is vir hierdie besluite, nie pa te staan vir hierdie koste nie?

En hoekom behoort hierdie betrokke leiers nie uit hul kerkposisies te bedank nie? In ander sfere van die samelewing sou hulle waarskynlik deeglik moes verduidelik het en goeie redes vir die aanbly in hul posisies moes verskaf het.

As die kerkleierskap maar net weet wat die waarde van ʼn verskoning in hierdie opsig sou wees. Die erkenning dat hulle wat die hantering van hierdie spesifieke saak betref, ʼn fout gemaak het en daarom vir kerklidmate en gay persone onvoorwaardelik jammer sê? Is dit nie hoe jy veilige ruimtes skep en jou kwesbaarheid/broosheid, waarna so dikwels verwys word, omarm nie?

Of is dit ʼn kwessie van woordryk, maar belydenisarm, soos by ʼn Petrus van ouds?

  • 17

Kommentaar

  • Wat gebeur as 'n predikant weier om 'n seël te plaas op die gedoente? Is ons dan weer terug by die hof? Eerder as om te litigeer oor kerksake is dit miskien van meer belang om te verduidelik hoekom die Bybel nou na eeue verkeerd is.

  • Flaffie-vat-hom-saggies

    Ai kla-kous, vir dieselfde redes as wat die Bybel na eeue verkeerd is oor slawebesit, steniging en eetgewoontes, om maar 'n paar te noem. Hoekom kla jy? Wil jy dalk ook graag nog steeds slawe besit? Ek stel dit aan jou dat jy laasgenoemde nie wil doen nie, want dis onmenslik, liefdeloos en onchristelik. Nou waarom dan klou aan die uitgediende homofobie van gister? Ek stel dit, weer eens, aan jou dat jou logika subjektief en selektief is. Dit blyk jy misverstaan die onvoorwaardelikheid van die liefdesboodskap van Christus. Voorwaardelike liefde is bloot nie christelik nie. Kom by. Dit sal goed wees vir jou siel.

  • Dit verbaas my dat alle argumente so selfgesentreerd is. Die EK. Kan nie dink waarom God nie voorop in die argument is nie? 'n Vraag: Waarom mense om verskoning vra? Dit is tog 'n saak tussen God en mens?
    'n Verdere opmerking. In Hebreërs lees ons van baie gelowiges wat oorlede is wat nooit gesien het wat hulle geglo het nie. Hulle het volhard. Is dit reg om teen mense wat dieselfde-geslagverhoudings het te diskrimineer en uit te sluit van kerklike regte? Nee.
    Jesus is baie duidelik in sy uitspraak oor die hantering van die geringstes. Hy het ook nooit enige voorwaardes gestel wat mense vir hom aanvaarbaar gemaak het nie. Ook nie vir my en jou nie, behalwe dat ons in Hom moet glo en sy Vader se wil moet uitvoer.
    Die mense moet bid dat hy vrygestel word van die eiewaan en God se wil sal uitvoer. Dit is baie moeilik, maar indien ek daaraan werk behoort daar 'n verskil te begin intree.
    Ons raadpleeg God te min, dit is baie tydelik tydens enige vergadering, nie net meerdere vergaderings nie.
    Lees die verhaal van Jesus se laaste week en kruisiging. Die mense het Hom volkome ge-"dehumanise", nogtans het Hy gebid: Vader vergeef hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie. Hy het altyd liefde uitgestraal en gelewe. Waar is die liefde hier?

