Nagmaal by Vliegepoort

  • 2

“Nagmaal by Vliegepoort” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Nagmaal by Vliegepoort

By Vliegepoort, naby Thabazimbi, hou dominee Jakobus Prinsloo vier keer ’n jaar Nagmaal in ’n oop sinkgeboutjie by die nuutgestigte Bosveldgemeente. Vier keer ’n jaar pak hy die lang grondpad vanaf sy tuisgemeente in Rustenburg aan met sy 1935 Ford V8 vierdeur-Sedan. Die ruwe grondpad Bosveld toe is lank en die reis is moeisaam en stadig. Die Winternagmaal se terugrit is nog moeiliker en stadiger met die kar volgeprop met pampoene en leë wit meelsakkies gevul met biltong. Die Bosveldgemeente skenk mildelik. Dit is veral die jong Jan Joubert, of Jan Bok soos hy bekendstaan, wat die grootste bydrae tot die dominee se voorraad maak. Jan Bok het die naam gekry vanweë sy onbedaarde begeerte na jag. Hy is ’n bobaasjagter, maar jag het sy baas geword.

Petrus Joubert, Jan Bok se pa, kry nie sy twintigjarige seun aan die boer op die plaas saam met hom nie, want die jaglus het Jan eindeloos beet. Die hewigste opwelling van Jan se jagbegeerte gebeur gewoonlik ’n paar weke voor die Winternagmaal, want dan het hy verskoning om te gaan jag en oorvloed biltong vir dominee Prinsloo te droog. Die dominee kan immers nie met leë hande terugkeer Rustenburg toe nie. Die mees oortreffende opwelling van Jan Bok se jaglus gebeur kort na Winternagmaal en nadat dominee Prinsloo met al die biltong vort is Rustenburg toe. Dan kry jy vir Jan nie naby die boerdery nie en hy laat geen wildsbok in die ganse Bosveld met rus nie, want hy is hoogs bedrywig om die plaashuis se leë biltongvoorraad in oormaat aan te vul.

Nagmaal by Vliegepoort neem ’n hele naweek in beslag en daar is drie eredienste. Saterdagmiddag is dit die voorbereidingsdiens, Sondagoggend volg die Nagmaaldiens en dit eindig met ’n nabetragtingsdiens in die agtermiddag. Vir Nagmaal kom gemeentelede van so ver as die Betsjoeanaland, Makoppa, Rooibokkraal, Sentrum, Van Wykskraal en afgeleë plekke wat nog wag vir ’n naam. Rybare paaie met ’n motor is skaars en verweerde grondpaadjies laat slegs trekwaens toe. Teen Vrydagmiddag begin waens van allerhande soorte hul opwagting maak vir die Winternagmaal by Vliegepoort. Daar word kamp gemaak, tente opgeslaan en gekuier.

Petrus Joubert en sy familie ry laatmiddag die kerkterrein met ’n muilwa binne. Jan Bok beduie vir sy pa waar die beste oorblywende staanplek onder ’n groot kameeldoring is. Hy span die muile uit terwyl sy pa, ma en twee jonger susters die wa aflaai. Later slaan Jan twee tente vir sy ouers en twee susters op. Jan slaap sommer onder die wa, want hy is gewoond daaraan om in die jagveld so in die oopte saam met sy mauser onder ’n kombers te lê. Nou maak hy weer so, steeds saam met sy mauser wat hy saamgebring het Nagmaal toe, in geval hy iets vir die pot raakloop.

Die Nagmaalgangers loop rond, groet mekaar en verneem wat die jongste nuus uit elke distrik is. Dominee Prinsloo maak ook sy opwagting en loop waardig deur die kampterrein waar hy elke gemeentelid groet en verneem hoe dit gaan. Hy maak ook seker dat daar nie ’n verskuilde duisterheid in die Nagmaalgebruikers se weg staan wat hul kan weerhou om die bediening van die brood en wyn te ontvang nie. Die dominee vind al sy Nagmaalgangers skoon van oordeel en gewete. Dit gaan ’n doodgewone Nagmaalnaweek wees met dienste onder die oop sinkgeboutjie aan die voet van Vliegekop.

