Nello en Patrasche: my gedagtes rondom Herman Meulemans se artikel

  • 0

Dingie van Rensburg skryf sy gedagtes na aanleiding van hierdie artikel wat gedurende die feestyd op LitNet verskyn het:

Nello en Patrasche: Een kerstverhaal met een miljoenenoplage over Vlaanderen

Inleidende opmerkings

Ek het Herman Meulemans se resensie van Nello en Patrasche: Een kerstverhaal met een miljoenenoplage over Vlaanderen, op Oukersdag gelees. Die verhaal is ’n ware Kersverhaal, en vir my nog meer aangrypend omdat ek dit juis in die Kerstyd gelees het. Die agtergrond van die verhaal is die eertydse ou Antwerpse omgewing, met die tipies wye, wit winterweide van die Kerstyd. Hierdie resensie of waardering deur Meulemans – soos ook die meeste van sy voriges – word gekenmerk deur ’n stewige begronding binne ’n wyer konteks, ’n beter blik en verstaan van die outeur van die oorspronklike verhaal, verder verryk deur die resensent se ryk idiomatiese Vlaams, en sy vanselfsprekende sosiologiese perspektief (sociological imagination) – dit is sy aanvoeling en verstaan van die mens in sy breër sosiale omgewing, en die wisselwerking tussen die twee.

Tog volstaan Herman nie met ’n blote sketsing in breë lyne en waardering van die inhoud van die boekie en sy verhaal nie. Hy gaan daarna oor om meer oor die skrywer, haar herkoms en haar lewe , haar leefwyse en haar skryfwerk te sê – iets wat ’n mens seker in ’n goeie resensie kan verwag. Ooreenkomstig sy sosiologies-verbeelding (waarin hy immers geskool is) gaan hy egter verder en skets op insigvolle wyse ook veel van die lewe, leefwyse en stand van die outeur vis-a-vis die skrille kontras wat haar omstandighede met die stand, lewensomstandighede en daaglikse sleur van gewone mense vorm, ook soos sy in die Vlaandere, in Brussels, Antwerpen en op die vlakke platteland van haar tyd waarneem.

Oor die blyende waarde van die verhaal en sy boodskap, merk Meulemans elders in sy resensie oor die boek en die outeur daarvan op: “Ouida zal voortleven in het hart van velen omdat ze in haar novelle A dog of Flanders het lief en leed van liefde en verlies tijdloos afschildert. Nello en Patrasche streven een droom na, over de onbenulligheden van elke dag, de worstelingen van het leven en zelfs de dood heen – een droom die de lezer betovert en op de been houdt.”

Meulemans se resensie van Nello en Patrasche, tesame met die breë-spektrum metodologie wat hy in die samestelling van sy waardering aanwend, maak daarvan eintlik veel meer as ’n resensie in die gewone sin van die woord, juis omdat hy die net so wyd span om die bestek van die verhaaltjie en sy alledaagse/eenvoudige inslag lewendiger tuis te bring, te kontekstualiseer en ook in beeld te verryk met dit wat hy daarrondom met terplaatse foto’s en rondsnuffel vertoon en te sê het. Dié inisiatiewe, na my mening werklik luukse elemente, prikkel en eis bepaald dat Nello en Patrasche met meer sintuie en emosies deur lesers gelees, maar ook gehoor, gevoel en beleef word.

Nello en Patrasche – die verhaal

In sy resensie stel Herman die verhaal van Nello en Patrasche met veel nuanses van sy eie aan ons bekend – deels in ligte verteltrant, deels in swaarder beskrywing van die gebeure van die verhaal self én die sombere agtergrond waarteen dit afspeel. Die verhaal is genestel in die die klein dorpie, Hoboken, in die buitewyke van die grootstad, Antwerpen, waar Jehan Daas en sy kleinseun Nello woon (Hoboken is tans ’n deelgemeente van die grootstad Antwerpen en steeds bekend as een van die minder gegoedes). ’n Eens-beseerde hond kom by en word met verloop van tyd as Patrasche, en naas Nello, die tweede hoofrolspeler in die verhaal. Die storie fokus voorts op die wel en weë van Nello en Patrasche waar hulle in Antwerpen melk aflewer wanneer Oupa Jehan self nie meer die afleweringsrondtes kan meemaak nie, en die taak aan Nello en Patrasche oorlaat. Met hul melkkanne op ’n waentjie wat deur Patrasche getrek word, volg ons die tweetjies deur die staatjies en stegies van die stad om die melk af te lewer.

