Netflix TV en films gie ’n virtual experience van Italy

  • 2

Halaal Italiaanse ravioli, afkomstig van Yeongam, Suid-Korea

Wanner ek net in Korea gekom’t, het een van my expat-vrinne, oek ’n Kapenaar, vi myrie foreign markets gewys in Yeongam, Jeollanam-do, nie te vê van my skool waa ek elke dag gewêk het. Hierie uitstappie was eintlik ’n opportunity om halaal vleis te soek, maa dan het ek skielik ’n rare gem gevind – authentic Italian ravioli. Ek het nooit in my liewe Italian kos ge’iet except daai een kee wanner ek ’n vegetarian pizza by Bella Italia in Seapoint gekry’t. Ek hettie gewiet wat om met ravioli innie kombuis te doen, toe het ek dit net in diep olie gefry en in ’n sous gedip. Buon appetito!

Italy, nie Korea, was altyd op my bucket list since ek oud genoeg was om te wiet daa’s ’n groot wêreld daa buite. Ek was soe opgemaak mettie reality dat ek op travel is dat ek actually ge’try het om Italy vanaf Korea toe te gaan vi ’n kôt vakansie. Since dit was heeltemal te veel van ’n duur storie en ’n lang trip, het ek maa die once-in-a-lifetime opportunity gevat om Indonesia te kuier.

Maa Italy het nog altyd my naam daa’op. En nou en dan kry ekkie impulse om films op Netflix te kyk wat in Italy gebeur, net soes ek met Selena The Series gemaak’t, net om ’n smaak te kry vannie plek. Recently het ek From scratch gekyk, ’n romantiese film. Hierie storie, based oppie novel deur Tembi Locke, vetel die story van Amy en Lino wat in Florence meet wanner Amy ’n kunsprogram doen. Dan hettie twie besluit om hulle love story in Amerika te continue. Hulle het getrou, ’n kind gehad en basically they lived their best lives, Amy as ’n kunstenaar by ’n art gallery en Lino ’n sjef by sy eie restaurant, tot soe ’n tyd wanner baie calamities in hulle pad gestamp het.

Florence, soes ek deur die film gelee’t, is bekend vi hulle kuns en architecture. Ek was baie impressed mettie feit dat hierie filmmakers getry’t om movies te maak buite uit die main capital cities van Italy – al hoe het ôs nog nie Rome en Venice gesien nie, het ôs genoeg van Rome en Venice in films gesien! Die ambience van Florence het baie vi Amy ge’influence en gelee hoe om haa artist identity te defend teen ha pa wat sê sy moet haa law degree klaa maak.

Al hierie films het die beauty van hierie Italiaanse cities soe mooi portray ek kan net in trane uitbas. Ofcourse het Eat pray love oek vi my ge’influence om Naples te kuier, ’n plek wat bekend is vi pizza. Elizabeth Gilbert het innie boek geskryf dat since die beste pizza van Italy kom, en die beste pizza in Italy van Naples kom, boe-op die feit dat sy het die beste pizzarestaurant in Naples gevind deur die locals, het sy dan literally die beste pizza innie hele wêreld ge’iet!

En toe val ek met liefde affie “rabbit hole” en het ek baie mee films gekyk wat in Italy gefilm was: Love in the villa, Love & Gelato en of course die Italian stuk van Eat pray love. Elke movie begin met ’n ve’lore jong dame wat haaself vind hoe meer tyd spend sy in Italy, hoe meer gelato of pasta of pizza iet sy, hoe mee tour. Maa, nog steeds, hierie stories wat in Italy plaasvind, is niks cliché nie. Elkeen het hulle eie unique take op liefde en die liewe. Die cross-cultural romance in From scratch was ’n baie unique storyline, en wanner Amy vi Lino gewys dat djy kan palenta as grits, die Italiaanse en American version van mealie meal, oek in Los Angeles iet, het ek immediately gewiet dat die film is based op iemand se experience – van ’n scriptwriter’s point of view is palenta en grits ’n baie specific piece of research wat innie film geplaas was!

