National Arts Festival: Lanx and Obtus

  • 0

Compagnie Greffe, die Sweedse dansgeselskap, bederf weer Suid-Afrikaanse gehore met hul merkwaardige vaardigheid en kuns. Cindy van Acker, die choreograaf en mededanser van Lanx and Obtus, skep beslis nie werk wat alleman se smaak bevredig nie. Die werk is kompleks en pynlik minimaal. Dit kan egter hoegenaamd nie as eenvoudig beskryf word nie. Beide Van Acker en Tamara Bacci (interpreteerder/danser) se minimalistiese bewegings getuig van ure lange intensiewe werk. Lanx and Obtus is twee werke deur Van Acker geskep en word deur haar en Bacci onderskeidelik uitgevoer.

Op die vraag oor hoekom sy so obsessief omgaan met die miniatuurbeweging van die liggaam, antwoord Van Acker dat sy meen dat beweging bevry word in presiesheid en dat sy in die kleinste so ’n groot moontlike idee kry van die subtiele invloed van die liggaam.

Om dié werke in ’n sinopsis vas te lê, is onregverdig. Dit vereis dat die toeskouer nie in ‘n sogenaamde soeke na betekenis vasval nie, maar liewer verhef word na wat Van Acker noem die danser se verstandelike inset om die energie buite die liggaam te plaas. Dit is hoe sy meen die bewegings die gehoor, ten spyte van die eenvoud, vasgevang hou.

Lanx and Obtus getuig van ware vaardigheid en ’n passie vir ’n baie besonderse kuns. Van Acker tesame met Bacci en Mika Vainio, die klankkomponis, sorg vir ’n merkwaardige ervaring wat jou beide sintuiglik en emosioneel “vervoer”.

Lanx and Obtus was nog tot 5 Julie by die Nasionale Kunstefees te sien, en die kunstenaar op 18 Julie by ‘n GIPCA-lesing te UCT Hiddingh Kampus, Kaapstad. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top