Nadine Gordimer nie meer by US Woordfees

  • 0

Die Nobelpryswenner Nadine Gordimer, wat vanjaar by die US Woordfees vereer sou word met ’n profiel-aanbieding op die skrywersprogram, kom nie meer na die fees nie.

Pan MacMillan, Gordimer se uitgewer, het feesorganiseerders per faks laat weet dat die skrywer kort na haar geskeduleerde Woordfees-optrede na Engeland reis om publisiteit te verleen aan haar nuwe boek, No Time Like the Present. ’n Optrede by die Woordfees in die week voor haar vertrek, sou blykbaar te spanningsvol wees vir die skrywer wat vanjaar 88 word.

“Dit is vir die US Woordfees ’n teleurstelling dat ’n skrywer van Nadine Gordimer se statuur dit goed gedink het om op so ‘n laat stadium, ses maande nadat sy toegestem het om Woordfees toe te kom, te laat weet dit kan nie meer gebeur nie,” sê Woordfeesdirekteur prof. Dorothea van Zyl. “Ons voel ook baie jammer vir mense soos Mongane Wally Serote en die ander skrywers, vir wie dit ’n baie spesiale geleentheid was om saam met haar op te tree, maar wens haar nogtans die beste toe vir haar besoek aan Engeland.”

Die Woordfees het reeds op 28 Julie verlede jaar ’n uitnodiging aan Gordimer gestuur vir optredes by die Woordfees, wat sy aanvaar het. Die digter en skrywer Mongane Wally Serote sou ’n rede by die profielgeleentheid vir Gordimer gelewer het, en die kitaarduo CH2 sou by dié glansgeleentheid optree.

Benewens die profielgeleentheid op 6 Maart, sou Gordimer op 7 Maart ’n voorlesing gelewer het saam met Serote, Gabeba Baderoon en Rustum Kozain. Organiseerders besin tans oor die moontlikheid om dié skrywers se optrede voort te sit ten spyte van Gordimer se afwesigheid. Kennisgewings oor aanpassings in die feesprogram sal op die fees se webwerf (www.woordfees.co.za) en in die media aangekondig word.

Feesgangers wat reeds kaartjies vir Gordimer se optredes gekoop het, sal deur die Woordfeeskantoor gekontak en ten volle vergoed word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top