......
Een van die groot name wat die aandag getrek het, is dié van Anna Netrebko, ’n Russiese sopraan, wie se kontrak met die Metropolitan Opera in New York opgeskort is. Sy het haar wel teen die inval uitgespreek. [S]y wou haar egter nie nadruklik van Poetin distansieer nie.
......
1
Luidens ’n onlangse berig in The New York Times plaas kulturele instellings Russiese kunstenaars toenemend onder druk om die oorlog in Oekraïne te veroordeel én hulle van Wladimir Poetin te distansieer. Dit alles stuur op ’n botsing af waar hierdie instansies gedwing word om oor vryheid van spraak te besin. Daar word gevra of kultuurinstansies die reg het om kunstenaars se beskouings oor sulke omstrede sake aan indringende ondersoek te onderwerp.
Een van die groot name wat die aandag getrek het, is dié van Anna Netrebko, ’n Russiese sopraan, wie se kontrak met die Metropolitan Opera in New York opgeskort is.

Die Metropolitan Opera in New York (Foto: Professorcornbread [CC BY-SA 4.0], via Wikimedia Commons)
Sy het haar wel teen die inval uitgespreek: "Ek is gekant teen hierdie sinlose oorlog van aggressie en ek doen ’n beroep op Rusland om hierdie oorlog onmiddellik te beëindig om ons almal se ontwil. Ons het nou vrede nodig." Sy wou haar egter nie nadruklik van Poetin distansieer nie. Vir die bestuur van die Met was haar weiering net een te veel en hulle paaie moes skei: "Anna is een van die grootste sangers in die geskiedenis van die Met, maar met Poetin wat onskuldige slagoffers in Oekraïne doodmaak, was daar net nie ’n uitweg nie." Haar plaasvervanger vir die komende speelvak van Puccini se Turandot is die Oekraïnse sopraan Liudmyla Monastyrska.

Anna Netrebko in 2014 (Foto: Christian Michelides [CC BY-SA 4.0], via Wikimedia Commons)
Op haar beurt verklaar Netrebko dat dit "nie nou die tyd is om musiek te maak en op te tree nie" en kanselleer voorlopig haar onmiddellike optredes vir Maart en April. Die kansellasies is vir haar "’n uiters moeilike besluit", maar sy rep geen verdere woord oor haar verbintenisse nie. Haar webblad lys geen verklarings nie, slegs haar opnames en toekomstige optredes. Sy voorsien klaarblyklik dat die Russiese militêre aanslag teen die einde van Mei sy beloop sou geneem het; dat die onmiddellike aandrang van kultuuradministrateurs agter die rug sal wees en dat sy soos voorheen haar optredes in die operahuise van Parys, Milaan, Frankfurt en Wene sonder veel belemmering sal kan voorsit.
Sy voel haar oënskynlik verbonde aan Poetin as die verpersoonliking van ’n moderne Rusland. Daar dra sy die eretitel "Volkskunstenaar van Rusland" en in 2008 het Poetin haar prestasies as operaster beloon met die hoogste eerbewys, die Staatstoekenning van die Russiese Federasie. Sy het duidelik ook simpatie met die pro-Russiese separatiste in Donetsk, die betwiste oostelike streek in Oekraïne. In 2014 het sy ’n skenking van een miljoen roebel aan die operahuis in Donetsk gemaak.
Sy is nie die enigste gesiene persoonlikheid wat ’n intens persoonlike keuse moes maak nie. Binne die bestek van ’n paar dae na die inval is talle afsprake in die dagboek van die befaamde dirigent Valery Gergiev, wat ’n jare lange vriend en ondersteuner van Poetin is, gekanselleer. Hieronder tel sy kontrak as hoofdirigent van die München Filharmoniese Orkes en sy deelname aan ’n fees in Rotterdam wat na hom vernoem is. Sy bestuurder, Marcus Felsner, het intussen besluit om hom nie meer as kliënt te verteenwoordig nie. Hy verlaat hom met woorde van bewondering en onbegrip: Gergiev "is die grootste lewende dirigent en ’n buitengewone mens met ’n diep sin vir ordentlikheid", maar "wil nie, of kan nie in die openbaar sy lank-uitgesproke ondersteuning van ’n regime wat sulke misdade pleeg, veroordeel nie".
Dit is maar twee voorbeelde van welbekende kunstenaars met aantoonbare bande met die Russiese leier wat hulle nie so ver kon bring om hulle óf teen die inval óf teen Poetin of beide uit te spreek nie. Daar is tien teen een talle gewone burgers, minder bekende kunstenaars, sportlui en akademici vir wie sulke persoonlike keuses net so moeilik is.
2
Daar is diegene wat hulle vroeg teen die inval uitgespreek het. Die uitgeweke Russiese romanskrywer Mikhail Sjisjkin rig ’n ope brief aan Oekraïners waarin hy vergifnis vra. Hy onderskei tussen Rusland die land en Poetin die diktator: "Ek is ’n Rus. Wladimir Poetin pleeg verskriklike misdade in my naam, in die naam van my mense en in die naam van my land. Poetin is nie Rusland nie. Rusland is gewond en skaam. In die naam van my Rusland en my mense smeek ek die Oekraïners om vergifnis."