Die rabbit hole het oek vi my gelei tot Love in the villa, wat in Verona afspeel, met spesifiek aandag aan die Casa di Giulietta, ’n 14th-century huis in Verona, wat claim ommie huis vannie Capulets te wies uit Shakespeare se Romeo en Juliet – die Love in the villa storyline vind plaas in hierie plek. Ek was heeltemal surprised om te discover die famous balcony in Verona (oek gewys in Letters to Juliet) waa duisende mense elke jaa kom om vi Juliet, ’n fictional character, te skryf om advice te vra oo hulle personal experiences met liefde. Maa die shock was nie net oorie mense wat inskryf; dissie feit dat Juliet vi hulle actually reply – ’n groep skrywers wat bekend is as die secretaries van Juliet, soos veral in Letters to Juliet gewys.

Op ’n logical level maak dit mos nie sin nie! Om met ’n fictional character te identify is een ding, maa all the way Italy toe te gaan en daai character met jou regte liewe te ve’trou? Maa dan het ek my playwright brain gebruik. First of all, om ’n Juliet secretary te wies is een vannie coolste jobs wat djy ooit kan kry as ’n skrywer – dan kan djy mos forever in Italy bly! Maa most of all, ek het ge’realise dat stories is powerful beyond ôse imaginations, en narat mense Romeo en Juliet experience’t, need hulle ’n physical plek om te grieve en hulle eie emotions vannie storie te externalise. Dan need hulle oek, soes die tourism officials in Verona ge’realise het, ’n Agony Aunt wat hulle eie experiences met liefde inspire. Ek suppose ’n mens kan nie mettie stats stry nie – die duisende mense wat Verona toe vlieg net om hierie balcony te sien en met Juliet te gesels.

Ofcourse is storie adaptations oek die ideal, en 21st-century interpretations van Romeo en Juliet is oek relevant. Julie in Love in the villa represent daai aspect vi modern film viewers, en warrit bedoel om liefde te ve’loo en wee te vind in hierie modern age. Nou het ek actually ’n reason om wee Romeo en Juliet te lies, en ek kan oek Verona op my bucket list sit!

Ek droom van Italy met my ee’ste koppie tee in Korea.

Amerika het ’n groot Italiaanse community, som van hulle wat in Queens in New York City woon. Joey in Friends en Sophia in Golden girls gie vi ôs ’n idee daa’van, en al twie hierie characters se Italiaanse temperaments kom uit soe nou en dan innie TV series, soes wanner Sophia haa famous Italiaanse sous innie kombuis maak, of wanner Joey vi Chandler uitvloek in Italiaans wanner Chandler sy meisie steel. Vi my issie song “Tu vuò fà l’americano” deur Renato Carosone die cherry on top van alle Italiaanse patriotism. Dit remind my oo’ iets wat Vicky Sampson laas jaa in Mitchells Plain gesêrit wanner sy die beste performance van “My African dream” gegie’t: “We’re all trying to live the American dream, not the African dream.” Innie song sing Renato “Sient' a mme, nun ce sta niente 'a fa, ok? Napulitan!” wat vi my lat had uitlag wanner ek die Engelse translation lies: “Listen to me, there’s nothing you can do, OK? You’re Neopolitan!” En as djy rêrag van Naples is, die plek waa djyrie beste pizza innie wêreld kan kry, ek smeek jou, hoekom sal djy van enige anner plek wil wies?

  • 2

Kommentaar

  • david willers

    Fassinerend! Italië bly my gunsteling land. Kyk gerus na die flieks van Elena Ferrante se boeke (op Netflix) - daar sien jy die werklike Napoli.

  • Dit wek vi my, hierie writeup. Behalwe die duwwele nie's wat missing is, dan moetik ees die sin oor lies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top