|
||||||||
Opsomming
’n Globale oorsig van die ontwikkeling van kliniese regsopleiding toon aan dat daar wêreldwyd gepoog word om kliniese regsopleiding te bevorder.
Hierdie artikel bespreek die ontwikkeling van universiteitregsklinieke en kliniese regsopleiding in Sentraal-Asië, die Midde-Ooste, Oos- en Suidoos-Asië. Die vroeë ontwikkeling van kliniese regsopleiding in sommige lande word aangedui. Studente-aktiwiteite was die dryfveer agter die oprigting van regsklinieke en bly steeds die steunpilaar in vele jurisdiksies. Die relatief beperkte teenwoordigheid in sommige jurisdiksies belig die belang van sosiale en beleidsomstandighede.
Kliniese regsopleiding is buigsaam ten opsigte van studente se leeruitkomste en dienslewering. Alhoewel lewende-kliënt-regsklinieke in baie lande die fokus is, word dit ook aangevul deur intern- en eksternskappe, skynhowe, simulasies en Street Law-programme, wat veral prominent regoor Asië is. Ander vorme van openbare regsopleiding kom ook voor.
Kliniese regsopleiding omvat verskeie vorme van ervaringsleer. Indonesië en Oesbekistan het vrywilligersprogramme. Singapoer bied aktiwiteite in vennootskap met nieregeringsorganisasies aan. Indië vereis verpligte opdragte wat die teorie van kliniese opleiding behels. In Bangladesj en Oesbekistan word samewerkingsmodelle gevolg, met Bangladesj wat ook prominente buitemuurse regsklinieke het. Kultureel-spesifieke faktore beperk die ontwikkeling en volhoubaarheid in sommige lande. In Indonesië ontwikkel studente ’n dieper begrip van inheemse reg en die belangrikheid van samewerking met gemeenskapsleiers. Sodanige samewerking is ook in Indië waargeneem.
Die begrip regskliniek word egter soms onakkuraat beskryf, soos in Iran, waar regsklinieke deur praktisyns beman word wat dienste teen ’n verminderde fooi aanbied, sonder ’n fokus op studente-opleiding. Katar beleef die opkoms van regshervormingsklinieke, waar nagraadse studente navorsing vir eksterne organisasies doen.
Vele jurisdiksies onder bespreking, volg nie die onderskeidende faktore in kliniese regsopleiding nie, dikwels weens faktore soos maatskaplike en beleidsvoorwaardes. Ondanks die feit dat kliniese regsopleiding in sommige jurisdiksies binne hul unieke omstandighede vlot verloop, word die daadwerklike pogings tot vernuwing verwelkom.
Trefwoorde: eksternskap; internskap; kliniese regsopleiding; lewende kliënt; openbare regsopleiding; regsklinieke; samewerkingsmodelle; simulasie; skynhowe; Street Law-programme
Abstract
A world view of clinical legal education: Central Asia, the Middle East, East Asia and South-East Asia, as well as South Asia
A global overview of clinical legal education (CLE) shows that there are ongoing efforts worldwide to promote CLE. The development of university law clinics and CLE in Central Asia, the Middle East, East Asia and South-East Asia indicates concrete attempts to expose law students to legal practice in various ways, often under very challenging circumstances. The guidelines for CLE are, however, not followed uniformly across all the jurisdictions under discussion.
CLE in Afghanistan is currently on hold due to the political climate under the second Taliban regime, despite the presence of Afghan and Sharia law clinicians who were initially at the forefront of Afghanistan’s emerging clinical movement. In Georgia, CLE has evolved significantly since the Soviet era. A focus on the application of substantive law led to the development of law clinics. Some university law clinics – mainly aimed at master’s students – are in-house, whilst others partner with external entities, with students working under the supervision of legal practitioners.
Iran’s first university-based law clinic was established in 2007 after a week-long training workshop in South Africa. Upon their return to Iran, these clinicians presented workshops at several universities, paving the way for the establishment of law clinics in Iran. CLE at the Qatar University College of Law began in 2012 with a family violence clinic focused on legislative reform to criminalise family violence. Their Street Law programmes focus on community education.
Six university law clinics were established in Palestine with assistance from the United Nations. Local support for tribal and customary dispute resolution processes allows students to experience the interface between formal law and customs. However, bureaucratic politics restrict Palestinian clinics from fully developing their programmes.
Modern CLE in Russia emerged as a result of the fundamental changes following the collapse of the Soviet Union. University law clinics tend to avoid matters of serious public interest due to political sensitivity. Issues of race and gender are considered particularly risky, as they are generally viewed as unimportant in the Russian context. Russian law clinics are usually supervised by former students working as volunteers, due to political instability.
In Türkiye, practical legal training falls under the jurisdiction of the bar council and law clinics have not firmly taken root, despite attempts by academia. The attempted coup d’etat in 2016 significantly altered the political climate and affected universities, overturning 50 years of appointment traditions, resulting in the closure of developing clinics in 2018. During 2018–2019, some universities established clinics with limited scope, often without adhering to basic clinical methods.
At the beginning of the 20th century, legal training in Uzbekistan was Islamic in nature. During the Soviet era, it followed Marxist theory and case law. In contemporary Uzbekistan, legal education is a priority and significant reforms have been implemented to align with global standards. Several clinics have since been established at law schools.
Most law schools in Indonesia offer legal aid programmes. However, there is no universal programme and each campus develops legal aid in accordance with their abilities and requirements. Clinical courses are not continuously offered as mandatory components of the curriculum.
CLE was introduced in Japan 20 years ago as an experimental programme. However, early expectations were not met and CLE did not expand as expected.
Several law schools in Singapore have established clinics that include community services and judicial clerkships. One family law clinic offers an accredited clinical course.
CLE has not developed significantly in Taiwan. None of the 28 law faculties offer a compulsory clinical course.
In Thailand, law clinics have played a significant role for several decades in delivering legal services to communities. Although law clinics have gained more official status at Thai universities, the primary focus remains on legal services rather than student education.
CLE is still in its early stages of development in Vietnam, where community legal education – similar to Street Law – is the dominant model.
The Universiti Sains Islam Malaysia established a law clinic in 2000 with the goal of integrating civil and Sharia law.
At the Kathmandu Law School in Nepal, students provide supervised legal aid to prisoners and victims of human rights violations. Two mobile clinics serve Nepalese citizens in need.
The legal academy in Bangladesh has not formally adopted CLE, though certain clinical methods are used outside of the law school context. Within the law school, the focus is on moot courts.
In Bhutan, partnerships with community organisations are the primary mode of CLE. CLE is a compulsory course offered at the three university law clinics.
In India, CLE remains in its fledgling state in most law schools. Many law schools operate student-driven legal aid cells focused on community services, with a specific focus on combatting caste discrimination and promoting women’s rights.
In Pakistan, the bar, which rules legal education, does not require CLE to be mandatory. The handful of university law clinics therefore use moot courts as a form of practical education. No academic credits are earned for participation.
Keywords: clinical legal education; cooperation models; externship; internship; law clinics; live client; mock trials; public legal education; simulation; Street Law programmes
1. Inleiding
Eksperimentering is reeds in die 4de eeu v.C. deur Griekse filosowe, soos Sokrates en Aristoteles, asook deur Middeleeuse filosowe, soos Bacon in die 13de eeu n.C., as ’n noodsaaklike voorvereiste vir opleiding beskou.1 In die 19de eeu het Dewey aangedui dat ware opleiding uit lewenservarings, waaroor besin word, bestaan, eerder as die blote memorisering van feite.2 Hierdie sentimente word vandag deur die kliniese regsopleidingsmetodiek ondersteun.
’n Aantal Suid-Afrikaanse universiteitregsklinieke is in die 1970’s gestig,3 hoofsaaklik aangevoer deur studente, in opposisie teen die apartheidsregering se beleid.4 Die kliniese programme was hoofsaaklik daarop gerig om toegang tot regsdienste aan arm en kwesbare mense te verskaf, aangesien daar beperkte staatsregshulpfasiliteite was.5 Buitelandse skenkerondersteuning was vir verdere ontwikkeling verantwoordelik.6 Daar is tans 21 universiteitregsklinieke in Suid-Afrika by die South African University Law Clinics Association (SAULCA) geregistreer.7
Die opkoms van regskoolgebaseerde kliniese opleiding word as ’n beduidende innovasie in moderne regsopleiding erken,8 aangesien die korrekte aanwending daarvan die streng universiteitstoeligting met die praktyk integreer, wat regstudente aan etiese en sosiale geregtigheid blootstel wanneer hulle met kliënte werk. Kliniese regsopleiding bevorder ook studente se betrokkenheid by hul plaaslike gemeenskappe, wat hul oorvleuelende belange van regstoegang, menseregte en die erkenning van die oppergesag van die reg versterk. Die relatiewe skaarste aan kliniese regsopleiding in sommige jurisdiksies beteken dat faktore soos maatskaplike en beleidsvoorwaardes, wat ’n belangrike rol speel, nagelaat word. Kragtige bondgenote in die regskool, universiteit, regsprofessie, die regbank en die burgerlike samelewing is rolspelers in die bevordering en konsolidasie van kliniese programme. Entoesiastiese studente wat gretig is om die reg op ’n konstruktiewe en praktiese wyse te beleef, dra by die sukses van kliniese programme. Die onderskeidende faktore in kliniese regsopleiding sluit in betrokkenheid by werklike kliënte onder behoorlike kliniese toesig, klaskamer- en tutoriaalaktiwiteite, ’n fokus op sosiale geregtigheid en gestruktureerde refleksie.9
Alhoewel hierdie faktore die ideaal verteenwoordig, sal aangetoon word dat sommige regskole – en die regerings in sommige van die jurisdiksies wat bespreek word – opportunisties is wanneer hulle na kursusse as klinies verwys, sonder enige aktiewe betrokkenheid by kollegas, kliënte of gemeenskappe.
’n Globale oorsig van die ontwikkeling van kliniese regsopleiding sal aantoon dat daar wêreldwyd gepoog word om kliniese regsopleiding te bevorder. Die bespreking sal onder meer ook demonstreer dat die oprigting van regsklinieke in vele jurisdiksies met die ontstaan van kliniese regsopleiding in Suid-Afrika ooreenstem, naamlik dat studente-inisiatiewe die primêre dryfveer was, ondersteun deur buitelandse klinici en eksterne befondsing. Daar sal ook aangetoon word hoe sommige regsklinieke in onderdrukkende politieke omstandighede – soos Suid-Afrika gedurende apartheid – voortgaan om hul regsklinieke uit te bou en te onderhou.
Suid-Afrikaanse universiteitregsklinieke kan baat vind by die oorweging van die uitdagings en die inisiatiewe wat kliniese regsopleiding in die jurisdiksies onder bespreking bevorder, ten einde die optimale funksionering van hul regsklinieke te verseker.
Hierdie studie omvat ’n oorsig van kliniese regsopleiding in Sentraal-Asië, die Midde-Ooste, Oos- en Suidoos-Asië, Sentraal-, Oos- en Wes-Europa, Noord-Amerika, Latyns-Amerika, Afrika, Oseanië, die Verenigde Koninkryk en Ierland.10 In hierdie artikel, die eerste in ’n reeks, word die ontwikkeling van universiteitregsklinieke en kliniese regsopleiding in Sentraal-Asië, die Midde-Ooste, Oos- en Suidoos-Asië bespreek.11
2. Kliniese regsopleiding in Sentraal-Asië en die Midde-Ooste
In die uitgestrekte streke van Sentraal-Asië en die Midde-Ooste word regskliniekontwikkeling in Afghanistan, Georgië, Iran, Katar, Palestina, Rusland, Turkye en Oesbekistan ondersoek.12
2.1 Kliniese regsopleiding in Afghanistan
Die Islamitiese Republiek van Afghanistan het reeds onsekerheid rakende sy polities-ekonomiese toekoms in die gesig gestaar toe buitelandse militêre magte in 2014 begin onttrek het – sewe jaar voordat die land vir die tweede keer in die Taliban se hande geval het. ’n Kader van Afghaanse reg en Sharia-fakulteit was nogtans aan die voorpunt van die land se ontluikende kliniese beweging, ondersteun deur ’n aantal studente – waarvan baie ’n LLM-graad in die Verenigde State van Amerika verwerf het – wat gretig was om werklike kliënte by te staan. Verskeie regsdekane het van die idee gehou om ’n regskliniek of soortgelyke opvoedkundige inisiatief te loods.13
Gedurende hierdie tydperk het regsopleiding en -praktyk in Afganistan vier kenmerke gehad: deurlopende politieke onsekerheid; ’n skeiding tussen die fakulteite van Sharia en politieke wetenskappe; historiese en deurlopende vertroue op informele regsmeganismes; en veelvuldige vennootskappe met buitelandse nieregerings- en ontwikkelingsorganisasies. Ná die val van die eerste Taliban-regering in 2001, is aansienlike befondsing toegeken vir die heropbou en ontwikkeling van Afghanistan.14 Sommige van hierdie fondse was vir die oprigting van regsklinieke geoormerk en om te verseker dat kliniese regsopleiding in die regskurrikulum geïntegreer word.15 Sekuriteit en regeringstabilisasie was egter steeds ’n oorhoofse bekommernis, ten spyte van die val van die Taliban Emiraat ná die Verenigde State van Amerika se militêre ingryping in 2001.
