Namib en Dorob Nasionle Park

  • 0

Beste Namib

Ja, die willewragtags sal altyd met ons wees! Wat die Dorob aan betref, daar is nog steeds afgebakende plekke waar die klomp “fools” privaat kan rondkarring op hul quads, asook vir die manne met hul ysterwaens wat macho wil wees. Ten minste mag niemand agter die duine rondfoeter nie. Daar het die gruisvlakte maar swaar gekry. Ek dink dit gaan ook baie oor onkunde. Daai vlakte lyk mos morsdood, maar as jy saam met Tommy Collard op sy “Living Desert”-toer gaan, sien jy hoeveel lewe daar is.

Dié man is ’n bruisende rivier van entoesiasme en gee ’n mens weer insig in hoe belangrik selfs die kleinste wesentjies in die natuur is. Van spinnekoppe, miere, akkedisse, geitjies en slange tot selfs die woestynspekvreter word uitgewys. Dan is daar nog die brulsandduin wat soos ’n supersoniese jet klink, wanneer almal saam hande vat en met groot gelyke tree daar afmarsjeer. Ons was nou al vier keer op die toer, en elke keer is dit nuut en interessant! Op ons onlangse toer, het hulle vir ons vertel, dat baie van die graafneusakkedisse doodgegaan het, na die onlangse baie reën. Die duine het so gekompakteer dat baie van hulle nie weer kon uittonnel nie. Daar is ook ongewoon baie plantegroei, wat vir jare nie gesien is nie.

Die Maanlandskap was ook ’n verrassing. Dis ook nou deel van die Dorob. Vroeër het almal daar rondgery en nou is al die onnodige paaie toegepak met klippe, nuwe naamborde aangebring en by Guanekontes is die piekniekplek opgekikker en daar is selfs nou ’n oorslaapplek en eetplekkie. Dit het darem nie die ongereptheid te veel aangetas nie en die feit dat ’n permit benodig word, hou hopelik die vernielsugtiges daar uit!

Ons wil nog in die Khanrivier gaan ry. Dis volgende op ons lys!

Dankie vir die inligting, ek waardeer dit en hoop jy skryf nog baie.

Groetnis

Perdebytjie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top