  • Die Bybel is nie verkeerd nie, die mens se vertolking daarvan is verkeerd. In die ou testament word die dade wat homoseksuele mense pleeg veroordeel, terwyl dit voorkom dat optrede tussen vroue as 'lewd' beskryf word.
    Christus het 'n huwelik tussen 'n man en vrou met sy teenwoordigheid vereer en water in wyn verander, want in die Genesisverhaal word 'n vrou en nie 'n man die metgesel van Adam.
    Die huwelik is dus volgens die Bybel 'n verbintenis tussen 'n man en vrou, want:
    "Die ontstaan van die huwelik is vervat in Genesis 2:23 – 24, “Toe sê die mens: "Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy 'vrou' genoem word; sy is uit die man geneem." Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word”. God het man geskape en toe die vrou geskape om hom aan te vul. Deur die huwelik het God die probleem opgelos sodat die man nie alleen is nie “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie” (Genesis 2:18).
    Die woord “helper” vir Eva soos beskryf in Genesis 2:20 beteken “om te omgewe, om te beskerm, om te help, of net help”. Eva was geskape om by Adam te wees as sy “ander hefte” en om hom by te staan as sy helper. ‘n Man en vrou, wanneer hulle trou, word een vlees. Hierdie eenheid manifesteer volkome in die fisiese bymekaarkom tydens seksuele verbintenis. Die Nuwe Testament waarsku egter oor hierdie eenheid, “Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie." (Matteus 19:6)."
    Om dus te verwag dat huwelike tussen man en man en vrou en vrou op dieselfde vlak geplaas en behandel moet word is mi minagting van ons Skepper en om te verwag dat predikante moet deelneem daaraan 'n bewys hoe ver agteroorgebuig word om die onbybelse handeling te akkommodeer.
    Moet dus nie die kerk by die praktyk betrek nie en gebruik dan die staat om sulke verbintenisse te bevestig.

  • Daar is aan my op 'n kerkraadsvergadering gesê dat ons al 2000 jr dieselfde vertolking hoor, maar dat hulle dit nou anders wil verstaan. Dít terwyl die woordelikse vertaling van 1Kor 6 vanaf vers 9 woordeliks in die Grieks ooreenstem met die woorde in die OT.
    Ongelukkig het iemand die woorde in die Afrikaans totaal onsuiwer vertaal.

  • Ronèl Schoombee

    Chris julle 12 stel ‘n voorbeeld vir só baie van wat Christenskap werklik is en moet wees. Baie dankie vir julle volgehoue harde werk en deursettingsvermoë. Ons is saam met julle dankbaar vir hierdie uitspraak!

  • Wonder maar net

    Dankie vir jou waagmoed om hierdie mening te plaas. Hierdie saak moet in diepte bespreek word, tot op die been toe. Ek wonder of die kerkleiers hul eie kerkorde ken of verstaan? Of het hulle willens en wetens hulle kerkorde verbreek en verdraai soos dit hulle gepas het? Ek wonder of hulle dan nie die land se grondwet ken nie? Dalk nog nooit gelees nie? Ek wonder hoekom het hulle nie na die advies van hulle eie advokaat geluister nie? Bid jou aan, predikante en leiers, wat gewoonlik slim mense is, tree so op. En dan is hulle nie eens bereid om hulle foute te erken, te bely en om verskoning te vra nie. En eintlik moet hulle ons as lidmate help om ons foute en sondes te erken en te bely. En nou moet die kerk die regskoste van hierdie fiasko betaal uit fondse wat onder andere ALREEDS UIT ARM GEMEENTES ingekom het vir koninkrykswerk. Ek wonder of dit reg kan wees? Ek wonder of die leierskap enigsins daartoe in staat is om verantwoordelikheid te aanvaar? Ja die broosheid is sigbaar, en dit is goed om dit te erken, maar ek wonder of hulle vir ons 'n voorbeeld gaan/kan wees van hoe jy hierdie broosheid hanteer? Ek wonder hoe hierdie leiers dit oor hulle gewete kan kry om nog aan hulle leierskapsposisie vas te klou? Ek wonder hoe lidmate dit regkry om nog vir hulle respek te hê? My kop hang in skaamte. Ek mag nie oordeel of veroordeel nie, want my eie lewe is maar erg deurmekaar en ek het God se genade in oorvloed nodig. Kerklike leiers, doen tog asseblief die regte ding en wys vir ons as lidmate dat julle nog integriteit het. Of is dit ook finaal daarmee heen?