Vir etlike jare daarna was toegang tot regsdienste meer geredelik beskikbaar en nieregeringsorganisasies (NRO’s) het ’n belangrike rol in die opleiding van regstudente gespeel. Baie van hierdie organisasies het egter uiteindelik kontrakbreuk gepleeg, deur onder meer hul steun te onttrek of op te hou om met ander te koördineer.16 Mededinging om toelaes het soms tot spanning en gebiedsoorloë gelei. Voornemende ontvangers van toelaes was gretig om die skenkers tevrede te stel en het onafhanklik van ander entiteite begin optree. Hierdie fragmentasie het deurlopend in die tydperk tussen die twee Taliban-regerings plaasgevind.17
Gedurende hierdie tyd is talle opnames, studies en verslae rakende onderwerpe soos menseregte, vroueregte, straf- en gewoontereg, en toegang tot die reg voorberei. Gevolglik was daar voldoende data om die werk van regsklinieke te lei. Verskeie regskole het strukture en protokolle vir saakhantering daargestel, alhoewel sommige sake slegs teoreties was. Regsdosente en buitelandse skenkers het die formele regsektor bo gewoontereg, informele reg of die Sharia-tribunale verkies. Die huqooq-stelsel, wat etlike eeue gelede ontstaan het, is in 2009 gekodifiseer. Dié stelsel het ten doel gehad om geskille en siviele regsake tussen burgers en individue, asook tussen burgers en regspersone te besleg deur stamouderlinge, patriarge en hoofmanne.18 Sulke tradisionele forums vir die opklaar van geskille is egter as ongeskik vir die doeleindes van kliniese regsopleiding beskou.19
Deurlopende steun op tradisionele opleidingsmodelle, tesame met Afghanistan se spesifieke regstradisies en sosio-kulturele milieu, het beduidende struikelblokke vir die ontwikkeling van regsklinieke gebied. Dit het studente met min geleenthede vir praktiese opleiding gelaat. Die mees opvallende kenmerk was die onderskeid in die fakulteite van Islamitiese reg en politieke wetenskappe, wat daartoe gelei het dat studente nie voldoende opgelei is in die integrasie van statutêre reg met Sharia-beginsels nie – ’n benadering wat algemeen in Afghaanse howe gebruik word.20
In reaksie hierop het die Ministerie van Hoër Onderwys in 2013 ’n gesamentlike koördineringskomitee gestig om ’n kredietstelsel vir regs- en Sharia-fakulteite te ontwikkel en om meer praktiese komponente, soos regsklinieke en skynhowe, daar te stel.21 Die komitee blyk egter onaktief onder die tweede Taliban-regering te wees.
In 2023 het die Ministerie van Hoër Onderwys beveel dat alle boeke van die “Republikeinse era” verwyder moet word en dat alle boeke wat strydig met die Hanafi- (Sunni Islamitiese) regspraak is, vernietig moet word.22 Die meeste Westers-opgeleide professore is afgedank, het gevlug, of verkeer in ballingskap. Dit het tot ’n drastiese afname in doseringskapasiteit gelei. Studentegetalle het afgeneem as gevolg van die drastiese beperkings op sekondêre en hoër onderwys van meisies en vroue.23
ALPA, ’n Akademie in Ballingskap in die Verenigde State van Amerika, bestaan uit Afghaanse immigrante – insluitend professore, regsgeleerdes en regters – wat as ’n voorlopige regsfakulteit dien in afwagting van toekomstige politieke verandering in Afghanistan.24 Die Amerikaanse Universiteit van Afghanistan, wat ’n aantal Westers-opgeleide graduandi insluit, het ná die tweede Taliban-oorname vinnig na Katar verskuif.25 Gevolglik is kliniese regsopleiding in Afghanistan tans dormant.
2.2 Kliniese regsopleiding in Georgië
Regsopleiding in Georgië het vinnig sedert die Sowjet-era verander, met ’n toenemende klem op die toepassing van substantiewe reg, gedryf deur ’n arbeidsmark wat meer as net teoretiese kennis vereis. Die mees doeltreffende manier om hierdie gaping te oorbrug, was deur die vestiging en ontwikkeling van regsklinieke. ’n Studie in 2018 het aangetoon dat kliniese regsopleiding by universiteite in Georgië ’n beduidende impak het en ’n basis vorm vir studente se toekomstige sukses as regsgeleerdes. ’n Praktykgerigte komponent is nou ’n akkreditasievereiste by regskole, waarvan die meeste dit nou in die vorm van regsklinieke aanbied, sommige intern en ander in vennootskap met eksterne entiteite.26 Kliniese regsopleiding is hoofsaaklik gemik op meestersgraadstudente. As gevolg van hoë studentegetalle word sodanige opleiding as ’n keusevak aan ’n beperkte aantal studente gebied.27
Die meeste regsklinieke in Georgië is op die gebied van siviele en administratiewe reg werksaam, terwyl sommige op grondwetlike reg fokus. Slegs ’n paar klinieke is betrokke by strafreg.28 Openbare regsopleiding neem die vorm van Street Law aan, waar studente hoofsaaklik skole besoek. Bemiddeling, alhoewel redelik beperk, is ’n groeiende gebied in Georgië en word ondersteun deur die gebruik van simulasies en rolspel.29
Universiteite met interne regsklinieke sukkel met befondsing. ’n Besondere probleem was die relatiewe gebrek aan kliënte, ’n situasie wat gevorm is deur Georgië se Sowjet-era-nalatenskap waarin die regering net aan basiese behoeftes voorsien het. Gratis hulp deur NRO’s is dikwels met agterdog bejeën, alhoewel hierdie persepsie geleidelik verbeter. Die ontwikkeling van regsklinieke in Georgië word sedert die vroeë 2010’s deur gewillige dosente aangehelp, asook onderskeie USAID “Rule of Law”-programme,30 beide in die hoofstad Tbilisi en omliggende streke.
Die ontwikkeling van regsklinieke het in die laat 1990’s begin as eksterne regsklinieke wat deur NRO’s ondersteun is, bekend as Stadsraadklinieke, beman deur studente van die Tbilisi Staatsuniversiteit. Regsklinieke was aanvanklik opsioneel by universiteite, maar het sedertdien by sommige instellings verpligtend geword.31 Verdere regsklinieke is vanaf 2006 ontwikkel met die ondersteuning van die Amerikaanse balievereniging.
Gedurende die hervormings in die 2000’s het Tbilisi Staatsuniversiteit se Stadsraadklinieke as eksterne regsklinieke met regspraktisyns saamgewerk, wat toesig oor studente in die kliniese program gehou het. Uiteindelik het deelname aan die regskliniek verpligtend vir meestersgraadstudente geword. Die regshulpsentrum by die New Vision Universiteit het in 2014 as ’n interne regskliniek geopen en funksioneer as ’n privaat niewinsgewende instituut. Hierdie regskliniek aanvaar ook studente van ander universiteite, wat sterk mededinging verseker om die beste studente te lok. Studente konsulteer en stel regsdokumente onder toesig van ’n gekwalifiseerde prokureur op.
Die Universiteit van Georgië het in 2015 ook ’n interne regskliniek gestig wat fokus op kontraktereg, familiereg en arbeidsreg. Die regskliniek word deur die universiteit befonds, alhoewel kliënte in sommige gevalle gevra mag word om ’n bydrae te maak – aansienlik minder as die koste van ’n privaat praktisyn – in ooreenstemming met die universiteit se reëls.
Kliniese programme word ook in ander streke van die land ontwikkel, soos by Batumi Shota Rustaveli Universiteit en Akaki Tsereteli Kutaisi Staatsuniversiteit, beide in die weste van Georgië.32
2.3 Kliniese regsopleiding in Iran
Die Islamitiese Republiek van Iran het meer as 50 regsfakulteite. Iran se moderne regstelsel en regsopleiding is hoofsaaklik deur regsgeleerdes gevorm wat in Frankryk, Switserland en België opgelei is. Studente gradueer sonder dat hulle regskonsultasies hoef te voer, hofsittings by te woon of hofstukke op te trek. Voornemende regspraktisyns moet egter ’n leerklerkskapsprogram voltooi, wat ongeveer ’n jaar duur.33
’n Beduidende mylpaal in regsopleiding was die daarstelling van Iran se eerste universiteitsgebaseerde regskliniek in 2007, aangevoer deur ’n vyfjaarprojek (2005 tot 2009) met die ondersteuning van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) en agt menseregte-organisasies.34 In Januarie 2007 het agt lede van verskeie Irannese universiteite ’n weeklange opleidingswerkwinkel in Suid-Afrika bygewoon. Hierdie groep het met hul terugkeer na Iran werkwinkels by verskeie universiteite aangebied, wat die weg gebaan het vir die daarstelling van regsklinieke by universiteite in Iran.35
Mofid Universiteit, geleë in die stad Qom, se regskliniek het in April 2007 geopen, met ’n fokus op familiereg en vrouekwessies. Die kliniese regsopleidingsprogram is by die kurrikulum gevoeg, met eindeksamens wat in die vorm van simulasies in ’n virtuele hof voor ’n paneel van regspraktisyns en regsprofessors afgelê is. Samewerking tussen die regskliniek en die Qom-regbank het studente toegelaat om hofsake by te woon, wat voorheen ’n ongewone praktyk in Iran was.36
Die Universiteit van Shahid Beheshti se regsklinieke vir vroue en kinders is in Maart 2008 geopen, wat studente ook toegelaat het om hofsake by te woon ten einde vertroud te raak met hofprosedures.37 Die grootste regskliniek in Iran is in 2021 by Allameh Tabataba’i Universiteit geopen, waar aanlyn konsultasies sedert November 2021 beskikbaar is.38 Hierdie regskliniek fokus op kontraktereg, familiereg en siviele registrasiereg, wat die registrasie van geboortes, sterftes en ander belangrike gebeure reguleer. Die regskliniek beoog ook om in die toekoms in-persoon konsultasies te doen.
Die regstudente-organisasie is verantwoordelik vir die organisering van die aanbieding van kursusse, alhoewel hulle nie direkte kontak met kliënte het nie. Studentedeelname is opsioneel en kliniekdienste word teen ’n verlaagde tarief aangebied. Die begrip regskliniek word soms verkeerd toegepas, aangesien sommige professors ook as praktisyns by privaat firmas praktiseer. In sulke gevalle word regsklinieke met universiteite geaffilieer, soos Ferdowsi Universiteit van Mashhad, Damghan Universiteit en Maybod Universiteit. Hierdie universiteite bied egter nie gratis dienste nie. Die privaat praktisyns sal slegs oorweeg om teen ’n laer tarief te konsulteer.39
2.4 Kliniese regsopleiding in Katar
Die Emiraat van Katar is beskryf as ’n ekonomiese, politieke en sosio-kulturele leier in die Golf-streek en op internasionale fora, ná dit gegroei het vanuit ’n obskure Golf-prinsdom.
Verskeie opnames wat tussen 2004 en 2006 gedoen is, het egter kommerwekkende vlakke van geweld teen vroue en kinders aan die lig gebring.40 Gesinsgeweld word egter nie ingevolge Katar se strafreg as ’n misdaad geklassifiseer nie. Nietemin het Katar se Nasionale Ontwikkelingstrategie van 2011 vooruitsig getoon in die ontwikkeling van ’n kliniese pedagogie wat die waardes van openbare verantwoordelikheid en sosiale geregtigheid insluit. Kliniese regsopleiding kan in werklike omgewings of deur middel van simulasie plaasvind.41
Kliniese regsopleiding het in 2012 by die Katar Universiteit Regskollege (QUCL) begin, wat in 2006 gestig is, met die bekendstelling van ’n gesinsgeweldkliniek as ’n “spesiale onderwerp”-kursus waar studente noodsaaklike regsvaardighede aanleer.42 Die regskliniek het ten doel gehad om wetgewing daar te stel wat gesinsgeweld kriminaliseer. Studente het die Grondwet en Strafkode bestudeer, asook gesinsgeweldwetgewing in ander Moslemlande soos Jordanië, Bangladesj, Indonesië, Maleisië, Tunisië, Turkye en Albanië. Studente is ook van template van Brittanje en die Verenigde State voorsien.43 Die uiteindelike doel was om die studente se voorgestelde wetgewing aan die Opperraad vir Gesinsake en die Ministerie van Justisie voor te lê.44
’n Kliniese professor by QUCL dui aan dat daar geen algemene verpligting op Katar se regsgeleerdes rus om regshulp aan kwesbare groepe te lewer nie. Die uitsondering kan in artikel 61 van Qatari Law No. 23 van 2006 gevind word, wat bepaal dat wanneer die President van die Hof van Eerste Instansie ’n bevel aan ’n prokureur uitreik, laasgenoemde nie mag weier nie, tensy hul verskoning vir die opdraggewer aanvaarbaar is (artikel 63).45 ’n Aantal regsfirmas het die Dafaa Bala’a-inisiatief geloods, wat regshulp aan armes verleen. Hierdie groep borg ook konferensies wat deur QUCL aangebied word.
