Nagmusiek deur Stephanus Muller

  • 0

Titel: Nagmusiek
Outeur: Stephanus Muller
Uitgewer: Fourthwall Books
ISBN: 9780992226343

Koop Nagmusiek by Fourthwall Books

Dit is Saterdag 2 Augustus en Stephanus Muller se roman / biografie / lysies van ’n lewe, Nagmusiek, word op Stellenbosch bekendgestel. Nagmusiek is aan die een kant ’n biografie van die Suid-Afrikaanse komponis Arnold van Wyk. Aan die ander kant is dit die verhaal van die ondergrondse en bogrondse reise en seksuele ontwaking van Werner Ansbach, ’n fiktiewe biograaf en begeesterde amateur-molvanger. Stephanus se vriend Ferdi (geen verwantskap met die fiktiewe briefskrywer van die Afrikaanse radio in die 1970’s nie) is gevra om ’n onderhoud te voer met Stephanus en Daniel-Ben Pienaar, die pianis, wat Nagmusiek, ’n komposisie van Arnold van Wyk, by die boekbekendstelling sal uitvoer. Ferdi het pas die boek weer gelees en voel oorstelp en oorweldigd: sy weet nie hoe om die onderhoud aan te pak nie. Letterkunde is nie haar spesialiteitsgebied nie en van musiek weet sy nog minder, net wat vir haar mooi is en wat haar roer. Op die dag van die bekendstelling skryf sy dus, in ’n poging om haar gedagtes vir die onderhoud te orden, ’n e-pos vir ’n liewe gemeenskaplike vriend van haar en Stephanus. N skryf en woon in New York.

Ferdi is die skuilnaam van ’n Stellenbosse sielkundige, Lou-Marie Kruger.

Stephanus Muller (Bron: http://www.sun.ac.za)

Liewe N

Verlede Vrydag kry ek ’n e-pos van ons vriend Stephanus:

Die deurklokkie het pas gelui, en die boek het aangekom. Ek sal nou eers ’n stewige dop moet skink en die karton oopsny en kyk. Ek het my die oomblik anders voorgestel … op Bloubergstrand met Tafelberg in die agtergrond terwyl ek soos ’n Outeur met donkerbrille en flapperende jaspante my uitgewer tegemoetstap met dramatiese agtergrondsmusiek. Nou sit ek in my pajamas in my studeerkamer alleen by die huis. Maar ons weet almal Werner Ansbach se klimakse kan meer uitbundig wees.

Ek dink aan Stephanus in sy pajamas op die vloer in die gang (ek dink nie hy sou die boek studeerkamer toe gedra het of ’n dop gedrink het nie) met ’n broodmes en die oopgesaagde karton boks en die blou boek in sy fyn hande (hande wat presies die grootte is van die van Arnold van Wyk).

En ek dink hoe launch mens so ’n boek? Hoe begin ’n mens ’n proses waarin jy uiteindelik na soveel jare die struggle wat grootliks joune alleen was blootstel aan die wêreld?

Om die boek uit te haal uit die smaakvolle blou boks (glipskede, glipkoker, glydoos, gly-omhulsel, foedraal, boekfoedraal is die Afrikaanse woorde daarvoor, kan jy die woorde glo?) en dit te wys (in Breytenbach se woorde) vir:

vrou en kinders strikgedas
elkeen met drie bolandwoorde in die mond
die musikante
die geweerdraers    
vriende kamerade
politieke raadgewers
en road managers
’n skuldeiser of twee

Hoe gaan ons dit regkry om vanaand hierdie kleinood te launch? Boekbekendstelling is nie die regte woord nie. Ek sien eerder kettings wat klaterend losgemaak word en ’n skip wat stadig maar seker skuimend dapper dramaties maar o so weerloos na die oop see skuif. Bekendstelling klink soos ’n droë handskud. Glad nie wat vanaand hier gaan gebeur nie.