In ’n tyd waarin daarop aangedring word om te jouself te verklaar, vra Sjisjkin wat ’n skrywer kan doen: "Die enigste ding wat jy kan doen, is om jou stem duidelik te laat hoor. Stilte is steun vir die aggressor … Die Oekraïners veg vir hulle vryheid teen Poetin se weermag, maar ook vir ons vryheid. Hulle verdedig nie net hulle eie menswaardigheid nie, maar ook die waardigheid van die mensdom."
In die stryd om gehoor te word, sal die letterkunde vir Sjisjkin voortbestaan en doen wat dit moet doen. "Letterkunde het nie nodig om te handel oor Poetin nie. Letterkunde het nie nodig om oorlog te verduidelik nie … Letterkunde is dit wat teenoor oorlog staan. Ware letterkunde handel altyd oor die mens se hunkering na liefde en nie na haat nie."
Op die webblad Troitsky Variant onderteken meer as 7 750 Russiese navorsers en wetenskapjoernaliste ’n ope brief en dring daarop aan dat die Russiese weermag uit Oekraïne moet onttrek. Een van die dryfvere vir die oorlog is volgens Poetin om Oekraïne te "denazifiseer". Die ondertekenaars wys dié beweegrede sonder meer af: "Ons vaders, oupas en oupagrootjies het saam geveg teen Nazisme, en om ’n oorlog te ontketen vir die geopolitieke ambisies van die leierskap van die Russiese Federasie, aangedryf deur historiosofiese fantasieë, is ’n siniese verraad teen hulle nagedagtenis."
Die ondertekenaars kom tot die gevolgtrekking dat Rusland hom met hierdie inval "tot internasionale isolasie verdoem het. Dit het gedegenereer tot ’n paria … Dit beteken ons kan nie meer ons werk op ’n normale wyse doen nie, omdat wetenskaplike navorsing ondenkbaar is sonder die medewerking en vertroue van kollegas in ander lande. Die isolasie van Rusland beteken kulturele en tegnologiese agteruitgang vir ons land met ’n totale gebrek aan enige positiewe vooruitsig. Die oorlog met Oekraïne is ’n pad na nêrens."
3
Die bekendste sport-, akademiese en kultuurboikot is van die 1970’s tot die 1990’s teen Suid-Afrika ingestel. Dit was in wese ’n totale boikot, goedgekeur deur die VN, wat beteken het dat die land heeltemal van buitelandse skakeling, mededinging en samewerking afgesny moes word. Ons kunstenaars was verhoed om internasionaal op te tree en ons sportlui se enigste hoop om mededingend deel te neem het ver in die verskiet gelê. Beroemde oorsese kunstenaars het die land vermy en akademiese uitwisseling was uitermate beperk. Die kunstenaars of sportlui wat wel hier te lande opgetree of deelgeneem het, is as verraaiers en apartheidondersteuners bestempel en hul name is op die VN se swartlys geplaas. Oorsese professionele sportlui wat die boikot verbreek het, het nie net hul aansien verloor nie, maar ook enige hoop op voortgesette professionele loopbane.
Tans is daar geen georkestreerde boikotbeweging teen Russiese kunstenaars, sportlui of akademici nie. Wat plaasvind, in die geval van Netrebko en andere, is voorkomende aksies deur kultuuradministrateurs wat hul eie belange wil beskerm. Hoe langer die oorlog egter aanhou, en hoe intenser die ekonomiese en politieke sanksies teen die Russiese Federasie word, hoe groter word die moontlikheid van ’n wydverspreide boikotaksie teen Russiese kunstenaars, sportlui, akademici en navorsers. Die Russiese navorsers is in hul ope brief per implikasie bewus van hierdie wesenlike moontlikheid: "[W]etenskaplike navorsing [is] ondenkbaar [...] sonder die medewerking en vertroue van kollegas in ander lande."
Die oorlog het vir talle Russiese kunstenaars en sportlui ’n onuithoudbare morele dilemma geword. Aan die begin van 2022 het hulle gewoon hulle gang gegaan, en nou word hulle voor die keuse gestel om hul politieke sentimente, belange en verbintenisse te verklaar en hul onomwonde standpunt in te neem oor die inval in Oekraïne en oor Poetin. Selfs die reg om geen besliste mening te hê nie, plaas hulle onder verdenking.