QUCL bedryf ’n algemene regskliniek, maar vind dat baie sake op arbeidsreg fokus. Strafsake teen trekarbeiders is ook besig om toe te neem. Die meeste van die regskliniek se kliënte is egter nie burgers van Katar nie.46 Die regskliniek werk ook aan verskeie projekte wat ten doel het om regsadvies oor onderwerpe te gee, soos internasionale verantwoordelikheid vir die oordrag en verspreiding van virusse en pandemies, die staat se administratiewe gesag om vryhede te beperk in die belang van openbare veiligheid, en die rol van die siviele en privaatsektore binne die kultuur van vrywilligerswerk. Hul Street Law-program fokus op gemeenskapsopvoeding, spesifiek deur die werksaamhede van die Departement van Arbeidsverhoudinge te bevorder en die publiek oor hul arbeidsregte in te lig.47
2.5 Kliniese regsopleiding in Palestina
Hebron is die digbevolkste distrik in die staat van Palestina, wat deur die Palestynse Owerheid beheer word.48 Hebron Universiteit is in 1971 met slegs die Fakulteit van Islamitiese Reg gestig en in 2008 is die Reg- en Regspraak Departement gestig. Al-Quds Universiteit was in 1995 die eerste om ’n aaneenlopende regsprogram aan die bied, en het ook tien jaar daarna die eerste regskliniek opgerig.49 In 2009 het die UNDP gehelp met die oprigting van ses universiteitregsklinieke,50 wat Hebron ingesluit het, waar werksaamhede in 2011 begin het. Studente het daar hul vaardighede in navorsing en voorspraak ontwikkel deur gemeenskapsregsopleiding en mediaprogramme.51
Die plaaslike steun op stam- en gewoonteprosesse in geskilbeslegting maak dit vir studente moontlik om die koppelvlak tussen reg en gewoonte te ervaar.52 Palestynse regsklinieke het nie volkome vryheid om hul programme te vestig nie as gevolg van burokratiese politiek. Die Hebron-regskliniek het egter binne sy eerste jaar begin spesialiseer. Vroeë sake het gefokus op kwessies rakende eiendoms-, arbeids-, straf- en familiereg.
Binne die konteks van die militêre besetting van Palestina en die teenwoordigheid van gewapende Israeli-setlaars in Hebron, moes die regskliniek met verskeie menseregtekwessies werk, in ooreenstemming met die spesiale prosedures van die Verenigde Nasies se Menseregteraad. Verdere spesialisasieregsklinieke het gevolg, naamlik op die gebiede van jeuggeregtigheid en vroueregte. Loodsregsklinieke in 2015 het op akademiese vryheid, die reg tot eiendom en beskerming teen geweld gefokus.
Die algemene benadering tot regsopleiding by Arabiese universiteite is hoofsaaklik teoreties. Kliniese regsopleiding by die Hebron-regskliniek wissel soms en sluit die volgende modules in: regskryfwerk, prokureursvaardighede, prosesreg, praktykbesoeke en Street Law. Buitemuurs neem studente aan skynhofkompetisies deel. Die regskliniek is ook by die plasing van internskappe vir studente betrokke.53
2.6 Kliniese regsopleiding in Rusland
Die konsep van regsklinieke as ’n opleidingsvorm is in 1855 deur Dmitry Ivanovich Meyer, ’n regsprofessor by Kazan Universiteit voorgestel,54 waarna hy ’n regskliniekprojek by die universiteit geloods het.55 Die regskliniek het ná sy dood voortgegaan om te funksioneer en sy kollegas het selfs ’n versoek aan die Onderwysministerie gerig vir die institusionalisering van die regskliniek. Alhoewel die voorlegging goed ontvang is, het die regskliniek slegs tien jaar bestaan.56
Moderne Russiese kliniese regsopleiding is gevorm deur die fundamentele veranderinge wat gevolg het op die val van die Sowjetunie in 1991.57 Die Russiese Grondwet waarborg regsverteenwoordiging in strafsake. Die regshulpsfeer het onlangs beduidende veranderinge ondergaan, met baie nieregeringsregshulpvoorsieners – spesifiek dié wat op menseregte fokus – wat ophou bestaan het as gevolg van onderdrukkende wetgewing. Regsklinieke het dus die primêre voorsieners van regshulp geword, wat tot ’n hernude belangstelling in regsklinieke gelei het asook pogings om minimum vereistes vir regskliniekaktiwiteite te skep.58
Die Russiese Federasie was deel van die Bologna Process in 1999, wat tot nuwe onderwysstandaarde gelei het.59 Gedurende die 1990’s het sommige regsklinieke ontstaan as gevolg van die pro bono-projekte van dosente, maar die meeste regsklinieke is met die hulp van buitelandse kollegas gestig. Kliniese professors van die VSA het hulp verleen aan die Universiteite van Petrozavodsk in Karelia en Pomor in Arkhangelsk. Professors van lande met ’n Oosterse kliniese tradisie, soos Bangladesj, het die regskliniek by Tver Universiteit bygestaan. Street Law-professors van Australië, Suid-Afrika en Pole het nou saam met Russiese lewende-kliënt-regsklinieke gewerk.
Daar is tans ongeveer 500 regskole en meer as 300 regsklinieke in Rusland. Sommige regsklinieke het hulself onderskei met oorspronklike kliniese programme. Krasnoyarsk Staatsuniversiteit het ’n menseregtekliniek, St. Petersburg Staatsuniversiteit bedryf ’n verpligte vaardigheidskliniek en Moskou Staatsuniversiteit bedryf ’n projek wat fokus op die morele opleiding van studente. Die interne struktuur van regsklinieke wissel: sommige funksioneer soos klein regsfirmas, waar senior studente en ’n praktisyn toesig oor die juniors hou,60 terwyl ander ten volle deur studente bedryf word,61 aangesien studente verskyningsbevoegdheid het.
Kliniese kursusse word op vier primêre maniere by Russiese regskole se kurrikula ingevoer: a) slegs enkele regskole maak dit verpligtend vir alle studente, b) sommige bied dit slegs as ’n keusevak aan, c) die meeste is vrywilligersprojekte, en d) dit word soms as ’n verpligte internskap tydens die somer of winter aangebied. Ondanks die feit dat kliniese regsopleiding ’n integrale deel van die kurrikulum is, ontvang regsklinieke beperkte ondersteuning van hul regskole. Baie universiteite spog desondanks geredelik met hul klinieke by die Onderwysministerie.62
Tans is universiteite en regsklinieke geneig om sake van ernstige openbare belang te vermy, aangesien dit polities sensitief is en konflik met magtige persone of staatsentiteite kan veroorsaak. Ras- en geslagskwessies word nie as belangrik binne die Russiese konteks beskou nie en bespreking van dié onderwerpe is uiters riskant. Akademiese klinici geniet nie dieselfde mate van erkenning as hul eweknieë in die tradisionele regsopleidingsvakke nie en daar is meestal geen akademiese waarborge rakende permanente aanstellings of vergoeding nie.
Hierdie onstabiliteit veroorsaak dat Russiese regsklinieke oor die algemeen deur voormalige studente, wat as vrywilligers optree, bestuur word.63 Tans is demokrasie, universiteitsoutonomie en akademiese vryheid onder druk. Gelukkig is regsklinieke reeds by universiteite ingelyf, wat hoop bied dat hulle ná hierdie donker periode weer hul oorpronklike doelstellings kan hervat.
2.7 Kliniese regsopleiding in Turkye
Regsopleiding in Turkye is formalisties en praktiese opleiding word aan die balieraad oorgelaat. Regsklinieke in Turkye het, ten spyte van pogings deur die akademie, nog nie behoorlik posgevat nie. Die eerste regskliniek is in 2003 by die regsfakulteit van Bilgi Universiteit in Istanbul gestig, volgens Amerikaanse en Suid-Afrikaanse modelle, ten einde hul Vlugtelingskliniek en Street Law te ontwikkel.64 In 2005 het professor Gülriz Uygur, sonder fakulteitstoestemming, ’n regskliniek by Ankara Universiteit ontwikkel, in die hoop dat goeie resultate die dekaan sou oorreed om nie hierdie ongetoetste inisiatief te beëindig nie.65 Die Ankara-regskliniek het daarna ’n reeks regsklinieke opgerig, insluitend dié wat op arbeidsreg en geslagskwessies fokus. Nog ’n regskliniek verleen regsdienste in gevangenisse.66 Regsklinieke het gedurende die 2010’s meer prominensie verkry as gevolg van nasionale en internasionale hulp. Verskeie regsfakulteite by beide die staats- en privaat universiteite het oor daardie dekade regsklinieke ontwikkel.67
Die Anadolu Regskliniek in Eskişehir is in 2013 as ’n klein eenheid van die universiteit aanvaar,68 waarna dit tot so ’n mate bestendig ontwikkel het dat die klinici hul ervarings met ander Turkse universiteitregsklinieke in die vorm van werkwinkels kon deel.69 ’n Terugslag het egter in 2017 plaasgevind toe die direkteur en ander aktiewe lede van die regskliniek afgedank is nadat hulle by meer as ’n duisend akademici aangesluit het wat die vredesverklaring in Januarie 2016 onderteken het in verset teen die menseregteskendings in Suidoos-Turkye.70 ’n Onsuksesvolle coup d’etat-poging in Julie 2016 het die politieke klimaat verander en universiteite aansienlik beïnvloed. In 2018 is ’n rektor van buite die universiteit aangestel, wat 50 jaar se tradisies omvergewerp het en, sonder regverdiging, die Anadolu Regskliniek in 2019 gesluit het. Soortgelyke verwikkelinge het by ander universiteite plaasgevind, ’n proses wat dikwels politieke suiwering genoem word.
Gedurende 2018 en 2019, asook in die jare ná die COVID-19-pandemie het sommige universiteite regsklinieke met beperkte omvang geopen sonder om die basiese kliniese metodes te volg. Hierdie regsklinieke fokus hoofsaaklik op vlugtelingkwessies en tronkbesoeke, waar regsadvies aan gevangenes voorsien word. Ander universiteite het kliniese regsopleidingskursusse hervat. Die Ankara-regskliniek fokus weer op gesinsgeweld, aardverwarming, vlugtelinge en die slagoffers van die Desember 2023-aardbewing. Die Atilim-regskliniek fokus op menseregte en ombudsmanaktiwiteite. Die Turks-Duits-regskliniek gebruik Street Law om kwessies van gelykheid, diskriminasie en sosio-ekonomiese regte aan te spreek. Die Trabzon Universiteit het ’n studenteklub wat hofbesoeke reël en traktate rakende die Palestynse kwessie en gesinsgeweld versprei. Die regskliniek by Suleyman Demirel Universiteit werk saam met staatsaanklaers en die Isparta-balieraad aan gesinsgeweldsake.
Daar blyk tog hoop te wees dat universiteitregsklinieke in Turkye mettertyd weer soos voorheen sal uitbrei.