Jyself weet ook hoe lank Stephanus al aan hierdie boek/biografie/roman skryf. Veertien jaar dink ek? Soos ek, ken jy ook die groot oomblikke in die lewe van die boek. Die besoek aan Howard Ferguson. Die terugkeer na Suid-Afrika. Die versigtige verhouding met die Groot Biograaf. Die opwinding van die skryfklas. Die geboorte en seksuele ontwaking van die fiktiewe biograaf Werner Ansbach. Die aanpas van Van Wyk se aandpak in ’n museum in Bloemfontein. Die woedende referaat in Grahamstad. Die lesersverslae. Die reeks rejections. En dan uiteindelik Fourthwall en die begin van ’n nuwe proses.

Waar die boek regtig begin het, sal ons natuurlik nooit weet nie. Wat sê Van Wyk oor sy komposisies?

Ek weet nie waarvandaan die idee kom nie. Dis sommer ’n skielike  inval of ’n gewaarwording wat mens op die onwaarskynlikste tye partykeer te binne skiet … Dis miskien die veiligste om te sê dat idees in die onderbewussyn gevorm word, en mens weet mos nie wat daar aangaan nie. (bl 138)

Ek sou raai dat Nagmusiek vir Stephanus begin het lank voordat hy eers geweet het van Arnold van Wyk. Hoe om te praat oor musiek? Hoe om ’n lewe te verwoord?

Miskien toe hy heel klein was op Graaf-Reinet.

Ek moet jou sê dat ek eintlik verbaas is dat Stephanus gewaag het om ’n sielkundige te kry om hom te kom uitvra oor die boek, want vir ’n sielkundige met ’n Freudiaanse of psigoanalitiese klap leen hierdie boek sigself tot baie ongeskikte vrae.

Die lys is eindeloos. Die boek is so groot en omvattend en kompleks en multidimensioneel. Ek sou kon vra:

  • Vertel my van die moeders in die boek? Nols se moeder, Werner Ansbach die biograaf se moeder, Stephanus se moeder aan wie die boek opgedra is. Moeders wat daar is maar almal sprakeloos word op een of ander manier.
  • Die afwesigheid van vaders en die oedipale oorloë wat deurentyd gesuggereer word.
  • Manlike helde: Benjamin Britten. Bram Fischer. Ricoeur. Adorno. Said. Dawid en Goliath. Johnie Weismuller. Om net ’n paar te noem.
  • Die verband tussen narsissisme en nasionalisme.
  • Aandpakke en Afrikaners.
  • Die erotisering van rugby en urolagnia (’n fetisjisme met ’n fokus op urine en urinering).
  • Melankolie. Melankolie wat alles te doen het met molle en ondergrondse tonnels. (No shit, Sherlock.)
  • Envy in die Kleiniaanse sin van die woord. En gratitude.
  • Mag en weerloosheid. (Ag tog. Na al sy struggles om molle te vermoor uiteindelik slaag, is Werner Ansbach, die fiktiewe biograaf, verslae: Hulle het nooit vir hom gesê molle het handjies nie.)
  • Die betekenisvolheid van hande, hare, tande en molpenisse. Veral hande.
  • Drome en verlange. Vrees en angs. Liefde en obsessie. Nag en dood en waarheid.

So ek sou Stephanus oor dit alles kon vra. Maar ek sal nie. Of ten minste nie op die aand van die launch nie.

Ek sal vanaand ordentlik wees en probeer wegbly van al my perverse meer lowbrow belangstellings. In ’n radiopraatjie in 1945 sê Van Wyk:

Highbrows is my vriende, so ook die lowbrows, maar wat die middlebrows betref, mag die Here ons van hulle bewaar. (bl 54)

Maar N, jy is in New York en kan my nie help nie.

