Neem balk uit eie oog alvorens splinter uit ander s’n

  • 5

Dit was Jesus se woorde aan die fundamentaliste van sy tyd. Vandag se fundmentaliste is eenders. ‘n Beheptheid, soos die Fariseërs van ouds, met ander se “sondes”. Soos die Fariseërs aan Jesus gedoen het, kwoteer ons fundamentalistiese “Christene” so graag vanuit die “Heilige” skrifte om eintlik vir die mensdom te sê: “Kyk na ons voorbeeld, ons is die ’ware’ Christen (Fariseër!) ieder en almal anders is afvalliges, en van die duiwel.”

Ons self-aangestelde “apologeet” vir God en Christus hier op SêNet, het dit oor die jare heen dat die Bybel alleenlik die riglyne vir die ganse mensdom vorm in beide die natuur en sosiale wetenskappe. Wanneer die Bybel in sy eie strikke vasval, dan kom “Spirituele Intellegensie” tot sy redding, ‘n misterieuse konsep wat hy alleenlik oor begaafd is en verstaan. Dit help hom om tussen die Bybelse lyne te lees en te skryf wat selfs nie in die Bybel staan nie. As voorbeeld. Onlangs het ek tekse direk vanuit die Bybel opgesom wat bewys dat die Nuwe Testament se die vrou moet aan die man onderdanig, gehoorsaam en stil wees, geen gesag oor die man uit te oefen nie, asook stil in die kerk, met kop bedek, geen amp daar te beklee of onderrig te gee nie. Hy sê NEE. Dis nie so nie, en gee ‘n lang geredeneerde weergawe (Spirituele Intellegensie) welke redenasie ek nie in die Bybel te vinde kry nie. Hy sê verder ek gee ‘n wanpersepsie van wat in die Bybel staan, en wat anders kan ’n mens van ‘n homo en ateïs verwag. Die paar tekse wat hy wel aanhaal om die teendeel van sodanige tekse deur my aangegee tee te bewys, bewys net dat God wel met ‘n gesplete tong praat. Hier so en daar anders!

Indien die leser ‘n blik wil bekom oor hoe die lewe onder enige fundumentalistiese “Christelike” regering sal staan, kyk maar net na die lewens van gelowiges onder ‘n fundumentalistiese Islamietiese regering soos in Iran! Die Quran het meeste van sy idees tog van die Bybel bekom, veral hul Sharia-wetgewing van Deuterenomium en Levitikus in die Ou Testament amper netso oorgeneem! Afvalliges doodmaak (die Christelike brandstapels vir hervormers); hoere en egbreukers stenig; diewe se hande afsny; homo’s in die openbaar doodverwurg; wie nie Vrydae 5 keer bid met latte te slaan (in die Amerikaanse kolonies was Sondag oortreders ook gestraf) onlangs ‘n man se oë verwyder waar die per ongeluk iemand geblind het (oog vir oog en tand vir tand); ens. ‘n Skamele 400 jaar gelede het Christelike Europa in beide Katolieke en Protestante lande nie veel anders opgetree nie.

Die vryhede wat ons vandag geniet en as vanselfsprekend aanvaar is geensins aan die Bybel te danke nie. Elke vryheid bekom het die kerke aanvanklik hand en tand beveg, totdat met die oorwig van publieke en gemeentelede se menings, die saak uiteindelik gewonne gegee het, nieteenstaande die feit dat hulle vandag in omtrent alle vryhede vandag geniet, met die Bybel teenstrydig optree.

Oor die jare hier op SêNet, het ek die godsdiensonderwerp vermy, maar met die onlangse “tref en trap” optrede en ongevraagde, en onnodige galbraak teenoor gays, het ek besluit ek slaat fundamentalistiese “Christene” met hulle eie munt, nl ook van die Bybel aanhaal om hulle moderne lewens teenstrydig met die Bybel, veral die Nuwe Testament, uit te wys, en veral waar sodanige optredes die doodstraf (soos met geboortebeperking in Onan se geval) ewe gruwels in God se oe is, als die van sodomie, uit te wys. Waar Jesus (as God aangesien word) gesê het egskeiding kan alleenlik geskied in gevalle van egbreuk deur die ander party, waar dit vandag vir selfs die nietigste gebeurtenis onder Christene plaasvind, wys ongehoorsaamheid aan God se direkte opdrag. Vroue wat in die Nuwe Testament aan die man minderwaardig moet optree, teenoor vandag se emansipasie daarvan, ens, ens.