2.8 Kliniese regsopleiding in Oesbekistan
Oesbekistan, ’n nasie deurdrenk met geskiedenis en kultuur, word dikwels na verwys as die Hart van die Syroete. Oesbekistan het op 31 Augustus 1991 sy onafhanklikheid van die Sowjetunie verklaar en is ’n sekulêre staat. Tot aan die begin van die 20ste eeu was regsopleiding in die gebiede wat die hedendaagse Oesbekistan vorm, Islamities van aard, met volwasse mans wat die reg in Arabies in die madrassa-kweekskole studeer het en waar geskille in Sharia-howe besleg is. Onder Tsaristiese Rusland is geskille aan plaaslike diskresie oorgelaat, wat madrassas toegelaat het om voort te bestaan. Die Bolsjewiste se pogings om madrassas te hervorm was aanvanklik ongewild by die bevolking en derhalwe onsuksesvol totdat die pro-Sowjet-regering madrassas verbied het onder ateïstiese politiek.71
Die eerste sekulêre universiteit in die Sowjet-era, die Turkestan Volksuniversiteit, is in 1918 opgerig. In 1923 het die plaaslike Bolsjewiste dit herdoop tot die Eerste Sentraal-Asiatiese Staatsuniversiteit en in 1930 is die Sentraal-Asië Kommunistiese Universiteit gestig, met ’n regsdepartement vernoem na W.I. Lenin, waar Sowjetreg aangebied is.72 Tussen 1926 tot 1936 is die Pashukanis-sillabus van Marxistiese teorie en regspraak gevolg, so vernoem na Evgeny Bronislavovich Pashukanis, ’n Sowjet- en Litause regskolier, bekend vir sy werk The General Theory of Law and Marxism.73 Pashukanis het ’n veldtog teen Tsaristiese en Westerse regsmodelle gevoer en die leerstellings van die Sowjetstaat uitgebrei, met die doel om regsdenke met politieke denke te vervang. Pashukanis se sillabus is regdeur die Sowjetunie deur die Kommunistiese Akademie in Moskou geïmplementeer. Dit het egter onder skerp kritiek deurgeloop en in 1937 het die Sowjet-regering – onder leiding van Andrey Yanuaryevich Vyshinsky, ’n politikus, juris en diplomaat – ’n beleid uitgevaardig om die reg te stabiliseer. ’n Nuwe vierjaarkurrikulum, wat algemene en spesialisopvoeding insluit, is gevorm.74
Regstudie was beperk tot die Eerste Sentraal-Asiatiese Staatsuniversiteit. In 1960 is die instelling herdoop tot die Tashkent Staatsuniversiteit, wat saamgeval het met die opening van regsfakulteite in ander streke van Sowjet-Sentraal-Asië.75 Regsopleiding het ’n beduidende hervorming ondergaan om by globale standaarde aan te pas. Die oprigting en uitbreiding van regsklinieke, waar studente die nodige ondervinding opdoen, speel dus ’n deurslaggewende rol in toegang tot die reg.
Alhoewel Oesbekistan nie deel was van die Bologna Process en -verklaring in 1999 nie, voldoen die land nietemin aan heelwat van die hoofdoelstellings.76 Regsopleiding is ’n prioriteit in Oesbekistan se hoëronderwysstelsel, met 32 regskole, waarvan die helfte van alle regstudente by die Tashkent Staatsuniversiteit van die Reg (TSUL) geregistreer is. Regsklinieke is in 2000 by TSUL en die Universiteit van Wêreldekonomie en Diplomasie (UWED) opgerig, gevolg deur die Staatsuniversiteite van Namangan, Andijan en Karakalpak, en meer onlangs, in 2024, by Termiz.77
Die regskliniek by TSUL blyk aan die voorpunt van kliniese ontwikkeling te wees.78 Sedert 2017 is die fokus op die Tashkent-gemeenskap en omliggende landelike gebiede, waar studentevrywilligers maandeliks, onder toesig en met die samewerking van die plaaslike owerhede, aan in-persoon konsultasies blootgestel word. Hierdie aktiwiteite dra by tot studente se vaardighede in dataversameling en navorsing in die regskliniek se Street Law-program. Studente word by beide die TSUL-regskliniek en privaat praktyke vir internskappe geplaas.79 Die volhoubare struktuur daarvan laat die regskliniek toe om ’n groot volume aanlyn konsultasies te doen. Vanaf die 2025- akademiese jaar word studente die geleentheid gebied om kliniese regsopleiding as ’n geakkrediteerde keusevak te neem. TSUL-studente neem ook gereeld aan skynhofkompetisies deel.
Die UWED-regskliniek omvat twee modusse. Die studentgesentreerde modus behels die dosering van onderwerpe soos etiek en kommunikasievaardighede. In die regsdienstemodus konsulteer studente met kliënte en gee regsadvies. Aziz noem egter dat die dosente se fokus op hul navorsingsvelde algemene regsadvieslewering beperk.80
3. Kliniese regsopleiding in Oos- en Suidoos-Asië
Die ontwikkeling van die kliniese regsopleidingslandskap in hierdie streek het vordering begin toon toe die Bridges Across Borders South East Asia-inisiatief vir Kliniese Regsopleiding (BABSEACLE)81 betrokke geraak het. Van 2003 tot 2005 het dié organisasie begin om universiteite te identifiseer wat bereidwilligheid getoon het om kliniese programme aan te bied en te help met die ontwikkeling van nasionale en streeksnetwerke in Asië. Sedertdien het kliniese regsopleidingsnetwerke en konferensies in sommige lande floreer.82 Die jaarlikse Asia Pro Bono-konferensies, wat die eerste keer in 2012 in Laos gehou is, dra steeds beduidend by tot die versterking van netwerke en die groei van kliniese programme.83
Japan, Taiwan, en China het die afgelope 20 jaar betekenisvolle veranderinge in regsopleiding aangebring deur weg te beweeg van ’n tradisionele Europese voorgraadse model na ’n Amerikaans-geskoeide nagraadse model.84 Sodanige oorgang was soms moeilik om te implementeer en China het tot ongeveer ’n dekade gelede belangstelling in kliniese regsopleiding getoon, maar dit is nie meer die geval nie.85 Daar word vervolgens verwys na kliniese regsopleiding in Indonesië, Japan, Singapoer, Taiwan, Thailand, Viëtnam en Maleisië.
3.1 Kliniese regsopleiding in Indonesië
Kliniese regsopleiding in Indonesië bestaan al sedert 1970 in ’n rudimentêre vorm, waar studenteregsdienste aan behoeftiges verskaf word,86 maar planne vir ’n meer ontwikkelde kliniese regsopleidingsprogram bly ambisieus.87 Die regering het Wet No. 16 van 2011 rakende regshulp uitgevaardig ten einde gratis regsdienste aan behoeftige en kwesbare mense te verskaf.88 Regshulpinstansies mag derhalwe met regsdosente en -studente saamwerk.
Ten einde kliniese en professionele vaardighede te onwikkel, het regsfakulteite vennootskappe met NRO’s gevorm. Rosenbaum is krities oor hierdie benadering en is van mening dat regsfakulteite self die kurrikulum moet ontwikkel, eerder as om onderrig na ander organisasies af te skuif.89
Die meerderheid van die regskole in die 34 provinsies bied regshulpprogramme aan. Daar is egter nie ’n universele program nie en elke kampus ontwikkel sy eie regshulp gebaseer op hul vermoëns en behoeftes, en sulke kursusse word nie deurlopend as verpligte komponente aangebied nie. Indonesië het 742 tale of dialekte wat 478 etniese groepe verteenwoordig. Kennis van gewoontereg is belangrik, aangesien dit deel van die land se nasionale kultuur is en die ideologie, Pancasila, verteenwoordig, wat vyf beginsels behels, naamlik demokrasie, menslikheid, geregtigheid, monoteïsme en eenheid.90 In ’n kliniese konteks is hierdie kennis betekenisvol, aangesien dit op die inheemse bevolking van toepassing is en derhalwe ’n vorm van positiewe regswetenskap is.91
Aangesien kliniese regsopleiding as ’n geakkrediteerde module in die regsgraad steeds nie goed ontwikkel is nie, beveel Arifin en andere aan dat die voorbereiding en ontwikkeling van kliniese regsopleiding in Indonesië op vier belanghebbende entiteite moet fokus: dosente, studente, kliënte en vennote. Dosente moet derhalwe in toesighouding opgelei word ten einde studente voldoende voor te berei en hulle deur die kliniese regsopleidingsproses te lei.92
3.2 Kliniese regsopleiding in Japan
Daar was oorspronklik twee stadia vir die opleiding van regspersone in Japan: voorgraadse opleiding, gevolg deur ’n leerklerkskap. Voorgraadse fakulteite het nie beoog om regspersone op te lei nie, aangesien die meeste akademici nie toegelate regsgeleerdes was nie.93 Studente het dus voorbereidingskole bygewoon wat op toelatingseksamens gefokus, sonder om universiteitslesings by te woon.94
Die regshervormingsraad is in Julie 1999 gestig om die Japannese regstelsel te hervorm om aan sosiale behoeftes gehoor te gee.95 Nog ’n hervorming het in 2020 gevolg, wat in 2024 in werking getree het, toe die voorgraadse regsgraad van vier jaar na drie jaar verminder is, waarna studente die tweejaar- nagraadse regsgraad kan voltooi. Die raad se verslag het onder meer regsopleiding volgens die Amerikaanse stelsel voorgestel, insluitend die aanbieding van praktiese regsopleiding. Dit was die beginpunt van kliniese regsopleiding en het ook tot gevolg gehad dat praktisyns die akademie betree het.96
Kliniese regsopleiding het dus 20 jaar gelede as ’n eksperimentele program begin en is as die mees betekenisvolle hervorming van Japan se regstelsel sedert die Tweede Wêreldoorlog beskou.97 Alhoewel dosente nie heeltemal vertroud was met die kliniese pedagogie nie, het ’n opname in 2008 getoon dat 39 van die 74 regskole kliniese kursusse aangebied het waar studente toegelaat is om met kliënte te konsulteer. Veertien regskole het aangetoon dat hulle affiliasies met regsfirmas gevorm het.98 Verdere opnames het getoon dat 60 regskole teen 2009 siviele skynhofkursusse aangebied het en dat 72 regskole teen 2012 eksternskappe aangebied het. Kursusse wat as klinies beskou word maar slegs uit seminaarinstruksie bestaan, sluit in immigrasie- en vlugtelingreg asook mensregtebeskerming vir buitelanders, wat sedert 2006 by die Waseda-regskool aangebied word.99
Die Japannese Vereniging vir Kliniese Regsopleiding (JCLEA) is in 2008 gestig as die eerste akademiese vereniging vir kliniese regsopleiding in Japan. Sedertdien het dit verskeie konferensies en werkwinkels aangebied. Weens hul spesifieke beklemtoning van die kliniese pedagogie, omvat hul aktiwiteite beide die akademiese en praktiese aspekte van die regsprofessie.100
Die destydse verwagting wat deur die hervormingsinisiatiewe geskep is, het egter teleurgestel, aangesien slegs 40 uit 74 regskole aangesluit het. Kliniese regsopleiding het dus nie uitgebrei soos verwag nie. Drie rede word voorgehou.101 Eerstens beperk voorbereiding vir die toelatingseksamen tot die balie studente se vermoë om aan kliniese programme tesame met toelatingskursusse deel te neem. Tweedens erken die regbank en aanklaerskantoor nie die status van kliniese regsopleiding nie. Derdens is die verskille tussen tradisionele en kliniese regsopleiding onduidelik.
Shiraki stel voor dat regsklinieke die inhoud van hul kursus moet aanpas ten einde studente te trek wat passievol is om hul gemeenskap te dien,102 aangesien klinici die trustees van die nasie se verbintenis tot geregtigheid is.
3.3 Kliniese regsopleiding in Singapoer
Singapoer bied ’n voorgraadse regsgraad aan wat lei tot ’n praktyksertifikaat.103 Die eerste kliniese kursus is in 2010 deur die Singapoer Regshulpraad ontwikkel,104 waarna kliniese regsopleiding aansienlike groei getoon het.
Verskeie regsklinieke is in Singapoer se regskole in werking.105 Die Singapoer Bestuursuniversiteit bied weeklikse gratis regsdienste aan, gelei deur studente en vrywillige prokureurs.106 Die Singapoer Universiteit vir Sosiale Wetenskappe het ’n gemeenskapsregsentrum wat deur studente beman word.107 Die Nasionale Universiteit van Singapoer (NUS) het ’n verskeidenheid van regsklinieke, insluitend die NUS-Staatshowe se regterlike klerkskap, die regshulpskema vir strafreg, die regshulpskema vir halsmisdade, die regshulpraadkliniek en die toegang tot die regskliniek.108 Die Pro Bono Familieregkliniek by NUS bied byvoorbeeld ’n geakkrediteerde kliniese kursus aan waar studente met familieregsake werk wat deur Singapoer se Regshulpraad verwys word.109
3.4 Kliniese regsopleiding in Taiwan
Kliniese regsopleiding het nie goed in Taiwan ontwikkel nie en geen van die 28 regsdepartemente in Taiwan bied sulke opleiding as ’n verpligte kursus nie. Die struikelblok blyk die nasionale lisensiëringseksamens tot die balie te wees. Regstudente word slegs toegelaat om hierdie eksamen af te lê ná die suksesvolle voltooiing van ’n gespesifiseerde aantal geakkrediteerde regskursusse, wat nie kliniese regsopleiding insluit nie, aangesien praktiese opleiding eers begin nadat hulle die eksamen slaag. Die slaagsyfer, asook toelating om die eksamen af te lê, is uiters laag.110 Die lae toelatingsyfers ontmoedig studente om in te skryf vir kursusse wat nie op die balie-eksamen betrekking het nie, wat ook beteken dat regsdepartemente nie gemotiveerd is om sulke kursusse aan te bied nie.111 ’n Verdere struikelblok is die akademiese verwagting dat dosente artikels moet publiseer, wat praktiese kursusse onaantreklik vir hulle maak.
