Ná die seks

  • 1

Haar hande skep behendig ’n Solomonknoop.
Die vrou sien hoe mooi sý verlengde kortbeen groei en glimlag vir hom.
“Wat van ’n worssteek,” fluister hy.
Sy skud haar kop en sê: “Ons begin met ’n spykersteek.”

* * *

Hoe skryf ’n mens oor seks? Hoe skep ’n skrywer seksterme in Afrikaans?

Wat van die liefde? Is liefde en die letterkunde versoenbaar?

Dié vrae is gevra tydens ’n gesprek op 12 Maart 2015 by die US Woordfees. Die praatjie was getiteld “Letterkunde en die liefde: Teks en seks”. Tydens die gesprek het die uwe ’n verhoog met Kerneels Breytenbach, Riette Rust en Madri Victor gedeel.

Ander het reeds hieroor berig.

Willem de Vries se berig verskyn in Die Burger en Jean Oosthuizen s’n op LitNet.

Ek is gevra om nabetragting te hou. Is die beste deel van seks nie juis die gesprek in mekaar se arms ná die tyd nie?

Verveling?

Ene Ferdi Greyling het reeds voor US Woordfees sý misnoeë met hierdie poging getoon. Hy het dit só verwoord op my Facebook-muur:

Warra warra warra ..... trek uit en doen iets of shattap. Ou mense wat praat oor seks is baie ONseksie sou ek raai. (Ferdi Greyling, 25 Januarie, 15:53)

Ek weet nie of hy uiteindelik kom luister het nie; waarskynlik nie.

Greyling se misnoeë met die onderwerp is nie nuut nie.

Seks en die letterkunde het ook verlede jaar ter sprake gekom tydens die Open Book-fees toe Karin Schimke met Karina Szczurek, Michiel Heyns en Damon Galgut ’n gesprek gevoer het oor “Writing sexuality”. Dié gesprek het op 17 September 2014 plaasgevind. Ek het destyds kortliks daaroor berig.

Heyns en Galgut het albei aangetoon dat hulle effens verveeld is met seks in literêre werke; Schimke het ook haar misnoeë met die meeste sekstonele bevestig.

Om oor seks te praat kan sekerlik vervelig wees, maar om ’n verhoog te deel met Kerneels Breytenbach, Riette Rust en Madri Victor was pret. Die onderwerpe wat aangeraak is, sou in die volgende kategorieë ingedeel kon word:

  • die struktuur van die verhaal wat uitstel bewerkstellig
  • die woorde wat gebruik word
  • die rol van outsiders in die oopskryf van seks
  • die opkoms van die moderne liefdesverhaal ná val van die sensuurraad.

Van uitstel kom nog spel

Victor het begin deur te verwys na die mooi liefdestonele in Ester, waarop Breytenbach haar gekorrigeer het: “Sekstonele,” sê hy, “daar is min liefde in dié boek.”

In Ester is daar passasies waar die manlike hoofkarakter smagtend langs ’n kaal vrou staan. Sy is ervare, hy nie. Sy stel uit, sy weet hoe om hóm te speel.

Victor het hierop gereageer en gevra: Hang die skryf van goeie sekstonele dus af van die struktuur van die teks wat telkens die klimaks, selfs die daad, uitstel? Breytenbach doen dit telkens in sy skryfwerk en sy het dit ook in Byna liefde raakgeloop, sê Victor.

Dink mooi, antwoord Breytenbach haar, seks vind gewoonlik plaas tussen twee mense met hulle oë toe. Seks is ook nie ’n toeskouersport nie; die leser moet déél word van die ervaring.

Skrywers kan egter hulle lesers betrek net deur taal- en struktuurelemente aan hulle op te dis.

Om sensueel te skryf, moet ’n skrywer die leser vra om betrokke te raak, om die liefdesdaad in haar of sy kop te voltooi. ’n Ervare leser sal meer inlees in ’n teks as ’n onervare leser, en so sal ’n ervare leser die uitstel van die klimaks raaksien en waardeer.

Dis immers die onderskeid tussen erotika en pornografie: ’n pornograaf moet onmiddellik bevredig. Pornografie hoef nie swak of sleg te wees nie, dis gewoon anders as die erotiese.

Die erotiek stel uit. Die erotiek versluier, dit hou terug en terg. Roland Barthes skryf in Le Plaisir du Texte, in Engels vertaal deur Richard Miller as The pleasure of the text, die volgende:

Is not the most erotic portion of a body where the garment gapes? [...] [I]t is this flash itself which seduces, or rather: the staging of an appearance-as-disappearance. (Barthes 1975:9–10)

Barthes het hierna verwys as “tekstase”.

Uiteindelik is die ganse literêre bedryf egter ’n soeke na samesyn; tekste van enige aard is uiteindelik verleidelike objekte wat die leser stadig uitlok tot omgang:

[T]hey seek to lure, tantalise, seduce the reader into a world of his own. Only by forcing the act of reading to become one of imaginative possession, analogous in degree of involvement and active participation to the sexual act, can literature bring itself to life. (Hutcheon 1984:86)

Die leser word deel op meer as een manier

Soos tekste lank nie meer kan bestaan sonder ander tekste nie, soos die letterkunde nie kan beteken sonder die leser nie, so kan die diskoers op feeste en die verslagdoen daaroor nie meer los gelees word van die sosiale media nie.

