Namibiese Woordfees 2013: lKh? da !hoa

  • 0

Die Namibiese Woordfees vind vanjaar vir die eerste keer plaas – op 2 tot 7 September 2013. Naomi Meyer het by Chrisna Beuke-Muir, feesorganiseerder, van 'n Afrikaanse fees elders in Afrika gaan hoor.

Hallo Chrisna, dankie dat jy tyd maak om te gesels. Vertel asseblief vir my wie jy is.

Ek is ’n senior dosent aan die Universiteit van Namibië in die Departement Taal en Literatuur, Afdeling Afrikaans. Ek gee hoofsaaklik Afrikaanse literatuur (alle genres) en Nederlandse taal en literatuur.

Wat die lKh? da !hoa (Namibiese Woordfees) betref, is ek die koördineerder daarvan. (lKh? da !hoa is die Khoekhoegowab vir Kom ons praat.) Daar is mense wat my die eienaar van die Woordfees noem, maar dit is ek nie! Dit sou ’n skrikwekkende idee vir my wees as ek so ’n senutergende iets moes beskou as net myne!

Ek is ma van vier kinders en twee stiefkinders (nog net die twee jongste pensioenvreterjies is in die huis), ouma van drie en die vrou van my man. Ek is ’n gebore Overberger, my nooiensvan was Swart, en ja, ek is van die Overbergse Swarts. Ek het op Bredasdorp skoolgegaan, maar woon sedert 1982 in Namibië. Ek is ’n Namibiese burger en beskou myself as ’n Namibiër.

Die Namibiese Woordfees is ’n splinternuwe geleentheid, is ek reg? Hoe het die gedagtes hieroor ontstaan?

Ek en my vriendin Ronelle Rademeyer (nuusredakteur van Die Republikein) het een oggend in Februarie gesels oor ’n boekefees wat ons wil hou. Dan nooi ons so twee skrywers uit om te kom gesels, en doen dinge daarrondom, en siedaar: ons hou ’n boekefees.

Maar die idee het ’n bietjie handuit geruk. Ek het die moontlikheid van ’n woordfees aan my twee kollegas by die universiteit genoem, en met die redaksie van Die Republikein geskakel. Hulle het hulle bereid verklaar as mediavennoot, mits ek ’n finale program met kunstenaars en al aan hulle kan voorlê. Ek het gaan sit en skrywers en ander kunstenaars begin uitnooi. En ja, die res is geskiedenis. As ’n mens dit geskiedenis kan noem as die idee net sewe maande gelede ontstaan het.

Daar is al baie feeste. Of nie? Hoe lyk die Namibiese aanbod ten opsigte van feeste?

Hier word die hele land (en jaar) deur fees gevier. As dit nie ’n vleisfees is nie, is dit ’n wildsfees of ’n visfees, of sommer ’n Onafhanklikheidsfees. En saam met die feeste word kunstenaars genooi om te kom sing en musiek te maak.

Die Namibiese Woordfees trek ons Suid-Afrikaners se aandag, want hier is ’n Afrikaanse fees in die buiteland. Wat maak julle anders as ’n Suid-Afrikaanse fees?

Seker omdat dit hier nie so vanselfsprekend is dat daar in die tipiese Afrika-hoofstad in Afrikaans fees gevier word nie. Op informele vlak word werklik nog baie Afrikaans gepraat, maar op ’n amptelike vlak (soos ’n nasionale woordfees) bestaan dit amper nie. En daar moet ook altyd baie duidelik gestel word dat wat in Afrikaans gedoen word, nie ’n eksklusief Afrikaanse bedryf wil wees nie. Vir Suid-Afrikaners is ’n Afrikaanse woordfees dalk ou nuus. Want hulle is gewoond aan Afrikaanse feeste met status. Die lKh? da !Hoa het nog nie aansien nie. Dit is iets wat aan die nasie sal moet groei. So hoop ek altans.  

Vertel vir ons lesers van Afrikaans in die Namibiese konteks (of is ek besig om dieselfde ding te vra as by ’n vorige vraag)?

Wat nog by die vorige vraag se antwoord kan bykom: Wat Suid-Afrikaners dalk nie noodwendig weet nie, is dat Engels die enigste amptelike taal is, en ook die enigste amptelike onderrigtaal op skool is. Dit het tot gevolg gehad dat heelwat privaatskole die afgelope dekade of wat in Namibië opgegaan het. Hierdie skole is opgerig hoofsaaklik ter wille van Afrikaans, maar word deur alle rasse bygewoon. Vir die eerste generasie Afrikaanssprekende kinders ná onafhanklikheid het Afrikaans tot ’n groot mate hoofsaaklik ’n spreektaal geword, amper soos die Afrikaans wat die kinders destyds in Rhodesië gepraat het. Van die skryfvaardighede in Afrikaans het daar dinge verlore gegaan.