Daar is tans drie kliniese opleidingsmodelle in Taiwan. Die eerste model behels samewerking tussen regskole en staatsinstellings, soos die aanklaerskantore, waar studente aan internskappe deelneem. Die tweede model is gebaseer op samewerking tussen regskole en NRO’s, waar studente help om regsake soos omgewingsake, arbeidsreg of onregmatige skuldigbevindings te besleg. Die derde model behels samewerking met die regterlike akademie, wat voortgesette opleiding aan regters verskaf. Slegs enkele van die groter universiteite kon egter regters vind wat gewillig was om kursusse aan te bied waar werklike sake bespreek word.
3.5 Kliniese regsopleiding in Thailand
Die eerste poging om bewustheid van kliniese regsopleiding aan te wakker, was as gevolg van ’n 1971-artikel wat deur ’n regsprofessor by Chulalongkorn Universiteit gepubliseer is, waarin hy aangevoer het dat kliniese regsopleiding tot die kurrikulum gevoeg moet word.112 Dit het egter byna ’n verdere 40 jaar geneem om te realiseer.
Voor sodanige aanvaarding daarvan in die kurrikulum was daar reeds vele regsklinieke in die meeste Thaise regskole. ’n Voorbeeld is die daarstelling van ’n vrywillige konsultasiediens vir minderbevoorregtes deur vroulike studente aan die Thammasat Universiteit in 1949.113 Daarna het studente of dosente mettertyd regsklinieke in hul fakulteite gestig. Dit word beskou as die oorsprong van kliniese regsopleiding in Thailand,114 alhoewel dit hoofsaaklik daarop gerig was om regshulp en sosiale geregtigheid as ’n buitemuurse aktiwiteit aan te bied, eerder as ’n gestruktureerde pedagogie.
Die tweede poging om kliniese regsopleiding te vestig, was aan die begin van die 21ste eeu, hoofsaaklik deur die bywoning van konferensies en werkwinkels in die Suidoos-Asië-streek.115 ’n Navorsingsverslag en twee artikels is daarna gepubliseer,116 wat bewusmaking van die regshervormingskommissie van Thailand gestimuleer het. Dit was van die faktore wat die Minister van Opvoeding genoop het om die insluiting van kliniese regsopleiding as deel van die regsgraad aan te beveel. Hierdie inisiatief is egter onttrek nadat ’n nuwe Ministerie van Hoër Onderwys, Wetenskap, Navorsing en Innovasie gevorm is. ’n Nuwe standaard vir LLB-programme is nog nie gepubliseer nie.117
Die Thaise kwalifikasiestandaard vir hoër onderwys vereis dat leeruitkomste kennis en vaardighede moet bevat.118 LLB-programme fokus hoofsaaklik op regskennis, met beperkte klem op vaardigheidsontwikkeling, aangesien Thaise regskoliere praktiese opleiding as die verantwoordelikheid van die balie of regsgenootskap beskou.119 Regsklinieke in Thailand speel reeds vir dekades ’n belangrike rol in die verskaffing van regsdienste aan die gemeenskap. Alhoewel regsklinieke by Thaise regskole meer amptelike status verkry het, bly die verskaffing van regsdienste die prioriteit, en nie studente-opleiding nie. Dit is dus betreurenswaardig dat kliniese regsopleiding steeds nie ’n verpligte deel van die LLB-kurrikulum is nie.
3.6 Kliniese regsopleiding in Viëtnam
Kliniese regsopleiding in Viëtnam is in ’n vroeë ontwikkelingstadium waar gemeenskapsregsopleiding ’n dominante rol speel. In 1998 is daar gepoog om kliniese aktiwiteite by die navorsingsentrum van die Hanoi Nasionale Universiteit se regskool toe te pas deur dosente en studente aan te moedig om lae-inkomstepersone by te staan.120 Die Verenigde Nasies se Onwikkelingsprogram (UNDP) en organisasies soos Bridges Across Borders South East Asia-inisiatief vir Kliniese Regsopleiding (BABSEACLE),121 die Noorweegse Sentrum vir Menseregte (NCHR),122 en Juss-Buss (Justice on a Bus),123 het ook aansienlik bygedra tot die ontwikkeling van kliniese regsopleiding in Viëtnam. UNDP Viëtnam het van 2010 tot 2014 Viëtnamese regskole gehelp om ses regsklinieke te stig.124 Hierdie regskole het saam met BABSEACLE gewerk om kliniese regsopleiding in Viëtnam te ontwikkel.125
Die gemeenskapsregsopleidingsprogram (soortgelyk aan Street Law) is die algemeenste program en bedien weerlose en kwesbare groepe. Konsultasies met kliënte vind ook binne die regskole plaas, hoofsaaklik deur verwysings. Studente se beperkte regsvaardighede, as gevolg van ’n passiewe leeromgewing waar min professionele vaardighede geleer word, is egter ’n struikelblok wat die gehalte van advies wat aan kliënte verskaf word, beïnvloed.126
Regskole maak staat op eksternskapprogramme waar daar van die gasheerinstellings verwag word om toesig te hou, te assesseer en terugvoer te gee. Eksternskappe word egter nie meer as ware leergeleenthede beskou nie,127 aangesien sommige toesighouers van mening is dat die studente met hul daaglikse take sal inmeng. Daarom gebeur dit gereeld dat toesighouers studente vra om nie by te woon nie, terwyl hulle desondanks die eksternskapdeelname afteken.128 Alhoewel die kliniese metode gedurende die 1990’s bekendgestel is, het geen dosent dit teen 2018 uitsluitlik aangebied nie. Leerstellige aanbieding in substantiewe regsvakke geniet steeds voorkeur en kliniese regsopleiding word as sekondêr beskou.129
3.7 Kliniese regsopleiding in Maleisië
Die meerderheid regskole in Maleisië volg steeds die tradisionele passiewe leermetodes van lesings en die nagaan van hofsake.
Die Fakulteit van Syariah and Law (FSU), Universiti Sains Islam Malaysia is in 2000 opgerig met die oogmerk om twee regsgebiede, Sharia- en siviele reg, te integreer. Die idee om ’n regskliniek by FSU te stig, het reeds in 2013 vorm aangeneem met die stigting van Klinik Bantuan Guaman Syariah & Undang, wat bedoel was om personeel, studente en die gemeenskap te dien. Gedurende die 2014/2015- akademiese jaar het regskliniekpersoneel hul eerste openbare lesing rakende die Sharia- en siviele reg by FSU aangebied, wat ook verhoudings met eksterne partye versterk het.130
In 2018 het alumni van die FSU, hoofsaaklik Sharia-praktisyns, studente betrek en regsadvies aan die gemeenskap gelewer, hoofsaaklik met betrekking tot strafsake, gevolg deur siviele sake teen die einde van 2019. In Desember 2019 is ’n regskliniek begin waar 13 finalejaarstudente tot die loodsprojek aanvaar is. Drie onafhanklike aktiwiteite is geskep, naamlik multimedia-inhoud vir die verkryging van kennis; gemeenskapsinligtingsdienste; en kliëntedienste.131 Studente konsulteer met kliënte onder toesig van prokureurs. Indien daar met sake voortgegaan word, tree die studente as die prokureurs se assistente op. Daar word van studente verwag om oor hul ervarings te besin.
Dit wil voorkom asof die regsprogram tans grondliggende vakke in beide siviele reg en Islamitiese regsleer insluit, tesame met onderrig in regsprofessionele vaardighede.132
4. Kliniese regsopleiding in Suid-Asië
Sangroula voer aan dat die regspedagogie in Suid-Asië ’n produk van koloniale strukture is, waar studente se regsopleiding volgens die Westerse konsepte wat op Eurosentriese riglyne geskoei is, berus, selfs ná die sogenaamde dekolonisasiebeweging.
Hy is van mening dat regstudente van gemeenskapsprobleme geïsoleer is en dat die antieke beginsels van die Oosterse regsfilosofie beklemtoon moet word om te verseker dat die regspedagogie na ’n geregtigheidsgedrewe pedagogie lei. ’n Kliniese regsopleidingsprogram sal dus verseker dat multidimensionele regsprofessionalisme geskep word, aldus Sangroula.133
Kliniese regsopleiding in Suid-Asië omvat ’n wye reeks kliniese aktiwiteite wat wissel van universiteitskursusse, vrywilligerswerk, skynhowe, gemeenskapsuitreike, mobiele regsklinieke en samewerking tussen klinici en vrywilligers. Die ontwikkeling van kliniese regsopleiding in Nepal, Bangladesj, Bhoetan, Indië en Pakistan sal bespreek word.
4.1 Kliniese regsopleiding in Nepal
Die Nepal Regskampus, die oudste kollege in die regsfakulteit van die Tribhuvan Universiteit in Katmandoe, het reeds in 1970 gepoog om kliniese elemente by hul regsprogram te inkorporeer met behulp van staatsbefondsing, maar die inisiatief het binne ’n paar jaar misluk. Die kliniese regsprogram is later in 1991 by die Tribhuvan Universiteit ingestel, maar dit is beperk tot kursusse in alternatiewe geskilbeslegting en litigasievoorspraak.134 Purbanchal Universiteit bied sedert 1999 kursusse in litigasievoorspraak en skynverhore aan, tesame met ’n verpligte internskap.
Die Katmandoe Regskool (KSL), gestig in 2013, vorm deel van Purbanchal Universiteit. KSL bestuur beide die gevangenisregshulp- en die menseregte-regsklinieke, waar studente – onder toesig van praktisyns – regshulp bied aan gevangenes en slagoffers van menseregte-oortredings in die Katmandoe-vallei.135 KSL doen ook gereeld gemeenskapsbesoeke as deel van hul Street Law-projek.136
Die Forum for Nation Building (FNB), ’n NRO in Nepal, in samewerking met studente en praktisyns bedryf twee mobiele regsklinieke. Hierdie regsklinieke is daarop gemik om die Nepalese bevolking in noodsituasies by te staan, met ’n spesifieke fokus op gesinsgeweld en natuurrampe. Internasionale befondsing, wat deur Amerikaanse klinici gereël is, het die mobiele regsklinieke byvoorbeeld in staat gestel om regshulp te verleen ná die aardbewings wat groot dele van Nepal in 2015 verwoes het. Studente het ook ervaring opgedoen vanuit ’n globale perspektief deur met ’n kliniese span van die VSA saam te werk.137 Die FNB is steeds werksaam.138
4.2 Kliniese regsopleiding in Bangladesj
Die regsakademie het nog nie kliniese regsopleiding formeel ingevoer nie, maar sommige kliniese metodes word buite die regskoolomgewing toegepas.139 Alhoewel kliniese regsopleiding in Bangladesj die afgelope dekades uitgebrei het, is die omvang daarvan redelik beperk. Die Regskommissie se 2006-verslag het aanbeveel dat studentebetrokkenheid by gemeenskapsprojekte wenslik is.140
Regsklinieke in Bangladesj neem twee vorme aan: formele programme wat deur akademiese instellings bestuur word en programme wat deur instellings buite die universiteit bestuur word. Die regskole van die Universiteite van Dhaka en Chittagong het kliniese regsopleiding in 1994 ingestel nadat hulle borgskap van die Ford Foundation (Kanada) ontvang het. Aktiwiteite van hierdie regsklinieke het regsverhooroefeninge, regshulpdienste en gemeenskapsprojekte ingesluit, met studente wat aangemoedig is om aan regsaktivisme deel te neem.141
Die Dhaka-regskliniek het ook van studente verwag om regsartikels te skryf, gebaseer op twee sleutelbeginsels, naamlik dat die bestaande manier van regspleging vervang moet word deur ’n nuwe vorm waarin die regte van minder gegoede mense voorkeur geniet en dat gemeenskappe aangemoedig moet word om aan te dring op die daarstelling van wetgewing wat arm mense beskerm.142 Die tradisionele akademiese struktuur het egter nie kliniese regsopleiding as deel van die geakkrediteerde kurrikulum aanvaar nie en die regskliniek het ophou bestaan toe die befondsing in 1999 gestaak is.143
Die regskliniek is egter in 2010 heropen en fokus op lesings in professionele etiek, ontleding van die verhouding tussen die regbank en die balie, asook hofbesoeke.144 Die meeste universiteite fokus egter op skynverhore. Die East West Universiteit is die mees onlangse instelling wat in 2023 tot die kliniese forum toegetree het, alhoewel hul program hoofsaaklik fokus op lesings in regvoorspraak en etiek.145
4.3 Kliniese regsopleiding in Bhoetan
Jigme Singye Wangchuck Regskool, gestig by wyse van ’n koninklike handves op 21 Februarie 2015, is Bhoetan se enigste regskool wat ’n vyfjaar- voorgraadse LLB aanbied.146 Kliniese regsopleiding is van meet af in die kurrikulum ingesluit, met die insluiting van ’n eksternskapprogram.147 Voordat die kursus aan studente voorgelê is, het die fakulteit aan projekte gewerk in vennootskap met gemeenskapsorganisasies ten einde ’n beter begrip van die werksaamhede van regsklinieke te vorm. Vennootskappe is derhalwe ’n bepalende kenmerk van kliniese regsopleiding in Bhoetan.148
Kliniese regsopleiding is ’n verpligte kursus in die drie regsklinieke.149 Die menswaardigheidskliniek fokus op die regte van kwesbare groepe.150 Die sosiale ondernemingskliniek werk saam met entrepreneurs en klein ondernemings om volhoubare sakepraktyke te bevorder.151 Die toepaslike geskilbeslegtingskliniek fokus op mediasie, wat ’n eeue-oue tradisie in Bhoetan is. Die regskliniek werk nou saam met Bhoetan se geskilbeslegtingsentrum om die praktyk van arbitrasie in die land te ontwikkel.152 Ten spyte van befondsingsuitdagings, beoog die universiteit om ’n klimaatsverandering- en omgewingskliniek op te rig.
