’n Dramatiese deurbraak kan in die stryd teen renosterhoring-stropers verwag word.
Navorsers aan ’n suidelike universiteit het bekendgemaak dat ’n revolusionêre middel in hulle laboratoriums berei kan word wat afgesnyde renosterhorings binne ’n ommesientjie volledig laat teruggroei. Die middel word berei uit testikulêre materiaal wat herwin word uit Viëtnamese en Tai-sakemanne wat renosterhoringpoeier as ’n seksuele stimulant gebruik.
Die bevinding is gemaak nadat skenkings aan ’n orgaanbank in Hanoi aan noukeurige roetine-ondersoek onderwerp is. Testikulêre skenkings is ’n algemene praktyk in Asiatiese lande waar daar nog geglo word dat die eienskappe van ’n skenker deur orgaaningestie aan ander wesens oorgedra kan word. Die toepassing van die Chinese jin/jang-ordeningsbeginsel het navorsers toe laat wonder wat sou gebeur as hierdie testes, verwerk tot ’n poeier, aan onthoringde renosters gevoer sou word.
So gewonder, so gedoen. Die stoutste verwagting word oortref en siedaar! ’n Wondermiddel vir die herstel van renosterhorings sien die lig!
Die projek het egter baie gou op praktiese oorwegings gestuit. Met die hewige slagting en onthoringing van renosters in die afgelope tyd het die Oosterse orgaanbanke net nie genoeg testesskenkings ontvang om in die toenemende vraag te voorsien nie. Wat nou gemaak?
Dit lyk asof die kapitalistiese markmeganisme, soos so dikwels in die verlede, uitkoms kan bring. Met die geweldige toename in die pryse wat vir wilde diere op die teelmarkte behaal word, is eienaars nou bereid om groot geld aan hulle duur diere se horings te spandeer.
Daar is reeds duidelike tekens dat sindikate wat bedrywig is in die florerende mark vir orgaanoorplantings besig is om hulle aktiwiteite na die horingmark uit te brei.
Die hoof van die polisiediens in Hanoi het juis verlede week bekend gemaak dat daar ’n onrusbarende toename is in gevalle waar sakemanne dood of sterwend in die omgewing van horingsnuifkroeë aangetref is. Omtrent in alle gevalle is hulle duidelik met ’n verdowingsmiddel uit ’n pylgeweer platgetrek, hulle testikels met ruwe snitte uit die skrotum verwyder en die oorskot net so in die strate laat lê.
Onderhoude wat joernaliste met bekende bendeleiers in Bangkok en Hanoi gevoer het, bevestig die verwantskap tussen hierdie soort moorde en die ontluikende testikulêre sluikhandel. Sommige bendes spesialiseer uitsluitlik in hierdie mark. So is die sogenaamde Gooliesgong- (letterlik Die Balbuiters-) sindikaat in Hanoi aan die spits van die hierdie wrede herwinningsprojek en word hulle beskou as die voorbokke in die kastyding van die horingsnuiwers. Die Gooliesgong staan onder die leiding van die Kong-familie. Die twee oudste broers, King en Viet, verklaar onomwonde dat hulle as diereliefhebbers nie veel meegevoel het met welgestelde sakemanne wat onverskillig staan teenoor die renosters wat hulle horings moet inboet om ligsinnige behoeftes te bevredig nie.
Horingsnuiwers raak ook duidelik beangs oor die nuwe verwikkelinge. Berigte uit beide Bangkok en Hanoi dui daarop dat daar ’n merkbare afname is in die eens uitspattige snuifpartytjies wat openlik in kroeë voorgekom het en dat die baldadige gesing van gewilde snuifliedjies soos “I have got a lovely bunch of coconuts” en “Vanaand gaan die volkies horing kry” eenvoudig nie meer in karaoke-kroeë gehoor word nie.
Soos die ou gesegde lui: “What goes around, comes around.”


Kommentaar
n Baldadige oplossing
Ek wens dit was waar. Ek dink baie mense voel so. Goed geskryf.