ROSA ROSARUM: AG VISSER
Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag;
Sonnestraal-kusse en suidewind kose*,
Drome en liefde die lang somerdag.
Kom in die soel someraande en luister
-Wanneer die nagwind hul drome verklaar-
Na die veelvuldige blommegefluister,
Bloesem en bloeisel en blad altegaar!**
Kom waar die lelie – die blanke, die reine –
Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan,
Blou miositis, - die slanke, die kleine –
Met haar vergeet-my-nie-ogies betraan.
*kose = liefkosings
**altegaar = altesame
Kom as die maanblom – wit sy en satyne –
As ‘n vorstinne verskyn in haar prag
Onder die wierook van roos en jasmyne –
Skoonste juweel op die bors van die nag!
Daar in die vywer*, bestraal deur Arjana**
Open die lotus haar heilige kelk,
Dan eers bereik sy die hoogste – Nirvana***-
As sy in glorie van songloed verwelk.
Bok-bokmakieries sing bly twee-gesange
Wanneer die oggend ontwaak in my tuin;
Saans koer die tortel sy lied van verlange
Bo-uit die troost’lose treurwilg se kruin
Kom in die aand en geniet van haar geure:
Foelie, jasmyn, angelier, minjonet;
Kom in die more en kies van haar kleure:
Rooi, wit en goud, groen en blou, violet!
*vywer= dammetjie
**Arjana=die son
***Nirvana=Volgens die Boeddhisme die hoogste toestand van rus waar die vuur van die hartstog heeltemal gedoof is.
Tiens Pretorius