4.4 Kliniese regsopleiding in Indië
Indië se Grondwet maak voorsiening vir regsgelykheid en toegang tot regshulp.153 Alhoewel kliniese regsopleiding reeds in die 1970’s ontspring het, funksioneer dit steeds effektief in die meerderheid van Indië se 1 700 regskole. Die Deskundige Komitee vir Regshulp het in 1973 aanbeveel dat regshulp met regskole verbind word.154 In 2002 het Indië se regskommissie voorgestel dat kliniese regsopleiding verpligtend gemaak word.155 Die balieraad van Indië, wat regsopleiding reguleer, het in 2008 sekere verpligte kursusse voorgeskryf, naamlik alternatiewe geskilbeslegting, die opstel van hofstukke, etiek, boekhouding, skynverhore en internskappe. Die balieraad vereis ook dat elke regskool ’n regskliniek moet vestig.
Kliniese regsopleiding word op verskeie maniere in Indië aangebied, aangesien voltydse dosente nie mag praktiseer nie.156 Alhoewel die aanbieding in die meeste regskole beperk is, het ’n paar reeds sterk modelle ontwikkel.157 ’n Kenmerkende eienskap van Indiese regsklinieke is hul klem op gemeenskapsbediening waar hulle onder meer daarop fokus om hul unieke uitdagings aan te spreek, soos kastediskriminasie en die bevordering van regspraak vir vroueregte binne ’n ingewikkelde raamwerk van kulturele sensitiwiteite en tradisionele norme.158
Baie Indiese regskole het nie regsklinieke nie, maar werk in regshulpselle, wat grootliks studentegedrewe is.159 ’n Onlangse opname by 39 regskole toon egter dat, alhoewel studente by 82% van die regshulpselle onder praktykstoesig werk, slegs 63% daarvan akademiese krediete vir die werk toeken.160
4.5 Kliniese regsopleiding in Pakistan
In 2012 was verskeie regskole by ’n werkwinkel betrokke wat deur die Open Society Foundations aangebied is161 in ’n poging om regsklinieke te bevorder. Sommige universiteite het daarna regsklinieke gestig waar regshulpdienste aangebied is. Hierdie pogings is egter gestaak toe die Open Society Foundations hul steun onttrek het.162
Die balieraad in Pakistan word meer geassosieer met die politieke lidmaatskap van sy lede as met die regulering van die regsprofessie.163 Dit het tot ’n onderskeid tussen professionele regsgeleerdes en dié wat polities werksaam is gelei.164 In 2020 het die balieraad die Direktoraat vir Regsopleiding in samewerking met die hoëronderwyskommissie gestig. Daar is egter geen mandaat om kliniese regsopleiding aan te bied nie. Die enigste kursus wat naastenby klinies is, is die skynhowe.165
Konstitusionele onstabiliteit sedert Mei 2023 het tot die onderdrukking van politieke regte gelei en tot gevolg gehad dat intelligensie-agentskappe fakulteite besoek het om te verseker dat die grense van polities sensitiewe besprekings gehandhaaf word.166 ’n Landswye opname toon dat daar slegs ’n handvol regsklinieke in Pakistan is, waarvan geeneen verpligtend is of akademiese krediete toestaan nie.167
Dit wil voorkom asof die balieraad in die vorm van die Direktoraat vir Regsopleiding totale beheer oor regsopleiding het. Die regering van die Sindh-provinsie het die regshulpkantoor in 2004 gestig om vroulike gevangenes by te staan en hulle het kantoorspasie in die sentrale gevangenis in Karatsji gekry. Toe die dienste egter na ander gevangenisse uitgebrei het, het die balieraad hul werksaamhede as opposisie beskou en besluit dat die regshulpkantoor ontbind moes word. Regsgedinge het gevolg, waartydens regspraktisyns buite die hof betoog het, die werksaamhede van die distrikshowe in Karatsji ontwrig het en NRO’s wat binne die howe gesetel was, bestorm het.168
Die geskil is in Julie 2011 besleg toe die Sindh-hooggeregshof die regshulpkantoor se bedrywighede in gevangenisse opgeskort het. Hierna is die stakings deur regsgeleerdes in die distrikshowe afgelas. Die regshulpkantoor is gevolglik toegelaat om gevangenes te verteenwoordig, mits hulle nie kantore binne die gevangenisse het nie.
As bydrae tot praktiese opleiding, het die balieraad ’n verpligte tweeweek-kursus daargestel wat gegradueerdes moet voltooi voordat hulle die praktyk kan betree. Tans word simulasies in kursusse wat as klinies beskou word by universiteite gebruik. Die Shaikh Ahmad Hassan-regskool in Lahore beoog om ’n lewende-kliënt-regskliniek as ’n keusevak binne die volgende akademiese jaar te loods, wat hoofsaaklik word op borgaansoeke en egskeidings sal fokus. Hul verhouding met die balieraad is egter onseker.169
5. Samevatting
’n Oorsig van die ontwikkeling van kliniese regsopleiding in Sentraal-Asië, die Midde-Ooste, Oos- en Suidoos-Asië toon dat daar wel pogings is om studente op verskeie maniere aan die regspraktyk bloot te stel. Regsklinieke in sommige van die jurisdiksies is genoop om onder moeilike omstandighede, waarvan sommige soortgelyk aan vroeëre omstandighede in Suid-Afrika is, te funksioneer. Hul deursettingsvermoë is merkwaardig.
Die riglyne vir kliniese regsopleiding word egter nie in al die jurisdiksies gevolg nie. Daar is aangetoon dat sommige regskole – en die regerings in sommige van die jurisdiksies wat bespreek word – inderdaad opportunisties is wanneer hulle na kursusse as klinies verwys, sonder enige aktiewe betrokkenheid by kollegas, kliënte of gemeenskappe. Die onderskeidende faktore in kliniese regsopleiding, soos voorheen aangetoon, sluit in die betrokkenheid by werklike kliënte onder behoorlike kliniese toesig, klaskamer- en tutoriaalaktiwiteite, ’n fokus op sosiale geregtigheid en gestruktureerde refleksie. Die blote plasing van studente in byvoorbeeld intern- en eksternskappe met beperkte ondersteuning van regskole, voldoen nie aan hierdie kriteria nie, en ook nie slegs seminaarinstruksie rakende die praktyk en skynhowe nie. Daar is inderdaad lesse hier vir Suid-Afrikaanse klinici. Ondanks kritiek, is dit verblydend dat soveel universiteite daadwerklike pogings aanwend om, binne hul unieke omstandighede, te poog om kliniese regsopleiding te bevorder. Die daarstelling van kliniese bewegings deur studente en akademici, asook die vorming van kliniese verenigings, word beslis verwelkom.
Suid-Afrikaanse klinici het ’n deurslaggewend rol gespeel in die stigting van verskeie regsklinieke, soos dié in Iran, Rusland en Turkye. Gemeenskaplike doelwitte oor alle jurisdiksies heen sluit in die verskaffing van regsdienste aan kwesbares en die aanbied van praktiese regsopleiding aan studente. Netwerke is reeds in heelwat van die jurisdiksies gevorm.
Suid-Afrikaanse klinici is goed geplaas om, óf deur hul onderskeie regsklinieke, óf deur SAULCA na klinieke of netwerke in ander jurisdiksies uit te reik. In hierdie verband is BABSEACLE se inisiatiewe rakende die ontwikkeling van regskliniese nasionale en streeksnetwerke in Asië, wat tot jaarlikse konferensies gelei het, ’n gepaste voorbeeld.
Die volgende artikel sal fokus op kliniese regsopleiding in Sentraal-, Oos- en Wes-Europa fokus.
Bibliografie
Alieva, K. 2023. Enhancing access to justice: Free legal aid and client-centered legal counseling through clinical legal education in Uzbekistan. Society and Innovations, 4(4):102–13.
ALPA (Afghanistan Law & Political Science Association). https://www.alp-a.com; en https://www.alp-a.com/alpa-academy (3 Junie 2025 geraadpleeg).
American University of Afghanistan. https://auaf.edu.af (5 Maart 2025 geraadpleeg).
Archana, K. 2013. Practicability of clinical legal education in India- An overview. Journal of Education and Practice, 4(26):157–62.
Arifin, S., B. Wedhatami en R. Alkadri. Adoption and implementation of clinical legal education programmes in the Indonesian legal education system. Asian Journal of Legal Education, 8(1):52–65.
ASEAN (Association of Southeast Asian Nations). University network quality assurance guide to AUN-QA assessment at programme level version 4.0. 2020. https://www.aunsec.org/application/files/2816/7290/3752/Guide_to_AUN-QA_Assessment_at_Programme_Level_Version_4.0_4.pdf.
Aziz, I. 2019. Legal education in Uzbekistan: Historical overview and challenges of transition. https://cale.law.nagoya-u.ac.jp/wp/wp-content/uploads/2021/04/CALE-Discussion-PaperNo18.pdf.
BABSEACLE (Bridges Across Borders South East Asia Clinical Legal Education). https://www.babseacle.org en https://www.babseacle.org/babsea-cle-history (3 Junie 2025 geraadpleeg).
Berbec-Rostas, M., A. Gutnikov en B. Namyslovska-Gabrysiak. 2011. Clinical legal education in central and eastern Europe. In Bloch (red.) 2011.
Bloch, F. (red.). 2011. The Global Clinical Movement. Oxford: Oxford University Press.
Bologna Process. https://www.eua.eu/our-work/topics/bologna-process.html (3 Junie 2025 geraadpleeg).
Bui, H.T., B. Lasky en R. Grimes. 2014. Legal education in Vietnam: An overview and future strategic vision. In Sarker (red.) 2014.
Chachava, S., T. Tsertsvadze en R. Grimes. 2025. Clinical legal education in Georgia. In Giddings (red.) 2025.
Chavkin, D. 2010. Thinking/Practicing clinical legal education from within the Palestinian-Israeli conflict: Lessons from the Al-Quds human rights clinic. Human Rights Brief, 18(1):14–8.
Chen, C. 2011. Legal education in Taiwan: A plural system in transition. In Sarker (red.) 2011:155–74.
—. 2012. Legal education reform in Taiwan: Are Japan and Korea the models? Journal of Legal Education, 62(1):32–65.
Choudhury, N. 2014. Pluralism in legal education at the American University of Afghanistan. Suffolk Transnational Law Review, 37(2):249–90.
Conference Reports, Asia Pro Bono Conference. https://www.probonoconference.org/conference-reports (6 Maart 2025 geraadpleeg).
De Klerk, W. 2006. University law clinics in South Africa. South African Law Journal, 122(4):929–50.
Dewey, J. 1922. Democracy and education. An introduction to the philosophy of education. https://nsee.memberclicks.net/assets/docs/KnowledgeCenter/BuildingExpEduc/BooksReports/10.%20democracy%20and%20education%20by%20dewey.pdf.
Dmitriachev, S. en A. Gutnikov. 2025. The distinctive nature of Russian clinical legal education. In Giddings (red.) 2025.
Dolma, K. 2025. Clinical legal education in Bhutan. In Giddings (red.) 2025.