Daar is by kunstenaars of sportlui waarskynlik geen twyfel dat die aandrang van kultuuradministrateurs dat hulle uitsprake oor politieke kwessies moet maak, onredelik is nie. Hulle het geen aandeel aan die besluite van die Russiese regering of sy leier nie. Kritiese uitsprake en optrede teen die regering en sy leier stel hulle lewensonderhoud in gevaar, omdat baie van hulle van die staat afhanklik is. Vir die artistieke direkteur van Carnegie Hall is dit nie aanvaarbaar om die politieke standpunte van kunstenaars te verneem nie. "Wanneer mense in ’n totalitêre staat leef soos (hierdie kunstenaars), vra jy die onmoontlike, omdat jy iemand vra om sy lewe op die spel te plaas." Die bedreiging van ’n misdaadsrekord is genoeg om mense hulle woorde te laat tel, soos in die geval van die moedige Russiese navorsers wat die oorspronklike Russiese teks van hul ope brief van die webblad Troitsky Variant verwyder het, met die volgende woorde: "Daar is niks krimineel in die teks van die brief nie, maar as gevolg van die nuwe wetgewing, wat eintlik die strengste sensuur instel, verwyder ons die teks."
Die nagevolge van ’n boikot is verreikend – vir almal. In Suid-Afrika kan sportlui getuig van die jare van uitsluiting en verlore kanse. Ons kultuurhorisonne sou soveel breër gewees het met blootstelling aan ’n groter verskeidenheid kunstenaars, opvoerings en boeke. In die akademiese wêreld is ons universiteite en navorsers armer gelaat, omdat internasionale netwerke byna nie bestaan het nie of met agterdog bejeën is. Suid-Afrikaners se invloed tydens die boikotjare was insgelyks beperk en in sekere opsigte selfs onbeduidend. Sonder die boikot kon sake so anders gewees het. Selfs dertig jaar na die afskaffing van die boikot dra ons nog die gevolge daarvan. Dit neem jare om die nagevolge van ’n algehele boikot en ’n staat van beleg af te skud en volwaardig aan internasionale uitwisseling deel te neem.
Die algehele boikotstrategie van destyds is vervang met geteikende sanksies en boikotaksies met betrekking tot die inval in Oekraïne. Dit beteken dat hoofsaaklik die magselite rondom Poetin en sy prominente ondersteuners in die visier kom. Russiese kunstenaars, sportlui, navorsers en akademici wat buite daardie sfeer van invloed beweeg, behoort nie aan boikotaksies onderwerp te word nie.
In die geval van Suid-Afrika was die internasionale boikot nie net simbolies nie. Dit het wesenlik tot ’n oop en demokratiese samelewing bygedra. Die gevolge van geteikende kultuursanksies en -boikotte op lede en meelopers van die magselite in die Russiese Federasie mag egter in hoofsaak simbolies wees, maar dit is belangrik dat afkeuring gedemonstreer word, ter wille van die handhawing van internasionale reg en, in die woorde van Mikhail Sjisjkin: "die waardigheid van die mensdom".
4
Nader tuis. Ons beleef ’n tyd waarin ersatzkenners van Russies-Oekraïnse betrekkinge en militêre strategie om elke bos uitgeskop kan word. Daar is meningsvormers wat op sosiale media en elders die inval regverdig. Hul oordeel kan meesal toegeskryf word aan vermeende ideologiese verbondenheid en/of die voormalige Sowjetunie se ondersteuning van die stryd teen apartheid en/of naslepe van die Koue Oorlog. Hulle vergeet terselfdertyd gerieflikheidshalwe dat Oekraïners as inwoners van die Sowjetunie indertyd solidêr in die anti-apartheidstryd gestaan het. Hulle skryf hul steun vir die inval toe aan die vermeende geregverdigde aansprake van Rusland of variasies van die dade of omissies van "die Weste/Europa/Navo/Amerika" of die historiese wandade van laasgenoemde elders. Hulle lees en bekyk die nuusberigte van die "Westerse media" téén die grein en soek naarstig vir nuuskanale, berigte, video’s en uitsprake om hul eie vooroordele te regverdig.
Dan is daar diegene in hoë posisies wat swyg of weier om ’n keuse na die een of die ander kant toe te maak. Om hul uit te spreek beteken ’n morele keuse. Dit kan hulle nie, want Oekraïne is ’n verre land wat slegs op TV-skerms verbyflits, en waarom sal hulle hul die verdriet aantrek? Aansprake van neutraliteit is egter geen onverbondenheid nie, maar ’n keuse vir onreg. So ’n houding ondermyn enige aansprake wat ons as individue en ’n land mag hê op vryheid, menswaardigheid, gelykberegtiging en medemenslikheid oor die wêreld heen.
Ons kyk na dieselfde beelde en lees dieselfde berigte en sien verwoesting en aangrypende lyding. Die vernietiging van ’n land, die verwildering en verstrooiing van burgerlikes kan nie met afstandelike staatsmanskap en teoretiese formulering verklaar word nie; nog minder kan die lyding en dood van onskuldiges vergoeilik word.
Wat ook al die uiteinde van die oorlog, ’n onwelkome voetnoot gaan voortaan die sangloopbaan van Anna Netrebko kenmerk: "Tydens die inval in Oekraïne het sy geweier om onomwonde standpunt teen Poetin as aggressor in te neem." Iewers in die toekoms sal sy wel sê "Ek is jammer, ek was verkeerd", maar haar naam sal beklad bly en talle operaliefhebbers gaan ánders na haar luister as voor 24 Februarie 2022.