Die voorbereidingsdiens in die oop sinkgeboutjie verloop Saterdagmiddag soos al die voriges: doodgewoon. Die Nagmaaldiens begin Sondagoggend ook soos al die voriges, ook doodgewoon. Jan Bok sit heelagter op ’n houtstoel op die punt van die ry vanwaar hy Vliegekop mooi kan sien. Dominee Prinsloo preek soos gewoonlik oor die wêreldlike begeertes, sondes, die ewige verdoemenis en die vagevuur waar die geween en gekners van tande van ver en wyd gehoor kan word. Dominee Prinsloo maak seker dat die gemeente tot die volgende Nagmaal, uit vrees vir die helse oordeel, skoon en sedelik sal leef. Hy sluit die preek af en begin die Nagmaalformulier lees, maar Jan Bok hoor nie ’n woord nie. Sy oë vind ’n beweging teen die kop. Dit is koedoes, vyf van hulle, ’n bul en vier koeie, waar hulle ongestoord boomblare teen die helling van Vliegekop vreet.

Jan voel, soos gewoonlik, wanneer hy ’n bok sien, dat ’n vreemde gees oor hom kom en hoe die jagbegeerte soos ’n hewige koors van hom besit neem. Hy dink vlugtig aan die dominee se preek oor die sondes en die vagevuur, maar dit laat hom skielik koud en die gevoel van vrees oor die ewige verdoemenis verlaat hom en maak snel plek vir sy oorheersende gevoel vir jag.

Dominee Prinsloo sluit die Nagmaalformulier af en nooi die gemeente om aan die Nagmaaltafel te kom aansit. Daar is ’n haastige geskarrel onder die Nagmaalgangers om eerste by die tafel uit te kom. Diegene wat nie plek by die eerste tafel kry nie, gaan sit weer en mor fluisterend oor die ongeskikte mense wat so storm om eerste te wees. Die bebaarde oom Hans Broodryk laat luid van hom hoor terwyl hy sy vinger waarskuwend in die lug hou. “Dié wat eerste is, sal laaste wees.”

Dominee Prinsloo stuur die Nagmaalbeker en broodbord aan en lees uit die Bybel terwyl die aansittendes die Nagmaal gebruik, wyn en brood. Die volgende tafels se bediening verloop meer stigtelik. Die laaste tafel is halfvol. Dominee Prinsloo stuur weer die Nagmaalbeker aan en lees verder uit die Bybel. Oom Hans vat ’n sluk, maar voor die wyn deur sy keel die goeie weg na benede kon vind, klap daar ’n geweerskoot teen Vliegekop, sommer naby. Doef ... doef.

“Dis raak,” sê oom Hans baie hard terwyl die wyn uit sy mond oor die wit tafelkleed spat. Dominee Prinsloo kyk verbaas op. Daar is ’n skielike beroering onder die kerkgangers. Almal se oë soek na Jan Bok. Dominee Prinsloo sien dat sy stoel leeg is waar hy gesit het en weet dadelik wie die skuldige is. Hy het ook al van Jan se probleem met sy ongetemde jaglus gehoor. Hy was van skooltyd af ’n wilde mannetjie. Hy ken hom goed en Jan Bok het nie verniet by hom gekatkiseer toe hy in die kosskool op Rustenburg was nie.

“Kalmeer,” sê dominee Prinsloo streng. “Laat ons voortgaan.” Hy lees verder uit die Bybel. Die derde tafel is die laaste tafel en almal het Nagmaal gebruik, behalwe Jan Bok. Dominee sluit die diens af en gaan soek dadelik na Jan, maar hy is weg. Hy gaan sit onder die kameeldoring saam met Petrus, Jan Bok se pa, by sy kampplek en wag dat Jan sy opwagting maak. Petrus bekla sy lot by dominee Prinsloo oor sy seun se onversadigbare jaglus.

“Hy help min met die boerdery, Dominee, en wanneer hy ’n bietjie help, dwaal sy oë die hele tyd jagveld toe. Hy kan nie eers reguit ploeg nie, want hy kyk meer na die bos as na die ploeg. Sy sooie is windskeef. Hy het ’n rustelose gees wat nooit tot bedaring kom nie. Hy is ook nooit sonder sy mauser nie en gaan slaap selfs met die ding onder die kombers.”