So ek het gedink ek sal maar vanaand my vrae begin met die highbrow. Die hoogkultuur. Musiek. Dis miskien die veiligste. Ek sou vir Stephanus en Daniel-Ben kon vra hoe hulle voel oor Nagmusiek, wat hulle hoor as hulle daarna luister. Ek weet klaar hoe die biograaf Ansbach Nagmusiek beleef. Hy sê dit op verskeie plekke:

Dit is my soort musiek: atmosferies, improvisatories met die gedrae tema wat soos ’n passacaglia uit die donker arpeggios verrys …  (bl 97)

 Van Wyk self sê:

… begin met die skryf van ’n nocturne, ’n klein bepeinsing van eensaamheid en ingekeerdheid wat sou groei tot ’n rou weeklaag van epiese omvang. (bl 95)

… dat dit my bedoeling was om in hierdie werk ’n omvattende skildering van die nag te gee, van sy skoonheid, sy geheimsinnigheid, sy onheilspellendheid: om sy halfgehoorde klanke weer te gee en die nag te toon as die ewebeeld van liefde, slaap en dood. (bl 99)

Die kernparadoks van die Romantiese verbeelding: gedeelde eensaamheid, publieke tentoonstelling van ’n na binne gerigte subjektiwiteit … Ween oor my. Kyk na my. (bl 105)

Die vraag is natuurlik of mens oor musiek kan praat? Dit is ook een van die Stephanus se groot vrae in hierdie boek. Hoe praat mens oor musiek? Van Wyk self het dikwels uitgevaar oor hoe “woorde die mag van musiek beperk” (bl 32):

Ek kan nie glo dat die moeite werd is om oor musiek te praat nie.

Dis onmoontlik om oor musiek te redeneer: Daardie feite wat bewys kan word, is gewoonlik presies die wat nie die minste saak maak nie. (bl 37)

… dat ek (in my huidige verlepte toestand) glad nie kan glo dat dit die moeite werd is om oor musiek te praat nie. (bl 47)

Stephanus wonder oor hoe ’n mens oor musiek kan praat en skryf. Hy gebruik sy hoofkarakter, Werner Ansbach, die fiktiewe biograaf, om die paradoks van musikologie te verwoord:

Woorde kan musiek nie ophelder nie want woorde is te definitief; die mag van musiek lê juis daarin dat dit verskillende dinge vir verskillende mense sê. (bl 97)

Stephanus skryf bladsye en bladsye oor musiek, maar Ansbach dink dat om te skryf oor musiek eintlik onmoontlik is. Hy sien musiek as mors (’n mens “speel” musiek soos wat mens in die modder speel) en skryf ’n hele hoofstuk daaroor. Musiek word gesien as ’n soort perversie wat voor woorde lê. Tog sê Ansbach in ’n ander konteks: “Dank die here dis nie n perversie waarvoor daar nie 'n woord is nie” (bl 216).

Stephanus wonder oor hoe mens oor musiek skryf, maar hy wonder miskien nog meer oor hoe mens oor ’n lewe skryf. Of mens oor ’n lewe kan skryf. Ansbach se worsteling om Van Wyk se lewe op te skryf word direk verwoord:

Die beuselagtighede wat tog in my kop vassteek en my narratief verwar. (bl 54)

Maar belangriker as die direkte verwoording van die onmoontlikheid van biografie is hoe die onmoontlikheid van biografie gesuggereer word in die onmoontlike struktuur van die boek. Daar is drie volumes. Volume I is die katalogus en werklys van musiek. Volume II is die eindnotas en bladwyser. Volume III is Nagmusiek, die roman. Volume III is 521 bladsye lank met ’n inhoudsopgawe wat lees soos ’n lang gedig. Dié volume is ’n roman en ook nie. Dit is biografie en ook nie. (En jammer, ek weet ek begin klink soos ’n lesing.

Maar ek weet jy het die boek nog nie gelees nie.) Dit is ’n verbysterende versameling of kompilasie van:

  • argief-dokumente (byvoorbeeld ’n begrafnisrede, testament, verslag van ’n astroloog, leerlinglisensie)
  • foto’s (byvoorbeeld van hare, van hande, van Johnny Weissmuller, moeder se bidboekie, van twee mense wat weerskante van ’n spoor stap en hande hou)
  • dagboek-inskrywings (byvoorbeeld oor tandartsafsprake, seksuele aktiwiteite, maaltye, huise, woonbuurte, mense, dae, nagte)
  • briewe en telegramme
  • akademiese referate
  • transkripsies van onderhoude
  • verslae van gesprekke (sommige gesprekke is fiktief, ander duidelik nie)
  • musiek-partiture (selfs ’n afskrif van die volledige handgeskrewe partituur van Nagmusiek in ’n koevertjie agter in die boek)
  • opgemaakte stories
  • lysies en lysies en nog lysies (byvoorbeeld van benodigdhede vir ’n molvang-ekspedisie, skoolpunte, belangrike datums)
  • en so meer.

