Laaste admin, ’n ontydige vergadering en
’n Rekenaarprogram wat uitval
Dan Vrydagmiddag wat aanbreek met
Sy belofte van goedkoop bier by die klub
En sambuka voor ons ry en
Later moontlik ’n dans met ’n meisie
In Goodwood waar die grootboud-engele Bennies & Hetties rook
En “Liewe Jissus” vloek
Wanneer die slotmasjiene nie uitbetaal nie
Ek ontmoet ’n potspelspeler wat sy eie stok bring
En skud sy hand formeel en gesels oor blou vilt
Laataand keer ’n uitsmyter my voor
En mor oor my gehawende jean
Maar dis van my groot mond wat hy nie hou nie
Want ek sing luidkeels oor die liefde
Buite in die parkeerarea sit Manus wydsbeen
Om Elke, wat môre-oggend sal ontken dat hy
Êrens gekom het met haar
Saterdagoggend stap ek KFC toe
En daarna eet ek in ’n parkie voor Standardbank
’n Man kom gesels met my oor die Here
En vertel my die einde breek in ons leeftyd aan