Vir die ware Christene daarbuite, diegene wat Jesus se woorde ter harte neem om nie te oordeel nie, en daar is baie, bejeën ek as ateïs en homo met die grootste respek en liefde, en vra ek om verskoning aan hulle waar ek in hierdie proses om die fundamentaliste te bestry, hulle ook seergemaak het.

Jaco Fourie

  • 5

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste Jaco,  

    Ek is darem lankal onthef van die titel "Christen".  

    Vandaar ook dat ek in my lewe nooit in die posisie sal wees om ander te "vermaan" (lees onderdruk) nie.  

    Maar sal ek huil daaroor?  

    Stellig nie!  

    Ek is vir eens tot in ewigheid net te dankbaar dat ek vergewe en skoongewas in die liefde en genade van Jesus Christus onse HERE, voor die Troon van ons Almagtige Lewende Skepper mag buig.  

    Ek het vrede wat met dit wat 'n ander wil glo of nie glo nie.  

    Geloof in God kan net van God self kom ... hoe kan ek dan 'n klip in veroordeling na 'n ander gooi - my amigo in Adam ingesluit?  

    Dis egter so dat ons onsself en mekaar mag beskerm teen enige aanslag - fisies en geestelik. 

    Kobus de Klerk en sy ge-aliede bende skroom nie om myne, en ander se harte in hul sogenaamde "spirituele intelligensie" (lees eiewaan) te verskeur en te vertrap nie.  

    Daarom reeds my jare lange pyn en ervaring om die "ou grote Kobus" teen te staan.  

    Jaco, ek veronderstel jy neem nes ek hier deel met die hoop op leersame debat rakende 'n paar uitdagende standpunte. 

    Wel, ek dink ons verwag dalk te veel met die handjie vol fundamentele onderdrukkers wat altyd genoeg tyd sal hê om soos 'n oormag te lyk en enige bietjie algemene redevoering na 'n sirkus sal laat lyk.  

    Groete,  

    Cornelius

  • Jaco:

    Eienaardig dat jy oënskynlik die Bybel van hoek tot kant ken, maar die glo nie.

    Waar is die haakplek dan? Wat hinder? Hoe is jy soos jy verklaar 'n atëis.

    Daar is goeie en opregte Christene. Jy kan tog nie alle 'christene' onder een kam skeer nie,

    Daar is fariseërs ja, hulle wat die christelike patos gebruik om ander tot hul eie materialistiese voordeel te bedrieg, te verneuk, te belieg, te beskinder en te korrupteer. Daar is ook die wat Christenskap gebruik om sy ego te streel, sy aansien te verhoog en te bevorder en deur ander te veroordeel.

    In baie gemeentes sit die vele afgetrede ou poepe wat in hul werksjare nie die binnekant van 'n gemeente (nie kerk nie) beleef het nie op kerkrade en beskou hulself heilig. Ja, hulle is daar, ek weet, nie hierom en daarom nie, maar net omdat hy nou vorentoe kyk, homself beskyt en begin wonder. Sê nou maar......, maar tog is sy hart nie daar in nie. Hy is daar net vir die skyn sodat ander hom net kan ken. Die een wat hardop in die konsistorie (op die straathoek)  bid ( soos dit staan in die die Bybel ..., Jy het nou wel voortreflik gebid, maar jy het nie jou naaste in sy geloof versterk nie.)

    "Maar Here ons het in u naam gespreek"  (Ja, maar ken jou nie, gaan weg, sê die Here )

    Maar Jesus sê mos dat hy hulle ook aan sy bruilofstafel aan die klere wat hul dra sal uitken en dan sal "regsien"

    Die pad na die Here is nou, en die wat dit vind is min. En dan "daar was 144,000" ('n aanduiding van hoe min werklik die pad  vind).

    Jy onthou mos,  die Bybel praat van hulle.

    Jy kan tog nie alle christene haat nie. Jy kan die opregtes uitken. As jy net sou probeer.