Ansbach sê: “Lyste, selfs van onbenullighede … is konstruksies van mag” (bl 115) en waar ek in my lys van inhoude probeer om Stephanus se boek beter te verstaan, is hy, as skrywer, verskriklik bewus van hoe mag en beheer sentraal is in enige skryfwerk, ook spesifiek in die skryf van ’n biografie. Ansbach sê vir een van die naamlose mense met wie hy ’n onderhoud voer:

I am not just writing a biography, if I may say so, I’m discovering a lost world. And my sense of fear, my suspicion of the violence inherent in cataloguing is, I have come to realize, the result of the unwrought and confused richness of the territory I’m mapping. And my desire to control it. (bl 248)

Ken Swart, ’n radio-joernalis en ’n minnaar van Van Wyk, skryf destyds vir Van Wyk oor ’n onderhoud wat hy met Van Wyk sou doen: “Ek sal dit baie mooi doen en fyn goed oor jou sê.”

’n Fyn lewe versus ’n morsige lewe. Die uitmekaarhaal van ’n lewe. Die ordening van ’n lewe. Ek dink Stephanus probeer wys dat hy, net soos almal wat vir hom stories vertel van Van Wyk, probeer om uit ’n morsige lewe ’n fyn lewe te skep, ’n betekenisvolle lewe, ’n geordende lewe, ’n narratief. “Dit,” sê Ansbach, “is die eerlikste ding wat ek kan doen. Dit is die oneerlikste ding wat ek kan doen. Want ek stuur dan weg van jou biografie na myne, na outobiografie” (bl 234).

In AS Byatt (2001) se wonderlike roman A Biographer’s Tale sê die biograaf:

I seemed to understand that the imaginary narrative had sprung out of the scholarly one, and that the compulsion to invent was in some way related to my own sense that in constructing this narrative, I had to insert facts about myself, and not only dry facts, but my feelings, and now my interpretations. I have somehow been made to write my own story, to write in very different ways … If I were to write about myself, where would it start? Arbitrarily, let me decide, with my socks. Socks are a fact. Mine is not new, and all have matted patches under the metatarsal joint … I detest autobiography. Slippery, unreliable, and worse, imprecise … Autobiography, as I write, is fashionable. The flavour of the moment ... They are rather repulsive. I was brought up as a child to believe in self-effacement and as a student to believe in impersonality.” (bl. 101)

Stephanus probeer die probleem van die ineengeweefdheid van biografie en outobiografie op te los deur die skep van die fiksionele biograaf Werner Ansbach. (Ek kan nie help om te dink aan Damon Galgut se karakter Damon in In a strange room en JM Coetzee se protagonis in Boyhood en Summertime nie. En op ’n ander manier, selfs Leon Rousseau se Die groot verlange.)

Ansbach, akuut bewus dat die “biograaf (...) die een (is) wat Nols verby sy dood lei tot onsterflikheid” (bl 92), weet ook dat terwyl Van Wyk oorgelewer is aan hom (en almal wat sy storie vertel), is hy, Ansbach, ook oorgelewer aan Van Wyk.

Met die skep van die fiktiewe biograaf begelei Stephanus ons baie bewustelik as lesers deur ’n kranksinnige labirint of donker moltonnel van fiksie en niefiksie, waarheid en leuens. Eintlik weet ons dan, soos die biograaf, op die ou end niks.