  • Hans Richardt

    Wie sê dat geloof meer getuieniswaarde het in enige geregshof, as hoorsê nie, want bv nie Jesus of Paulus kan gedagvaar word om Viva Voce getuienis op rekord te plaas oor hierdie spesifieke aangeleendheid nie.
    Verder, is dit my beskeie leke opinie, dat die hof nie basiese menseregte van vryheid van keuse en assosiasie in ag geneem het nie, tydens die beslissing in die uitspraak nie, want geloof is privaat aangeleendheid in SA sekulêre staat.

  • Hans Richardt

    Wie sê dat geloof-interpretasies meer as hoorsê-getuienis en spekulasie-waarde het in SA geregshowe, aangesien die skrywers en karakters waaroor hoorsê geskryf word, bv Paulus oor Jesus of skrywers in ou testament oor G_d, is net skrywers en herskrywers/vertalers se persoonlike interpretasies en beskouings oor inhoud.
    Was bv Paulus gedagvaar om in persoon mondelings te getuig?
    Ek huldig die beskeie opinie dat die hof nie met regspraak 'n bindende beslissing oor geloof opgrond van spekulasie, opinies en subjektiewe sienings en interpretasies kon maak nie.
    SA grondwet stel dit duidelik dat SA sekulêre staat is en dat geloof 'n privaatkeuse en assosiasie vir individue is.

  • Chris jy slaag daarin om die vrae wat baie van ons lidmate verontrus op 'n skitterende wyse te verwoord. Ek sou graag op jou skrywe wou uitbrei, maar tog dink ek dat dit beter sy doel sal dien as die kerkleierskap (ATR) eerder hierop sal reageer. Dit is dan ook 'n versoek aan hulle met die hoop dat hulle "hierdie keer" sal antwoord. Ek sien uit na hulle reaksie. Met waardering en vriendelike groete.

  • Wonder maar net

    Ek wonder maar net hoeveel van die persone wat hier kommentaar gelewer het, het die hofuitspraak self gelees? Die hof het hom nie uitgespreek oor die teologiese inhoud van die besluite wat geneem is nie. Die hof beoordeel nie hoe ons die Skrif verstaan nie. Die hof het eintlik net twee sake beoordeel: 1) Of die kerk haar met die 2016 besluit gehou het by die reëls wat die kerk self opgestel het om sulke sake te hanteer. Hieroor het die hof bevind NEE en daarom is die 2016 besluit nie geldig nie. 2) Die sogenaamde botsing tussen twee beginsels in die grondwet nl menseregte en geloofsvryheid. Gaan lees die hofuitspraak hieroor. Dit is duidelik dat jy nie agter geloofsvryheid kan skuil as jy menseregte aantas nie. Bv omdat Lev 19 sê jy moet 'n sekere persoon stenig, kan jy nou nie iemand gaan doodmaak omdat dit jou geloofsoortuiging is dat so 'n persoon gestenig moet word nie. Die uitspraak hef dus nie jou persoonlike vryheid van keuse tov jou geloof en jou assosiasie met medegelowiges op nie. Wat die uitspraak sê is dat die kerk met die 2016 besluit die regte wat in 2015 aan mense toegeken is ontneem het en dus hulle menseregte aangetas het wat die kerk self aan hulle in 2015 gegee het. Die hof spreek hom nie uit oor of die inhoud van die 2015 of 2016 besluite reg of verkeerd was nie, maar dat die verkeerde prosedure gevolg is met die 2016 besluit. En dit is op grond daarvan dat Chris sy vrae vra - wesenlike vrae. Vrae wat ons moet beantwoord of ons met die inhoud van 2015 se besluit saamstem of nie. Laat ons tog asb Chris se vrae hieroor bespreek.

