In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Gestel jou bure hou vakansie en een oggend merk jy dat daar water by die voordeur van hulle woonhuis uitstroom. Jy het nie ’n sleutel nie, en ten einde by die huis te kan inkom, moet jy ’n ruit breek. Binne is daar chaos. ’n Waterpyp het bokant die plafon gebars en die vloer van die huis is ’n sentimeter of twee onder water.
Jy weet nie waar die mense vakansie hou nie en hulle het ook nie hul selfoonnommer by jou gelaat nie. Jy besluit om maar self in te spring om te red wat nog te redde is. Jy ontbied ’n loodgieter om die stukkende pyp te herstel, jy laat die gebreekte ruit vervang en jou huishulp werk twee dae lank om weer orde te skep. Die reg noem ’n weldoener soos jy ’n saakwaarnemer.
Uiteindelik sit jy met die rekenings van die loodgieter en die glashandelaar, terwyl jou huishulp aan die einde van die week haar volle loon van jou verlang, hoewel sy twee dae lank in werklikheid vir jou buurman gewerk het. Die vraag is: As jou buurman sou weier om jou vir hierdie uitgawes te vergoed, kan jy dit regtens van hom eis? Julle het immers nie vooraf ’n kontrak gesluit waarvolgens jy onderneem het om sy huis op te pas en hy onderneem het om jou vir moontlike uitgawes by sy terugkeer te vergoed nie.
Reeds in die Romeinse reg is ’n aksie om in sulke gevalle noodsaaklike uitgawes te kan verhaal, toegeken aan die saakwaarnemer – die negotiorum gestor, soos hy genoem is. In regstekste uit die 6de eeu nC word byvoorbeeld gesê dat as A ’n dokter ontbied om B se siek slaaf te behandel, B ’n verpligting het om A vir sy uitgawes te vergoed. Die rede vir B se aanspreeklikheid is byna vanselfsprekend: as hy skielik moet vertrek sonder om iemand anders aan te stel om sy belange te behartig, sou niemand na sy belange omsien as hulle nie seker was dat hulle hul uitgawes agterna sou kon verhaal nie.1
Die Romeinsregtelike saakwaarnemingsaksie word ook in die Romeins-Hollandse reg erken en vorm deel van ons moderne Suid-Afrikaanse reg. In beginsel behoort jy dus jou uitgawes vir die loodgieter, die glashandelaar en die huishulp van jou buurman te kan verhaal, mits die uitgawes redelik was, en jou hulp nie as ’n geskenk vir jou buurman bedoel is nie.
In die saak van Odendaal teen Van Oudtshoorn2 moes die hof oor ’n interessante variasie van die gewone vorme van saakwaarneming beslis. Odendaal het ’n winkel in Standerton by Van Oudtshoorn gekoop. Toe hy by ’n groothandelaar op die dorp voorraad vir sy nuwe besigheid wou koop, wou dié nie met hom sake doen nie, omdat Van Oudtshoorn die groothandelaar nog ’n bedrag geld geskuld het. Odendaal het die skuld namens Van Oudtshoorn betaal en hom toe daarvoor gedagvaar. Die verskil tussen dié geval en jou hulp aan jou buurman is dat Odendaal die geld aan die groothandelaar betaal het nie soseer om Van Oudtshoorn te help nie, maar om homself te help, want anders sou die groothandelaar nie aan hom voorraad lewer nie.
Die saak het uiteindelik in die hooggeregshof in Pretoria voor regter De Kock gedien. In sy uitspraak op 18 Junie 1968 kom die regter tot die gevolgtrekking dat Odendaal in beginsel wel ’n aksie teen Van Oudtshoorn gehad het tot dié mate dat Van Oudtshoorn deur Odendaal se optrede verryk is. Dit verskil betekenisvol van jou aksie teen jou buurman, waar die maatstaf nie is of jou buurman deur jou hulp verryk is nie, maar wat jou werklike en redelikeuitgawes was.
Dié verskil mag wel praktiese betekenis hê: gestel Odendaal het betaal net voordat die groothandelaar se eis teen Van Oudtshoorn weens tydsverloop sou verval het – sou verjaar het, dus. Onder sulke omstandighede sou Van Oudtshoorn dalk kon sê: “Aikôna, ék is nie deur Odendaal verryk nie, want as hy nie sy neus in my sake gesteek het nie, sou die handelaar se aksie teen my verjaar het, dan sou hy nie sy eis teen my kon afdwing nie. Maar nou het hy wat Odendaal is, die handelaar loop betaal, en nou wil hy die geld van mý terugeis, konsuis omdat ek deur sy optrede verryk is? Ek is nie daardeur verryk nie; ek is eintlik verarm!”
En terwyl jy oor dié verskil nadink: groetnis tot volgende keer.
2 1968(3) SA 433 (TPA)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