Hoe het die keuringsproses van al die items gewerk en wie het dit behartig?

Keuring? Daar was nie so iets nie! Die Namibiese skrywers is (deur my) genooi, en hulle was van die begin af opgewonde oor die idee. En wat die teaterproduksies betref, het ek genooi, en nie gekeur nie. Ek hoop dat ons eendag in die bevoorregte posisie sal wees om te kan keur.

Uit watter afdelings bestaan julle fees als?

Daar is ongeveer 20 skrywers wat skrywerspraatjies gaan doen, min of meer soos op die Stellenbosse Woordfees se resep, twee aktuele gesprekke, elf teaterstukke en koorsang (ek moet nog ’n swart Namibiër ontmoet wat nie kan sing nie). Dan word daar ses slypskole aangebied, van kreatiewe skryfwerk tot die filosofie van dans. Alles staan in die program wat ek aangeheg het.

Namibië is ’n groot en ver land en as iemand die pad Windhoek toe aandurf, watter items sou jy self sterk aanbeveel as moet-siene op die program?

Haai weet jy, Naomi, so tussen hakies: die pad van die Republiek af Windhoek toe is hoeka mos langer as vanaf Windhoek Republiek toe. Familie in die Republiek verwag dat ons maklik daar kan gaan kuier as wat hulle die pad hiernatoe aanvat! 

’n Suid-Afrikaner sal gewis die teaterstuk Jakob Marengo moet bywoon, want daar kry jy te doen met die Namibiese geskiedenis en kultuur, en die pragtigste sang. Dan is daar byvoorbeeld ook die tradisionele Sjordé, ’n tipe kabaretvertoning met poësie en sang wat al van lank voor onafhanklikheid ’n Afrikaanse ding was. Aldo Behrens het daarmee begin in die dae van die Akademie vir Tersiêre Onderrig voordat daar nog ’n universiteit was. Die titel word so verklaar: “sjorrrrrr” maak die koffie as jy hom inskink en “dè” sê jy vir die gelukkige wat hom aanvat. Wat jy kry, moet jy aanvat, en asseblief sommer ook geniet.

As mense Windhoek toe kom vir die fees, wat kan hulle nog als in die stad doen wat lekker is?

Windhoek is nogal ’n kosmopolitaanse stad. (Of dalk is dit net ek wat so dink omdat ek dalk nie veel gewoond is nie! Dit neem my ’n volle 20 minute in spitsverkeer om by die huis te kom!) In Windhoek kry jy ietsie van alles. Daar is die sterk Duitse invloed wat in die argitektuur en die taal aangetref word. En die meeste nie-Duitssprekende inwoners van Namibië kan ook effens Duits praat, en dié word al hoe beter hoe meer Namibiese bier ingeneem word. Daar is Joe’s Beerhouse, ’n interessante kuierplek wat almal wat daarvan weet, besoek as hulle in Windhoek kom. Dis ’n semibuitelug-restaurant-cum-drinkgat wat met die interessantste dinge onder die son versier is. Windhoek het ook ’n malltjie (of “molletjie”) hier en daar, maar as jy regtig iets anders as Clicks en Edgars wil sien, is die Arts and Crafts Mark net die ding as jy van  allerhande handwerk hou (en dit wil koop as jy ’n geskenkie moet terugneem Suid-Afrika toe vir die een wat die hond opgepas het). Dan is daar, nie ver uit die stad uit nie, die Okapuka-wildplaas waar jy wildsbesigtigingstoere kan onderneem. En daar word regtig moeite gedoen om jou die nuutste renosterkalfie of die nes van die reuse-uil met pasuitgebroeide spitsoortjies te wys.

Vertel vir die mense praktiese dinge, asseblief: hoe, waar, wanneer, wat kos dit?

Alles staan in die program, en op die webblad, www.namibiesewoordfees.weebly.com.

Dankie, Naomi, vir die geleentheid.

Besoek die webblad van die Namibiese Woordfees.

Lees Koos Kombuis en Stef Bos se kettinggesprek oor hul vertoning wat op Woensdag 4 September by die Namibiese Woordfees plaasvind.

Read the press release on the festival.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top