Soos Mevrou Huppeldepup vir Ansbach oor die telefoon sê:

Niks wat ek van hom weet is vir u van belang nie. (bl 125)

Die spanning tussen fiksie en niefiksie, leuen en waarheid, storie en feit word erg dramaties uitgebeeld in die gespanne en delikate verhouding tussen Ansbach en die Groot Biograaf. Hulle het respek vir mekaar, is bewus van mekaar, op tye selfs “minsaam”, maar op die ou end is daar tog ’n ontstellende stoeigeveg in die ondergrondse bunker van biograwe, die Gericke-biblioteek. ’n Geveg tussen Dawid en Goliat wat mens herinner aan die klein negejarige Nolsie (Arnold van Wyk) wat begeesterd deur die Bybelstorie besluit om sy boelie-broer aan te vat: “Kyk hierso, jy is groter en sterker as ek, maar ek kom na jou in die naam van die Here,” skree hy dapper vir sy groot broer met swaaiende vuisies. “Boet voeter hom gevolglik goed op” en Van Wyk skryf later: “Dit is waar ek my religieuse knou gekry het” (bl 46).

En hierdie simboliese onderonsie herinner my ook, my liewe vriend en storieversamelaar in die vreemde, dat ek Stephanus se boek ’n onreg sou aandoen as ek dit net vir jou beskryf as ’n dekonstruksie van musikologie en biografie en nie vir jou vertel van die wonderlike karakters en spannende storie wat hy skep nie. Met sy opeenstapeling van stories en feite kry hy dit tog reg om op ’n amper onderduimse manier ’n spannende storie met wonderlike karakters te skep. Ek skryf nie ’n resensie nie, so ek hoef nie in-diepte karakterontledings doen nie. Ek gaan net vir jou ’n paar mooi beskrywings van die hoofkarakters (Arnold van Wyk, Werner Ansbach, die Groot Biograaf, Stellenbosch, Stephanus Muller) aanhaal (wat my natuurlik ook sal help in die onderhoud vanaand; miskien sal ek dat Stephanus dit hardop lees).

Arnold van Wyk:

… die seuntjie van Klawervlei wat stories op die klavier speel.

My god. Those long fingers of Van Wyk’s and then the way he uses that lighter.

… soos hy ouer word het hy al hoe meer soos ’n melankoliese Rachmaninov begin lyk …

… mank gelyk het wanneer hy beweeg … Hy was amper soos ’n mol wat in die daglig te voorskyn kom. Skaam vir publisiteit, fisiek onttrekkend uit die lig. (bl 374)

Hy was ’n fyn mens wat ’n fyn lewe gelei het. (bl 125)

Ek is ’n verdomde Afrikaner en niemand kan iets daaraan doen nie. (bl 174)

Sien jy oom Charles, ek wil godswonderlike musiek komponeer en ek wil liefhê en oorweldig soos ’n storm, ek wil groots wees en beduidend, en as dit nie kan nie, dan is alles so leeg en onaantreklik. (bl 469)

Ai Nolsie. En daar land jy toe op middle-brow-bosch waar jy jou lewe slyt. Opgehou werk toe loop want mens bots te veel in die atlete en atletinne.

Werner Ansbach:

Ansbach oor Ansbach:

… met ’n projek buite beheer, ’n ma wat haarself beskyt, ’n skatologiese muse, ’n onteerde anus, ’n legioen molle op die offensief, voel ek eienaardig … pap. (bl 233)

Ansbach oor homself en die Groot Biograaf:

’n Nugterder perspektief op my oedipale geweld. Ons maak kak droog. Ons is twee verdorrende ou drolle, twee blinde ou molle.

Cecile (die skatologiese muse) oor Ansbach:

Jy is ’n middelmatige mannetjie wat werk omdat jy plesier daaruit kry om jou
onderwerpe te besit, dis hoe ek jou sien. En ek sal nie verbaas wees as jy
hulle dan gebruik om jou vuil wasgoed in die publiek te was nie. Hoe voel dit
om daar op die vloer, tussen jou eie gemors, verlies en verderf te sit?

