National Arts Festival: Red

  • 0

Teks: John Logan
Regisseur: Steven Stead
Met Micheal Richard en Jeremy Richard

 

“There is only one thing to fear in life … One day the black will swallow the red.” So lui een van talle filosofiese gesprekke tussen die karakter van Mark Rothko en sy assistent Ken in die Suid-Afrikaanse debuut van John Logan se Red by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad.

Red, ’n teks met vele lae, vertel van ’n tydperk in die lewe van die wêreldberoemde kunstenaar Mark Rothko (1903-1970). Die werk fokus op sy verhouding met sy assistent, Ken, gedurende hierdie tydperk en vestig sodoende die blik op ‘n wroeging tussen die ou en die nuwe. Red maak kennis met die fundamentele verskille tussen Rothko en sy assistent, twee kunstenaars van verskillende generasies, en belangriker, van verskillende kunstenaargenerasies. Rothko lei teen die einde van sy beroep ’n kluisenaarsbestaan en Red bied ‘n blik op die egosentriese en narsistiese bestaan waarin Rothko uiteindelik verval. Ten spyte van Rothko se bombastiese monoloë ontlok sy onsekerheid wat soms deurskemer, simpatie by die kyker. In nog ’n ryk laag in die drama ontstaan ’n spanning tussen die twee karakters vanweë Rothko se weiering om sy groeiende emosionele afhanklikheid van sy jong assistent te erken.

Micheal Richard (Rothko) se natuurlike spel en sy bekwame omgang met die teks laat die gehoor toe om die minder gemaklike wêreld van die karakters sonder moeite te betree. Sy resonante, bulderende stem laat die gehoor gou weet: hier is waar jou aandag gevestig behoort te wees. Die gemak van Jeremy Richard (Ken) se spel steek by tye af teen dié van sy meer ervare medespeler, maar in die geheel is die spel meer as bevredigend.

Red is waarlik as teks ’n meesterstuk en Richard,  onder leiding van Steven Stead as regisseur, skenk met groot sukses hieraan lewe. Tesame met Greg King se ontwerp en die groot sukses van Megan Levy se beligtingsontwerp sorg Red vir ’n emosionele en sielkundige kragtoer wat bykans al die sintuie aangryp.

 

 

 

 

Foto’s: Media office, National Arts Festival

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top