“Hy is seker ’n goeie skut?” wil die dominee terloops weet.

“Ja, Dominee. Dis nie altemit nie. Jan skiet nie mis nie en daar is nie ’n skut in die hele Bosveld so goed soos hy nie,” spog Petrus so effe oor sy seun. “Dan ken hy die bos en spoorsny ook,” gaan hy voort. “Hy ken elke dier se spoor en ook watter tyd die dier daar geloop het.”

“Nou waar jag hy? Net op die plaas?” vra die dominee.

“Nee, Dominee. Jan jag oral. Hy was tot in Betsjoeanaland al agter leeus aan. Hy het al hoeveel velle teruggebring. Dan was hy tot in Noord-Rhodesië en het met ’n klomp olifanttande teruggekom. Hy verkoop die leeuvelle en tande in Johannesburg en maak baie geld daaruit. Ek was bang Mammon gaan hom ook, soos sy jaglus, in besit neem, maar hy spaar al die geld wat hy maak. Jan het al baie geld in die bank.”

“Petrus,” sê die dominee. “Ek ken jou seun. Hy het by my gekatkiseer in Rustenburg toe hy op kosskool was. Jan is ’n vriendelike, lewendige mannetjie en is hoogs intelligent. Hy het altyd met die katkisasie baie slim vrae gevra en het die beste gevaar van al die katkisante. Hy het ook nie verniet ’n eersteklas-matriek nie. Hy hoort op universiteit. Ek dink hy wil nie boer nie en sy jagtery is ontvlugting.”

“Nee, Dominee, hy vlug vir plaaswerk, want dis makliker om ’n sneller op ’n bok af te trek as om ’n graaf op te tel. As hy verder moet leer, weet ek nie hoe hy sy jaglus gaan tem nie. Niks kan hom tot bedaring bring nie. Sy jaglus was vandag buite beheer. Vandag het ons dit hier, op die Sabbat, weer gesien.”

“Ja, sy jaglus het vandag te ver gegaan,” stem die dominee saam. “Mens jag nie op die Sabbat nie. Het hy dit al voorheen gedoen?” wil die dominee weet.

“Nee, Dominee. Nog nooit nie,” antwoord Petrus.

“Dit is ’n oortreding van die vierde gebod,” gaan dominee Prinsloo voort. “Hy het uit die Nagmaaldiens gesluip om ’n bok te gaan skiet. Dit is Sabbatsontheiliging en dit is ’n ernstige oortreding.”

“Ja, dit is ernstig, Dominee,” stem Petrus saam. “Ek kry skaam vir my seun se oortredings.”

Later kom Jan rustig en ewe ongeërg met die mauser oor sy skouer die kampterrein binnegestap. Die kampeerders kyk hom stil en kopskuddend aan, asof hy die duiwel is wat die kamp binnesluip. Jan stap tot by die kameeldoring waar sy pa en die dominee wag.

“Waar was jy?” wil Petrus omgekrap weet.

“Daar teen die kop, Pa.”

“Het jy ’n bok geskiet, Jan?” wil die dominee weet.

“Ja, Dominee,” antwoord Jan terwyl hy sy mauser teen die boom se stam laat regop staan.

“Wat het jy geskiet?” vra Petrus.

“’n Koedoe, Pa,” antwoord Jan en gaan sit ewe onskuldig op ’n stoel langs die dominee en sy pa asof niks gebeur het nie.

“Jy het jou wangedra, Jan,” sê Petrus.

“Wangedra?”

“Ja, jy het skande oor jouself, ons familie en Vliegepoort-gemeente gebring. Laat Dominee jou mooi verduidelik wat jy aangevang het.”