Die Groot Biograaf oor Ansbach:

Jy is ’n niks, ’n onbenullige, onbewese parvenu. Hoe lank gaan jy nog sukkel om iets van waarde te maak uit die gemors waarmee jy jou omring? Kyk hoe lyk jou tafel: deurmekaar hope gemors oral gestrooi. Jy is ’n amateur, ’n dilettante. Jy dink gebrek aan metode, gebrek aan sisteem, gebrek aan raamwerk, gebrek aan dissipline kan jou beskerm teen historiografiese leuens, teen onbewuste aannames? Jou arme, naïewe, pateties verskoning vir ’n akademikus. Jy dink die kak wat jy skryf is kreatief? Kreatiewe kak blyk kak. En jy is ’n onbeskofte jong snuiter wat nie jou meerderes respekteer nie. (bl 439)

Die Groot Biograaf:

         … die groot kop loer minsaam oor sy bril. (bl 253)

Ek kyk ongelowig na die man. Die ongehoorde gedagte kom by my op dat daardie groot lyf die Afrikaanse literatuur verorber het – letterlik in die aande verpulp en opeet soos ’n groteske papiervreter – en nou met historiografiese sure verteer en verwerk. (bl 407)

Stellenbosch:  

Hier het julle die pragtige berge om na te kyk, en julle wil gaan sit in ’n bleddie gat. (bl 82)

Stephanus Muller:

Oor hierdie karakter, wat ook in die tonnels rondsluip en Ansbach die biograaf eindeloos irriteer, sê ek liewer niks. Ons ken hom goed genoeg.

Ek wonder natuurlik oor waar ons vriend Stephanus nou is. Iewers in die boek sê die Groot Biograaf vir Ansbach:

Kan jy voel hoe die papier jou hande uitdroog?

Ansbach hoor die waarskuwing.

Dit steel iets van jou, die dokumente. Ongemerk, stil, loop jy droog in die hande van die dooies. (bl 86)

En ek wonder oor wat met Stephanus hier gebeur het. Hy self sal seker vir Sebald aanhaal:

It does seem to me, Austerlitz added, that we understand the laws governing the return of the past, but I feel more and more as if time did not exist at all, only various spaces interlocking according to the rules of a higher form of stereometry, between which the living and the dead can move back and forth as they like, and the longer I think about it the more it seems to me that we who are still alive are unreal in the eyes of the dead, that only occasionally, in certain lights and atmospheric conditions, do we appear in their field of vision. (bl. 379)

Ek sou vir hom wou sê, soos altyd:

         Moenie tou opgooi nie, alles sal regkom, jy doen goed. Al lieg jy. (bl 415)

Hier in Stellenbosch was die mis vanoggend so dig dat dit geklink het asof dit raas: ek het gedink ek hoor dit in die bome, hoe dit skuur teen die blare, drup op die pad. Gisteroggend was die son gewelddadig rooi, ontsettend teen die pienk en ligblou landskap.

Atlete en atletinne ten spyt.

Die brief het heeltemal te lank geword en die assosiasies te los. Soos altyd wanneer ek vir jou skryf.

Eintlik wil ek net sê dat jy die boek moet lees. En ek mis jou hier.

Baie liefde

Jou vriend

Ferdie

Naskrif: Die nag van Nagmusiek se launch is natuurlik nou reeds verby. Daniel-Ben Pienaar het ’n verruklike uitvoering van Nagmusiek gegee. Ek het my vrae gevra. Stephanus en Daniel-Ben, twee mooi Afrikaanse mans in pakke, het slim en gevoelvol geantwoord. Dit was vir my ’n moeilike onderhoud, want ek was erg bewus van die weerloosheid van die kunstenaar, hoe oorgelewer die pianis en die skrywer was en is. As skryf dan ’n manier is van mag kry oor musiek, oor lewens, oor die wêreld, dan is die launch van ’n boek die oorgee van mag, ’n geweldige weerloosheid. Die toeverlaat.

