Nelson Mandela – die ATKV bring hulde
Die ATKV verneem met leedwese van die afsterwe van Nelson Mandela, of Madiba, soos die wêreld na die eerste demokratiese verkose swart president van Suid-Afrika verwys het.
Nelson Mandela het ? besondere verhouding met Afrikaans gehad. As kind op die platteland van Transkei het hy dit nooit gehoor nie, maar in sy 27 jaar in die tronk is hy daagliks daarmee gekonfronteer. Hy moes dit ook verstaan en gebruik tydens die ingewikkelde onderhandelings vir ’n nuwe Suid-Afrika. Ons wil hom vandag daarvoor huldig dat hy, in sy termyn as president en in sy hoedanigheid as leier van die nuwe Suid-Afrika, nooit toegelaat het dat persoonlike bitterheid die demokrasie ondermyn nie, ook nie as dit by taal kom nie. Ons wil dankie sê dat hy die moeite gedoen het om Afrikaans en Afrikaanssprekendes as deel van Afrika beskou het, en dat hy Afrikaners nie net as deel van die apartheidsverlede van Suid-Afrika gesien het nie, maar ook as deel van die toekoms en die oplossing vir die land se probleme.
“In Suid-Afrika, waar nasiebou so belangrik is, het ons mense soos Nelson Mandela nodig. Hy het in ? baie kort tyd grense en persepsies, soos dat ons nie saam kan bestaan nie, verskuif. Hy sal vir altyd deur alle Suid-Afrikaners en deur die hele wêreld onthou word,” het Japie Gouws, die ATKV se besturende direkteur, gesê.
Ons gun u die rus, Madiba.