    Raed-na-Gael 

  • Beste Raed-na-Gael

    Dankie vir jou respons. Jy skryf: “Jy kan tog nie alle 'christene' onder een kam skeer nie.” 

    Ek is jammer indien dit wel so voorkom. Ek het probeer om die onderskeid te laat deurskemer tussen die “fundamentele” Christene en die ware gelowiges. Blykbaar het ek dit nie reggekry nie. Ek skeer beslis nie alle Christene onder een kam nie. Inteendeel ek het een ateistiese vriend, al my ander vriende is Christene, selfs onder my gay vriende.

    Ek erken die bestaan van ware Christene deur hulle ooglopende liefde vir hulle medemens, en hulle liefde vir God, en huldig die hoogste waardering en respek vir hulle. Ek haat beslis nie opregte Christene nie. Ek aanvaar dat hulle nie my lewenswyses ooit sal goedkeur nie. Die wat ek in my daaglikse lewe teekom het my altyd met liefde bejeen, sonder om my ooit te oordeel. Hulle siening is, wie is hulle om te oordeel, laat die oordeel aan God oor. Ek op my beurt sal nie eers daaraan dink om hulle geloof te probeer ondermyn met my sieninge (ateis) nie. Ek is nie in die bedryf om ‘n ateisiese sendeling te wil wees soos skynbaar vele ander ateiste nie, wat deur implikasie van hulle ook ‘n soort van “godsdiens” maak.

    Die ander wanpersepsie by vele is, is dat ek ‘n ateis is as gevolg van ‘n skuldige gewete omrede ek gay is, dat ek nie die Bybel se oordeel wil aanvaar nie, en van godsdiens wil weghol, eerder as om die gevolge daarvan te wil dra. Alles behalwe. Die wat my ken, sal weet dat ek alles frontaal konfronteer, en sal nie van enige verantwoordelikheid weghol nie, maar dit daadwerklik sal aanpak.

    Ek is ‘n ateis as gevolg van intense godsdienstige studies (ek’s dom aangaande die ewolusie leer). Van die Bybel; die Apokriewe; die “Spurious” Ou en Nuwe Testamentiese boeke; van die Qumrum manuskripte; heilige skrifte soos die Evangelie van Thomas in die Koptiese Bybel te vinde, brokkies onder die Slav volkere se heilige skrifte; ‘n oorsigtelike studie van Islam en die Quran, ens. Dit en ook my beskouing van wat in die wereld aangaan, waar geen Godelike “intervention” ter beskerming van Sy eie nie ten tye van natuurrampe; politiese onderdrukking, plaasvind nie; die het my genoop om ateis te word. Dieselfde lot deurgans tref beide die gelowige en ongelowige sonder onderskeid. Ek het in die proses tot die gevolgtrekking gekom, God is ‘n mite, ‘n menslike versindsel, die gelowige soos ‘n kind wat beskerming van ‘n vader soek. Ek het verder tot die gevolgtrekking gekom, dat oor die miljaarde jare voordat ek gebore was, het ek nie ‘n bestaan gehad nie, en na my afsterwe, sal ek tot in ewigheid nooit weer bestaan nie.

    Ek geniet die Bybel vir die volgende redes: Heldelewens soos die van Simson; Daniel; Dawid; Josua; ens. Liefdes verhale soos Rut, Simson, Dawid en Ester; Speurverhale soos Bel and the Dragon (Apokriewe Boek); die pragtige poesie van Hooglied en Psalms; Wyse woorde soos in Spreuke; Verlore geskiedenis soos in die Makkabeers boeke (Apokriewe Boeke) vervat, wat die stilte van 300jaar tussen die Ou en Nuwe Testamente aanvul; die pragtige lewe en woorde van Jesus; ens.

    Baie ander in die Bybel doen niks vir my nie, en eenmaal gelees was genoeg.

    Nouja. ‘n te lang relaas van my kant. 
    Jaco Fourie

  • Jaco,

    Nou ja wat, dan sal ek maar "repliek lewer" met die volgende sonder om die tekvers te gee (jy weet mos waar dit staan)

    "as ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, dan is ons die bejammerwaardigste van almal". 

    Groetnis 

    Raed-na-Gael

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top