Ek het opgemerk dat Herman se resensies – hierdie en ook voriges – inhoudelik veel meer as ’n resensie in die gewone sin van die woord is, en om verskeie redes so: Vir eers skets hy die kruks en strekking van die verhaaltjie in breë hale, maar tog met genoeg inhoud en ook genoegsaam gevoelvol (soos die skrywer dit oorspronklik sou bedoel het) om die leser in staat te stel om die inhoudelike lyn van die verhaaltjie te volg en ook te beleef, asook om die belangrike lesse of wyshede daarin te snap. Dit is per slot die waarde van ’n resensie – en Meulemans doen dit wel so, en hy doen dit ook goed.

Ook maak Meulemans die landskap en die kern van die verhaaltjie vir kindertjies heel lewendig en toeganklik – en ook so avontuurlik as moontlik – met sy boeiende verteltrant en sprekende beelde in taal en terplaatse foto’s; sodoende help hy ook om die voorleser of verteller van die verhaaltjie te bemagtig om die lessies en boodskappies daarin op sprokiesmanier oor te dra. Ook vir grootmense én oumense is daar veel in Meulemans se beeldryke taal, ryk aan Vlaamse idiomatiese uitdrukkings, om die kernboodskappe heel eenvoudig maar gevoelvol oor te dra. Kortom, Nello en Patrasche is in sy eenvoud maar ’n simpele verhaaltjie, eintlik ’n sprokie, wat elke kinderhart aanspreek, ongeag die taal waarin dit vertel word, maar so ook die harte van grootmense (pa’s en ma’s) én oumense (oupas en oumas) vinniger en warmer laat klop. Die verhaal is bepaald nie gebonde aan ouderdom en konteks nie, dit is tydloos in die sin dat dit vir alle mense, boweal mense van alle tale en in alle kultuurkontekste relevant is en bly. Alles maniere om die lees van die boek te bevorder.

Die lewe en leefwyse van die outeur – van Maria Louise Ramé na Marie Louise de la Ramée

Maria Louise Ramé (1839-1908) is van oorsprong van die landelike Engelse stadjie, Bury St Edmunds, maar toe sy 19 was, verhuis sy en haar moeder na Londen. Haar vader, ’n wispelturige Fransman, was nooit werklik op die toneel nie. Maria Louise Ramé skryf egter onder die deftige skuilnaam van Marie Louise de la Ramée, wat sy aangeneem het pas na haar eerste suksesse met haar skryfwerk en sedertdien ook deurlopend onder dié naam geskryf het. Marie Louise de la Ramée is dan die outeur van die oorspronklike, A Dog of Flanders, met Nello en Patrasche die hooffigure in die hartroerende maar tog tragiese verhaal wat binne Vlaamse konteks afspeel.
Die som van haar uiteindelike literêre nalateskap as outeur was egter, vir haar tyd, veel groter as hierdie enkele verhaaltjie: dit tel meer as 40 romans, novelles, kortverhale, kinderboeke en essays. Daarmee het sy oor baie jare as produktiewe outeur ’n aansienlike inkomste verdien, dermate dat sy tereg as ’n welgestelde, eintlik ryk persoon, bestempel sou kon word en ook as sodanig in sosiale kringe alom bekend geword het. Terselfdertyd maak haar skryfwerk ook van haar ’n gewilde ikoon, selfs gevierde (heuse) kultusfiguur wat die verbeelding van mense aangryp en haar by haar lesers geliefd maak. As welgesteld kon sy dit sekerlik bekostig om ’n luukse lewe van genieting te lei, en waarin sy neersien op die lewenswyses van die arm klasse (onder andere ook in landelike Vlaandere). Saam met haar moeder, kon hulle na die groot kultuurstede van Europa reis, en daar tyd in genotvolle luuksheid deurbring.
Haar geluk en voorspoed was egter nie ewigdurend nie. Trouens, in 1893 ontval haar moeder haar. Armoede – die tema waaroor sy so hartstogtelik geskryf het – word mettertyd ook háár deel. Die eens gewilde en befaamde Marie Louise de la Ramée sterf in 1908 op 70-jarige ouderdom in ellende aan longontsteking: ’n bejammerenswaardige persoon, vereensaamd en vervolg deur skuldeisers – in skerpe kontras met haar eertydse luukse, uitspattige leefwyse. Sy sterf in die Italiaanse dorpie, Viareggio naby Florence – die stad waarin sy eerdien van die gelukkigste tye in haar lewe deurgebring het.

