
Nampo is ’n jaarlikse landbouskou wat in Mei naby Bothaville plaasvind en het oor baie jare ’n instelling geword in landbougeledere. Dit het in 1967 sy ontstaan gehad naby Bloemfontein, maar later na die huidige Nampopark verskuif. In die suide van die land vind daar in September elke jaar ook ’n kleiner weergawe van Nampo op Bredasdorp plaas onder die naam Nampo-Kaap saam met vennote soos Graan SA en plaaslike landboubesighede.
Vanjaar was Nampo meer as gewoonlik nuuswaardig vanweë die Amerikaanse druk op landbou-uitvoere, die fokus op onteiening en die 49 Afrikaners wat vlugtelingstatus in die VSA verkry het. Dit het verder aandag gekry met die besoeke van president Cyril Ramaphosa op die eerste dag van die skou en twee dae later die besoek van adjunkpresident Paul Mashatile.
Besoeke deur politici aan Nampo is niks nuuts nie – verskeie ministers en premiers het die tentoonstelling in die verlede al bygewoon – maar die konteks en politieke klimaat in 2025 skep ’n heel ander omstandigheid. Deel van hierdie konteks is die besoek wat Ramaphosa Woensdag 21 Mei aan die Withuis gaan bring, waar sake met betrekking tot landbou beslis op die agenda gaan wees. John Steenhuisen gaan Ramaphosa as minister van landbou vergesel en die gesprek sal beslis ook die vraagstuk rondom die voortsetting van Agoa insluit.
Nampo is nie alleen een van die grootste landboutentoonstellings in die Suidelike Halfrond nie, dit is ook die plek waar nuwe tegnologie aan landbou ten toon gestel word, gepaardgaande met vernuwing en ongelooflike nuwe landbouplanne. Nuwe trekkers en implemente word uitgestal, maar dit is ook ’n platform vir beestelers en skaap-, bok- en varkverwante bedrywe. Ek self word jaarliks daarheen gelok deur die Nasie in Gesprek-debatsreeks, wat al ’n paar jaar plaasvind. Dit is hier waar landbouleiers in gesprek tree met politici en ander kenners in progressiewe en indringende debatte oor waarheen Suid-Afrika, en landbou in die besonder, op pad is. Hier is al vurige debatte gevoer oor onteiening, die gebrek aan landelike ontwikkeling en die duidelike mislukking van die regering se huidige landboubeleid. Vraagstukke soos die gebrek aan biosekuriteit, waterbestuur en landelike veiligheid is ook jaar na jaar besprekingspunte. Tog bestaan daar die persepsie dat landbouprodusente, of dan boere op sy eenvoudige Afrikaans, gekant is teen verandering. Wat ék beleef het, was ongelooflike aanpasbaarheid en funksionaliteit onder verslegtende plaaslike regerings- en infrastruktuur.
Twee jaar gelede was ek teenwoordig waar twee van Graan SA se hoogs geskoolde swart spesialiste in ontwikkelende landbou saam met Johan Willemse landbousake met die premier van Noordwes bespreek. Hulle praat oor ’n mislukkende landboubeleid en die gebrek aan titelaktes vir swart beginnerboere. Toe ek en die premier uit die vergadering loop na die tyd, sê hy vir my dat hy nou eers die kompleksiteit van landbou in Suid-Afrika besef. Ek is oortuig daarvan dat die besoek van Ramaphosa en Mashatile aan Nampo 2025 ten doel gehad het om die klimaat te probeer beïnvloed op pad na Washington, maar ek hoop dat hulle, nadat die besoek aan Donald Trump verby is, meer gefokuste aandag sal gee aan ’n klein groepie mense van ongeveer 850 000 werkskeppers en werknemers – 0,01% van die bevolking wat elke dag vir 62 miljoen mense van kos voorsien.

