Nadine Petrick gesels met Marita van der Vyver oor resensies, die hittegolf in Provence en die wegholsukses van Dis koue kos, skat

  • 0

Dis koue kos, skat
Marita van der Vyver
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624048855
Prys: R157.25

Eerstens, baie geluk met die nuwe roman! Ek wil tog onmiddellik weet, hoe voel die lippe? Jy het groot beloftes gemaak om ’n vuvuzela te blaas tot jy blou is in die gesig die dag wanneer jy meer boeke as Stieg Larson verkoop, en volgens Nielsen Bookscan (wat wêreldwyd die verkope van boeke monitor) gebeur dit toe wraggies!

Ek blaas nog een stryk deur, want ek het pas gehoor dat my Koue kos laas steeds bo aan Nielsen se lys was, dié keer voor John Grisham en ... taratata ... Ena Murray se omnibus! My tone krul van lekkerkry – hoe dan nou anders.

Dis koue kos, skat het nou al meer as 15 000 eksemplare verkoop sedert dit April verskyn het. Dit maak jou seer sekerlik die topverkoper wat Afrikaanse letterkunde betref. Hoe hanteer jy die spanning en druk voor die verskyning van ’n nuwe boek, want jy is seker jou eie grootste kompetisie?

Dit moet jy vir my longsuffering gesin vra. Ek probeer hard om nie die spanning na my huismense te laat deursyfer nie, want hulle het immers nie gekies om saam met ’n skrywer te lewe nie. En daar’s gelukkig (ongelukkig!) genoeg alledaagse krisisse in die huis waarop ek die skuld vir enige moontlike beduiwelde gedrag kan pak. 

Benewens die seer lippe is die tong ook seker skurf van wonde lek na Riana Scheepers se bitsige resensie. Jy het reeds repliek gelewer, maar ek wil weet: Hoe voel jy wérklik as iemand in die industrie negatief reageer oor jou werk?

Daar’s ’n groot verskil tussen negatief en venynig. Ek hét al negatiewe resensies gekry, en ek hanteer dit op presies dieselfde manier as die rasend positiewes: deur vir myself te sê dis die mening van één persoon wat op ’n bepaalde oomblik in sy/haar lewe ’n bepaalde boek gelees het, niks meer nie. Venynig is iets anders. Die venynigste resensie wat ek ooit gekry het, was meer as 15 jaar gelede vir Die dinge van ’n kind, deur ’n resensent (wat naamloos sal bly) wat my voorkoms en my kleredrag in die resensie aangeval het. Dit was vir my so erg dat ek dit vlugtig oorweeg het om nooit weer enigiets te publiseer nie. Maar soos die oumense altyd gesê het, wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker. Daardie soort bitsigheid so vroeg in my skryfloopbaan het my taf gemaak.   

Jy glo nie daaraan om te reageer op resensies nie, maar tog het jy op dié een gereageer. Waarom?

Die resensent het daarvoor gesoek deur die resensie in familiêre briefvorm aan my te rig. ’n Brief vra tog ’n antwoord – daarom het ek ook in briefvorm geantwoord.

Om een of ander rede kry jy dit reg om die regte boek op die regte tyd te skryf. Het jy ’n seekat of ander orakel wat jy raadpleeg om jou in ’n rigting in te stuur wanneer jy aan ’n nuwe boek begin werk?

Nee, dis grotendeels geluk. Dit help miskien dat ek nie ’n akademikus is of in ’n ivoortoring lewe nie. Ek lewe platvoet in die werklikheid, met my ore op die grond en my oë wawyd oop, bewapen met ’n bietjie verbeelding en baie humor.

Jy is blykbaar al van skooldae af lief vir briefskryf - vir jou ouma, kêrels en vriendinne. Is die nuwe briefroman ’n logiese opvolg van jou rubrieke en brief-boeke of is dit iets wat jy lankal wou doen?

Dit het organies en logies gevolg op alles wat ek vooraf geskryf het.

Van die persone aan wie Clara haar briewe skryf, is die beminde Griet Swart van Griet skryf ’n sprokie en ook aan jou, Marita. Riana was ook effe snedig daaroor: “Daar is geen literêre meriete in dié procédé nie, vanwaar die narsisme?” Jy beskou dié procédé egter as binnepret? Is dit werklik ál rede?

Nee, die ander rede, wat ek ook al in die media openbaar het, is dat ek met elke enkele roman gevra word of die hoofkarakter “ek” is. Is ek Griet Swart? Is ek Mart Vermaak van Die dinge van ’n kind? Is ek Bella Botman of is ek San Bothma in Vergenoeg? Die antwoord is nooit eenvoudig nie. Daar is iets van my in elke karakter wat ek nog ooit geskep het, ook die mees onaangenames, maar nie een van hulle is Marita van der Vyver nie. Dié keer kan ek eenvoudig antwoord, nee, ek is nie Clara Brand nie, ek is elders in die boek, kyk maar, daar staan my naam: Marita van der Vyver.

Waarom het jy besluit om geen van die antwoorde op Clara Brand (die hoofkarakter) se briewe in te sluit nie?

Die boek sou heeltemal te lank geword het. Die verhaal moes oor ’n dekade verloop, want om wraak as koue kos aan te bied, het jy tyd nodig. As ek almal se antwoorde moes insluit, het ek gesit met ’n boek van 1 000 bladsye, en daarvoor het ek waaragtig nie kans gesien nie.

Baie van die briewe word afgesluit met vreeslike interessante lysies van ou films, konfyte of sterwende opera-heldinne. Is jy self ’n kenner van ou flieks en opera? Kan kan jy al daai eksotiese disse wat jy beskryf, self kook?

Ek is meer van ’n fliekfoendi as ’n operafoendi. Die flieks kon ek as ’t ware uit my duim suig, net datums of naamspellings nagaan; terwyl ek vir die operas bietjie meer navorsing moes doen. Die disse het ek beslis nie almal self gekook nie, maar darem amper almal self geproe!

Gepraat van films: daar is twee van jou boeke wat na bewering binnekort die grootskerm gaan tref, Vergenoeg en Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom. Dink jy jou boeke kan werk op die silwerdoek of is jy benoud oor die eindresultaat?

Ek hou my asem op en my hart vas. Almal vertel my altyd my boeke is “filmies” geskryf, waarmee hulle vermoedelik bedoel die tonele word visueel oortuigend voorgestel en die dialoog klink lewensgetrou, of so iets. Maar ’n rolprent is heeltemal ’n ander medium as ’n boek en ek sal seker benoud bly tot ek die eindproduk gesien het.  

Dis dalk ’n onregverdige vraag, maar watter van jou karakters sou jou beste vriendin gewees het as sy uit die blaaie van die boek kon klim?

Onregverdig! Elkeen sou iets anders vir my kon gee as vriendin, soos elkeen hopelik ook iets anders vir elke leser kan gee.

Gaan jy jou aanhangers weer straf deur hulle lank te laat wag vir die volgende roman?

Ek’s bly jy stel dit so, want ek’s altyd benoud dat ek hulle nie lank genoeg laat wag nie. Ek sou graag meer soos Marlene van Niekerk of Donna Tart wou wees, ’n enkele dik roman elke tien jaar, maar dit werk nie vir my nie.

Voltooi die sin: Marita voel vandag ...

... warm en lui, want hier’s ’n hittegolf in Provence en almal om my hou vakansie. (Dié dat ek hierdie vrae beantwoord eerder as om aan ’n storie te werk.)

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top