Herman peins soos volg oor die impak van haar werk na haar dood: “Het is vreemd hoe een dubbeltje rollen kan. Het overlijden van Ouida in de bitterste omstandigheden, na een sprankelend, opwindend, extravagant leven, had de krantenkoppen gehaald in Italië, het VK en de VS. De belangstelling voor haar literair œuvre had onmiddellijk na haar dood in 1908 een enorme boost gekregen.” Oor die detail hiervan, en ook die waarom daarvan, lees ons meer in ’n latere paragraaf.

’n Opsigtelike oorgang in die blik van die outeur op die werklikheid waaroor sy skryf

In talle van haar eerste werke het die outeur, Marie Louise de la Ramée, duidelik ’n afkeer van of renons in die lewensomstandighede van die laer stand en hul leefwyse. Dít te midde, ongeag en moontlik ook vanweë haar eie suksesvolle, ryk en weelderige omstandighede en haar verhewe, luukse lewenstyl wat van haar (die outeur) ’n kommerlose karakter en ietwat flambojante, selfs uitspattige lewensgenieter maak. Aanvanklik baseer sy dan ook haar verhale hoofsaaklik en pertinent hierop – die omstandighede en leefwyse van haar eie hoër stand en klas.
In haar latere werke – soos in die geval van A dog in Flanders, en by wyse van die Vlaamse hoofkarakters, Nello en Patrasche – gebruik sy juis hierdie kontraste tussen sosiale klasse, stande en die lewensomstandighede van mense wat alom in samelewings heers, om emosiebelaaide, tragiese temas daarrondom te weef, en melodramatiese fiksie op hierdie werklikhede te baseer en temas vir haar boeke daaruit te skep, soos in die geval van die Nello en Patrasche verhaal. Sy doen dit natuurlik met groot sukses en luide akklamasie by die groeiende leserspubliek. Sy behou dus haar eie ryk en luukse lewenswyse te midde van haar suksesse, maar staan, in kontras, steeds afsydig en afkerig teenoor die bittere armoede, die honger, die kinderarbeid, die barre, koue winters in die stede, en miskien nog meer voelbaar op die troostelose platteland. Die rykmenslewe wat so sentraal in haar eerste romans gestaan het, maak dan plek vir melodramatiese verhale oor die wantoestande en die daaglikse sleur van mense van die arm stand wat swig voor die ellende meegebring deur meganisasie van die arbeid.

Transmutasie van die verhaal: veelvuldige aanbiedingsvorme maak dit beide grensloos en tydloos

In sy waardering som Meulemans, soos reeds vermeld, die neerslag van Marie Louise de la Ramée se uitsonderlike literêre werk en produksie, asook haar nalatenskap in wêreldliteratuur, in telbare uitdrukkingsvorme en in meetbare formate soos volg op: dit omvat meer as 40 romans, novelles, kortverhale, kinderboeke en essays. Inderdaad ’n merkwaardige prestasie vir haar tyd. Sover dit A dog in Flanders en Nello en Patrasche spesifiek betref: eers ná die dood van die outeur volg die nog omvangryker impak van hierdie werk van haar, met ’n soort wyerkringende ewigheidswaarde wat dit aanneem namate die verhaal in meerdere tale vertaal word, in oplaag na oplaag miljoene der miljoene boeke gedruk word, in aangepaste vorme na alle wêrelddele versprei, en deur nóg talryker lesers gelees word. Anders gestel, deur Meulemans se verrykende argumentasie en feitelike toeligting kry Marie Louise de la Ramée se A dog in Flanders én die verhaal van Nello en Patrasche (in die Nederlands) ongekende momentum en word die verhaal inderwaarheid sowel grensloos as tydloos.