Dominee Prinsloo kyk ernstig na Jan met sy helder, byna seunsagtige, onskuldige blou oë. Daar is nog altyd iets aan hierdie energieke jong man waarvan hy hou, maar die feit bly staan, Jan het die Sabbat ontheilig en die kerklike tug moet toegepas word. Dominee Prinsloo verduidelik aan Jan wat die klag is wat teen hom gebring gaan word. Jan sit net woordeloos en luister asof hy nie verstaan waaroor die bohaai gaan nie. Dominee Prinsloo staan op en roep die kerkraad bymekaar vir ’n dringende vergadering by die sinkgebou. Teen hierdie tyd weet almal op die kampterrein dat Jan Bok in groot moeilikheid is en voor die kerkraad gaan verskyn. Hy is die middelpunt van bespreking en dit is al die Nagmaalgangers se oorwoë mening dat Jan onder sensuur geplaas gaan word. Dit is net formaliteit.

Die kerkraad vergader nie lank nie en die klagte word geformuleer. Jan Bok word aangekla van Sabbatsontheiliging. Hy word geroep en gaan sit op ’n stoel voor die kerkraad. Dominee Prinsloo lees die klag aan Jan voor. Hy het die vierde gebod oortree.

“Is jy skuldig aan die klag, Jan?” wil dominee Prinsloo weet.

“Nee, Dominee.”

Die kerkraad reageer met geskokte uitroepe omdat Jan meen hy is onskuldig.

“Stil broers,” vermaan dominee Prinsloo die teenwoordige broers. Dan kyk hy weer na Jan en gaan voort.

“Jan, wat sê die vierde gebod?” wil dominee Prinsloo weet. Jan reageer onmiddellik en die gebod vloei glad en vinnig oor sy lippe.

“Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie ...”

“Reg, dis genoeg Jan,” val dominee Prinsloo vir Jan in die rede. “Ek kan hoor jy ken die gebod uit jou kop uit.”

“Ja, uit my kop uit, Dominee,” bevestig Jan.

“Wat beteken die gebod in praktyk dan?” wil die dominee verder weet.

“Jy mag nie op die Sabbat werk nie,” antwoord Jan.

“Nou wat het jy gedoen toe jy die koedoe geskiet het, Jan?”

“Ek het gejag, Dominee, nie gewerk nie,” antwoord Jan. Dominee Prinsloo is onkant gevang met Jan se slim antwoord en daar is weer verontwaardigde beroering onder die kerkraadslede.

“Jag is mos werk, nie waar nie?” probeer dominee Prinsloo die regte antwoord uit Jan kry.

“Nee, Dominee, jag is nie werk nie,” antwoord Jan.

“Nou wat is jag dan?” wil dominee Prinsloo ongeduldig weet.

“Jag is om daaglikse voedsel te voorsien. Dit is dieselfde soos om daaglikse kos voor te berei, ook op die Sabbat. Die koedoe wat ek geskiet het, is vir die pot en vir biltong. So, jag is nie werk nie.” Dominee Prinsloo is weer onkant gevang met Jan se skerpsinnigheid.

“Wat van die leeus en olifante wat jy gejag het?” wil dominee Prinsloo weet. “Is dit werk?”

“Ja, dit is werk, Dominee, harde en gevaarlike werk, want jy loop myle agter die goed aan. Ek het al die leeuvelle en olifanttande verkoop. Dit is werk, want ek het geld daaruit verdien. Ek verdien nie geld uit die bokke wat ek skiet nie en mense eet die vleis en biltong verniet ... soos die biltong wat in Dominee se motor gepak is.”

“Wat van ’n boer wat ook kos produseer vir die tafel? Mag hy op ’n Sabbat werk?” wil dominee Prinsloo weet.

“Nee, hy mag nie, want hy verdien geld uit sy arbeid. Dit is ’n oortreding van die vierde gebod,” antwoord Jan.

Dominee Prinsloo weet skielik nie hoe om die saak verder te hanteer nie, want Jan se redenasie maak sin. Hy het nog nooit so daaraan gedink nie, omdat dit nie nodig was nie. Hy is skielik vasgevang tussen Jan se standpunt en die kerk se siening oor Sabbatsontheiliging. Jan moet ’n advokaat word, dink hy. Hy hoort nie op die plaas of jagveld nie.

Dominee Prinsloo vra Jan om onder ’n boom te gaan wag sodat die kerkraad ’n besluit oor sy lot kan neem. Die dominee verduidelik aan die kerkraad dat Jan se verweer gewig dra en as versagting dien, maar dat die kerk se standpunt oor Sabbatsontheiliging die swaarste weeg. Hy stel voor dat Jan slegs vir een erediens onder sensuur geplaas word. Hy mag nie die nabetragtingsdiens bywoon nie. Die kerkraad bevestig die besluit en Jan word weer nader geroep.