  • Baie dankie Chris. Dat die mense wat homoseksueel geskape is nou vir die "kerkvaders" moet wys wat "Liefde in Christus" werklik beteken, nè?

  • Marietjie le Roux

    Wonder maar net: Dit verg nie waagmoed om met die militante LGBTQ-agenda saam te gaan nie. Dis die populêre opinie. Dit verg waagmoed om dit teen te staan. Ironies het die "kerk" met 12 dissipels begin en is deur 12 gays by 'n kruispad gebring.

  • Beste Trixie
    Liefde in Christus beteken dat 'n mens as volgeling van Christus soos Christus optree en nie sonde ,dws afwykings van God se plan vir die mens en dan veral die huwelik, goedpraat nie, maar vergewinsgesind in liefde optree teenoor ander omdat ons oortredings vergewe is.

  • Van die kommentators hierbo kom blykbaar nie agter dat hulle appels met pere vergelyk nie. Die feit dat sommige gebruike en opdragte in die Bybel uitgedien is en nie meer van toepassing is nie, maak nie alles in die Bybel uitgedien nie. Feit is dat daar gays is en ongeag of homoseksuele gedrag natuurlik, onnatuurlik, reg of verkeerd is, dit bestaan en gays het die reg net soos heteroseksuele mense op geloof en vryheid van assosiasie en seksuele oriëntering. Maar as die NG Kerk glo dat hulle nie hul seën en goedkeuring wil gee aan gay huwelike nie omdat hulle veroordeel word in die Bybel, is dit hulle goeie reg en behoort geen hof hom daarmee in te meng nie. Dit kom eintlik daarop neer op 'n skending van geloofsvryheid as die hof hom daar inmeng. Ongelukkig het 'n mensgemaakte wet nou verhewe geraak bo onbybelse optrede en word die Kerk gedwing om sy seën te plaas op iets wat teen die Bybel indruis.

  • Spook Speurder

    Daar steek iets in Ai ja jai se opmerking waarvolgens die kerk onbybels sou opgetree het, ook dat sommige gebruike uitgedien is, maar, as kommentator die eers daar gelaat.
    Dankie, wonder maar net, dat u die hofsaak uitlê want ek het dit nie gelees nie.
    Beteken dit dan dat elke uitspraak, deur enige groep mense gemaak, oor hulleself, as die skep van een of meer nuwe ‘mensereg’ geag moet word? Dat geeneen van die groepies, of selfs individue dan, nie kan nie, maar nie mag nadink en later van besluit oor hul eie lewens mag verander nie?
    Elkeen se elke woord kan tog nie 'n wet word waarvoor die polisie jou kan kom oplaai indien jy dit sou breek en iemand daarteen kapsie neem en hulle bel nie. Dis ’n punt waar kultuur weens onderdrukking tot sterwe sal kom, want hoe kan ons anders groei as om ons self te heroorweeg en werk daarvan te maak?
    Nee, want die hof spreek hom uit oor verkeerde prosedure aldus die verloor van 'n saak oor ’n ‘tegniese fout’ iewers begaan. Sover dit om verskoning vra gaan moet mens elders kyk. Die kerk probeer nie morele hoë grond hou nie, hul reik uit na die waarheid wat jy nie in 'n oogwenk uit 'n hoed trek nie. Die kerk sê reeds hy/sy/dit wil nie in die hof wees nie. Hoekom? Want dis nie sy plek nie. Kan dit wees omdat die area van mens-bestaan waarin die reg in geregtigheid uitspeel 'n ander wêreldsfeer van mens-bestaan aanspreek as die waarin die kerk bestaan, en noodwendig die bo-aardse wêreld by insluit, by regte genaamd die kulturele lewe en waarin vryheid van belang is?
    Is die hofsaak 'n klip gegooi en nou is 'n venster gebreek, ons eie venster wat nou nie net lig inlaat nie, maar ook lug en wêreldweer, die stank van die storm en drang waardeur die goeie Samaritaan beweeg het?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top