National Arts Festival: Hol het obsessie as brandstof

  • 0

Teks: Nicola Hanekom
Regisseur: Fred Abrahamse
Met Nicola Hanekom

Obsessie, kilojoules en ’n vreesgedrewe “weghol” is die brandstof vir Nicola Hanekom en Hol. Wanneer die gehoor instap, draf Liezbet (Hanekom) reeds op haar trapmeul by een of ander Virgin Active-sportklub. Die trapmeul is waar sy bly vir die volgende uur terwyl sy haar traumatiese lewenstorie te midde van gesprekke oor skoonheid, gewigsverlies, liposuction en People Magazine aan die gehoor blootlê. Liezbet sukkel om bo te bly en moet haarself gereeld te midde van die warboel van haar herinneringe weer op die trapmeul terugplaas wanneer sy haar balans verloor. Die fisieke uitdaging om ’n eenvrouvertoning as’t ware tydens ’n uur lange oefensessie aan te bied, was skynbaar nie genoeg vir Hanekom nie. Gevolglik is die teks en vertolking van die inhoud niks minder veeleisend nie en bied Hanekom ’n tour de force aan waarmee min kan vergelyk.

Hol spreek wel van ’n vrees vir middelmatigheid, maar Hanekom se skryfwerk en spel getuig niks van dié aard nie. Alhoewel dit merkwaardig is om te sien hoedat Hanekom van die begin af ’n verhewe emosionele vlak kan bereik en konstant daarop kan bou, kan die gehoor nie noodwendig by dié emosionele kragmeting byhou nie. Nietemin is die fyn nuanse van die teks sowel as Hanekom se werk ’n uitstalling van fisieke en emosionele stamina wat nie misgeloop mag word nie. Hol was nog tot en met die sewende Julie by die Nasionale Kunstefees te sien.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top