Nagreisiger: Jou gewete reis saam
Leon van Nierop
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306689
“’n Gewete is mos ’n lewendige ding. Amper soos ’n mens. Jy kan nooit sy gesig sien nie, maar jy kan hom hoor praat. Jy kan hom vir jou sien kyk uit die donker. Soms loer hy oor jou skouer. Hy is altyd by jou. En partykeer kom hy uit ’n mens se verlede. Hy is so deel van jou soos jou skaduwee.”
Dit is die deurlopende motief in die bekende filmresensent Leon van Nierop se verwerkte uitgawe van sy 2004-publikasie Nagreisiger, wat oorspronklik in 1995 as ’n tydskrifverhaal in Huisgenoot verskyn het. Van Nierop is geen onbekende as dit by ligte spanningsverhale gekombineer met die liefde kom nie.
Nagreisiger vertel die verhaal van Nerien Muller wat pas haar regstudie voltooi het. Sy het gaan “klik” oor haar kêrel, Justin O’Donnel, se ouers se dwelmpartytjies. Hulle word gearresteer en Nathan O’Donnel, Justin se pa, word swaar gestraf. Sy ma, Cynthia, pleeg selfdood. Dit is waarskynlik dié gebeure wat swaar op Nerien se gemoed begin speel.
Sy voel gedurig of sy dopgehou en agtervolg word en sien dikwels ’n donker figuur wat na haar kyk: “Iewers tussen die gekrabbel van kleure en mense sien sy ’n man staan met ’n hoed wat laag oor sy oë afgetrek is en hy hou sy duim asof hy ’n geleentheid soek.” “Toe sy buite in haar motor klim, voel dit vir haar of iemand haar dophou.” “Sy weet self nie hoekom nie, maar dit is asof die ryloper stip na haar motor kyk.” “Buite, voor die huis langs ’n straatlig, sien sy ’n figuur. Die man dra ’n pet. Hy staan in die donker na haar en kyk. Dan draai hy om en verdwyn in die nag.”
Ragel, die huishoudster en vertroueling van Nerien, het van jongs af vir Nerien die storie van die nagreisger vertel: “En beslis jou stories oor die nagreisiger. Die lang man sonder gesig.” Maar Ragel verklap ook wie die lang man is: “Die nagreisiger is my en jou gewete.” Deurlopend kom die donker beeld van die nagreisiger in die verhaal voor, maar uiteindelik besluit Nerien: “Soos die nagreisiger, reis haar gewete altyd saam met haar. Nou ook. Maar sy gaan haar gewete laat agterbly, tussen hierdie woorde.”
Die ruimte van die Wes-Kaap, maar meer spesifiek die Drakenberge, is belangrik in die roman. Van Nierop se ruimtebeskrywings is so waar en eg dat die leser hom/haar in daardie ruimtes kan inleef. Hy beskryf Woodstock só:
Kinders loer tussen gevlekte wasgoed deur na die duur motor wat opsigtelik nie daar hoort nie. ’n Tiener jaag op ’n skaatsplank verby. Twee tieners met spuitkannetjies laat spaander toe sy na hulle kyk. Op die muur is die eerste letters van wat moontlik ’n bendenaam kan wees.
Van Nierop slaag daarin om die Drakensbergruimte uitstekend uit te beeld:
Nerien mis die oopheid van die Vrystaatse vlaktes waardeur hulle gery het. Sy sien die Drakensberge wat tussen die bome deur sigbaar geword het, soos draaktande wat om die horison geborduur is asof dit die hemel oopskeur en skielik lyk dit vir haar onheilspellend.
Die leser stap en klim saam met Nerien in die Drakensberge en voel haar stryd: “Haar arms en gesig is nat van die sweet en haar asem brand in haar keel, maar dit is asof die onvergenoegdheid besig is om saam met die sweet uit haar liggaam te verdamp.”
Aanvanklik is die Drakensberge “onheilspellend” en voel Nerien “onvergenoegd”, maar dit is ook die plek waar sy intense liefde en later hartseer ervaar. En dit is waar sy uiteindelik gaan antwoorde soek om die proses om haar gewete te sus, te begin en te voltooi. Die ruimtes ondersteun uitstekend die tema van die nagreisiger as verteenwoordiger van die gewete.
Tipies van Van Nierop is daar ’n liefdesintrige of twee. Nerien het pas die verhouding met Justin verbreek. Daar is Dehan op wie sy onmiddellik verlief raak: “Vir ’n oomblik is die rustigheid verstoor. Sy wil haar gesonde hand uitsteek en aan hom raak.” “Woorde is nie op hierdie oomblik nodig nie. Hy kyk net lank na haar.” Uiteindelik besluit Nerien: “Mens kan net so lank saam met iemand reis, dan moet jy afskeid neem.” Dan is daar Anton vir wie sy geleidelik gevoelens ontwikkel: “Toe sy aan hom raak, kyk hy vinnig na haar. Vir ’n oomblik weet sy nie wat om te doen nie.” “Hoekom voel sy skielik soos ’n skooldogter in sy geselskap?” En “En sy soen terug. Die emosie oorweldig haar.”
Die leser wat vertroud is met Van Nierop se boeke, sal Nagreisiger geniet. Daar is die tipiese Van Nierop-motiewe: die geheimsinnigheid, die liefde, die erotiese, die riller-element, die donker ondertone – in hierdie geval van die gewete wat altyd teenwoordig is. Die boek lees maklik en Van Nierop se mooi taalgebruik en beskrywings is ’n pluspunt. Maar dit is veral die tema waarmee lesers sal identifiseer: die nagreisiger wat dikwels saam met elke leser op reis is.

