NetRaad: Annari van der Merwe

  • 0

Tien wenke vir nuwe skrywers

  1. Skryf alleenlik as jy iets het om te vertel; wees gedagtig daaraan dat vir elke boek wat uitgegee word, 'n paar bome afgekap moet word.
     
  2. Skryf oor dit waarvan jy kennis dra; as jy nie genoeg oor iets weet nie, gaan vind uit - deur dit self te ervaar, daaroor na te lees, of ander daaroor uit te vra.
     
  3. Lees wyd, krities en sonder ophou, verkieslik die werk van skrywers wat algemeen as suksesvol en opwindend beskou word.
     
  4. Leef met jou oë en ore (selfs neusgate) oop en 'n aantekeningboekie in jou hand- of broeksak.
     
  5. Leer uit goedbedoelde (selfs negatiewe) kritiek; moet jou nie daaroor wip of jou dit persoonlik aantrek nie.
     
  6. Oorweeg teenstrydige terugvoer met 'n oop gemoed en besluit self, want geen twee lesers oordeel ooit presies dieselfde nie.
     
  7. Moenie jou skryfwerk as heilig beskou nie; wees bereid om jou lieflinge nek om te draai - daardie gunstelingparagraaf, troetelidee, fraai woord, te slim stelwyse.
     
  8. Gebruik 'n woordeboek en die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2002-uitgawe); wees op die hoogte van die grammatika sodat jy reëls met opset en nie uit onkunde nie kan verbreek.
     
  9. Moet nie daarop roem hoe vinnig jy skryf en dat jy dit nie nodig ag om 'n manuskrip te hersien nie; dis 'n lui skrywer wat so sê.
     
  10. Bied 'n keurig-versorgde manuskrip aan wat mens op die oog af al uitnooi om dit te lees.

 

 

 

 << Terug na Sanlam NetRaad <<

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top