Aan die een kant is die boodskap in die verhaal grensloos: Deur vertalings in een taal na die ander versprei die verhaaltjie: die grense tussen lande en kulture word oorgesteek by wyse van miljoene der miljoene kopieë van die verhaal wat reeds wêreldwyd in gedrukte vorm verskyn het en steeds verskyn, asook by wyse van vertalings waardeur die verhaal reeds in talle tale in boekvorm omgesit is en waardeur die omvang van leserskringe sodoende mateloos verbreed en divers het, onderwyl elke land en elke taal ’n eie inhoud aan die verhaaltjie gee om by sy eie kultuurgoedere en -konteks aan te pas en in te pas. Daarby kom nog die menigvuldige verfilmings waarin die verhaal reeds internasionaal verbeeld is – eers klankloos, met klank, in kleur, in ’n veelvoud van tale wêreldwyd, asook deur nuwe mediums waardeur die verhaal in steeds moderner en tegnies meer gevorderde omvormings en aanbiedings getransmuteer word. Alles gee andersoortige toegang vir andersoortige belangstellendes, telkens ín en vír ’n groterwordende magdom van kontekste aangepas en beskikbaar vir nóg meer lesers en steeds meer kykers en hoorders. Die verhaal en die kernboodskap wat dit dra, word dus meer en meer grensloos.

Aan die ander kant, en terselfdertyd, word die verhaal ook al meer tydloos namate die aanbieding daarvan met verloop van tyd verander en daardeur met die veranderende tye tred hou. Inderdaad merkwaardig hoe en tot watter wêrelduithoeke hierdie besondere verhaal in sy oorspronklike eenvoud reik. Wonderbaarlik, deur al hierdie verwerkings en omvormings, bly die kernboodskap en kernwaarde van die verhaaltjie desondanks dieselfde, vlekloos en ongeskonde in sy eenvoud.

Deur sy toegewyde naspeurwerk en suiwer argumentasie lewer Meulemans dan bykomende bewyse, weliswaar voldoende antwoorde, waarom boeke – in besonder ook hierdie verhaaltjie oor Nello en Patrasche – “overeind blijven”, waarom “blijven ze ons boeien” en waarom “doorstaan ze de tand des tijds” en sodoende ook “sal voortleven in het hart van velen.”

In afsluiting

Ek moet – by wyse van beklemtoning – herhaal van dit wat ek reeds aan die begin na verwys het: Soos die meeste van sy ander resensies word hierdie waardering deur Meulemans van die Nederlands-vertaalde werk, Nello en Patrasche, ook gekenmerk deur die moeite wat hy doen om met sy resensie meer waarde vir die leser toe te voeg: hy besoek vir ons die plek van oorsprong van die verhaaltjie, die dorpie Hoboken, eertyds ’n gemeente op sy eie op die rand van die ou Antwerpen. Deur sy kopfoto van die beeldjie van Nello daar ter plaatse vergestalt hy vir ons die verhaaltjie op fisieke wyse. Hy snuffel verder deur in gesprek te gaan met Daisy Daems en nog ’n foto te trek van haar in haar doopsuiker- en snoepwinkel vlak teenoor die beeldjie van Nello in Hoboken. Sy wys ook trots haar eie bewerking (met Annick De Wit) van die novelle waarmee sy die verhaaltjie lewend hou.

Hierna bring Herman ons by in die bekende Lieve-Vroue-Katedraal van Antwerpen met sy twee torings waarvan die een nooit tot ewe hoogte opgebou is nie (verskeie verklarings word daarvoor aangevoer: hetsy fondse wat opgedroog het, hetsy dat die gewig van die gebou so naby die Maas te veel sou word). Hy begelei ons die kerk binne, wys vir ons sy terplaatse foto’s van daardie meesterskilderye van die gevierde grootseun van Antwerpen en Vlaandere, Peter Paul Ruebens (hy wat self fier en deftig gekleed op sy hoë voetstuk op die Groenplein langs die massiewe katedraal staan). Daardie gebeure en lewensgroot figure by die kruisiging van Christus op doek wat Nello só graag, so baie graag, te siene wou kry, te meer omdat dit sy lewensdroom was om eendag ook ’n gekende skilder te wees. Maar helaas, daarvoor het hy nie die nodige middele gehad nie. En daar, langs daardie meesterwerke wat die gebeure by die kruisiging op doek vasvang, sterf Nello van koue en ontbering – só naby, maar tog só ver van die waarword van sy hartsbegeerte en sy lewensdroom.