Naskrif twee: Ek het natuurlik ook tydens die onderhoud die politieke vraag gevra, die vraag oor hoe regverdig mens dit om so baie geld en so baie tyd te spandeer aan die opskryf van die lewe van ’n middelklasman van Mosterdtsdrif wat musiek geskryf het terwyl die land besig was om uit mekaar te skeur. “Wat ’n kak vraag!” het iemand in die gehoor verontwaardig uitgeroep. Ek weet, ek weet. Maar N, in hierdie land kan mens dit nie nié vra nie. Want hierdie boek is nie net ’n worsteling met hoe skryf mens oor musiek, hoe skryf mens oor ’n lewe nie, dit is ook ’n worsteling met hoe ’n mens skryf (of nie skryf nie) oor hierdie wye droewe land van ons. Daar is ’n imperatief (en gevaar daarin) om te skryf en om nie te skryf nie:

Is dit waaraan ek meedoen deur hierdie boek te skryf? ’n Verering van ons eie? ’n Onthutsende gedagte. (bl 14)

Wanneer jy jou hand op paper sit pleeg jy verraad. (bl 259)

’n Imperatief om te onthou en ’n imperatief om te vergeet.

Ricordanza. Dis ’n spesiale ding om te doen, om te onthou. En dis so ’n mooi oop ding om te vergeet, so oop en skoon. (bl 259)

’n Imperatief om die vraag te vra en om dit nie te vra nie.

I am not just writing a bibliography, if I may say so, I’m discovering a lost world. (bl 248)

Naskrif drie: Hierdie boek gaan nie verniet oor die diktatuur van lyste nie. Hier onder nog ’n lys van belangrike bladsye waaroor ek nog vir jou wou skryf. Ek wou dit nog vir jou orden, maar lees maar in jou eie volgorde. Ek dink ek het klaar genoeg gesê.

Composing apartheid (bl 384)
Music and politics (bl 390)
There exist things from the past, sometimes incomprehensible and inexplicably significant, that cannot become part of the story this conference wishes to tell, and in this, constitute a crucial, discordant part of its plot. (bl 395)
My woorde is stamelend (bl 404)
Said (bl 401)
Nasionalisme. I am worried about the nationalist victory. (bl 177)
Apartheid (ble 178, 183, 192, 201)
It is driving me dotty trying to decide whether I should resign in protest
Melankolie (ble 95, 171, 236)
Everything suddenly blank, bleak and no joy. (bl 171)
I wish I knew how to be happy (bl 236)
Tande (bl 111)
Nag as ewebeeld van die liefde, slaap en dood (bl 7)
Stellenbosch (ble 12, 54, 83)
Ons (bl 14)
Feite (bl 19)
Sonate en brug (bl 26)
Waste water (bl 36)
The sensuality of a book (bl 50)
Dalk net nie entoesiasties straight nie (ble 55, 59)
Dressing for the interview (ble 73, 170, 184, 210, 220, 356)
Blootstelling aan ’n gehoor/leser (bl 82)
Die geld en die boek (bl 83)
Biografie (ble 85, 92, 101, 234, 246)
It took me longer than a year to devise this system …
Love (ble 174, 182)
Speech is half measure (bl 224)
The audience (bl 231)
Mors en musiek (ble 231, 232)
Akademie as keerwal (bl 233)
Vulnerability (bl 233)
History (bl 233)
Afrikaans (bl 250)
Vergeet en onthou
Katte (bl 266)
Waarheid (bl 271)
Jaloesie (bl 273)
Oor skryf (bl 274)
Hard stony flinty path (bl 275)
Beuselagtighede (bl 38)
Envy (bl 375)
Vermorste water (bl 378)
Afrikaner en Afrikaans (bl 379)
Arnold van Wyk’s hands (starfish) (ble 379, 386)
Rosa en grappies (die oond en die dodebed) (bl 419)
Wanneer wil jy die boek klaar hê? (bl 422)
Pathology suicide (bl 429, 418)
Bad teacher (bl 430)
Ek voer nie gesprekke met mense in toilette nie (bl 430)
Lack of confidence (bl 431)
Galgut (bl 431)
Molle (bl 432)
Privacy (bl 438)
Unfulfilled desire (bl 451)
Melancholy (bl 450)
Sonata and closure (bl 452) enclose closet (ble 453, 458)
Nagmusiek (bl 453)

Foto's is deur die uitgewer verskaf, behalwe waar anders vermeld.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top