Die internet het kritikus en doener, leser en prater nader aan mekaar gebring. Vier dae ná die Woordfeesgesprek skryf Juanita Viviers die volgende op my Facebook-muur:

Wanneer ’n intelligente skrywer jou betrek, laat hy jou voel jy mag eintlik nie daar wees nie. Dis privaat, daardie toneeltjie. Hy speel op jou skuldgevoel. Die versigtig gekose woorde laat jou op ’n mespunt balanseer. Jy wens hy wil vulgêr en pornografies wees sodat jy kan sê: “Dis hoekom ek daar was, ek moes ingryp.” Jy word oortuig dat jy presies soos die minnaars sou optree, al daardie asem ophou en wipplankryery. Jy begin hulle smeek om die daad te voltrek, nie om hulle onthalwe nie, maar om die pyniging om jou eie nood te verlos. Daardie onbeskryflike, hemelse verligting ... Jy is glad nie meer skuldig nie, jy is vergewe, losgekoop en oorgegee aan die genade van ’n skrander skrywer. (Juanita Viviers, 16 Maart, 07:41)

Beter kan ek dit nie sê nie.

Watter woord glip die maklikste in?

Taal is speels, dit is spuls. Taal verlei, maar dit kan ook in die pad wees.

Danksy Riette Rust se werk is die woord seksspeelding nou deel van die WAT, maar ons het steeds geen goeie woord vir ’n blow job nie. Breytenbach sê hulle het destyds by Human en Rousseau vreeslik hard gesoek na ’n goeie vertaling, maar selfs digters soos Breyten Breytenbach kon nie daarin slaag om ’n Afrikaanse woord uit te dink nie.

In Die AA tot OE van seks praat Rust gewoon van orale seks en gebruik dan die Latynse terme cunnilingus en felatio.

Rust het egter vele ánder terme in Afrikaans geskep. Met die woep-wap ervaar die vrou haar man se hele pakket; die slangelang is daar om die klitoris te terg; die vryval verskaf aardskuddende orgasmes; die tepelterger verskaf borsaksie; maar die spieëltafel-tafereel betrek die hele vagina. Vir vroulike videospeletjie-fanatici is daar die pretrit, want hier word die penis die stuurstang wat met die vagina beheer word.

Victor het egter tereg gesê dié woorde sal nie sommer in die alledaagse liefdespel opgeneem word nie: “‘Ag, skatlief, bring gou my vibreerbroekie sodat ons ’n bietjie kan hang-pangelang, toe?’

Uhm, I don’t think so,” was ’n opmerking wat sy gemaak het.

Korrek. Die skrýwer moet egter maniere vind om die leser te prikkel en te stimuleer; taal is die enigste middel om dit te doen.

Taal verlei, maar metafore en vreemde woorde in taal vertraag ook die tempo, net soos struktuurelemente dit doen:

Writing here is, of course, exhibitionistic in two different senses, sexually as well as lexically – at the level of world as well as at the level of words. Words compete for our attention with narrative contents that are, to say the least, arresting, and it is not clear which level wins out in the end. [The writer] induces a divided attention in the reader, forcing him or her to focus simultaneously on two centres of interest, foregrounded style and sexual content. (McHale 1987:152)

Daar is egter meer redes waarom speelse woorde in sekstonele gebruik word. Victor het daarop gewys dat woorde soos penis en vagina gou klinies klink in ’n teks.

Presies, sê Breytenbach, maar hoe beskryf jy ’n hele tantriese sekstoneel sonder om die woord vagina te gebruik? Dít was ’n uitdaging hy wat die hoof moes bied in Piekniek by hangklip. Sy oplossing het gekom uit ’n gedig van Lina Spies waarin sy van ’n “gekneusde leeubekkie” gepraat het.

Gayseks en die “ander”

Die belangrike werk wat Hennie Aucamp, Johann de Lange en Koos Prinsloo in die 1980’s en die 1990’s gedoen het om seks oop te skryf, is ook vermeld. Breytenbach sê: “Hulle het baie gedoen om die taal van seks te verbreed.”

Die gayskrywer was reeds op die rand van die samelewing en het makliker uitgedaag, ook in die skryf van seks.

Hierdie onderwerp het ook ter sprake gekom by verlede jaar se gesprek tydens Open Book.

Karin Schimke het toe daarop gewys dat gay skrywers aan die Engelstalige Suid-Afrikaanse letterkunde nuwe woorde geskenk het. Iets soos cottaging is byvoorbeeld onbekend in Suid-Afrika, maar dit kan vergelyk word met die term cruising wat hier ter lande gebruik word.

Die andersheid van seks

Tydens ons gesprek op die Woordfees is kortliks verwys na seksdade wat die grense verskuif, waarvan bondage, ’n term wat berug geword het danksy Fifty shades of Grey, maar een is. Die boek self is kontroversieel op verskillende maniere, maar daar is al vele ander boeke wat ook die leser se idee oor seksualiteit verbreed – Rust se ’n Lyf onthou doen dit ook.