Ten slotte toon Herman vir ons ’n terplaatse foto deur hom van die 1916-toevoegsel tot die beeldeskatte van Antwerpen, vlakby die Onze-Lieve-Vrouwekathedraal op die Handschoenmarkt: die hartroerende beeld (deur beeldhouwer, Batist Vermeulen) in wit marmer (sneeuwit) van die slapende Nello en sy getroue hond, Patrasche (hul lywe vir warmte vas teen mekaar toegewoel, halflyf bedek met ’n kombers van die kenmerkende keistene van die strate van die oustad). Hier waar die twee boesemvriendjies uiteindelik hul rus gevind het. ’n Inisiatief van die stadsvaders om hierdie eenvoudige verhaaltjie en sy twee dappere hoofrolspelertjies (Nello en Patrasche) vandag steeds in ere te roep, vir toeriste meer toeganklik te maak, Antwerpen duideliker op de internasionale toerismekaart te plaas, en teselfdertyd sy kulturele erfgoed op dié wyse te bewaar.

Deur dit alles, én deur Meulemans se nougesette en onselfsugtige moeite as rapporteur, word die waarde van hierdie kinderlik-eenvoudige verhaaltjie met sy gewigtige kernboodskappie – die versinnebeelding van goedheid en die goeie – nogmaals beklemtoon, vernuwe en terselfdertyd nog méér as ’n tydlose en grenslose sprokie verewig – en wel op die plek waar dit soveel jare gelede sy ontstaan gehad het.

Enkele slotgedagtes

Na die indrukwekkende relaas en kontekstualisering van Meulemans betreffende die eenvoudige verhaaltjie van Nello en Patrasche moet ’n mens jouself afvra waarom het, kon en sou hierdie trefferverhaaltjie in ander lande nie (en ook nooit) enigsins die vergelykbare hoë hoogtes bereik wat Nello en Patrasche (teksgetrou deur Tom Naegels in die Nederlands vertaal) in Nederlands-talige lande, of dan sy oorspronklike Engelse versie, The dog of Flanders, in die Verenigde Koninkryk en die VSA gehaal het nie? Wel sou ’n mens seker antwoorde kon vind in verskille in lesersgetalle en die leeskultuur in lande. Ook in die gepaardgaande aptyt van uitgewers en boekhuise en hul geneëntheid om beleggingsrisiko’s te waag. Maar dan moet ’n mens tog en veral ook die groot verskille in die konteks, kultuur, geskooldheidvlakke en lewenswyses van die bevolkings in hierdie bevoorregte wêrelddele in ag neem, vergeleke met dié van Suid-Afrika en ander minderontwikkelde lande. Daar was jare gelede – in my kinders se kleintyd – wel ’n poging in Suid-Afrika met die animasiefilm, Niklaas die seun van Vlaandere, maar moontlik juis vanweë bogemelde oorwegings was die sukses daarvan skynbaar nie grondbrekend, selfs meldenswaardig nie. ’n Mens sou seker kon aanvaar dat dit waarskynlik uit voeling met die Vlaamse en Europese omgewing en kultuur was.

Dankie, Herman Meulemans, my Antwerpse vriend oor baie dekades, vir jou insiggewende en beeldryke resensie, en meer dankies vir die veelfasettige manier waarop jy hierdie beskeie, maar tog aldeur treffende verhaaltjie met sy eenvoudige boodskappie uit jou eie geweste vir ons in nuutgegote vorm lewend hou en verder verewig. Dankie ook vir nog ’n staptog – helaas, hierdie keer slegs in die verbeelding – langs daardie bekende strate en stegies en oor die beeldryke stads- en markpleine van jou stad waardeur ons so dikwels saam gestap het. Ek waardeer alles van daardie verloë tye en mymer dikwels met veel heimweë daaroor. [Daarom waardeer ek soveel temeer nog jou laaste, heel persoonlike, invoegsel in jou resensie wat jy oor ons – my en my vrou – te sê het.]

Dingie van Rensburg, Johannesburg
Oor die Kerstyd van 2019

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top