Dominee Prinsloo begin met sy uitspraak. “Jan, die kerkraad het jou standpunt aangehoor, maar volgens die vierde gebod is jy skuldig en staan jy gevolglik onder kerklike tug. Alvorens jou tug bekend gemaak word, het jy die geleentheid om jou berou daaroor te kenne te gee. Wil jy iets daaroor sê?”

Jan dink ’n oomblik. Hy staan op en begin Psalm 38 uit volle bors sing. Die kerkraad sit verstom en luister.

Straf tog nie in ongenade
my misdade,
Heer verdra my met geduld.
Wil tog nie in toorn ontsteek nie
en U wreek nie op my sondeskuld.

Dominee Prinsloo is uit die veld geslaan, want so iets het hy nog nooit beleef nie. So ’n dramatiese skuldbelydenis het dominee Prinsloo nog nooit gehoor nie. Dit is aangrypend. Hy en die kerkraad het nog nooit so ’n pragtige tenoorstem gehoor nie. Hy kan ’n operasanger word. Jan verdien versagting en genade. Dominee vra vir Jan om weer onder die boom te gaan wag terwyl hy die kerkraad oortuig om Jan net ’n waarskuwing te gee. Jan word weer geroep en kry net ’n waarskuwing. Die kerkraad verdaag en dominee Prinsloo besluit om vaderlik met Jan oor sy toekoms te gesels. Hy wil nie boer nie en hy kan nie vir die res van sy lewe alewig jag nie. Hulle gaan sit onder ’n boom.

“Jan,” begin dominee Prinsloo. “Ek wil met jou oor jou toekoms gesels. Jy is ’n baie intelligente jong man en ek dink jy moet universiteit toe gaan en vir ’n advokaat studeer. Dit is die regte beroep vir jou. Hoe voel jy daaroor?”

“Ek sal universiteit toe gaan, Dominee, maar ek wil nie ’n advokaat word nie,” antwoord Jan.

“Nou wat wil jy dan word?” vra die dominee.

“’n Dominee,” antwoord Jan.

Uit ontnugtering gee die dominee ’n harde proes deur sy neus. Hy kan nie glo wat hy sopas gehoor het nie.

“’n Dominee? Jy wil ’n dominee word?” vra dominee Prinsloo om seker te maak hy het reg gehoor.

“Ja, ’n dominee. Ek wil die liewe Vader se werk doen. Ek wil preek en met mense werk,” bevestig Jan.

Dominee Prinsloo is weer eens uit die veld geslaan. Jan sal ’n goeie predikant wees omdat hy so slim is en goed kan redeneer, dink hy. Hy besluit om vir Jan te help.

“Ek sal alles vir jou reël, Jan. As die nuwe jaar begin, gaan jy universiteit toe en die dag as jy klaar gestudeer het, wil ek jou as predikant legitimeer. Ons moet net probeer om geld in die hande te kry om vir jou studies te betaal.”

“Dis nie ’n probleem nie, Dominee,” antwoord Jan. “Ek sal self betaal. Ek het genoeg geld uit my jagtery gespaar om vir my studies te betaal. Dankie vir die moeite, Dominee. Daar is nog net ’n laaste ding, Dominee,” gaan Jan voort. “Ons moet die koedoe uit die berg kry. Die kalf is in die put.”

*

In Februarie 1940 begin Jan Bok sy studies by die Universiteit van Pretoria en in Januarie 1946 legitimeer dominee Jakobus Prinsloo vir proponent Jan Bok Joubert as predikant in die gemeente Vliegepoort. In Desember van dieselfde jaar trou Jan met Karlien, die jongste dogter van dominee Prinsloo.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 2

Kommentaar

  • Nelma Erasmus

    Ag en het ek nou lekker gelees! Die verhaal is ietwat in dieselfde trant geskryf as dié van HC Bosman, behalwe vir die spekskiet. Ons wat daardie deel van die Bosveld ken, vind onmiddelike aanklank by die milieu en karakterisering.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top