Tydens Open Book verlede het jaar het Karina Szczurek ’n baie belangrike punt gemaak. Sy het gesê sy is “interested in sexuality beyond which I am comfortable” en vir haar is ’n boek, of dan om te lees oor daardie soort seks, ’n manier om in haar verbeelding te deel in dít wat sy nie noodwendig aan haar lyf gedoen wil hê nie.

Maar wat van die liefde?

Tydens ons gesprek by die US Woordfees het Kerneels Breytenbach daarop gewys dat die moderne liefdesverhaal baie gebaat het by die verslapping van die sensuurwette én die vryer omgang met seks in die teks.

Een persoon het, aldus Breytenbach, uitgestaan in die herontwikkeling van die liefdesroman in Afrikaans. Dit is danksy Cecilia Britz, wat in haar dienstydperk by die destydse Perskor-uitgewers só suksesvol was, dat hierdie genre die term hygroman aangeneem het.

Britz, wat tans hoof van fiksie by LAPA is, skerm deesdae teen dié term, want sy wys daarop dat die liefdesverhaal juis speel met dieselfde uitsteleffekte as die erotiese roman, maar sonder om te eroties te wil wees.

“Die uitgestelde begeerte bly belangriker as die daad self,” sê Britz aan Riette Rust (2009) in ’n Rapport-onderhoud ’n aantal jaar gelede:

Verliefdes in stories hoef nie meer voor die slaapkamerdeur om te draai nie, sê Britz. Maar die benaming “hygroman” het tot wanpersepsies gelei, want die liefdesroman gaan juis nié oor eksplisiete sekstonele wat karakters laat hyg nie. Hierin is die liefwordproses, oftewel emosionele belewing, van belang.

Handwerk

Die verglippende aard van seks en liefde het sigself ook afgespeel in die ATKV se boekwinkel by die US Woordfees, waar Ilse Carla Groenewald se pragtige, groot volkleurboek die Afrikamasutra die winkelbestuur ’n paar hoofbrekens gegee het.

Die boek is groot en moes, weens die inhoud, nie maklik vir kinders bereikbaar wees nie. Tussen die godsdiensboeke en die biografieë sou dit nie pas nie, ook nie by die beduidende afdelings wat deur die Boere-oorlog en Oscar Pistorius opgeneem is nie. Reisbeskrywings en natuurboeke was nader, maar ook nie heeltemal nie.

Dié boek het uiteindelik heel bo op die Handwerkrak beland, tot groot vermaak van die winkelbestuur en Groenewald self; want ’n mens kán steek vir steek meer oor jou geliefde kon leer.

Van handwerk gepraat: reg aan die begin van hierdie stuk verskyn ’n kort gedeelte oor die Solomonknoop (“Solomon’s knot”), die verlengde kortbeen (“extended single crochet”), die worssteek (“bullion stitch”), en die spykersteek (“spike stitch”). Dié pragtige Afrikaanse vertalings van hekelsteke kom uit Karen Adendorff se boeke Alles oor hekel en Alles oor hekel 2.

Mag woorde nog lank ons verbeelding aangryp.

Bibliografie

Adendorff, Karen. 2014. Alles oor hekel. Pretoria: LAPA.
—. 2015. Alles oor hekel 2. Pretoria: LAPA.
Barthes, Roland. 1975. The Pleasure of the Text. New York: Farrar, Straus and Giroux.
Breytenbach, Kerneels. 2011. Piekniek by Hangklip. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 2014 Ester. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Vries, Izak. 2008. Byna liefde. Kaapstad: Tafelberg.
—. 2014. Om oor seks te skryf. Izak Vertel, 11 Oktober 2014. http://blogs.litnet.co.za/izak/2014/10/11/om-oor-seks-te-skryf
De Vries, Willem. 2015. Drie skrywers praat oor seks en teks op Woordfees. Die Burger, 13 Maart 2015. http://www.netwerk24.com/vermaak/2015-03-13-drie-skrywers-praat-oor-seks-en-teks-op-woordfees
Groenewald, Ilse Carla. 2013. Afrikamasutra. Pretoria: Unisa Press.
Hambidge, Joan. Poststrukturalisme. In Cloete, TT (red.) (1992). Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM.
Hutcheon, Linda. 1984. Narcissistic narrative – the metafictional paradox. New York: Methuen.
James, EL. 2013. Fifty shades of Grey. Londen: Arrow Books.
McHale, Brian. 1987. Postmodernist fiction. New York: Methuen.
Oosthuizen, Jean. 2015. US Woordfees 2015: Letterkunde en die liefde, teks en seks.  LitNet, 17 Maart 2015. https://www.litnet.co.za/Article/letterkunde-en-die-liefde-teks-en-seks
Rust, Riette. 2009. Aspoestertjies. Rapport, 14 Maart 2009. http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2009/03/14/RH/V/boek2.html
—. 2012. ’n Lyf onthou. Pretoria: Protea.
—. 2013. Die AA tot OE van seks. Kaapstad: Tafelberg.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top