Net soos Koos Kombuis
Ek wens ek kon skryf
net soos Koos Kombuis
jou met my woorde beskryf
jou ware wese uitwys
so ons saamwees beleef
dat ek later kan lees
kan onthou hoe dit is
om hier in jou arms te wees.
Maar my kunsvorme vou
Hul kan jou nie vashou
My woorde verloor
Die hitte van jou
As ek kleur kon eer
en soos Van Gogh leer
om verf dik en taai te smeer
jou oë se skadu’s vaskeer
sou ek ons twee inkleur
dat ek later kan sien
kan onthou hoe dit is
om hier in jou arms te wees
Maar my kunsvorme vou
Ek kan jou nie vashou
My verfkwas verloor
Die skadu van jou
Ek wens ek kon weer
toonlere beheer
melodie rangskik, regeer
die improvisasie van seer
vir ons weer komponeer
dat ek later kan hoor
en onthou hoe jy is
ons melodie saam te leer.
Maar ek weet nou
dat al die kunsvorme vou
hul kan jou nie vashou
ek moet alleen probeer onthou
jou wegbêre, oppas en toevou
vir wanneer ek eendag weer
wil onthou hoe dit is
om hier saam met jou te wees.