Du Plessis, M.A. 2019. Forty-five years of clinical legal education in South Africa. Fundamina, 25(2):12–34.
Eddy, J. 2009. Rule of law in Afghanistan: The intrusion of reality. Journal of International Cooperation Studies, 17(2):1–23.
Expression Interrupted! 2016. https://expressioninterrupted.com/tr/baris-akademisyenlerinin-kisa-tarihi-hedef-gosterilme-ihrac-yargilama (2 Oktober 2025 geraadpleeg).
FNB (Forum for Nation Building Nepal). https://fnbnepal.org (2 Oktober 2025 geraadpleeg).
Framarz, F. 2023. Taliban orders purge of private university libraries in Afghanistan. Kabul Now, 21 Desember. https://kabulnow.com/2023/12/taliban-orders-purge-of-private-university-libraries-in-afghanistan (5 Maart 2025 geraadpleeg).
Gautam, G. 2017. Understanding the quintessence of clinical legal education: Nepalese experience. Kathmandu School of Law Review, 5(1):177–92.
Giddings, J. (red.). 2025. Global clinical legal education. Melbourne: Routledge.
Gillis, C. en D. Tushaus. 2017. Value of service learning through global collaborations. Asian Journal of Legal Education, 5(1):1–20.
Golub, S. 2000. From the village to the university: Legal activism in Bangladesh. In McClymont en Golub (reds.) 2000.
Grosberg, L.M. 2001. Clinical education in Russia: “Da and Nyet”. Clinical Law Review, 7:469–96.
Hanim, L. en M.S. Noorman. 2018. The role of indigenous peoples and customary law in the development of national law. The paradigm of Pancasila. https://jurnal.unissula.ac.id/index.php/pdih4/article/download/3684/2684 (7 Maart 2025 geraadpleeg).
Haupt, F.S. 2006. Some aspects regarding the origin, development and present position of the University of Pretoria Law Clinic. De Jure, 39(2):229–43.
Ho, A.N. 2017. Legal Education in Vietnam: The history, current situation and challenges. Legal Education Review, 26(1):69–93.
—. 2018. Clinics as a means to reform the Vietnamese legal education system: The current situation and future possibilities. PhD-verhandeling, Monash Universiteit.
—. 2025. Clinical legal education in Vietnam. In Giddings (red.) 2025.
Hudoikina, T.V. 2016. Current status and development prospects of legal clinics in Russia. European Research Studies Journal, XIX(3B):211–26.
Jigme Singye Wangchuck School of Law. https://jswlaw.bt; https://jswlaw.bt/about-jsw-law/; https://jswlaw.bt/clinics; https://jswlaw.bt/clinics/human-dignity; https://jswlaw.bt/clinics/social-enterprise en https://jswlaw.bt/clinics/alternative-dispute-resolution (7 Maart 2025 geraadpleeg).
Juss-Buss (Justice on a Bus). http://foreninger.uio.no/jussbuss/english/about (7 Maart 2025 geraadpleeg).
Koman, R. en H. Whalen-Bridge. 2015. Clinical legal education in Singapore. In Sarker (red.) 2015.
Kumar, J. en J. Talukdar. 2020. Clinical legal education in India. International Journal of Legal Science and Innovation, 2(3):383–94.
Landman, J.H. 1930. The case method of studying law: A critique. https://openyls.law.yale.edu/server/api/core/bitstreams/26c7aa07-b6b7-45b9-bb32-47ee86036674/content (9 Mei 2025 geraadpleeg).
Lasky, B. en M.R.K. Prasad. 2011. The clinical movement in Southeast Asia and India: A comparative perspective and lessons to be learned. In Bloch (red.) 2011.
Lasky, B. en S. Sarker. 2015. Introduction: Clinical legal education and its Asian characteristics. In Sarker (red.) 2015.
Lasky, B. en N.M. Nazeri. 2011. The development and expansion of university-based community/clinical legal education programs in Malaysia: Means, methods, strategies. International Journal of Clinical Legal Education, (15):59–74.
Lonbay, J. en M. Toprak. Legal clinic in Turkey. In Sarker (red.) 2015.
Maranville, D.A. 2000. Passion, context, and lawyering skills: Choosing among simulated and real clinical experiences. Clinical Law Review, (7):123–34.
Mattar, M.Y. en D. AlMalki. 2025. Providing legal aid to migrant workers: International standards, comparative models and the Qatari law clinic experience. In Giddings (red.) 2025.
McClymont, M. en S. Golub. (reds.). 2000. Many roads to justice. New York: Ford Foundation.
Meyer, D. (red.). 1855. On the importance of practice in the system of modern legal education. Kazan: University Printing House.
Miyagawa, S. 2011. Japan’s new clinical programs: A study of light and shadow. In Bloch (red.) 2011.
—. 2021. Strengthening clinical legal education in Japan: What should be done in the second stage of the law school system? Journal of Korean Law, 20(1):159–72.
Mirza, A. 2025. Constitutional history and context for development of clinical legal education in Pakistan. In Giddings (red.) 2025.
Mizan, A.S. 2025. Clinical legal education in Bangladesh. In Giddings (red.) 2025.
Musa, N.C. en N.F. Nawi. 2021. A review of clinical legal education’s (CLE) experience in Universiti Sains Islam Malaysia. Malaysian Journal of Syariah and Law, 9(1):36–46.
National University of Singapore Faculty of Law, Clinics. https://law.nus.edu.sg/cpbcle/our-activities/clinical-legal-education en https://law.nus.edu.sg/cpbcle/for-students/clinics/law-clinic-electives (6 Maart 2025 geraadpleeg).
NCHR (Norwegian Centre for Human Rights). https://www.jus.uio.no/smr/english (7 Maart 2025 geraadpleeg).
Noori, S.M. 2025. Legal Clinics in Iranian universities. In Giddings (red.) 2025.
NUS (National University of Singapore). https://law.nus.edu.sg/cpbcle/for-students/clinics/law-clinic-electives (7 Junie 2025 geraadpleeg).
Open Society Foundations. https://www.opensocietyfoundations.org (7 Maart 2025 geraadpleeg).
Pandey, A. 2020. Social justice, the raison d’etre of clinical legal education. Jindal Global Law Review, 11(2):201–7.
—. 2025. Clinical legal education in India: An overview and thoughts for an aspirational future. In Giddings (red.) 2025.
Protocol Concerning the Redeployment in Hebron, 1997. 2022. https://www.palestine-studies.org/en/node/1652351 (6 Maart 2025 geraadpleeg).
Pruekpongsawalee, M. 1999. Thammasat clinical education and the delivery of legal services: A historical and personal perspective. In Trubek en Cooper (reds.) 1999.
Qafisheh, M.M. 2017. Reforming legal education through clinical pedagogy: Legal education in Palestine: The case of Hebron university clinics. Asian Journal of Legal Education, 4(2):146–69.
Raj, R.K. 2016. My journey with the University of Dhaka Law Clinic: Revitalizing the legal education. The FutureLaw Initiative. https://www.blast.org.bd/content/news/20-12-2016-dhaka-university-law-clinic-future-law-initiative.pdf (2 Oktober 2025 geraadpleeg).
Research on the existence and scope of clinical legal education in Pakistan. https://forms.gle/C2q6x6PmuT8jQoocA (7 Maart 2025 geraadpleeg).
Rosenbaum, S.A. 2014. Beyond the Facultas’ four walls: Linking education, practice, and the legal profession. Pacific Rim Law & Policy Journal, 23(2):395–421.
—. 2016. A new day: Prime time to advance Afghan clinical education. Asian Journal of Legal Education, 3(1):1–21.
Sangroula, Y. 2020. Social justice jurisprudence of clinical education programme: A paradigm shift from legal education to justice education. Jindal Global Law Review, 11(2):361–4. https://jgu.edu.in/jgls/jglr/volume-11-issue-2-2020 (3 Junie 2025 geraadpleeg).
Sarker, S. (red.). 2011. Legal Education in Asia. Den Haag: Eleven International Publishing.
—. 2015. Clinical Legal Education in Asia. Londen: Palgrave MacMillan.
SAULCA (South African University Law Clinics Association). https://www.saulca.co.za/law-clinics (9 Mei 2025 geraadpleeg).
Shah, M.Q. en S.A. Rosenbaum. 2023. Development disrupted: The Case of Afghanistan Taliban 2.0 and lessons learned about foreign aid management. Washington International Law Journal, 32(3):207–27.
Shiraki, A. 2021. Designing innovative clinical legal programs to respond to changing social justice needs. Waseda Bulletin of Comparative Law, (39):57–69.
Sidel, M. en D.N. Pham. 2010. Building clinical legal education in Viet Nam. Finale hulpbronverslag voorberei vir UNDP Viëtnam. https://www.studocu.com/in/document/savitribai-phule-pune-university/constitutional-law/t-proc-notices-notices-010-k-notice-doc-5001-896054027/88306927 (2 Oktober 2025 geraadpleeg).
SILE (Singapore Institute of Legal Education), “Qualified person”. https://www.sile.edu.sg/singapore-approved-universities (6 Maart 2025 geraadpleeg).
SMU PBC Legal Clinic (Singapore Management University Pro Bono Centre Legal Clinic). https://pbc.smu.edu.sg/legal-clinic (7 Junie 2025 geraadpleeg).
Special Inspector General for Afghanistan Reconstruction (SIGAR), Status of education in Afghanistan: Taliban policies have resulted in restricted access to education and a decline in quality (SIGAR 24-01 evaluation report). https://www.govinfo.gov/content/pkg/GOVPUB-S-PURL-gpo220930/pdf/GOVPUB-S-PURL-gpo220930.pdf.
Srichaiyarat, P. 2025. CLE in Thailand. In Giddings (red.) 2025.
Srichaiyarat, P., L. Bliss en W. Taloodkum. 2015. Clinical legal education in Thailand: A pedagogy whose time has come. In Sarker (red.) 2015.
Suami, T. 2007. Clinical legal education and the foundation of Japanese Law Schools in the context of Judicial System Reform. Waseda Bulletin of Comparative Law, 25:19–27. https://www.waseda.jp/folaw/icl/assets/uploads/2014/05/A02859211-00-000250019.pdf.
SUSS (Singapore University of Social Sciences). https://www.suss.edu.sg (7 Junie 2025 geraadpleeg).
Swenson, G. en E. Sugerman. 2011. Building the rule of law in Afghanistan: The importance of legal education. Hague Journal on the Rule of Law, 3(1):130–46.
Treuthart, M.P. en S.A. Rosenbaum. 2013. Engendering a clinic: Lessons learned from a domestic violence clinical course in Qatar. International Review of Law, (1):1–25.
The Constitution of India, 2022. Art. 39A. https://cdnbbsr.s3waas.gov.in/s380537a945c7aaa788ccfcdf1b99b5d8f/uploads/2023/05/2023050195.pdf (7 Maart 2025 geraadpleeg).
The law of the Republic of Indonesia, Number 16/ Year 2011, concerning Legal Aid. https://bantuanhukum.or.id/law-no-16-year-2011-on-legal-aid (6 Maart 2025 geraadpleeg).
The United Nations Development Programme (UNDP). https://www.undp.org (3 Junie 2025 geraadpleeg).
Trubek, L.G. en J. Cooper (reds.). 1999. Educating for justice around the world. Londen: Routledge.
Universiti Sains Islam Malaysia. https://fsu.usim.edu.my/undergraduate/bachelor-of-laws-and-shariah-with-honours-2 (7 Maart 2025 geraadpleeg).
USAID (United States Agency for International Development), Georgia. https://ewmi-ruleoflawgeo.org/en (7 Junie 2025 geraadpleeg).
Weinbaum, M.G. 1980. Legal elites in Afghan society. International Journal of Middle East Studies, 12(1):39–57.
Wilson, R. (red.). 2018. The global evolution of clinical legal education: More than a method. Cambridge: Cambridge University Press.
Eindnotas
1 Landman (1930). Aristoteles het kennis in drie vorme beskryf: teorie, produktiewe aksie en praktyk.
2 Dewey (1922:7).
3 Die eerste by Universiteit Kaapstad en kort daarna by die Universiteite van die Witwatersrand en Natal. Sien Du Plessis (2019:17).
4 De Klerk (2006:939).
5 Haupt (2006:229).
6 De Klerk (2006:935–39). Buitelandse befondsing het die stigting van organisasies soos die Legal Resources Centre en die Centre for Applied Legal Studies by Wits ondersteun.
7 South African University Law Clinics Association (SAULCA).
8 In die algemeen sien Bloch (2011); Wilson (2018).
9 Ibid. Bloch identifiseer drie onderskeidende komponente van kliniese regsopleiding: professionele vaardighede en waardes; eksperimentele opleiding; en sosiale geregtigheidsopleiding. Maranville (2000:123–34) voer aan dat kliniese ondervindings in ’n vereenvoudigde vorm, soos simulasie, in ’n vroeë stadium aangebied kan word. Sy is egter van mening dat, alhoewel simulasie as die enigste aanbiedingsvorm ’n bydrae maak, dit nie aan die definisie in die breër konteks voldoen nie.
10 Verdere artikels wat die ander streke bespreek, sal volg.
11 Regsklinieke in Suid-Afrika sal in ’n latere artikel, tesame met die bespreking van regsklinieke in Afrika, bespreek word.
12 Rusland word hier geplaas aangesien dit oor die Asiese en Europese kontinente strek, met 77% van die landmassa in Asië.
13 Rosenbaum (2016:1, 4–16, 18–29).
14 Eddy (2009:1).
15 Akademici, praktisyns en regeringsamptenare in Afghanistan het voortgegaan met die debatte rondom teorie vs. praktyk. Choudhury (2014:251).
16 Shah en Rosenbaum (2023:218–21).
17 Ibid.
18 Grimes (2014:165).
19 Alhoewel die handhawing van interne orde die regering se prioriteit was, het dit ook geblyk dat die diskreditering van tradisionele regsnorme teenproduktief sou wees. Regshervorming wat sosiale verandering meebring, word geïgnoreer of is polities destabiliserend. Weinbaum (1980:55).
20 Ibid 42.
21 Swenson en Sugerman (2011:130–5).
22 Taliban Orders (2023).
23 Special Inspector General for Afghanistan Reconstruction (2024).
24 ALPA. ALPA borg ook ’n aanlyn opleidingsakademie ten einde Afghaanse vroue toegang tot opleiding te gee.
25 American University of Afghanistan.
26 Chachava, Tsertsvadze en Grimes (2025:211).
27 Chachava, Tsertsvadze en Grimes (2025:212). Kliniekopleiding word by die New Vision Universiteit, die Universiteit van Georgië en die Batumi Shota Rustaveli Staatsuniversiteit aan voorgraadse studente gebied.
28 Chachava, Tsertsvadze en Grimes (2025:214).
29 Bv. Tbilisi Staatsuniversiteit, New Vision Universiteit en Robakidze Universiteit.
30 USAID (Georgia). USAID bevorder die “Rule of Law” wêreldwyd deur verskeie programme wat fokus op die versterking van regstelsels, die versekering van toegang tot die reg en die handhawing van menseregte, met ’n spesifieke fokus op lande met nie-Westerse regstradisies.
31 Bv. Iakob Gogebashvili Telavi Staatsuniversiteit.
32 Chachava, Tsertsvadze en Grimes (2025:214–16).
33 Noori (2025:217).
34 Demokrasievoorsitter by Shahid Beheshti Universiteit, die Menseregte Studiesentrum, Mofid Universiteit, die Regbank se Regsopleidingdepartement, die Islamitiese Menseregtekommissie, die Balieraad, Iran se Joernalistiekvereniging, en die Organisasie vir die Verdediging van Slagoffers van Geweld.
35 Noori (2025:218).
36 Noori (2025:219).
37 Noori (2025:220).
38 Ibid. Hierdie staatsuniversiteit is vernoem na Allameh Tabataba’i (1903–1981), ’n prominente Irannese siener en filosoof.
39 Noori (2025:220).
40 Treuthart en Rosenbaum (2013:1–25).
41 Treuthart en Rosenbaum (2013:5).
42 Die kursus het openbare opvoeding, mondelinge aanbiedings, kritiese denke, voorspraak en die opstel van wetgewing ingesluit. Treuthart en Rosenbaum (2013:6–7).
43 Treuthart en Rosenbaum (2013:14–15).
44 Treuthart en Rosenbaum (2013:16–17).
45 Mattar en AlMalki (2025:222).
46 Ibid. Kliënte sluit in burgers van Palestina, Egipte, Libanon, Tunisië, Sirië, Jordanië, Iran, Pakistan, Indië, Filippyne, Kenia, Ierland en Amerika.
47 Mattar en AlMalki (2025:222–3).
48 Protocol Concerning the Redeployment in Hebron, 1997 (2022). Ingevolge die protokol wat op 17 Januarie 1997 tussen die Palestynse Bevrydingsorganisasie en Israel onderhandel is.
49 Chavkin (2010:18).
50 Qafisheh (2017:165).
51 Qafisheh (2017:167).
52 Ibid.
53 Qafisheh (2017:168–9).
54 Meyer (1855:42–3). Interessant dat die befaamde skrywer, Leo Tolstoi, een van sy studente was.
55 Ibid vir Meyer se regskliniekstruktuur.
56 Hudoikina (2016:213).
57 Berbec-Rostas, Gutnikov en Namyslovska-Gabrysiak (2011:63–5). Sien ook Grosberg (2001:469–96).
58 Hudoikina (2016:213).
59 Hudoikina (2016:215). Die Bologna Process is ’n reeks ministeriële vergaderings tussen Europese lande om die aanpasbaarheid in standaarde en die gehalte van hoëronderwyskwalifikasies te verseker. Sien Bologna Process.
60 Voronezh Universiteit in St. Petersburg.
61 Nizhny Novgorod en die St. Petersburg Staatsuniversiteit.
62 Dmitriachev en Gutnikov (2025:230).
63 Dmitriachev en Gutnikov (2025:231).
64 Lonbay en Toprak (2015:216).
65 Lonbay en Toprak (2015:218).
66 Lonbay en Toprak (2015:218–9).
67 Lonbay en Toprak (2015:215–6).
68 Lonbay en Toprak (2015:220).
69 Die Universiteite van Ankara, Bilgi, Özyeğin, Hacettepe, Dokuz Eylül en Kadir Has.
70 Expression Interrupted! 2016.
71 Aziz (2019:18).
72 Aziz (2019:21–2).
73 Aziz (2019:23).
74 Aziz (2019:24–5).
75 Aziz (2019:26). (Tashkentskiy Gosudarstvenniy Universitet). Regsfakulteite is in Dushanbe, Almaty, Ashgabat, Frunze, Samarkand en Nukus geopen.
76 Sien nota 59 hier bo oor die Bologna Process. Die Europese Kommissie het in 2012 ’n studie oor Oesbekistan se voldoening aan ses komponente van die Bologna Verklaring gedoen, naamlik 1) ’n struktuur van drie siklusse, 2) die Europese kredietoordragstelsel, 3) die Bologna-diploma-aanvulling, 4) die nasionale kwalifikasie raamwerk, 5) gehalteversekeringsmeganismes, en 6) die erkenning van buitelandse kwalifikasies. Sien Aziz (2019:8, 9).
77 Oesbekistan het ook regsklinieke wat nie aan universiteite verbonde is nie, naamlik by die Raad van die Federasie vir Vakbonde, die Kamer van Koophandel en Nywerheid en die Jeugagentskap van Oesbekistan.
78 Vir toegang tot die reg in Oesbekistan, sien Alieva (2023:102–113).
79 TSUL het ’n verstandhoudingsmemorandum met Street Law Inc. in die VSA vir die opleiding van fakulteitslede en studente. Ná die sukses met TSUL se Street Law-program, is die inisiatief onder ministeriële aanwysing na 14 ander streke in die land uitgebrei. Aziz (2019:111).
80 Ibid 110.
81 BABSEACLE.
82 Lasky en Sarker (2011:37–51); Lasky en Sarker (2015:8–9); Bui, Lasky en Grimes (2014:30–31) en Lasky en Nazeri (2011:59–74).
83 Conference Reports, Asia Pro Bono Conference.
84 Wilson (2018: hoofstuk 9).
85 Sien Wilson (2018:251–61) vir ’n bespreking van China.
86 Wilson (2018:267–9).
87 Rosenbaum (2014:395–421); Lasky en Nazeri, (2011:15–6).
88 The law of the Republic of Indonesia, Number 16/ Year 2011, concerning Legal Aid. Wet No. 16 van 2011 bevat vyf beginsels as basis vir die inwerkingstelling van die regshulpprogram, naamlik: geregtigheid; gelykheid voor die reg; deursigtigheid; doeltreffendheid; en aanspreeklikheid.
89 Rosenbaum (2014).
90 Hanim en Noorman (2018).
91 Ibid.
92 Arifin, Wedhatami en Alkadri (2021:52–65).
93 Miyagawa (2011:105–6).
94 Ibid.
95 Miyagawa (2021:161).
96 Suami (2007:23).
97 Suami (2007:20).
98 Miyagawa (2021:159).
99 Miyagawa (2021:71–2).
100 Miyagawa (2021:161–6).
101 Miyagawa (2021:112–7).
102 Shiraki (2021:58–9).
103 Singapore Institute of Legal Education, “Qualified Person”.
104 Koman en Whalen-Bridge (2015:142).
105 Koman en Whalen-Bridge (2015:139–41).
106 SMU PBC Legal Clinic.
107 SUSS.
108 NUS.
109 Ibid. Sien die modulebeskrywing vir die Pro Bono Familiereg Litigasiekliniek by ‘Current Clinic Modules’.
110 Chen (2012:40–2).
111 Chen (2011:155–74).
112 Srichaiyarat (2025:125).
113 Pruekpongsawalee (1999:127).
114 Ibid.
115 Srichaiyarat, Bliss en Taloodkum (2015:163). Die eerste konferensie in Thailand is deur BABSEACLE aangebied.
116 Soos beskryf deur Srichaiyarat (2025:126): Panarairat Srichaiyarat, Clinical Legal Education: An Option for the Thai Legal Education Reform (Winyuchon, 2012) (in Thai); Panarairat Srichaiyarat, ‘Clinical Legal Education and the Thai National Qualifications Framework for Higher Education’ (2012) 3 Assumption University Law Journal18–31 (in Thai); and Panarairat Srichaiyarat, ‘Clinical Legal Education: An Option for the Thai Legal Education Reform’ (2012) Naresuan University Law Journal 80–108 (in Thai).
117 Srichaiyarat (2025:126).
118 ASEAN.
119 Srichaiyarat (2025:126).
120 Sidel en Pham (2010:5–9).
121 BABSEACLE.
122 NCHR.
123 Juss-Buss.
124 Hierdie sluit die regsklinieke by die volgende in: Hanoi Viëtnam Nasionale Universiteit; Nasionale Ekonomie Universiteit; Die Vakbond Universiteit; Vinh Universiteit; Hue Universiteit; Ho Chi Minh-stad Universiteit vir Ekonomie; en Cantho Universiteit.
125 Ho (2025:128–130).
126 Ho (2017:87–88).
127 Ho (2018:198).
128 Ho (2018:199).
129 Ho (2018:198, 199).
130 Musa en Nawi (2001:36).
131 Musa en Nawi (2001:38).
132 Universiti Sains Islam Malaysia.
133 Sangroula (2020:339).
134 Gautam (2017:186–7).
135 Ibid.
136 Sangroula (2020:339).
137 Gillis en Tushaus (2017:8–16).
138 FNB.
139 Mizan (2025:137).
140 Mizan (2025:135).
141 Golub (2000:145).
142 Mizan (2025:136), sien die artikels waarna hy verwys.
143 Ibid.
144 Raj (2016).
145 Mizan (2025:137).
146 Jigme Singye Wangchuck School of Law.
147 Dolma (2025:139) verwys na die gedetailleerde verslag van die Koninklike Regsinstituut van 26 Junie 2014.
148 Ibid.
149 Jigme Singye Wangchuck School of Law.
150 Ibid.
151 Ibid.
152 Ibid.
153 The Constitution of India, 2022. Art. 39A. verwys na regsgelykheid en gratis regsdienste. Dit maan die staat om geregtigheid op grond van gelykheid te bevorder. Die staat moet wetgewing en skemas daarstel om gratis regsdienste te verskaf om te verseker dat geen burger toegang tot die reg geweier word weens ekonomiese redes of ander gestremdhede nie.
154 Pandey (2005:142).
155 Ibid.
156 Ibid.
157 Pandey (2020:201–7).
158 Pandey (2005:144).
159 Archana (2013:157–62).
160 Kumar en Talukdar (2020:390).
161 Open Society Foundations.
162 Mirza (2025:149).
163 Ibid.
164 Ibid.
165 Mirza (2025:148).
166 Mirza (2025:150).
167 Ibid. Opname beskikbaar by Research on the existence and scope of clinical legal education in Pakistan.
168 Mirza (2025:151).
169 Ibid.
- Hierdie artikel se fokusprent is geskep deur cottonbro studio en is verkry op Pexels.
Lees ook:
’n Wêreldoorsig van kliniese regsopleiding: Sentraal-, Oos- en Wes-Europa
| LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |

